Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 9/1 bl. 3-5
  • Evolusie staan tereg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Evolusie staan tereg
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Teenstrydige getuienis
  • Is evolusie die intellektuele keuse?
  • ’n Saak van geloof
  • Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Bedrog in die wetenskap—’n Groter bedrog
    Ontwaak!—1990
  • Evolusie
    Redenering uit die Skrif
  • Waarom aanvaar baie evolusie?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 9/1 bl. 3-5

Evolusie staan tereg

Oortuigde evolusioniste dring nou daarop aan dat die oorsprong van organismes opnuut volledig ondersoek moet word

STEL jou voor dat jy ’n regsgeleerde is wat ’n kriminele saak verhoor. Die verweerder verklaar onder eed dat hy onskuldig is, en getuies kom na vore om ten behoewe van hom te getuig. Maar terwyl jy na hulle getuienis luister, merk jy dat al die getuies mekaar weerspreek. Dan, wanneer die getuies vir die verdediging weer na die getuiebank geroep word, verander hulle storie. Sou jy, as ’n regsgeleerde, enige waarde aan hulle getuienis heg? Sou jy bereid wees om die beskuldigde vry te spreek? Waarskynlik nie, want enige ongerymdhede in die verdediging verminder die geloofwaardigheid van die verweerder.

Dit is die geval met die evolusieteorie. ’n Menigte getuies het ter verdediging van die evolusieteorie met allerlei verduidelikings oor die oorsprong van lewe na vore gekom. Maar sou hulle getuienis in ’n hof steek hou? Praat voorstanders van die teorie uit een mond?

Teenstrydige getuienis

Hoe het lewe begin? Geen ander vraag het seker tot meer bespiegeling gelei en meer polemiek uitgelok nie. Maar die geskil gaan nie bloot oor evolusie versus die skepping nie; baie van die stryery vind onder die evolusioniste self plaas. Oor feitlik elke besonderheid in verband met evolusie—hoe dit gebeur het, waar dit gebeur het, wie of wat dit laat gebeur het en hoe lank die proses geduur het—word daar hewig gestry.

Jare lank het evolusioniste beweer dat lewe in ’n warm poel organiese “sop” ontstaan het. Nou glo sommige dat skuim in die oseaan lewe kon voortgebring het. Ondersese spuitbronne is volgens hulle nog ’n moontlike plek waar lewe kon ontstaan het. Sommige beweer dat lewende organismes hier gekom het op meteore wat die aarde getref het. Of, sê ander, miskien het asteroïdes met die aarde gebots, die atmosfeer verander en in die proses lewe laat ontstaan. “Laat ’n groot ysterasteroïde in die aarde inploeg”, sê een navorser, “en jy sal beslis interessante dinge sien gebeur.”

Die wyse waarop lewe ontstaan het, word ook heroorweeg. “Lewe het nie, soos ons voorheen aangeneem het, onder kalm, gunstige toestande ontstaan nie”, sê die tydskrif Time, “maar onder die vlammende hemele van ’n planeet wat deur vulkaniese uitbarstings geteister en deur komete en asteroïdes gebombardeer is.” Vir lewe om te midde van hierdie chaos te ontstaan, sê sommige wetenskaplikes vandag, moes die hele proses binne ’n korter tydperk geskied het as wat ons voorheen gedink het.

Wetenskaplikes het ook uiteenlopende beskouings oor watter rol God—“indien hy wel bestaan”—in die saak gespeel het. Party sê dat lewe sonder die toedoen van ’n Skepper ontstaan het, terwyl ander beweer dat God die proses aan die gang gesit het en toe die res aan evolusie oorgelaat het.

Hoe het evolusie gebeur nadat lewe in aansyn gekom het? Selfs hieroor is die opvattings teenstrydig. In 1958, ’n eeu nadat The Origin of Species verskyn het, het die evolusionis sir Julian Huxley gesê: “Daar is deeglik en finaal bewys dat Darwin se groot ontdekking, die universele beginsel van natuurlike teeltkeuse, die uitsluitlike faktor is waaraan groot evolusionêre veranderings toegeskryf kan word.” Vier-en-twintig jaar later het die evolusionis Michael Ruse egter geskryf: “Al hoe meer bioloë . . . voer aan dat enige evolusionêre teorie wat op Darwinistiese beginsels gegrond is—in die besonder enige teorie wat natuurlike teeltkeuse as die sleutel tot evolusionêre veranderings beskou—misleidend en onvolledig is.”

Die tydskrif Time sê wel dat daar “talle vasstaande feite” is wat die evolusieteorie ondersteun, maar gee terselfdertyd toe dat evolusie ’n ingewikkelde storie is met “talle gebreke en geen tekort aan teenstrydige teorieë oor wat in die plek van die ontbrekende bewyse moet staan nie”. Pleks van te kenne te gee dat die saak gesluit is, dring van die mees oortuigde evolusioniste nou daarop aan dat die oorsprong van organismes opnuut volledig ondersoek moet word.

Die saak vir evolusie—veral oor die begin van lewe volgens evolusie—berus dus nie op konsekwente getuienis nie. Die wetenskaplike T. H. Janabi meld dat diegene wat evolusie voorstaan “oor die jare heen talle foutiewe teorieë uitgedink en verwerp het en wetenskaplikes kon tot dusver nie oor enige teorie eenstemmigheid bereik nie”.

Dit is interessant dat Charles Darwin hierdie konflik verwag het. In die inleiding van The Origin of Species het hy geskryf: “Ek is terdeë daarvan bewus dat daar feitlik nie ’n enkele punt in hierdie boek bespreek word waaroor daar nie feite voorgelê kan word nie, en dié feite sal waarskynlik dikwels tot gevolgtrekkings lei wat presies die teenoorgestelde is van dié waartoe ek gekom het.”

Sulke teenstrydige getuienis laat beslis vrae ontstaan oor die geloofwaardigheid van die evolusieteorie.

Is evolusie die intellektuele keuse?

Die boek Milestones of History sê dat die evolusieteorie van sy begin af “by baie mense byval gevind het omdat dit vir hulle meer na ’n waarlik wetenskaplike teorie geklink het as dié van direkte skeppingsdade”.

Boonop kan die dogmatiese verklarings van sommige evolusioniste oorredend wees. Die wetenskaplike H. S. Shelton beweer byvoorbeeld dat die konsep van direkte skepping “te belaglik [is] om ernstig oorweeg te word”. Die bioloog Richard Dawkins sê prontuit: “As jy iemand teëkom wat sê hy glo nie in evolusie nie is hy onkundig, onnosel of kranksinnig.” Professor René Dubos sê insgelyks: “Die meeste ingeligte mense aanvaar dit nou as ’n feit dat alles in die kosmos—van hemelliggame tot mensewesens—deur evolusionêre prosesse ontwikkel het en steeds ontwikkel.”

Uit hierdie verklarings wil dit voorkom asof enigeen met ’n mate van intelligensie evolusie geredelik sal aanvaar. As hy dit aanvaar, sal dit immers beteken dat hy “ingelig” en nie “onnosel” is nie. Tog is daar hoogs geleerde manne en vroue wat nie die evolusieteorie voorstaan nie. “Ek het baie wetenskaplikes teëgekom wat bedenkinge het”, skryf Francis Hitching in sy boek The Neck of the Giraffe, “en ’n handjievol wat so ver gegaan het om te sê dit het op die ou end geblyk dat die Darwinistiese evolusieteorie glad geen wetenskaplike teorie is nie.”

Chandra Wickramasinghe, ’n hoogaangeskrewe Britse wetenskaplike, neem ’n soortgelyke standpunt in. Hy sê: “Daar is geen bewys vir enige van die basiese opvattings van Darwinistiese evolusie nie. Dit was ’n sosiale mag wat die wêreld in 1860 oorrompel het, en ek dink dit was sedertdien ’n ramp vir die wetenskap.”

T. H. Janabi het die argumente ondersoek wat deur die evolusioniste aangevoer word. “Ek het gevind dat die situasie heeltemal anders is as wat ons wysgemaak word”, sê hy. “Die getuienis is té min en té onsamehangend om ’n ingewikkelde teorie soos dié oor die oorsprong van lewe te staaf.”

Daarom moet diegene wat teen die evolusieteorie beswaar maak nie bloot as “onkundig, onnosel of kranksinnig” geïgnoreer word nie. Oor menings wat evolusie in twyfel trek, moes selfs die onversetlike evolusionis George Gaylord Simpson erken: “Dit sou beslis verkeerd wees om hierdie sieninge bloot met ’n glimlag van die hand te wys of daarmee die spot te dryf. Hulle voorstanders was (en is) goed ingeligte en bekwame navorsers.”

’n Saak van geloof

Sommige meen dat diegene wat in evolusie glo se opvatting op feite gegrond is, terwyl diegene wat in die skepping glo s’n op geloof berus. Dit is waar dat geen mens God nog ooit gesien het nie. (Johannes 1:18; vergelyk 2 Korinthiërs 5:7.) Maar die evolusieteorie het geen voorsprong in hierdie verband nie, want dit is gegrond op gebeure wat geen mens nog ooit gesien of gedupliseer het nie.

Wetenskaplikes het byvoorbeeld nog nooit waargeneem hoe mutasies—selfs voordeliges—nuwe lewensvorme voortbring nie; nogtans is hulle oortuig dat dit presies is hoe nuwe spesies op die toneel verskyn het. Hulle het nog nie die selfontstaan van lewe aanskou nie; nogtans hou hulle vol dat dit is hoe lewe begin het.

Vanweë hierdie gebrek aan getuienis noem T. H. Janabi die evolusieteorie “’n blote ‘geloof’”. Die fisikus Fred Hoyle noem dit “die Evangelie volgens Darwin”. Dr. Evan Shute gaan selfs verder. “Ek reken dat die voorstander van die skeppingsleer nie so ’n groot verborgenheid het om te verklaar as wat die heelhartige evolusionis het nie”, sê hy.

Ander deskundiges stem met hom saam. “Wanneer ek nadink oor die aard van die mens”, erken die sterrekundige Robert Jastrow, “is die verskyning van hierdie buitengewone wese uit chemikalieë wat in ’n poel warm water opgelos is vir my net so ’n wonderwerk as die Bybelse verhaal oor die mens se oorsprong.”

Waarom verwerp so baie mense dan nog die gedagte dat lewe geskep is?

[Prent op bladsy 3]

Die dogmatiese verklarings van sommige kan ’n mens intimideer

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel