Hoofstuk 2
Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
Toe ’n spesiale honderdjarige uitgawe van Darwin se Origin of Species uitgegee sou word, is W. R. Thompson, destyds hoof van die Gemenebes-Instituut vir Biologiese Beheer in Ottawa, Kanada, genooi om die inleiding daarvan te skryf. Daarin het hy gesê: “Soos ons weet, bestaan daar groot meningsverskil onder bioloë, nie alleen oor die oorsake van evolusie nie, maar selfs oor die proses self. Hierdie meningsverskil bestaan omdat die getuienis onbevredigend is en nie ’n definitiewe gevolgtrekking toelaat nie. Dit is gevolglik niks minder as reg om die aandag van die nie-wetenskaplike publiek op die meningsverskille oor evolusie te vestig nie.”a
1, 2. (a) Hoe word die woord “feit” gedefinieer? (b) Wat is enkele voorbeelde van feite?
DIEGENE wat die evolusieteorie steun, meen dat dit nou ’n vasstaande feit is. Hulle meen dat evolusie ’n “wesenlike gebeurtenis”, ’n “werklikheid”, ’n “waarheid” is, soos een woordeboek die woord “feit” definieer. Maar is dit?
2 Ter toeligting: Daar is eens geglo dat die aarde plat is. Nou is daar sonder twyfel vasgestel dat dit bolvormig is. Dit is ’n feit. Daar is eens geglo dat die aarde die middel van die heelal is en dat die hemel om die aarde wentel. Ons weet nou vir seker dat die aarde in ’n baan om die son wentel. Ook dit is ’n feit. Baie dinge wat eens slegs omstrede teorieë was, is deur die getuienis verhef tot vasstaande feite, die werklikheid, die waarheid.
3. (a) Wat toon dat evolusie nog nie as ’n vasstaande “feit” aanvaar kan word nie? (b) Watter benadering sal nuttig wees wanneer ons die huidige status van evolusie ondersoek?
3 Sal ’n ondersoek na die getuienis vir evolusie ’n mens op dieselfde vaste grond laat? Dit is interessant dat sedert Charles Darwin se boek The Origin of Species in 1859 gepubliseer is, verskeie aspekte van die teorie selfs onder vooraanstaande evolusionistiese wetenskaplikes ’n bron van groot meningsverskil was. Daardie dispuut is vandag hewiger as ooit. En dit is insiggewend om te kyk wat voorstanders van evolusie self oor die saak sê.
Evolusie onder skoot
4-6. Wat vind plaas onder diegene wat evolusie voorstaan?
4 Die wetenskaptydskrif Discover het die situasie soos volg beskryf: “Evolusie . . . word nie slegs deur fundamentalistiese Christene aangeval nie, maar word ook deur agtenswaardige wetenskaplikes bevraagteken. Onder paleontoloë, wetenskaplikes wat die fossielverslag bestudeer, bestaan daar al hoe meer meningsverskil oor die heersende opvatting van Darwinisme.”1 Francis Hitching, ’n evolusionis en skrywer van die boek The Neck of the Giraffe, het gesê: “Al word dit allerweë in die wetenskaplike wêreld as die groot verenigende beginsel van die biologie aanvaar, is Darwinisme na ’n eeu en ’n kwart verbasend diep in die moeilikheid.”2
5 Na ’n belangrike konferensie van nagenoeg 150 deskundiges op die gebied van evolusie wat in Chicago, Illinois, gehou is, het ’n verslag die gevolgtrekking gemaak: “[Evolusie] beleef sy grootste en ingrypendste revolusie in feitlik 50 jaar. . . . Hoe evolusie presies plaasgevind het, is nou ’n groot twispunt onder bioloë. . . . Geen duidelike beslegting van die geskille was in sig nie.”3
6 Paleontoloog Niles Eldredge, ’n vooraanstaande evolusionis, het gesê: “Die twyfel wat die eens selfvoldane sekerheid van evolusionêre biologie die afgelope twintig jaar binnegesypel het, het gevoelens opgesweep.” Hy het gepraat van die “gebrek aan volkome ooreenstemming selfs in die strydende partye”, en bygevoeg: “Dinge is deesdae werklik wanordelik . . . Soms lyk dit of daar net soveel variasies op elke [evolusionêre] tema is as wat daar bioloë is.”4
7, 8. Wat het een gesiene skrywer oor Darwin se Origin of Species gesê?
7 ’n Skrywer vir Londen se Times, Christopher Booker (wat evolusie aanvaar), het die volgende daaroor gesê: “Dit was ’n wonderlik eenvoudige en aantreklike teorie. Die enigste probleem was dat dit vol yslike leemtes was, soos Darwin self gedeeltelik besef het.” Oor Darwin se Origin of Species het hy gesê: “Ons het hier die opperste ironie dat ’n boek wat beroemd geword het vir sy verduideliking van die oorsprong van spesies in werklikheid niks van die aard doen nie.”—Ons kursiveer.
8 Booker het ook gesê: “’n Eeu na Darwin se dood het ons nog steeds nie die vaagste, bewysbare of selfs aanneemlike idee van hoe evolusie werklik plaasgevind het nie—en in die laaste jare het dit tot ’n buitengewone reeks botsings oor die hele kwessie aanleiding gegee. . . . ’n toestand van feitlik openlike oorlog bestaan onder die evolusioniste self, terwyl elke soort [evolusionistiese] sekte op die een of ander nuwe modifikasie aandring.” Hy het die gevolgtrekking gemaak: “Ons het nie die vaagste benul oor hoe en waarom dit in werklikheid plaasgevind het nie, en ons sal waarskynlik nooit enige benul hê nie.”5
9. Hoe word die situasie beskryf wat die afgelope ruk onder evolusioniste bestaan?
9 Evolusionis Hitching het saamgestem en gesê: “Vetes oor die evolusieteorie het uitgebars . . . Verskanste posisies, vír en téén, is deur hooggeplaastes ingeneem, en beledigings is soos mortierbomme van albei kante gewerp.” Hy het gesê dat dit ’n akademiese dispuut met verreikende afmetings is, “potensieel een van daardie tye in die wetenskap wanneer ’n gevestigde idee skielik deur die gewig van teenbewyse omvergewerp word en ’n nuwe een sy plek inneem”.6 En Brittanje se New Scientist het gesê dat “al hoe meer wetenskaplikes, in die besonder ’n toenemende getal evolusioniste . . . aanvoer dat die Darwinistiese evolusieteorie glad geen eg wetenskaplike teorie is nie. . . . Baie van die kritici het die hoogste intellektuele getuigskrifte.”7
Dilemmas oor oorspronge
10. Is ’n evolusionêre oorsprong van lewe op aarde ’n feit?
10 Aangaande die vraag oor hoe lewe ontstaan het, het sterrekundige Robert Jastrow gesê: “Tot hulle ergernis het [wetenskaplikes] geen duidelike antwoord nie, want chemici het nog nooit daarin geslaag om die natuur se eksperimente oor die skepping van lewe uit lewelose materie na te doen nie. Wetenskaplikes weet nie hoe dit gebeur het nie.” Hy het bygevoeg: “Wetenskaplikes het geen bewys dat lewe nie die gevolg van ’n skeppingsdaad is nie.”8
11. Watter probleem skep ingewikkelde liggaamsorgane vir evolusie?
11 Maar die probleem eindig nie met die oorsprong van lewe nie. Beskou liggaamsorgane soos die oog, die oor, die brein. Almal is verstommend ingewikkeld, verreweg ingewikkelder as die ingewikkeldste mensgemaakte toestel. Evolusie se probleem is dat al die dele van sulke organe moet saamwerk voordat daar gesien, gehoor of gedink kan word. Sulke organe sou nutteloos wees totdat al die dele daarvan volledig was. Die vraag ontstaan dus: Kon blinde toeval, wat glo ’n dryfkrag van evolusie is, al hierdie dele op die regte tyd bymekaargebring het om sulke ingewikkelde meganismes tot stand te bring?
12. (a) Wat het Darwin oor die oorsprong van die oog gesê? (b) Is die probleem vandag nader aan ’n oplossing?
12 Darwin het toegegee dat dit ’n probleem is. Hy het byvoorbeeld geskryf: “Ek moet eerlik erken dat die veronderstelling dat die oog . . . deur [evolusie] gevorm kon word, volkome onredelik lyk.”9 Meer as ’n eeu het sedertdien verloop. Is die probleem opgelos? Nee. Inteendeel, die dinge wat sedert Darwin se tyd omtrent die oog te wete gekom is, toon dat dit selfs ingewikkelder is as wat hy gemeen het. Jastrow het dus gesê: “Dit wil voorkom of die oog ontwerp is; geen ontwerper van teleskope kon beter gevaar het nie.”10
13. Wat het een wetenskaplike oor die brein gesê?
13 As dit waar is van die oog, wat dan van die mens se brein? Nie eens ’n eenvoudige masjien evolueer per toeval nie. Hoe kon die oneindig ingewikkelder brein geëvolueer het? Jastrow het die gevolgtrekking gemaak: “Dit is moeilik om die evolusie van die oog aan die toeval toe te skryf; dit is selfs moeiliker om die evolusie van menslike intelligensie aan lukrake ontwrigtings in die breinselle van ons voorouers toe te skryf.”11
Dilemmas oor fossiele
14. Is dit waar dat die fossielgetuienis evolusie steun?
14 Wetenskaplikes het miljoene bene en ander getuienis van vroeëre lewe uitgegrawe, en dit word fossiele genoem. Indien evolusie ’n feit is, behoort daar tog seker in al hierdie vondste oorgenoeg getuienis te wees van hoe een soort lewende ding tot ’n ander geëvolueer het. Maar die Bulletin van Chicago se Veldmuseum van Natuurhistorie het gesê: “Darwin se [evolusie]teorie is nog altyd ten nouste gekoppel aan fossielgetuienis, en die meeste mense neem waarskynlik aan dat fossiele ’n baie belangrike deel uitmaak van die algemene argument ten gunste van darwinistiese vertolkings van die geskiedenis van lewe. Ongelukkig is dit nie heeltemal waar nie.”
15. (a) Hoe het Darwin die fossielgetuienis in sy dag beskou? (b) Wat toon die getuienis noudat fossiele al meer as ’n eeu lank versamel word?
15 Waarom nie? Die Bulletin het voorts gesê dat Darwin “in die verleentheid gestel is deur die fossielverslag omdat dit nie gelyk het soos hy voorspel het dit sou lyk nie . . . die geologiese verslag het nie destyds of sedertdien ’n fyn gegradueerde proses van stadige en progressiewe evolusie opgelewer nie.” Trouens, ons het nou, nadat fossiele meer as ’n eeu lank versamel is, “selfs minder voorbeelde van evolusionêre oorgang as wat ons in Darwin se dag gehad het”, het die Bulletin verduidelik.12 Waarom is dit die geval? Omdat die oorvloediger fossielgetuienis wat vandag beskikbaar is, toon dat sommige van die voorbeelde wat eens gebruik is om evolusie te steun dit klaarblyklik glad nie doen nie.
16. Wat erken talle evolusionêre wetenskaplikes nou?
16 Die feit dat die fossielgetuienis nie geleidelike evolusie steun nie, het talle evolusioniste ontstel. In The New Evolutionary Timetable het Steven Stanley gepraat van “die algemene onvermoë van die verslag om geleidelike oorgange van een hoofgroep tot ’n ander te toon”. Hy het gesê: “Die bekende fossielverslag is nie, en was nog nooit, in ooreenstemming met [stadige evolusie] nie.”13 Niles Eldredge het ook erken: “Die patroon wat ons die afgelope 120 jaar aangesê is om te vind, bestaan nie.”14
Nuwer teorieë
17. Wat het Science Digest oor die nuwer teorieë gesê?
17 Al hierdie dinge het baie wetenskaplikes beweeg om nuwe teorieë in verband met evolusie voor te staan. Science Digest het dit soos volg gestel: “Sommige wetenskaplikes stel selfs vinniger evolusionêre veranderinge voor en skenk ernstige oorweging aan gedagtes wat eens net in romans gewild gemaak is.”15
18. Met watter probleem het die onlangse teorie dat lewe in die buitenste ruimte begin het te kampe?
18 Sommige wetenskaplikes het byvoorbeeld die gevolgtrekking gemaak dat lewe nie spontaan op aarde kon ontstaan het nie. Hulle bespiegel eerder dat dit in die buitenste ruimte ontstaan en toe na die aarde neergedaal het. Maar dit neem die probleem oor die oorsprong van lewe net verder en na ’n onherbergsamer omgewing terug. Die gevare vir lewe in die vyandige omgewing van die buitenste ruimte is alom bekend. Is dit dan waarskynlik dat lewe spontaan elders in die heelal begin het en in so ’n onherbergsame omgewing sou voortbestaan om die aarde te bereik en later te ontwikkel tot lewe soos ons dit ken?
19, 20. Watter nuwe teorie staan sommige evolusioniste voor?
19 Aangesien die fossielverslag nie ’n geleidelike ontwikkeling van een lewensvorm tot ’n ander toon nie, teoretiseer sommige evolusioniste dat die proses met horte en stote plaasgevind het, nie geleidelik nie. The World Book Encyclopedia verduidelik: “Baie bioloë dink dat nuwe spesies deur skielike, drastiese veranderinge in gene voortgebring word.”16
20 Sommige aanhangers van hierdie teorie noem die proses “onderbroke ewewig”. Dit wil sê, spesies handhaaf hulle “ewewig” (hulle bly baie dieselfde), maar elke nou en dan is daar ’n ‘onderbreking’ (’n groot sprong om tot iets anders te evolueer). Dit is net mooi die teenoorgestelde van die teorie wat talle dekades lank deur feitlik alle evolusioniste aanvaar is. Die kloof tussen die twee teorieë is toegelig deur ’n opskrif in The New York Times: “Teorie oor vinnige evolusie aangeval.” Die artikel het gemeld dat die nuwer “onderbroke ewewig”-gedagte “nuwe teenstand uitgelok het” onder diegene wat die tradisionele beskouing huldig.17
21. (a) Watter getuienis moet daar wees, ongeag welke evolusieteorie aanvaar word? (b) Maar wat toon die feite?
21 Ongeag welke teorie ondersteun word, dit is redelik dat daar ten minste ’n mate van getuienis moet wees om te toon dat een soort lewe in ’n ander soort verander. Maar die kloof tussen die verskillende lewensvorme wat in die fossielverslag aangetref word, asook die kloof tussen die verskillende lewende dinge wat vandag op aarde voorkom, duur voort.
22, 23. Hoe word Darwin se idee van “die oorlewing van die geskikste” in die laaste tyd bevraagteken?
22 Dit is ook insiggewend om te sien wat met Darwin se langgehuldigde idee oor “die oorlewing van die geskikste” gebeur het. Dit word “natuurlike teeltkeuse” genoem. Dit wil sê, hy het geglo dat die natuur die geskikste lewende dinge gekies het om voort te bestaan. Namate hierdie “geskiktes” glo nuwe eienskappe verkry het wat tot hulle voordeel gestrek het, het hulle stadig geëvolueer. Maar die getuienis van die afgelope 125 jaar toon dat hoewel die geskikste moontlik oorlewe, dit nie verklaar hoe hulle hier gekom het nie. Een leeu kan geskikter as ’n ander leeu wees, maar dit verklaar nie hoe hy ’n leeu geword het nie. En al sy nasate sal steeds leeus wees, nie iets anders nie.
23 In die tydskrif Harper’s het skrywer Tom Bethell gevolglik gesê: “Darwin het ’n fout begaan wat ernstig genoeg is om sy teorie te ondermyn. En daardie fout is eers onlangs as sodanig herken. . . . Een organisme kan inderdaad ‘geskikter’ as ’n ander wees . . . Dit is natuurlik nie iets wat help om die organisme te skep nie, . . . Dit is myns insiens duidelik dat daar iets baie ernstigs met so ’n idee geskort het.” Bethell het bygevoeg: “Soos ek die saak sien, is die gevolgtrekking uiters verstommend: Ek meen Darwin se teorie is op die randjie van ineenstorting.”18
Feit of teorie?
24, 25. (a) Wat is sommige van die gebiede waarop evolusie nie aan die vereistes vir ’n vasstaande feit voldoen het nie? (b) Hoe kan die moderne teorie beskou word, in die lig van wat ’n evolusionis daaroor gesê het?
24 In ’n samevatting van sommige van die onopgeloste probleme waarmee evolusie te kampe het, het Francis Hitching gesê: “Op drie kritieke gebiede waar [die hedendaagse evolusieteorie] getoets kan word, het dit gefaal: Die fossielverslag openbaar ’n patroon van evolusionêre spronge eerder as geleidelike verandering. Gene is ’n kragtige stabiliserende meganisme waarvan die hooffunksie is om te voorkom dat nuwe vorme evolueer. Geleidelike, lukrake mutasies op die molekulêre vlak kan nie die georganiseerde en toenemende ingewikkeldheid van lewe verklaar nie.”—Ons kursiveer.
25 Toe het Hitching afgesluit met hierdie opmerking: “Om dit sag uit te druk, ’n mens kan ’n evolusieteorie waaroor daar selfs onder diegene wat dit verkondig soveel twyfel bestaan, bevraagteken. Indien Darwinisme waarlik die groot verenigende beginsel van die biologie is, sluit dit buitengewoon groot gebiede van onkunde in. Dit bly in gebreke om van die mees grondliggende vrae te beantwoord: hoe lewelose chemikalieë lewend geword het, watter grammatikareëls agter die genetiese kode sit, hoe gene die vorm van lewende dinge bepaal.” Trouens, Hitching het gesê dat hy die hedendaagse evolusieteorie as “so ontoereikend” beskou “dat dit verdien om as ’n saak van geloof bejeën te word”.19
26. Waarom is dit nie redelik om steeds daarop aan te dring dat evolusie ’n feit is nie?
26 Talle voorstanders van evolusie meen egter dat hulle genoeg rede het om vol te hou dat evolusie ’n feit is. Hulle verduidelik dat hulle slegs oor besonderhede stry. Maar sou enige ander teorie wat met sulke geweldige probleme te kampe het, en waaroor daar sulke groot meningsverskil bestaan onder diegene wat dit voorstaan, so geredelik as ’n feit bestempel word? Om bloot herhaaldelik te sê dat iets ’n feit is, maak dit nie ’n feit nie. Dit is soos John R. Durant, ’n bioloog, in The Guardian van Londen geskryf het: “Talle wetenskaplikes swig voor die versoeking om dogmaties te wees, . . . die kwessie van die oorsprong van die spesies is al herhaaldelik as ’n uitgemaakte saak aangebied. Niks is verder van die waarheid af nie. . . . Maar die neiging om dogmaties te wees, duur voort, en dit bevorder nie die saak van die wetenskap nie.”20
27. Watter ander raamwerk vir die getuienis bied ’n grondslag om te verstaan hoe lewe hier gekom het?
27 Maar wat van die skepping as ’n verklaring vir hoe lewe hier gekom het? Bied dit ’n raamwerk vir die getuienis wat enigsins meer gegrond is as die bewerings wat evolusie dikwels stut? En werp Genesis, as die bekendste skeppingsverhaal, enige geloofwaardige lig op hoe die aarde en lewende dinge hier gekom het?
[Lokteks op bladsy 14]
‘Na ’n eeu en ’n kwart is Darwinisme verbasend diep in die moeilikheid’
[Lokteks op bladsy 15]
“Hoe evolusie presies plaasgevind het, is nou ’n groot twispunt onder bioloë”
[Lokteks op bladsy 18]
“Dit wil voorkom of die oog ontwerp is; geen ontwerper van teleskope kon beter gevaar het nie”
[Lokteks op bladsy 21]
“Die patroon wat ons die afgelope 120 jaar aangesê is om te vind, bestaan nie”
[Lokteks op bladsy 21]
“Sommige wetenskaplikes . . . skenk ernstige oorweging aan [evolusionêre] gedagtes wat eens net in romans gewild gemaak is”
[Lokteks op bladsy 22]
Nuwe teorieë weerspreek idees wat dekades lank aanvaar is
[Lokteks op bladsy 23]
“Ek meen Darwin se teorie is op die randjie van ineenstorting”
[Lokteks op bladsy 24]
“Die kwessie van die oorsprong van die spesies is al herhaaldelik as ’n uitgemaakte saak aangebied. Niks is verder van die waarheid af nie”
[Venster op bladsy 18]
“Rekenaarwetenskaplikes gefnuik in hulle poging om menslike gesig te ewenaar”
Onder hierdie opskrif het The New York Times berig: “Deskundiges wat hulle beywer om een van die mens se stoutste drome te bewaarheid—om masjiene te skep wat dink—het gestruikel tydens wat na ’n elementêre eerste stap gelyk het. Hulle kon nie gesig bemeester nie.
“Na twee dekades van navorsing moet hulle die masjiene nog die oënskynlik eenvoudige vermoë leer om alledaagse voorwerpe te herken en van mekaar te onderskei.
“Hulle het eerder ’n diepe, nuwe respek vir die gekompliseerdheid van menslike gesig verkry. . . . Die menslike retina word deur rekenaarwetenskaplikes beny. Sy 100 miljoen stafies en keëls en sy lae neurone verrig ten minste 10 miljard berekeninge per sekonde.”b
[Prent op bladsy 16]
’n Skrywer wat evolusie aanvaar, het in Londen se Times oor Darwin se boek The Origin of Species geskryf: “Ons het hier die opperste ironie dat ’n boek wat beroemd geword het vir sy verduideliking van die oorsprong van spesies in werklikheid niks van die aard doen nie”
[Prent op bladsy 17]
’n Evolusionis het gesê: “Verskanste posisies, vír en téén, is . . . ingeneem, en beledigings is soos mortierbomme van albei kante gewerp”
[Prente op bladsy 19]
Sterrekundige Robert Jastrow het gesê: “Dit is moeilik om die evolusie van die oog aan die toeval toe te skryf; dit is selfs moeiliker om die evolusie van menslike intelligensie aan lukrake ontwrigtings in die breinselle van ons voorouers toe te skryf”
[Prente op bladsy 20]
“Sommige van die klassieke gevalle van darwinistiese verandering in die fossielverslag . . . moes verwerp of gewysig word as gevolg van meer gedetailleerde informasie.”c—David Raup, Chicago se Veldmuseum van Natuurhistorie
Eohippus
Archaeopteryx
Longvis
[Prent op bladsy 22]
Hoewel die geskikste miskien oorlewe, verklaar dit nie hoe hulle hier gekom het nie