Mense—Wie is ons?
DIT lyk of mense ’n identiteitskrisis ondervind. Die evolusionis Richard Leakey sê: “Filosowe ondersoek al eeue lank aspekte van mensheid, van die menslike natuur. Maar daar is verbasend genoeg geen definisie van mensheid waaroor almal saamstem nie.”
Maar die Kopenhagen-dieretuin het hulle sienswyse openlik bekend gemaak deur middel van ’n uitstalling in hulle primaatsaal. Die 1997 Britannica Book of the Year verduidelik: “’n Deense egpaar het in die dieretuin in ’n tydelike woonkwartier ingetrek met die doel om besoekers te herinner aan hulle noue verwantskap met die ape.”
Naslaanwerke heg geloof aan so ’n beweerde noue verwantskap tussen sekere diere en mense. The World Book Encyclopedia sê byvoorbeeld: “Mense, tesame met ape, lemurs en spookdiere, maak die orde van soogdiere uit wat primate genoem word.”
Maar feit is dat mense soveel unieke eienskappe het wat diere nie het nie. Van hierdie eienskappe is liefde, ’n gewete, sedelikheid, geestelikheid, geregtigheid, barmhartigheid, humor, skeppingsvermoë, bewustheid van tyd, selfbewustheid, estetiese gevoel, besorgdheid oor die toekoms, die vermoë om kennis deur die geslagte heen te vermeerder en die hoop op lewe na die dood.
In ’n poging om hierdie eienskappe met die kenmerke van diere te versoen, wys party na evolusionêre sielkunde, wat ’n kombinasie van evolusie, sielkunde en sosiale wetenskap is. Het evolusionêre sielkunde lig gewerp op die raaisel van die menslike natuur?
Wat is die doel van die lewe?
“Die uitgangspunt van evolusionêre sielkunde is eenvoudig”, sê die evolusionis Robert Wright. “Die menslike verstand is, soos enige ander orgaan, ontwerp met die doel om gene na die volgende geslag oor te dra; die gevoelens en gedagtes wat dit voortbring, kan hiervolgens beter verstaan word.” Met ander woorde, ons hele doel in die lewe, soos voorgeskryf deur ons gene en weerspieël in die werking van ons verstand, is om voort te plant.
Trouens, “die menslike natuur kom”, volgens evolusionêre sielkunde, “grotendeels neer op meedoënlose genetiese eiebelang”. Die boek The Moral Animal sê: “Natuurlike teeltkeuse ‘wil hê’ dat mans met ’n eindelose reeks vroue geslagsomgang moet hê.” Volgens hierdie evolusionêre konsep word onsedelikheid vir vroue onder sekere omstandighede ook as natuurlik beskou. Selfs ouerliefde word beskou as ’n set van die gene om die oorlewing van ’n nageslag te verseker. Een beskouing beklemtoon dus die belangrikheid van genetiese erfenis om die mensdom se voortbestaan te verseker.
Party selfhelpboeke gebruik nou die nuwe tendens van evolusionêre sielkunde as grondslag. Een van hulle beskryf die menslike natuur as “nie baie anders as die sjimpanseenatuur, gorillanatuur of bobbejaannatuur nie”. Dit sê ook: “Wanneer dit by evolusie kom, . . . is dit voortplanting wat tel.”
Die Bybel leer daarenteen dat God nie die mens bloot geskep het met die doel om voort te plant nie. Ons is na God se “beeld” gemaak, met die vermoë om sy eienskappe, veral liefde, geregtigheid, wysheid en krag, te weerspieël. Voeg hierby die unieke eienskappe van mense wat vroeër genoem is, en dit word duidelik waarom die Bybel die mens bo diere stel. Die Bybel openbaar in werklikheid dat God die mens nie net geskep het met die begeerte om vir ewig te lewe nie, maar ook met die vermoë om hierdie begeerte te vervul in ’n regverdige nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring.—Genesis 1:27, 28; Psalm 37:9-11, 29; Prediker 3:11, NW; Johannes 3:16; Openbaring 21:3, 4.
Wat ons glo, maak ’n verskil
Dit is beslis nie net van akademiese belang om vas te stel wat die regte beskouing is nie, want wat ons oor ons oorsprong glo, kan ons lewenswyse beïnvloed. Die geskiedskrywer H. G. Wells het die gevolgtrekkings genoem waartoe baie gekom het nadat Charles Darwin se Origin of Species in 1859 gepubliseer is.
“’n Werklike demoralisasie het ingetree. . . . Daar was ’n werklike verlies aan geloof ná 1859. . . . Heersende volke het teen die einde van die negentiende eeu geglo dat hulle geheers het as gevolg van die Stryd om Voortbestaan, waarin die sterkes en slimmes die oorhand kry oor die swakkes en goedgelowiges. . . . Die mens, het hulle besluit, is ’n sosiale wese soos die Indiese wildehond. . . . Dit het vir hulle reg gelyk dat die groot honde van die mensetrop moet baasspeel en onderwerp.”
Dit is dus ongetwyfeld belangrik dat ons die regte beskouing verkry oor wie ons werklik is. Want, soos een evolusionis gevra het, “as eenvoudige outydse Darwinisme . . . die sedelike krag van die Westerse beskawing ondermyn het, wat sal gebeur wanneer die nuwe weergawe [van evolusionêre sielkunde] heeltemal wortelskiet?”
Aangesien ons basiese beskouing oor die lewe en oor reg en verkeerd beïnvloed word deur wat ons in verband met ons oorsprong glo, is dit noodsaaklik dat ons hierdie hele saak noukeuriger ondersoek.
[Lokteks op bladsy 4]
Die geskiedskrywer H. G. Wells het die gevolgtrekkings genoem waartoe baie gekom het nadat Charles Darwin se Origin of Species in 1859 gepubliseer is: “’n Werklike demoralisasie het ingetree. . . . Daar was ’n werklike verlies aan geloof ná 1859”