Die Bybelse beskouing
Is die selibaat ’n vereiste vir Christenbedienaars?
DIE selibaat verwys streng gesproke na die ongehude staat. Maar volgens The New Encyclopædia Britannica word die term ‘gewoonlik in verband met die ongetroude persoon se rol as ’n godsdiensamptenaar, -spesialis of -yweraar gebruik’. Die woord “selibaat” verwys na “diegene vir wie die ongehude staat die gevolg is van ’n heilige eed of ’n daad van selfverloëning of van ’n oortuiging dat dit verkieslik is vir ’n persoon vanweë sy godsdiensamp of sy graad van godsdienserns”.
Iewers in die verlede het sekere vername godsdienste die selibaat as ’n vereiste vir hulle bedienaars aangeneem. Maar die selibaat het ’n groter kenmerk van Katolisisme geword as van enige ander godsdiens in die Christendom. Daar bestaan vandag ’n groot geskil oor die Katolieke selibaat. The Wilson Quarterly het gesê dat “studie na studie in onlangse dekades tot die gevolgtrekking gekom het dat die verpligte selibaat, wat sedert die 12de eeu ’n vereiste vir Katolieke priesters is, die oorsaak van die kerk se probleme is om priesters te werf en te behou”. Volgens die sosioloog Richard A. Schoenherr “is al die oortuigende feite van die geskiedenis en maatskaplike veranderinge besig om teen die uitsluitlik manlike selibaat in die Katolieke priesteramp te draai”. Wat is die Bybel se beskouing van die selibaat?
Getroud of ongetroud?
Deur die geskiedenis heen het tallose vroom manne en vroue, van baie verskillende godsdienste, dit verkies om ongetroud te bly. Waarom? In baie gevalle was dit omdat hulle geglo het dat sinlike, materiële dinge die “oorsprong van die kwaad” was. Dit het die filosofie laat ontstaan dat geestelike reinheid slegs moontlik was deur onthouding van alle seksuele omgang. Maar dit is nie die Bybel se beskouing nie. In die Bybel word die huwelik as ’n rein, heilige gawe van God beskou. Die Genesisverslag van die skepping beskryf die huwelik duidelik as “goed” in God se oë en klaarblyklik nie as ’n versperring tot ’n rein geestelike verhouding met God nie.—Genesis 1:26-28, 31; 2:18, 22-24; sien ook Spreuke 5:15-19.
Die apostel Petrus en ander goedgekeurde knegte van God wat gesagsposisies in die vroeë Christengemeente beklee het, was getroude mans (Matteus 8:14; Handelinge 18:2; 21:8, 9; 1 Korintiërs 9:5). Die apostel Paulus se riglyne aan Timoteus oor die aanstelling van gemeentelike opsieners, oftewel “biskoppe”, toon dít duidelik. Hy skryf: “’n Biskop moet bo verdenking wees, die man van een vrou.” (Ons kursiveer; 1 Timoteus 3:2, Revised Standard Version, Katolieke uitgawe.) Let op dat daar hoegenaamd geen aanduiding is dat dit enigsins onvanpas was vir “’n biskop” om getroud te wees nie. Paulus het bloot getoon dat “’n biskop” nie ’n poligamis moet wees nie; as hy getroud is, moet hy net een vrou hê. Trouens, die Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur McClintock en Strong, kom tot die volgende gevolgtrekking: “Geen gedeelte in die N[uwe] T[estament] kan vertolk word as ’n verbod op die getroude staat van die geestelikes onder die bedeling van die Evangelie nie.”
Hoewel die Bybel groot waarde aan die huwelik heg, veroordeel dit beslis nie die ongetroude staat as dit uit vrye wil is nie. Die Bybel beveel dit aan as ’n gewenste lewensweg vir sommige (1 Korintiërs 7:7, 8). Jesus Christus het gesê dat sommige manne en vroue doelbewus kies om ongetroud te bly (Matteus 19:12). Waarom? Nie omdat daar iets wesenlik onrein omtrent die huwelik is wat hulle geestelike ontwikkeling sal belemmer nie. Hulle kies hierdie weg bloot omdat hulle hulle daarop wil toespits om God se wil te doen in tye wat hulle as dringend beskou.
Hoe die verpligte selibaat begin het
Maar in die eeue ná Christus het dinge verander. Gedurende die eerste drie eeue van ons Gewone Jaartelling “was daar getroude sowel as ongetroude bedienaars”, verduidelik David Rice, ’n Dominikaner wat die priesteramp verlaat het om te trou. Daarna is verklaarde Christene beïnvloed deur wat ’n godsdiensskrywer beskryf het as ’n “mengsel van Griekse en Bybelse idees”, wat gelei het tot ’n verdraaide beskouing van geslagsomgang en die huwelik.
Sommige het natuurlik nog steeds ongetroud gebly bloot “om algehele vryheid te hê om [hulle] aan die werk van die koninkryk van God toe te wy”. Maar ander is al hoe meer beweeg deur die heidense filosofieë wat hulle aangeneem het. The New Encyclopædia Britannica sê: “’n Opvatting dat geslagsomgang besoedelend en onverenigbaar met heiligheid is, het [in die verklaarde Christelike kerk] verskyn as die belangrikste beweegrede vir die instelling van die selibaat.”
In die vierde eeu, sê Rice, het die kerk “’n getroude priester verbied om geslagsomgang te hê die nag voor die Nagmaalviering”. Toe die kerk die daaglikse Nagmaal ingestel het, het dit beteken dat priesters hulle heeltemal van geslagsomgang moes onthou. Mettertyd is priesters geheel en al verbied om te trou. Die selibaat het dus verpligtend geword vir enigeen wat ’n bedienaar in die kerk sou wees.
Die apostel Paulus het teen presies so ’n verwikkeling gewaarsku. Hy het geskryf: “Die Gees het uitdruklik gesê dat daar in die laaste tye sommige sal wees wat van die geloof afvallig sal word en wat sal kies om na valse geeste en leringe te luister wat van die duiwels af kom . . . Hulle sal sê dat die huwelik verbode is.”—1 Timoteus 4:1, 3, Jerusalem Bible.
“Die wysheid [word] deur sy werke geregverdig”, het Jesus Christus gesê (Matteus 11:19). Die dwaasheid om van God se standaarde af te wyk, is bewys deur die werke en gevolge daarvan. Die skrywer David Rice het met baie priesters regoor die wêreld onderhoude oor die verpligte selibaat gevoer. Sommige met wie hy gepraat het, het gesê: “Jy bly in die priesteramp, doen soveel goeie dade as wat jy kan en maak oordeelkundig gebruik van die gewilligheid van toegewyde, bewonderende vroue wat hulle seksueel beskikbaar stel.”
Rice haal Matteus 7:20 aan en sê: “‘Aan hulle vrugte sal julle hulle herken’, het Jesus gesê.” Hy lewer vervolgens kommentaar oor die tragedie wat die gevolg van die gedwonge selibaat was: “Die vrugte van die verpligte selibaat is daardie duisende mans wat ’n dubbele lewe lei, duisende vroue wat ’n verwoeste lewe lei, duisende kinders wat deur hulle priesterlike vader verwerp is, om nie eens te praat van die priesters se leed nie.”
’n Eerbare huwelik is ’n gawe van God. Die gedwonge selibaat was geestelik nadelig. As ’n mens daarenteen uit vrye wil ongetroud bly, hoewel dit nie noodsaaklik is vir heiligheid of redding nie, kan dit ’n lonende en geestelik bevredigende lewensweg vir sommige wees.—Matteus 19:12.
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Life