My keuse tussen twee vaders
“Jy is nie meer my seun nie! Verlaat onmiddellik hierdie huis, en moenie terugkom totdat jy van daardie godsdiens afgesien het nie!”
EK HET weggegaan, met net die klere wat ek aangehad het. Bomme het daardie nag in die buurt ontplof, en ek het nie geweet waarheen om te gaan nie. Meer as ses jaar het verbygegaan voordat ek teruggekeer het huis toe.
Wat kon ’n pa so woedend maak dat hy sy eie seun op straat sou sit? Wel, laat ek verduidelik hoe dit alles begin het.
Ek word in ’n wêreld vol haat groot
My ouers woon in Beiroet, Libanon, ’n land wat voorheen welbekend was as ’n toeriste-aantreklikheid. Maar van 1975 tot 1990 was die stad die middelpunt van ’n verwoestende oorlog. Ek is in 1969 gebore, die eersgeborene in ’n Armeense gesin met drie kinders. My vroeë herinneringe is dus van vreedsame tye.
My ouers het aan die Armeens-Apostoliese Kerk behoort, maar my ma het ons net twee keer per jaar kerk toe geneem—met Paasfees en Kersfees. Ons gesin was dus nie baie godsdienstig nie. Ek is nietemin na ’n Evangeliese hoërskool gestuur, waar ek godsdiensonderrig ontvang het. Op daardie stadium het ek self ook nie in godsdiens belanggestel nie.
Een ding wat baie Armeniërs gedurende hulle kinderjare geleer het, was om die Turke te haat. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die Turke honderdduisende Armeniërs uitgewis en die grootste gedeelte van die land Armenië ingeneem. In 1920 het die oostelike deel wat oorgebly het ’n republiek van die Sowjetunie geword. As ’n jeugdige was ek vasbeslote om te veg sodat geregtigheid kon geskied.
Verandering in sienswyse
Maar in die tagtigerjare, toe ek in my middel-tienerjare was, het dinge wat my oom aan moederskant my vertel het my sienswyse begin verander. Hy het gesê dat die almagtige God binnekort alle ongeregtighede sou regstel. Hy het verduidelik dat selfs diegene wat in slagtings vermoor is tot lewe op die aarde opgewek sal word deur middel van die Koninkryk waarvoor Jesus Christus sy volgelinge leer bid het.—Matteus 6:9, 10; Handelinge 24:15; Openbaring 21:3, 4.
Ek was beïndruk. Ek wou meer weet en het aangehou om hom vrae te vra. Dit het tot ’n Bybelstudie gelei, wat in die huis van ’n ander Getuie gehou is.
Namate ek van my hemelse Vader, Jehovah, geleer het en hom al hoe meer liefgekry het, het ek begin vrees dat ek eendag voor ’n moeilike besluit te staan sou kom—ek sou moes kies tussen my gesin en Jehovah God.—Psalm 83:18, NW.
Moeilike keuse vir ’n 17-jarige
My ma het uiteindelik daarvan te hore gekom dat Jehovah se Getuies met my studeer. Sy was baie ontsteld en het my beveel om my Bybelstudie te staak. Toe sy besef dat ek sterk voel oor my oortuiging, het sy gedreig om my pa te vertel. Op daardie tydstip het ek nie omgegee nie omdat ek gedink het dat ek die situasie sou kon hanteer en my man sou kon staan teen my pa. Maar ek was verkeerd.
Toe my pa uitvind dat ek met Jehovah se Getuies omgaan, was hy woedend. Hy het gedreig om my uit die huis te sit as ek nie my Bybelstudie staak nie. Ek het vir hom gesê dat ek dit nie gaan opgee nie omdat dit wat ek geleer het die waarheid is. Nadat hy opgehou skreeu, gil en vloek het, het hy soos ’n kind begin huil. Hy het my letterlik gesoebat om nie meer met die Getuies om te gaan nie.
Ek was emosioneel verskeur en het dit moeilik gevind om te kies tussen twee vaders—Jehovah en hom. Ek het geweet dat hulle albei my baie liefhet, en ek wou hulle albei behaag; maar dit het onmoontlik gelyk. Die druk was meer as wat ek kon verduur. Ek het vir my pa gesê dat ek sou doen wat hy wou hê, want ek het geredeneer dat ek my studies kon hervat en ’n Getuie kon word wanneer ek ouer is. Ek was toe net 17.
Gedurende die daaropvolgende dae het ek my geskaam oor wat ek gedoen het. Ek het gevoel dat Jehovah nie gelukkig was nie en dat ek nie op die woorde van die psalmis Dawid vertrou het nie, wat gesê het: “Ingeval my eie vader en my eie moeder my werklik verlaat‚ sou Jehovah self my opneem” (Psalm 27:10, NW). Maar ek was nog in die hoërskool, en my ouers het vir my opvoeding betaal.
’n Fermer standpunt
Ek het meer as twee jaar lank nie my oom besoek of enige kontak met die Getuies gehad nie, aangesien ek geweet het dat my ouers my baie fyn dophou. Eendag in 1989, toe ek 20 was, het ek ’n Getuie raakgeloop wat ek geken het. Hy het baie vriendelik gevra of ek vir hom wou kom kuier. Aangesien hy niks omtrent ’n Bybelstudie gesê het nie, het ek uiteindelik vir hom gaan kuier.
Na verloop van tyd het ek die Bybel begin studeer en die vergaderinge van Jehovah se Getuies by die Koninkryksaal begin bywoon. Ek het by die werk gestudeer, waar niemand my kon steur nie. Gevolglik het ek ’n groter waardering vir Jehovah se liefdevolle persoonlikheid verkry, sowel as ’n beter begrip van die waarde daarvan om onder enige omstandighede ’n hegte verhouding met hom te hê en te behou. In Augustus van daardie selfde jaar het ek selfs dit wat ek geleer het aan ander begin vertel.
My gesin het tot op daardie tydstip niks geweet nie. ’n Paar dae later is ek egter weer deur my pa gekonfronteer, maar hierdie keer was ek beter voorbereid op die konfrontasie. Hy het kalm probeer vra: “Seun, is dit waar dat jy nog met Jehovah se Getuies omgaan?” Daar was trane in sy oë terwyl hy op my antwoord gewag het. My ma en suster het saggies gehuil.
Ek het verduidelik dat ek eers onlangs met die Getuies begin omgaan het en dat ek vasbeslote is om een van hulle te word. Toe het dinge baie vinnig gebeur. My pa het die woorde geskreeu wat in die inleiding van die artikel staan. Toe het hy my gegryp en geskreeu dat hy nie sou toelaat dat ek lewendig uit die huis kom nie. Ek kon losruk, en terwyl ek met die trap afgehardloop het, het ek gehoor hoe my jonger broer my pa probeer kalmeer. “Van nou af is u my Vader”, het ek tot Jehovah gebid. “Ek het u gekies; sorg dus asseblief vir my.”
Weerwraak
’n Paar dae later het my pa na my oom se huis toe gegaan omdat hy gedink het dat hy my daar sou kry. Hy het hom aangeval en wou hom doodmaak, maar ’n paar Getuies wat daar gekuier het, het tussenbeide getree. My pa het weggegaan, maar het belowe om weer te kom. Kort daarna het hy teruggekom, vergesel van burgersoldate met gewere. Hulle het die Getuies en my oom, wat baie siek was, na hulle militêre hoofkwartier geneem.
Daarna het hulle na ander Getuies in die omgewing begin soek. Die huis van een van hulle is ook binnegeval. Boeke, waaronder Bybels, is in die straat opgehoop en verbrand. Maar dit was nie al nie. Ses Getuies is in hegtenis geneem, sowel as party mense met wie hulle nog net gestudeer het. Almal is in ’n klein kamertjie gesit, ondervra en toe geslaan. Party is met sigarette gebrand. Nuus oor hierdie gebeure het soos ’n veldbrand in die buurt versprei. Burgersoldate het oral na my gesoek. My pa het hulle gevra om my op te spoor en my van plan te laat verander, ongeag watter metodes hulle gebruik.
’n Paar dae later het burgersoldate in die Koninkryksaal ingestorm, waar een van die gemeentes ’n vergadering gehou het. Hulle het die hele gemeente—mans, vrouens en kinders—gedwing om die saal te ontruim. Hulle het op hulle Bybels beslag gelê en hulle gedwing om na die burgermag se hoofkwartier te loop, waar hulle ondervra is.
Ek vlug na Griekeland
In hierdie hele tyd het ’n Getuiegesin ver van die onrustoneel af na my omgesien. ’n Maand later het ek die land verlaat en na Griekeland gegaan. Toe ek daar aankom, het ek my lewe aan Jehovah God toegewy en is ek as simbool van my toewyding gedoop.
In Griekeland het ek die liefdevolle sorg van ’n geestelike broederskap ondervind wat mense van ’n hele paar nasionaliteite ingesluit het—waaronder Turke. Ek het die waarheid van Jesus se woorde ervaar: “Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye, met vervolginge, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe.”—Markus 10:29, 30.
Ek het die volgende drie jaar in Griekeland gebly. Hoewel ek verskeie kere vir my pa geskryf het, het hy nooit my briewe beantwoord nie. Daar is later vir my gesê dat dít sy antwoord was aan vriende wat besoek afgelê het en hom oor my gevra het: “Ek het nie ’n seun met daardie naam nie.”
Hereniging ná ses jaar
Ek het in 1992 weer in Beiroet gaan woon, nadat die oorlog geëindig het. Deur ’n vriend het ek my pa laat weet dat ek graag wil terugkom huis toe. Hy het gesê dat ek welkom sou wees—maar net as ek van my geloof afgesien het. Ek het dus die volgende drie jaar in ’n gehuurde woonstel gewoon. Toe, in November 1995, het my pa skielik by my werk ingestap en gevra om met my te praat. Ek was nie daar nie, en hy het dus ’n boodskap gelaat dat hy wou hê ek moet huis toe kom. Eers was dit vir my moeilik om te glo. Ek het dus baie huiwerig na hom toe gegaan. Dit was ’n emosionele hereniging. Hy het gesê hy gee nie meer om dat ek ’n Getuie is nie en hy wou hê ek moes huis toe kom!
Vandag dien ek as ’n Christen- ouer man en ’n voltydse bedienaar in ’n Armeenssprekende gemeente. Ek kom dikwels mense soos my pa teë wat gesinslede teëstaan omdat hulle Jehovah wil dien. Ek besef dat my pa opreg geglo het dat hy reg optree deur my aanbidding teë te staan. Die Bybel berei Christene selfs hierop voor deur te sê dat hulle gesinsteenstand kan verwag.—Matteus 10:34-37; 2 Timoteus 3:12.
Ek hoop dat my pa en die res van ons gesin eendag my Bybelse hoop op ’n komende beter wêreld sal deel. Dan sal daar nie meer oorloë of slagtings wees nie, en mense sal nie meer uit hulle land verdryf word of ter wille van regverdigheid vervolg word nie (2 Petrus 3:13). En dan sal mense nie hoef te kies tussen twee dinge wat hulle so na aan die hart lê nie.—Bygedra.