Ongetroud, maar volkome vir God se diens
“Ook hy wat [sy maagdelikheid] in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat [dit] in die huwelik nie uitgee nie, doen beter.”—1 KORINTHIËRS 7:38, vgl. NW.
1. Hoe was die huwelik ’n seën?
JEHOVAH het nie verwag dat die eerste man ongetroud moet bly nie. God het eerder vir Adam, die voorvader van die mensegeslag, ’n huweliksmaat geskep (Genesis 2:20-24; Handelinge 17:26). En wat ’n seën was die huwelik tog! Dit het kameraadskap voorsien, wedersydse hulp moontlik gemaak, was ’n eerbare reëling om kinders voort te bring en het grootliks tot die mens se geluk bygedra. Ja, selfs die armes en verdruktes kan iets geniet wat geen som geld kan koop nie—huweliksliefde!—Hooglied 8:6, 7.
2, 3. (a) Watter beskouing het een godsdienspublikasie oor die selibaat en die huwelik gehuldig? (b) Wat is die Skriftuurlike beskouing van die huwelik?
2 Sommige het egter ’n ander beskouing van die huwelik. Een godsdienspublikasie sê: “Die selibaat is die kerklike wet in die Westerse Kerk wat geestelikes opgelê word en verbied dat getroudes georden word en dat diegene in heilige ordes trou. Dit sluit die verpligting in om ingevolge ’n gelofte volmaakte kuisheid te handhaaf. Die redes hiervoor is: dat diegene wat georden word God met groter doelgerigtheid kan dien (1 Kor. 7:32), en dat hulle deur ’n lewe van onthouding te lei die staat van maagdelikheid, wat heiliger en meer verhewe as dié van die huwelik is, naleef. In die NT [Nuwe Testament] word die selibaat of maagdelike staat verhoog tot ’n hoër roeping as dié van die gehude staat.”—The Catholic Encyclopedia, saamgestel deur Robert C. Broderick.
3 Is dit werklik moontlik dat gedwonge selibaat ‘heiliger en meer verhewe as die huwelik’ is? Nie volgens die “Nuwe Testament” nie, wat in die Katolieke Jerusalem Bible sê: “Die Gees het uitdruklik gesê dat daar gedurende die laaste tye sommige sal wees wat die geloof sal verlaat en verkies om te luister na valse geeste en leerstellings wat van die duiwels kom; en die oorsaak hiervan is die leuens wat vertel word deur geveinsdes wie se gewetes asof met ’n rooiwarm yster gebrandmerk is: hulle sal sê dat die huwelik verbode is en reëls neerlê oor die onthouding van voedsel wat God geskape het om met danksegging aanvaar te word deur almal wat glo en die waarheid ken” (1 Timotheüs 4:1-3). Die huwelik is in werklikheid ’n gawe van God, en dit is goed.—Rut 1:9.
4. Watter vrae ontstaan met die oog op 1 Korinthiërs 7:38?
4 Hoewel die huwelik ’n gawe van God is, het die apostel Paulus geskryf: “Ook hy wat [sy maagdelikheid] in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat [dit] in die huwelik nie uitgee nie, doen beter” (1 Korinthiërs 7:38, vgl. NW). Waarom het Paulus gesê dat dit beter sou wees om ongetroud te bly? Behoort ’n ongetroude persoon onvolkome te voel? En kan die ongehude staat lonend wees?
Die middelpunt van die Christelike lewe
5. Wat moet die middelpunt van die Christelike lewe wees?
5 Diens aan Jehovah behoort die middelpunt van ons Christelike lewe te wees, hetsy ons ongetroud of getroud is. Heilige diens wat met vreugde aan God gelewer word, getuig van ons gehegtheid aan hom as die Universele Soewerein. Heelhartige gehoorsaamheid en ywerige deelname aan die Christelike bediening is maniere om daardie gehegtheid te toon (1 Johannes 5:2, 3; 1 Korinthiërs 9:16). Die bediening sowel as ander gehoorsame dade wat met die goddelike wil strook, kan uitgevoer word as ’n mens ongetroud is.
6. Wat stel ’n ywerige bediening ons in staat om te doen, hetsy ons getroud of ongetroud is?
6 Evangeliste doen nou die Koninkryksverkondigingswerk tot eer van Jehovah. En of ons getroud of ongetroud is, ’n ywerige bediening bied ons die geleentheid om ten minste party van ons persoonlike middele en talente in God se diens aan te wend. Maar ons moet ons omstandighede só reël en beheer dat die bediening nooit enige ander plek as eerste plek in ons lewe inneem nie. Ons moet ‘eers die koninkryk soek’ (Mattheüs 6:33). Dit verskaf ons vreugde as ons ons op goddelike belange pleks van bloot op persoonlike belange toelê.
Volkome vir die bediening
7. Watter voorbeeld toon dat ’n ongetroude Christen volkome kan wees vir die bediening?
7 Christene kan volkome wees vir die bediening, hetsy hulle ongetroud of getroud is. Die ongehude staat is dus ’n fondament wat nie noodwendig verander hoef te word nie. (Vergelyk 1 Korinthiërs 7:24, 27.) God se Woord huldig nie die beskouing van sommige stamme dat ’n man nie ’n volwaardige man is tensy hy getroud is nie. Jesus Christus het as ’n ongetroude persoon gesterf, en ’n geestelike bruid in die hemel is die enigste vrou wat Jehovah Jesus gemagtig het om te hê (Openbaring 21:2, 9). Tog was God se Seun, hoewel hy as mens ongetroud was, die beste voorbeeld van iemand wat volkome was vir die bediening.
8. Wat word deur die ongehude staat moontlik gemaak, soos Paulus toon?
8 In werklikheid gee die ongehude staat ’n mens meer persoonlike vryheid en tyd vir die bediening. Paulus het die ongehude staat aanbeveel en gesê: “Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, hoe hy die Here kan behaag. . . . Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here” (1 Korinthiërs 7:32-34, NAV). Dit is van toepassing op ongetroude Christene en op diegene wat vroeër getroud was, maar wie se omstandighede verander het sodat hulle hulle weer in die ongehude staat bevind.—Mattheüs 19:9; Romeine 7:2, 3.
9. Hoe toon Jesus se voorbeeld dat die ongehude staat ’n mens nie onvolkome vir die Christelike bediening maak nie?
9 Volkomenheid vir God se diens word verkry wanneer liggaamlike, verstandelike en geestelike rypheid bereik word. Jesus Christus het nie ’n huweliksmaat nodig gehad om volkome te wees vir sy rol as God se Hoofbedienaar en die een deur wie die losprys voorsien sou word nie (Mattheüs 20:28). Omdat Jesus ongetroud was, was hy vry om sy volle krag in sy bediening uit te stort. Sy ongehude staat het ’n skerp kontras gevorm met die Joodse standaard, wat die huwelik en kinders beklemtoon het. Jesus was nietemin heeltemal in staat om sy Godgegewe werk te voltooi (Lukas 3:23; Johannes 17:3, 4). Die ongehude staat maak ’n persoon dus nie onvolkome vir die Christelike bediening nie.
Getroude persone is ‘verdeeld’
10. Wat het Paulus vanweë die band van “een vlees” omtrent getroude persone in vergelyking met ongetroude persone gesê?
10 In teenstelling met ongetroude mense moet getroude Christene die bediening volbring terwyl hulle hul band van “een vlees” in ag neem (Mattheüs 19:5, 6). Vanweë daardie band en die verskeie verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan, het Paulus gesê dat getroude persone ‘verdeeld’ is. Hy het geskryf: “Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man is besorg oor die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. Maar die getroude man is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy sy vrou kan behaag, en hy is verdeeld. Verder is die ongetroude vrou, en ook die maagd, besorg oor die dinge van die Here, om in haar liggaam en haar gees heilig te wees. Maar die getroude vrou is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy haar man kan behaag. Ek sê dit egter tot julle eie voordeel, nie om julle aan bande te lê nie, maar om julle te beweeg tot wat welvoeglik is en voortdurende diens aan die Here beteken, sonder om afgelei te word.”—1 Korinthiërs 7:32-35, NW.
11. Waarop het Paulus in 1 Korinthiërs 7:32-35 die aandag gevestig?
11 Dit is duidelik dat Paulus die ongehude staat vir ’n meer onverdeelde lewe aanbeveel het. Hy was dalk self ’n wewenaar wat verkies het om nie weer te trou nie (1 Korinthiërs 9:5). Hy het in elk geval geweet dat die huwelikslewe in hierdie wêreld met bekommernisse gepaard gaan. Hy het die aandag gevestig op die betreklike vryheid wat ongetroude Christene kan geniet en hoe die belange van getroude gelowiges noodwendig tussen vleeslike en geestelike sake verdeel is. Die getroude persoon oefen nie volle gesag oor sy liggaam uit nie, want sy huweliksmaat is een vlees met hom en het dus ’n aanspraak op sy liggaam (1 Korinthiërs 7:3-5, NW). Met die oog hierop het Paulus tereg gesê dat die ongetroude Christen in liggaam sowel as in gees heilig kan wees, dit wil sê, volkome afgeskeie en afgesonder vir Jehovah God se regstreekse gebruik.
12. Wat kan ’n ongetroude persoon doen omdat hy nie ’n huweliksmaat het nie?
12 Die ongetroude Christen se gees, of geestesgesindheid, beweeg hom om God se Koninkryk daadwerklik en onverdeeld te dien. Omdat hy nie ’n huweliksmaat het wat op gedeeltelike beheer van sy liggaam aanspraak maak nie, kan hy die gees, of gesindheid, van sy verstand en hart volg. Hy kan hom met sy ganse liggaam en verstand op Jehovah se diens toelê. Die ongetroude man of vrou is dus in die beste posisie om met die grootste persoonlike vryheid net die Here te behaag. Ons kan nie met reg beswaar maak teen wat Paulus gesê het nie, want Jehovah het dit goedgedink om dit vir ons onderrig te laat opteken.
Is ’n getroude persoon onvolkome?
13, 14. Watter verkeerde weg veronagsaam die band van “een vlees” en sal ’n ongetroude persoon onvolkome vir die Christelike bediening maak?
13 Op grond van die misvatting dat hulle meer in God se diens kan doen, laat sommige getroude Christene dalk hulle huwelik ’n taamlik onbelangrike plek in hulle lewe inneem. Die vrou kan byvoorbeeld begin om op betekenisvolle maniere onafhanklik van haar man op te tree. Die man kan opgaan in gemeentelike bedrywighede. Onder hierdie omstandighede sal hulle moontlik tot die gevolgtrekking kom dat hulle redelik goed doen in Jehovah se diens. Maar in werklikheid is hulle dalk besig om ’n weg in te slaan wat die band van “een vlees” veronagsaam. As dit die geval is, sal dit Jehovah nie behaag nie.
14 Trouens, die veronagsaming van die band van “een vlees” sal ’n getroude persoon onvolkome vir die Christelike bediening maak. Die huwelik dra nie by tot volkomenheid vir die bediening nie, maar verminder die persoonlike aandag wat ons daaraan kan skenk. (Vergelyk Lukas 14:16, 17, 20.) Maar as getroude persone God wil behaag en volkome wil wees as sy bedienaars, moet hulle hul huweliksverpligtinge nakom.
Ongetroud ter wille van die koninkryk
15. (a) Watter hoedanigheid moet ongetroude Christene aankweek? (b) Watter basiese punt oor die huwelik en die ongehude staat het Paulus in 1 Korinthiërs 7:36, 37 gestel?
15 Terwyl getroude knegte van Jehovah hulle huweliksverpligtinge moet nakom, moet ongetroude Christene in hulle ongehude volkomenheid vergenoegdheid kweek. Soos Paulus gesê het: “Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek [ongetroud]. Is jy aan ’n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie; is jy los van ’n vrou, moenie ’n vrou soek nie” (1 Korinthiërs 7:8, 27). As ongetroude persoon moet jy, met Jehovah se hulp, die vergenoegdheid kweek wat God moontlik maak. ’n Verandering van staat moet nie ’n uitgemaakte saak wees, bloot die navolging van ’n gebruik of ’n reaksie op portuurdwang nie. Dit moet eerder uit ’n Skriftuurlike behoefte spruit, want Paulus het gesê: “Indien iemand dink dat hy hom ongepas gedra ten opsigte van sy maagdelikheid, as dit verby die bloei van die jeug is, en dit die manier is waarop dit moet geskied, laat hom doen wat hy wil; hy sondig nie. Laat hulle trou. Maar as iemand vasstaan in sy hart en dit nie vir hom noodsaaklik is nie, maar hy gesag oor sy eie wil het en in sy hart besluit het om sy maagdelikheid te bewaar, sal hy goed doen.”—1 Korinthiërs 7:36, 37, NW.
16. (a) Wat beteken dit om “verby die bloei van die jeug” te wees? (b) Waarvan moet die Christen wat ongetroud bly, oortuig wees?
16 Paulus het dus getoon dat dit nie verkeerd sou wees om te trou as iemand hom op die een of ander manier ongepas ten opsigte van sy maagdelikheid gedra het nie, hoewel die apostel ongetwyfeld nie growwe sonde bedoel het nie. Soos hy vroeër gesê het: “Dit is beter om te trou as om van begeerte te brand” (1 Korinthiërs 7:9). Hy het natuurlik gepraat van die huwelik onder daardie omstandighede as ’n mens “verby die bloei van die jeug” was, verby die tyd wanneer seksuele belangstelling aanvanklik sterk geword het. As ’n volwasse individu “gesag oor sy eie wil” gehad en in sy hart vas besluit het om vir die ongehude staat plek te maak, sou hy goed doen. ’n Geslaagde ongehude staat beteken nie dat ’n mens ’n knaende en feitlik oorweldigende begeerte na die huwelik en gesinslewe onderdruk nie. Die Christen wat besluit om ongetroud te bly, moet eerder ten volle in sy of haar hart daarvan oortuig wees dat dit in sy of haar geval reg is om ongetroud te bly en moet bereid wees om hom of haar in die nodige mate in te span om daardie staat in kuisheid te handhaaf. Die aandag van die Christen wat dit doen, sal minder afgelei word, en hy sal groter vryheid hê om die Here te dien.
17. Waarom bly sommige volgens Jesus ongetroud?
17 Dit sal ongetroude Christene help om ongetroud te bly as hulle die sin van Jesus Christus kweek. Hoewel hy ongetroud was in ’n gemeenskap wat die huwelik beklemtoon het, het hy sy tyd en talente aan sy eenmalige bediening gewy. ’n Ongetroude Christen kan hom, soos Jesus, verheug in die gawe van die ongehude staat wat God skenk aan diegene wat daarvoor plek maak. In hierdie verband het Jesus gesê: “Nie almal maak plek vir die woord nie, maar alleenlik diegene wat die gawe het. Want daar is eunugs wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is eunugs wat deur mense eunugs gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself ter wille van die koninkryk van die hemele eunugs gemaak het. Laat hom wat daarvoor plek kan maak, daarvoor plek maak.”—Mattheüs 19:11, 12, NW.
18. Wat weerhou “eunugs” wat ter wille van die Koninkryk “eunugs” is daarvan om te trou?
18 Jesus het nie gesê dat ’n ongetroude persoon beter as ’n getroude persoon is nie. Hy het die ongehude staat nie bloot ter wille van ’n sorgvrye lewe voorgestaan nie, en hy het dit beslis nie aanbeveel sodat die ongetroude persoon sy of haar attensies aan verskeie van die ander geslag kon bewys nie. Nee, maar diegene wat hulself ter wille van die Koninkryk “eunugs” maak, is sedelik regskape persone wat in hulle harte hiervoor plek maak. Wat weerhou hulle daarvan om te trou? Nie die een of ander liggaamlike gebrek nie, maar ’n oorweldigende begeerte om hulle in die grootste mate moontlik op God se diens toe te lê. Hierdie diens is nou veral belangrik, aangesien die Koninkryk in 1914 in die hemele opgerig is en “hierdie evangelie van die koninkryk” vóór die vinnig naderende einde van hierdie gedoemde stelsel vir ’n getuienis oor die hele aarde verkondig moet word.—Mattheüs 24:14.
Prys ongetroude Christene
19. Wat moet alle Christene doen met betrekking tot diegene wat ter wille van die Koninkryk ongetroud bly?
19 Alle Christene moet diegene wat ter wille van die Koninkryk ongetroud bly, prys en bemoedig. Die ongehude staat beteken immers “voortdurende diens aan die Here . . . sonder om afgelei te word” (1 Korinthiërs 7:35, NW). Dit sal goed wees as ouers hulle kinders leer wat die Bybel omtrent die ongehude staat en die voordele daarvan vir Jehovah se diens sê. Ons almal kan ongetroude medegelowiges bemoedig en moet nooit hulle voorneme om ter wille van die Koninkryk ongetroud te bly, ondermyn nie.
20. Wat moet jy doen as jy ’n ongetroude Christen is?
20 Ongetroude Christene kan hulle as volkome bedienaars van God verheug. Dit is vir hulle aangenaam om in hierdie kritieke tye aan die dringende werk van Koninkryksverkondiging deel te neem. As jy ongetroud is, moet jy derhalwe verheug wees dat Jehovah jou as ’n volkome, ongetroude Christenbedienaar gebruik. ‘Werk jou heil uit met vrees en bewing, terwyl jy soos ’n lig in die wêreld skyn deur die woord van die lewe stewig vas te hou’ (Filippense 2:12-16). Spits jou op Koninkryksbelange toe terwyl jy eensgesind met die internasionale broederskap van Jehovah se Getuies bly en die Christelike bediening vervul. Soos ons sal sien, is dit ’n lonende lewenswyse om dit as ’n ongetroude persoon te doen.
Wat is jou antwoorde?
◻ Wat behoort die middelpunt van die Christelike lewe te wees?
◻ Waarom kan ongetroude knegte van Jehovah volkome wees vir die Christelike bediening?
◻ Hoe kan ’n getroude persoon onvolkome wees?
◻ Wat beteken dit om ter wille van die Koninkryk ’n “eunug” te wees?
◻ Waarom behoort ons ongetroude Christene te bemoedig?
[Prent op bladsy 10]
Die apostel Paulus was volkome hoewel hy ongetroud was
[Prent op bladsy 12]
Jesus was die beste voorbeeld van ’n persoon wat volkome was vir die bediening
[Prent op bladsy 15]
Prys jy diegene wat ter wille van die Koninkryk ongetroud bly?