Gedaantewisseling—Is sien glo?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK
DIE toordokter was dood. Maar vir baie in die skare wat buite sy huis byeengekom het, het hy bloot ’n gedaantewisseling ondergaan. Want die oomblik toe hy sterf, het hulle ’n enorme luislang by die deur van sy huis sien uitseil! Vir sommige was dit net toevallig. Maar vir ander was dit oortuigende bewys dat die toordokter in ’n luislang verander het—’n gedaantewisseling ondergaan het!
In baie dele van Afrika is die mening dat ’n mens in ’n dier kan verander of verander kan word diepgewortel. Daar word dikwels geglo dat towenaars die mag het om die gedaante van luiperds en luislange aan te neem. Die vrees dat ’n towenaar ander in diere kan verander, is eweneens algemeen. In westelike Afrika word daar geglo dat hekse die geeste van mense deur middel van voëls en ander diere kan uitstuur om ander leed aan te doen. In die sentrale deel van Afrika sal sommige nie ’n olifant of ’n slang doodmaak nie uit vrees dat ’n afgestorwe familielid dalk in een van hierdie diere verander is.
Hoewel sommige lesers dalk dink dat hierdie opvattings vreemd is, glo baie Afrikane dat sulke gedaantewisselings deur ooggetuies bevestig is. Hulle redeneer dat die baie stories wat deur redelike mense vertel word nouliks toevallige gebeurtenisse kon wees.
Dit is ook ’n feit dat soortgelyke opvattings regoor die wêreld gevind kan word. In Japan bestaan die opvatting byvoorbeeld dat mense deur jakkalse, honde en dassies in besit geneem kan word. Europese volksoorleweringe bevat eweneens verhale van mans wat snags in bloeddorstige weerwolwe verander word. In ander wêrelddele is daar verhale van tiers, wildevarke, krokodille en selfs katte wat tussen menslike en dierlike gedaantes kan wissel.
Ondersteun die Skrif dit?
Sommige beweer selfs dat die Skrif geloof in bonatuurlike gedaantewisseling goedkeur. Vier Bybelverslae word dikwels as bewys aangehaal. In die eerste een het Jesus demone uit twee mans uitgedryf, en nadat hulle uitgedryf is, het die demone in ’n trop varke ingevaar (Matteus 8:28-33). In die tweede verslag, wat in Numeri 22:26-35 opgeteken is, het Bileam se esel met hom gepraat. In die derde geval, wat moontlik die bekendste van hierdie verslae is, het ’n slang in die tuin van Eden met Eva gepraat.—Genesis 3:1-5.
Maar ’n sorgvuldige ondersoek van hierdie verslae toon dat hulle beslis nie voorbeelde van gedaantewisseling is nie. Neem die geval van die demoonbesete varke. Die Bybel sê nie dat hierdie varke mense was wat in diere verander is nie. Nee, die verslag sê dat die “groot trop varke gewei” het voordat die demone in hulle ingevaar het (Matteus 8:30). Satan se demone, nie die geeste van mense nie, het in die varke ingevaar.
Wat van Bileam se esel en die slang in Eden? In die eersgenoemde geval sê die Bybel spesifiek dat “die HERE . . . die bek van die esel geopen” het sodat hy kon praat (Numeri 22:28). Dit was nie ’n mens wat van gedaante gewissel het nie. En wat die slang in Eden betref, identifiseer die Bybel die bose gees met die naam Satan die Duiwel as “die oorspronklike slang” (Openbaring 12:9). Dit was Satan wat deur die slang gepraat het en “Eva deur sy listigheid verlei het” (2 Korintiërs 11:3). Ja, Bileam se esel sowel as die slang was diere—voordat, terwyl en nadat hulle gepraat het.
’n Vierde verslag wat oor die hoogmoedige koning van Babilon, Nebukadnesar, handel, word dikwels aangehaal. Die Bybel sê dat God Nebukadnesar verneder het. “Sy hart het soos dié van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens” (Daniël 5:21). Gedurende die sewe jaar wat hy waansinnig was, het Nebukadnesar soos ’n dier gelyk en opgetree. Volgens Daniël 4:33 het “sy hare lank geword . . . soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls”. Maar die koning het nooit werklik vere of kloue gekry nie. Hy het ’n mens gebly!
Die opvatting van bonatuurlike gedaantewisseling is reëlreg teen Bybelleringe. Ten eerste toon die Bybel dat die mens nie ’n afsonderlike siel het wat ’n dier kan bewoon nie. Die mens self is eerder “’n lewende siel”! (Genesis 2:7). Gedaantewisseling druis ook in teen die natuurlike orde van dinge wat deur Jehovah God tot stand gebring is. Diere is geskep om “volgens hulle soorte” voort te plant (Genesis 1:24, 25). Weens die genetiese grense wat God gestel het, is dit nie vir verskillende soorte, oftewel hoofgroepe, moontlik om te paar en voort te plant nie. ’n Selfs groter kloof bestaan tussen diere en die mens, wat ‘na God se beeld’ geskep is (Genesis 1:26). God sou beslis nie ’n bespotting van sy eie wette maak deur mense die mag te gee om hulleself in redelose diere te verander nie.
Gedaantewisseling kom weliswaar in die natuur voor. Ruspes word skoenlappers, en paddavissies word paddas. Maar nadere ondersoek toon dat hierdie voorbeelde van gedaantewisseling nie ’n verandering van “soort” behels nie, maar bloot ontwikkelingstadiums binne dieselfde “soort” is. Wanneer die volwasse stadium bereik is, sal hulle voortplant “volgens hulle soorte”.
Sien is nie altyd glo nie
Hoe moet ons dan die verslae verklaar van ooggetuies wat beweer dat hulle bonatuurlike gedaantewisseling waargeneem het? Dit is klaarblyklik net nog ’n voorbeeld van “die werking van Satan met elke kragtige werk en leuenagtige tekens en voortekens en met allerhande onregverdige bedrog vir dié wat vergaan”.—2 Tessalonisense 2:9, 10.
Soos alle bullebakke wil die demone hê mense moet glo dat hulle meer mag het as waaroor hulle in werklikheid beskik. Hulle verrig oortuigende “tekens” wat niks anders is as die bedrog van diewe en swendelaars nie.
Dit herinner ons aan die kaartswendelaars in baie Afrikamarkte. Hulle verlei sommige huisvroue skaamteloos om hulle swaar verdiende geld in gemanipuleerde kaartspeletjies te verloor. Hulle sal drie speelkaarte vir ’n vrou wys—twee rooies en een swarte—en vir haar sê dat sy haar geld kan verdubbel deur eenvoudig die swart kaart uit te kies. Sy huiwer om te speel—totdat sy sien hoedat iemand anders oënskynlik hierdie maklike speletjie wen. Min weet sy dat die sogenaamde wenner meewerk in die bedrog. Sy wed en hou die swart kaart fyn dop terwyl die kaarte omgedraai en rondgeskommel word. Maar tot haar skaamte en ontsteltenis is die kaart wat sy kies rooi. Sy het haar gesin se kosgeld uitgegee—’n slagoffer van haar eie hebsug en van ’n geslepe bedrieër se kulkunsies! Sy het te laat geleer dat sien nie altyd glo is nie.
Op soortgelyke wyse verlustig Satan en sy demone hulle daarin om mense te verlei om te dink dat mense in diere kan verander. Satan is ’n aartsbedrieër. Dit was per slot van rekening hy wat die eerste leuen vertel het deur vir Eva te sê: ‘Julle sal gewis nie sterwe nie; julle sal soos God wees’ (Genesis 3:4, 5). Hierdie leuen het ’n verskeidenheid leringe voortgebring wat mense in vrees hou, soos die onsterflikheid van die siel, ’n helse vuur en gedaantewisseling. In Afrika sal mense dus ’n buitensporige prys betaal om “ingeënt” te word omdat hulle dink dat dit hulle daarteen kan beskerm om in ’n dier verander te word. In werklikheid is sulke mense slawe van die “leringe van demone” en word hulle verhinder om die wil van God te doen.—1 Timoteus 4:1; Jakobus 4:7.
Die ware gedaantewisseling
Jy het miskien nog altyd geglo aan of was moontlik selfs bang vir gedaantewisseling. Indien wel, moet jy die woorde van die Bybel in Romeine 12:2 in ag neem. Hier word daar in die oorspronklike teks ’n vorm van die Griekse woord me·ta·mor·foʹo gebruik. Ons lees: “Word verander [me·ta·mor·fouʹsthe] deur julle verstand te hervorm.” Dit verwys na ’n gedaantewisseling wat wel kan gebeur—’n volkome persoonlikheidsverandering!
Diegene wat God wil behaag, moet so ’n verandering aanbring, want die Bybel spoor ons aan: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis nuut gemaak word na die beeld van die Een wat dit geskep het.”—Kolossense 3:9, 10.
Hoe kan jy verander word? Deur juiste kennis van die Bybel in te neem. Daardie kennis kan daartoe lei dat jy gekoesterde opvattings en idees prysgee. Maar, soos Jesus gesê het, “julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Ja, jy kan vrygemaak word van die leuens en vrese van gedaantewisseling.
[Prent op bladsy 15]
Wat ons oë “sien”, is nie altyd die werklikheid nie
[Foto-erkenning op bladsy 13]
Toordokter: Met vergunning van die Africanamuseum, Johannesburg