Hoe ons ons kinders teen bendes kan beskerm
“Kinders het mense nodig wat vir hulle omgee.”—Not My Kid—Gang Prevention for Parents.
NAAS ons verhouding met God is ons kinders van ons kosbaarste besittings. Ons moet met hulle praat, na hulle luister, vir hulle drukkies gee en seker maak dat hulle weet hulle is vir ons baie belangrik. Ons moet hulle goeie dinge leer—om eerlik en behulpsaam te wees, hoe om die lewe te geniet en hoe om goedhartig teenoor ander te wees.
Die superintendent van ’n huis van detensie vir jeugdiges het sy vinger op ’n groot probleem van vandag gelê toe hy gesê het: “Geen waardes word in die gesin geleer nie.” Dit is beslis iets waaraan ons moet aandag skenk. Ons moet lewe soos wat ons wil hê ons kinders moet lewe en hulle die vreugde laat sien wat dít in ons lewe tot gevolg het. Hoe kan ons verwag dat hulle behoorlike waardes sal hê as ons hulle nie sulke waardes leer nie?
Today, ’n tydskrif wat vir Amerikaanse onderwysers gedruk word, het gesê dat bendes dikwels jongmense lok wat “hulleself as ’n mislukking beskou” en wat “op soek [is] na sekuriteit, ’n samehorigheidsgevoel en sosiale aanvaarding”. As ons werklik ons kinders hierdie dinge by die huis gee—sekuriteit, ’n samehorigheidsgevoel en ’n sterk gevoel van sukses in die gesin en in hulle eie lewe—is dit baie onwaarskynliker dat hulle deur die valse beloftes van ’n bende gelok sal word.
Die aanvoerder van ’n polisie-eenheid teen bendes in Kalifornië vertel van die geskokte uitdrukkings wat hy op ouers se gesigte sien wanneer die polisie aan hulle deur klop om te sê dat hulle kind in die moeilikheid is. Hulle kan nie glo dat die een wat hulle gedink het hulle so goed ken iets verkeerds kon gedoen het nie. Maar hulle kind het nuwe vriende gekry en het verander. Die ouers het dit net nie agtergekom nie.
Noodsaaklik om voorsorg te tref
Mense wat in gebiede woon waar bendes bedrywig is, sê dat jongmense sowel as ouer mense goeie oordeel aan die dag moet lê en ’n bende nie moet uitdaag of dreig nie. Vermy groot groepe bendelede, en moenie hulle voorkoms of optrede naboots nie, waaronder die styl en kleur van die klere wat hulle dra. As jy hulle naboots, kan dit jou die teiken van ’n mededingende bende maak.
As iemand aantrek en optree asof hy deel van ’n bende wil wees, sal die lede daarvan dalk druk op hom uitoefen om een van hulle te word. Die belangrikheid daarvan om te weet wat die gesindhede van die plaaslike bendelede is, is toegelig deur ’n vader met drie kinders in Chicago. Hy het gesê: ‘As my pet na die regterkant toe wys, dink hulle dat ek hulle minag.’ En dit kan tot geweld lei!
Wees betrokke by jou kinders
Een moeder het gesê: “Ons moet bewus wees van hoe ons kinders voel en wat hulle doen. Ons staan nie ’n kans as ons nie persoonlike belangstelling in hulle lewe toon nie.” ’n Ander een het gesê dat die bendeprobleem nie tot ’n einde sal kom as ouers dit nie stopsit nie. Sy het bygevoeg: “Kom ons gee hulle liefde. As hulle verlore is, is ons verlore.”
Weet ons wie ons kinders se vriende is, waarheen hulle ná skool gaan en waar hulle saans is? Nie alle moeders kan natuurlik tuis wees wanneer hulle kinders van die skool af huis toe kom nie. Maar enkelmoeders wat moedig sukkel om die huur te betaal en hulle kinders te voed, kan moontlik reëlings tref met ander moeders of met iemand wat hulle vertrou om in die middag na hulle kinders te kyk.
’n Man wat in ’n groot bendegebied woon, is gevra hoe hy sy eie kinders teen bendes sou beskerm. Hy het gesê dat hy sy seun deur die buurt sou neem om hom die resultaat van bendebedrywighede te wys. Hy sou wys na die graffiti en die vervalle geboue en hom wys “dat die gebied nie veilig lyk nie en dat bendelede net rondstaan en feitlik niks met hulle lewe doen nie”. Hy het bygevoeg: “Dan sou ek verduidelik dat hy kan voorkom dat sy lewe daarop uitloop as hy volgens Bybelbeginsels lewe.”
Iets so eenvoudig soos ons opregte belangstelling in ons kinders se skoolwerk kan vir hulle ’n beskerming wees. As hulle skool ’n oueraand of ’n ander geleentheid het wanneer ouers genooi word om die klaskamers te besoek en met die onderwysers te praat, moet ouers beslis gaan. Ken julle kinders se onderwysers, en laat hulle besef dat julle oor julle kind besorg is en in sy of haar skoolopleiding belangstel. As die skool nie ’n skoolbesoekprogram het nie, moet julle geleenthede probeer vind om met die onderwysers te praat oor julle kind se vordering op skool en oor hoe julle moontlik kan help.
’n Opname in ’n groot Amerikaanse stad het bevind dat 9 persent van die leerlinge wie se gesin hulle met hulle huiswerk gehelp het of hulle aangespoor het om dit te doen by ’n bende aangesluit het. Maar in gesinne waar sulke aandag nie gegee is nie, het twee keer soveel leerlinge—18 persent—by ’n bende aangesluit. As ons ’n liefdevolle en hegte gesin het en as ons heilsame dinge saam doen, sal dit die waarskynlikheid verminder dat ons kinders deur die valse beloftes van bendes gelok sal word.
Wat ons kinders werklik nodig het
Ons kinders het dieselfde dinge as ons nodig—liefde, goedhartigheid en toegeneentheid. Baie kinders is nog nooit op ’n tere, liefdevolle manier aangeraak nie of daar is nog nooit vir hulle gesê dat hulle werklik saak maak nie. Mag dit nooit met ons kinders die geval wees nie! Laat ons hulle omhels, vir hulle sê dat ons hulle liefhet en probeer toesien dat hulle volgens die sedes lewe wat ons hulle geleer het. Hulle is te kosbaar vir ons om hulle op enige ander manier te behandel.
Gerald, ’n gewese bendelid, het verduidelik: “Ek het nie ’n vader gehad na wie ek kon opsien nie; daarom het ek my tot die bendes gekeer om daardie leemte in my lewe te vul.” Hy het op 12-jarige ouderdom dwelms begin gebruik. Maar toe hy 17 was, het sy moeder ’n gereelde tuisbybelstudie met Jehovah se Getuies gehad. Sy het die Bybel se voortreflike beginsels in haar lewe toegepas. Hy sê: “Ek het die verandering in haar gesien, en ek het gedink: ‘Daar moet iets hierin steek.’” Haar goeie voorbeeld het hom beweeg om sy lewe te verander.
Ons kinders behoort in ons ’n goeie voorbeeld te sien—dat ons lewe soos ons vir hulle sê om te lewe. Hulle moet oor hulle gesin goed kan voel, nie ten opsigte van wat dit besit nie, maar wat dit doen. En die kinders moet in so ’n mate gehelp word dat hulle goed voel oor hulle eie sedelike gedrag. ’n Voormalige staatsaanklaer in die distrik van Los Angeles, Ira Reiner, het dit so gestel: “Ons moet kinders bereik voordat hulle by bendes aansluit.”
Voorsien wat hulle nodig het
Dit is nie die materiële dinge wat ons vir ons kinders gee wat die belangrikste is nie. Wat werklik tel, is dat ons hulle help om liefdevolle, bedagsame volwassenes te word wat goeie sedelike standaarde het. Die Bybel sê dat die regverdige Jakob sy jong kinders “die kinders met wie God [my] begunstig het”, genoem het (Genesis 33:5, NW). As ons ons kinders so beskou—as gawes wat God ons gegee het—sal ons meer geneig wees om hulle met liefde te behandel en hulle te leer om eerlike, opregte en sedelike lewens te lei.
Ons sal dus alles in ons vermoë doen om ons eie lewe so te lei dat ons die regte voorbeeld vir ons kinders stel. Ons sal hulle op ’n gepaste en heilsame manier trots laat voel op die gesin, nie op die gesin se materiële besittings nie, maar op die soort mense wat ons is. Sodoende sal die moontlikheid kleiner wees dat hulle ondersteuning by diegene op straat sal soek.
Een oupa dink terug aan sy jeug en sê: “Ek sou nooit enigiets gedoen het wat my gesin oneer sou aandoen nie.” Hy het erken dat hy so gevoel het omdat hy bewus was van die liefde wat sy ouers vir hom gehad het. Dit is wel miskien nie maklik vir party moeders en vaders wat nooit liefde van hulle eie ouers ontvang het om liefde aan hulle kinders te betoon nie. Nietemin moet ouers daaraan werk om liefde aan hulle kinders te betoon.
Waarom is dit so belangrik? Want soos “What’s Up”, ’n tydskrif wat deur Utah se Vereniging van Bendenavorsers uitgegee word, gesê het: “Wanneer jongmense voel dat hulle geliefd is en sekuriteit het—nie finansiële sekuriteit nie, maar emosionele sekuriteit—verdwyn die behoeftes wat hulle tot bendes dryf dikwels.”
Party lesers dink dalk dat sulke liefdevolle gesinne nie meer bestaan nie. Maar hulle bestaan wel. Jy kan baie van hulle in die gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld vind. Dit is waar dat hierdie gesinne nie volmaak is nie, maar hulle het ’n groot voordeel: Hulle bestudeer wat die Bybel aangaande kinderopvoeding sê en streef daarna om die Bybel se Goddelike beginsels in hulle eie lewe toe te pas. Wat meer is, hulle leer hulle kinders hierdie beginsels.
Jehovah se Getuies stem saam met die stelling wat in The Journal of the American Medical Association gemaak is: “’n Mens kan nie hoop om . . . tieners te hê wat ‘net nee sê’ sonder om hulle iets te gee waarvoor hulle kan ‘ja sê’ nie.” Met ander woorde, as ons wil hê dat ons kinders vir goeie en heilsame dinge ja moet sê, moet ons hulle in daardie rigting lei.
Nie een van ons sal ooit wil sê, soos een vader gesê het nie: ‘My seun het in sy bende die kameraadskap en respek gekry wat hy nooit voorheen gevoel het nie.’ Ons wil ook nooit ons kinders hoor sê wat een jong persoon gesê het nie: “Ek het by die bende aangesluit omdat ek ’n gesin nodig gehad het.”
Ons, die ouers, moet daardie gesin wees. En ons moet alles in ons vermoë doen om toe te sien dat ons kosbare jongmense ’n innige en liefdevolle deel daarvan bly.
[Venster/Prente op bladsy 10]
Dinge waarop besorgde ouers moet let
✔ Bring by die huis tyd saam met julle kinders deur, en doen dinge saam as ’n gesin
✔ Ken julle kinders se vriende en hulle gesinne, en let op waarheen julle kinders gaan en saam met wie
✔ Laat julle kinders besef dat hulle te alle tye met enige probleem na julle toe kan kom
✔ Leer kinders om ander mense, hulle regte en hulle menings te respekteer
✔Ondersteun julle kinders deur hulle onderwysers te leer ken, en laat die onderwysers besef dat julle hulle waardeer en hulle pogings ondersteun
✔ Moenie probleme oplos deur te skreeu of geweld te gebruik nie
Julle kinders het julle innige liefde nodig
[Prent op bladsy 9]
Dit kan ’n beskerming wees as julle belangstelling in julle kind se skoolwerk toon