Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 4/22 bl. 3-5
  • Die plaag versprei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die plaag versprei
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Hartverskeurende plaag
  • Moet ek by ’n bende aansluit?
    Ontwaak!—1991
  • Wat ons omtrent bendes moet weet
    Ontwaak!—1998
  • Hoe kan ek my teen ’n bende-aanval beskerm?
    Ontwaak!—1991
  • Hoe ons ons kinders teen bendes kan beskerm
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 4/22 bl. 3-5

Die plaag versprei

Klein Robert was net 11 jaar oud en is onder ’n verlate brug gevind. Daar was twee koeëlgate in die agterkant van sy kop. Hy is glo deur lede van sy eie jeugbende doodgemaak.

Die 15-jarige Alex sou ’n lid van ’n bende geword het en dalk ’n ontydige dood gesterf het. Maar hy het ’n vriend sien sterf, en hy het by homself gedink: ‘Ek wil nie hê dit moet met my gebeur nie.’

GEWELDDADIGE straatbendes, wat vroeër geassosieer is met die alombekende bendes in Los Angeles wat die Bloods en die Crips genoem is, het regoor die wêreld toegeneem. Maar ongeag waar hulle is, bendes is verbasend eenders.

Engeland se “Teddy Boys” het die wêreld in die vyftigerjare geskok. The Times van Londen het gesê dat hulle byle, messe, fietskettings en ander wapens gebruik het om onskuldige mense “op verskriklike maniere te beseer”. ‘Mesgevegte het uitgebreek, kafees is verwoes en koffiekroeë is beskadig.’ Mense is gemolesteer, beroof, geslaan en soms doodgemaak.

Die Welt van Hamburg, Duitsland, het berig dat jongmense in onlangser jare “op pad na die disko of op pad huis toe” deur bendes met “bofbalkolwe, messe en vuurwapens” aangeval is. München se Süddeutsche Zeitung het gesê dat skinheads in Berlyn enigiemand aanval “wat merkbaar swakker is—die haweloses, die gestremdes, afgetrede vroue”.

’n Ontwaak!-medewerker in Spanje het berig dat tienerbendes daar eers onlangs ’n probleem geword het, maar dat dit aan die toeneem is. ABC, ’n koerant in Madrid, het dié opskrif gehad: “Skinheads—die nuwe nagmerrie van die strate.” ’n Gewese skinhead in Spanje het gesê dat hulle “buitelandse varke, prostitute en homoseksuele” probeer opspoor het. Hy het bygevoeg: “’n Nag sonder geweld [was] van nul en gener waarde.”

In Suid-Afrika het die Cape Times gesê dat die meeste van die geweldsmisdade daar “die newe-effek van ’n boosaardige bendekultuur” is. ’n Boek wat in Kaapstad uitgegee is, sê dat Suid-Afrikaanse bendes “parasiete” in die armer woonbuurte geword het en dat hulle “lede van hulle eie gemeenskap beroof en verkrag het en gedurig bendegevegte oor gebied, markte en vroue gehad het”.

O Estado de S. Paulo, ’n Brasiliaanse koerant, het gesê dat bendes daar “teen ’n skrikwekkende tempo toeneem”. Dit het gesê dat hulle mededingende bendes, jongmense wat beter daaraan toe is, mense van ’n ander ras en arm trekarbeiders aangeval het. Dit het ook gesê dat verskeie bendes op ’n dag ’n netwerk gevorm het, “mense op die strand beroof het . . . , onder mekaar baklei het” en ’n hoofstraat in Rio de Janeiro in ’n “oorlogsgebied” verander het. Nog ’n berig uit Brasilië het gesê dat die aantal bendes in groot stede soos Sao Paulo en Rio de Janeiro sowel as in kleiner dorpe aan die toeneem is.

Die Kanadese tydskrif Maclean’s het in 1995 gesê dat daar volgens polisieskattings ten minste agt bedrywige straatbendes in Winnipeg, Kanada, was. En koerante in die Verenigde State het foto’s van bendelede gepubliseer wat bendeklere en graffiti in afgesonderde Indianereservate van die Amerikaanse Suidweste in swang gebring het.

In die stad New York het ’n vlaag van bendeverwante geweld verlede jaar uitgebreek. Lede van die Bloods en die Crips, bendes wat oorspronklik in Los Angeles prominent was, was glo daarby betrokke. Volgens die burgemeester van New York het die polisie 702 mense tussen Julie en September in hegtenis geneem in voorvalle wat direk met straatbendes verband gehou het.

Die probleem is nie meer tot groot stede beperk nie. Die Quad-City Times, wat in die sentrale deel van die Verenigde State uitgegee word, het vertel van “toenemende geweld onder tieners, dwelmgebruik wat hoogty vier en ’n toenemende gevoel van wanhoop”.

’n Hartverskeurende plaag

Een bende het na bewering as ’n groep vriende begin. Maar namate die leier daarvan naam gemaak het, het die geweld ook toegeneem. Die bendeleier het by sy ouma gewoon, en daar is herhaaldelik na haar huis geskiet, selfs wanneer sy tuis was. ’n Koerant het berig dat daar meer as 50 koeëlgate in die huis was. Die skote is klaarblyklik geskiet uit weerwraak vir dade waarvan die kleinseun se bende beskuldig is. Daarbenewens was die bendeleier se broer in die tronk as gevolg van bendeverwante bedrywighede, en sy neef, wat weggetrek het om die geweld te vermy en later by die huis kom kuier het, is deur iemand uit ’n verbygaande paneelwa doodgeskiet.

In Los Angeles het bendelede na ’n motor geskiet en die dood veroorsaak van ’n onskuldige driejarige wie se moeder en haar mansvriend per abuis in die verkeerde straat afgedraai het. ’n Koeël het ’n onderwyser binne ’n skool getref waar hy leerlinge probeer help het om te leer hoe om hulle lewe te verbeter. Baie ander is ook doodgemaak wat niks met bendes te doen gehad het nie, maar wat hulle slagoffers geword het. ’n Moeder in Brooklyn, New York, het in haar buurt bekend geword vir haar baie hartseer verhaal—sy het al drie haar jong seuns in bendegeweld verloor.

Wat het hierdie wêreldwye plaag van jeuggeweld veroorsaak, en hoe kan ons ons geliefde kinders daarteen beskerm? Hoe ontstaan bendes in die eerste plek, en waarom sluit soveel jongmense daarby aan? Hierdie vrae word in die volgende artikels bespreek.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Scott Olsen/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel