Wat ons omtrent bendes moet weet
Wade, ’n voormalige lid van ’n bende in Kalifornië, het gesê: “Ons was bloot ouens wat in dieselfde buurt gewoon het. Ons het saam begin skoolgaan. Ons het net nie die regte besluite geneem nie.”
BENDES het dikwels min of meer as buurtgroepe begin. Kinders in hulle vroeë tienerjare of jonger het op ’n straathoek bymekaargekom. Hulle het dinge saamgedoen en dan saamgespan om hulleself teen ’n meer gevestigde groep in die omgewing te beskerm. Maar weldra het hulle groep na die vlak van die gewelddadigste lede daarvan begin daal, en dit het by gevaarlike misdade betrokke geraak.
’n Mededingende bende uit ’n ander straat het dalk die nuwe groep as hulle vyande beskou. Woede het daarna tot geweld gelei. Dwelmhandelaars het die bende gebruik om onwettige dwelms te verkoop. Ander misdade het gevolg.
Luis was 11 jaar oud toe vriende ’n bende gevorm het. Op 12-jarige ouderdom het hy dwelms begin gebruik. Op 13 is hy die eerste keer in hegtenis geneem. Hy het aan motordiefstal, inbrake en gewapende roof deelgeneem. En hy is herhaaldelik tronk toe vir bendegevegte en onluste.
Ons sal soms dalk verbaas wees om te sien wie aan bendes behoort. Martha, ’n netjiese, bogemiddelde hoërskoolleerling, het goeie punte behaal en haar op skool goed gedra. Maar sy was die leier van ’n bende wat dagga, heroïen en kokaïen verkoop het. Eers toe een van haar vriende ’n paar keer geskiet en toe doodgemaak is, het sy geskrik en haar lewe verander.
Waarom hulle by bendes aansluit
Dit is verbasend dat party bendelede sê dat hulle vir liefde aangesluit het. Hulle was op soek na kameraadskap, na intiemheid wat hulle nie by die huis gekry het nie. Die koerant Die Zeit van Hamburg, Duitsland, het gesê dat jongmense in straatbendes die sekuriteit probeer vind wat hulle nêrens anders kan vind nie. Eric, ’n gewese bendelid, het gesê dat “’n mens buite na iets beters gaan soek” as jy nie liefde by die huis kry nie.
Een vader, ’n gewese bendelid, het die volgende oor sy vroeë lewensondervindinge geskryf: “Ek het in die tronk geboer—vir wanordelike gedrag, bendegevegte, oproerigheid en uiteindelik vir poging tot moord in ’n skietery uit ’n bewegende motor.” Later, toe hy sy seun Ramiro gehad het, het hy min tyd vir die kind gehad. Toe Ramiro ouer geword het, het hy ook by ’n bende aangesluit, en hy is ná ’n bendegeveg deur die polisie in hegtenis geneem. Toe sy pa daarop aandring dat hy die bende verlaat, het hy geskreeu: “Hulle is nou my gesin.”
’n Verpleegster in ’n hospitaal in Texas, wat in bietjie meer as ’n jaar met 114 jongmense met skietwonde gepraat het, het gesê: “Dis vreemd. Ek dink nie ek het een van hulle al ooit na hulle ma of enige gesinslid hoor vra nie.”
Dit is noemenswaardig dat dit nie net kinders uit armer woonbuurte is wat by bendes aansluit nie. ’n Hele paar jaar gelede het die Kanadese tydskrif Maclean’s die polisie aangehaal wat gesê het dat hulle jongmense uit die stad se welgesteldste sowel as sy armste buurte in dieselfde bende gevind het. Hierdie jongmense met uiteenlopende agtergronde span saam om ’n soortgelyke rede—hulle is op soek na die samehorigheidsgevoel van ’n gesin wat hulle nie by die huis kry nie.
In party gebiede word jongmense groot met die beskouing dat bendelidmaatskap ’n normale lewenswyse is. Die 16-jarige Fernando het verduidelik: “Hulle dink dat dit hulle probleme sal help oplos as hulle by die bende aansluit. Hulle dink: ‘Ek sal ’n paar vriende maak. Hulle is groot en dra vuurwapens. Hulle sal my beskerm en niemand sal my enigiets aandoen nie.’” Maar nuwe bendelede kom gou tot die besef dat bendelidmaatskap hulle die teiken van die bende se vyande maak.
Bendes word dikwels in buurte gevind waar daar min geld en te veel vuurwapens is. Nuusberigte vertel van klaskamers in die groot stede waarin 2 uit 3 leerlinge uit enkelouergesinne kom. Soms is ’n leerling se ouer ’n dwelmverslaafde wat dalk nie saans huis toe kom nie, en die leerling moet soggens haar eie vaderlose kind dagsorg toe neem voordat sy skool toe gaan.
Kalifornië se goewerneur, Pete Wilson, het gesê: “Ons het ’n verskriklike probleem omdat baie kinders sonder ’n vader grootword, sonder ’n manlike rolmodel om hulle liefde, leiding, dissipline en waardes te gee—sonder ’n begrip van waarom hulle hulleself of ander moet respekteer.” Hy het gesê dat dié onvermoë van party jongmense om met ander te simpatiseer die rede is waarom hulle “iemand skynbaar sonder ’n greintjie berou kan doodskiet”.
Hoewel ’n gebrek aan samehorigheid in die gesin, persoonlike opleiding en ’n goeie sedelike voorbeeld vername faktore in die toename van bendes is, is ander faktore ook daarby betrokke. Dit sluit TV-programme en rolprente in wat geweld as ’n maklike oplossing vir probleme uitbeeld, ’n samelewing wat dikwels die armes as mislukkings bestempel en hulle voortdurend daaraan herinner dat hulle nie kan bekostig om die dinge te doen wat ander doen nie, asook die toenemende aantal enkelouergesinne waarin ’n oorwerkte jong moeder moet sukkel om een of meer kinders te onderhou wat sonder toesig gelaat word. ’n Kombinasie van die meeste van hierdie faktore of van almal, en dalk van nog ander, het daartoe gelei dat die wêreldwye plaag van straatbendes toeneem.
Dit is moeilik om ’n bende te verlaat
Ná ’n rukkie dryf party bendelede weliswaar van hulle bende af weg en hou hulle hulle met ander bedrywighede besig. Ander gaan woon dalk by familielede in ’n ander gebied en breek so weg van die lewe in ’n bende. Maar dit is dikwels nie so maklik om ’n bende te verlaat nie.
Voordat bendelede toegelaat word om ’n bende lewendig te verlaat, word hulle gewoonlik eers erg geslaan deur verskeie lede. Trouens, mense wat uit sekere bendes wou kom, moes selfs die pyn verduur om geskiet te word. As hulle dit oorleef het, is hulle toegelaat om die bende te verlaat! Is dit die moeite werd om sulke wrede mishandeling te verduur om van ’n bende weg te breek?
’n Gewese bendelid het verduidelik waarom hy wou wegbreek: “Vyf van my vriende is reeds dood.” Die lewe as ’n bendelid kan inderdaad byna ongelooflik gevaarlik wees. Die tydskrif Time het aangaande ’n gewese lid van ’n bende in Chicago berig: “In sy loopbaan van sewe jaar is hy in die maag geskiet, met ’n dwarslêer teen die kop geslaan, is sy arm in ’n geveg gebreek en is hy twee keer tronk toe vir motordiefstal . . . Maar noudat hy uiteindelik sy verkeerde weë verlaat het, is selfs sy gewese vriende daarop uit om hom leed aan te doen.”
’n Beter lewe is moontlik
Eleno, ’n Brasiliaan, was vroeër ’n lid van die Headbangers, ’n bende wat met messe en soms vuurwapens baklei het. Omdat hy minder bevoorreg gevoel het, het hy behae daarin geskep om dinge te breek en mense aan te val. ’n Werksmaat het met hom oor die Bybel gepraat. Later het Eleno ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon, waar hy gewese vriende ontmoet het wat sy bende verlaat het sowel as ’n gewese lid van ’n mededingende bende. Hulle het mekaar as broers gegroet—so anders as wat vroeër sou gebeur het.
Gebeur dit werklik? Dit gebeur beslis! ’n Verteenwoordiger van Ontwaak! het onlangs met gewese lede van groot bendes in Los Angeles gesels wat nou deel is van gemeentes van Jehovah se Getuies. Nadat hulle ’n paar uur lank gesels het, het een van hulle ’n oomblik stilgebly, teruggesit en gesê: “Kyk net na ons! Gewese Bloods en Crips wat hier sit en mekaar soos broers liefhet!” Hulle het saamgestem dat die verandering wat hulle ondergaan het van meedoënlose bendelede tot manne van goedhartigheid en liefde die resultaat was van hulle noukeurige Bybelstudie waardeur hulle Goddelike beginsels geleer het.
Kan dít werklik in die negentigerjare gebeur? Kan bendelede nou werklik sulke veranderinge aanbring? Hulle kán as hulle bereid is om die kragtige aansporing in God se Woord te ondersoek en hulle lewe dan in ooreenstemming met Bybelbeginsels bring. As jy dalk ’n bendelid is, kan jy dit gerus oorweeg om so ’n verandering aan te bring.
Die Bybel spoor ons aan om ‘die ou persoonlikheid af te lê, wat met ons vroeëre lewenswandel ooreenkom’ en om ons ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’ (Efesiërs 4:22-24). Hoe kweek ’n mens hierdie nuwe persoonlikheid aan? “Deur juiste kennis”, sê die Bybel, kan ’n mens se persoonlikheid “nuut gemaak word na die beeld van [God] wat dit geskep het”.—Kolossense 3:9-11.
Is dit die moeite werd om ’n verandering te probeer aanbring? Ja, dit is! As jy ’n bendelid is, sal jy waarskynlik hulp nodig hê om so ’n verandering aan te bring. Daar is mense in jou omgewing wat jou met graagte sal help. Maar ouers kan dikwels die grootste positiewe invloed op hulle kinders uitoefen. Ons gaan dus nou bespreek wat ouers kan doen om hulle kinders teen bendes te beskerm.
[Prent op bladsy 7]
Gewese lede van mededingende bendes word nou deur Bybelwaarheid verenig