Christene en die kastestelsel
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER ININDIË
WAT gaan deur jou gedagte wanneer jy die uitdrukking “kastestelsel” hoor? Miskien dink jy aan Indië en die miljoene wat sonder kaste is—die uitgeworpenes. Hoewel die kastestelsel deel van die Hindoegodsdiens is, voer Hindoehervormers al lank ’n stryd om die gevolge daarvan vir die laer kastes en die uitgeworpenes tot niet te maak. Wat sou jy in die lig hiervan sê as jy hoor dat die kastestelsel selfs in kerke beoefen word wat beweer dat hulle Christelik is?
Moontlike oorsprong van die kastestelsel in Indië
Die verdeling van mense in maatskaplike stande waarin party meerderwaardig voel, is nie uniek aan Indië nie. Alle vastelande het klassediskriminasie al in die een of ander vorm gesien. Wat Indië se kastestelsel anders gemaak het, is die feit dat ’n proses van maatskaplike onderwerping meer as 3000 jaar gelede ’n deel van godsdiens geword het.
Hoewel daar nie sekerheid oor die oorsprong van die kastestelsel bestaan nie, voer party deskundiges die oorsprong daarvan terug tot die antieke beskawing van die Indusvallei in hedendaagse Pakistan. Die argeologie toon blykbaar dat die vroegste inwoners daar later deur stamme uit die noordweste verower is, in wat algemeen as die “Ariese migrasie” bekend staan. In Jawaharlal Nehru se boek The Discovery of India noem hy dit “die eerste groot kulturele vereniging en samesmelting”, waaruit “die Indiese rasse en die basiese Indiese kultuur” ontstaan het. Hierdie samesmelting het egter nie tot rassegelykheid gelei nie.
The New Encyclopædia Britannica sê: “Volgens die Hindoes is die groot toename in die kastes (jati’s, letterlik ‘geboortes’) toe te skryf aan die onderverdeling van die vier klasse, of varnas, weens ondertrouery (wat in Hindoewerke oor dharma verbied word). Hedendaagse teoretici is egter geneig om aan te neem dat kastes ontstaan het uit verskille in die rituele gebruike van families, rasseonderskeide en omdat beroepe verskillend en gespesialiseerd was. Baie hedendaagse geleerdes twyfel ook of die eenvoudige varnastelsel ooit meer as ’n teoretiese sosiaal-godsdienstige ideaal was en het beklemtoon dat die hoogs ingewikkelde verdeling van die Hindoegemeenskap in byna 3000 kastes en onderkastes waarskynlik selfs in die ou tyd bestaan het.”
Ondertrouery het ’n tyd lank tussen die klasse plaasgevind, en daar is nie meer so streng gehou by die vorige vooroordele wat op velkleur gegrond was nie. Die streng reëls wat kastes beheer, was ’n latere godsdiensontwikkeling, wat in Vediese geskrifte en in die Wetboek (of Institusies) van Manoe, ’n Hindoewysgeer, uiteengesit is. Die Brahmane het ander geleer dat die hoër kastes gebore is met ’n reinheid wat hulle van die laer kastes afsonder. Hulle het by die Soedras, of diegene van die laagste kaste, die oortuiging ingeprent dat hulle ondergeskikte werk godgegewe straf was vir slegte dade wat in ’n vorige bestaan gepleeg is en dat enige poging om die kasteskeiding te verbreek hulle uitgeworpenes sou maak. Ondertrouery, om saam te eet, dieselfde watervoorraad te gebruik of by dieselfde tempel as ’n Soedra in te gaan, kon iemand van ’n hoër kaste sy kaste laat verloor.
Die kastestelsel in die moderne tyd
Ná onafhanklikwording in 1947 het Indië se sekulêre regering ’n grondwet opgestel wat kastediskriminasie ’n strafbare oortreding gemaak het. Omdat die regering besef het dat Hindoes van die laer kastes eeue lank minder bevoorreg was, het hulle deur wetgewing bepaal dat regerings- en verkose poste asook setels in onderwysinstellings vir vasgestelde kastes en stamme voorbehou word.a ’n Term wat vir hierdie Hindoegroepe gebruik word, is “Dalit”, wat “verdruktes, vertraptes” beteken. Maar ’n onlangse koerantopskrif het gesê: “Dalit-Christene eis voorbehoude [werks- en universiteitskwotas].” Hoe het dit gebeur?
Die omvattende staatsvoordele wat aan Hindoes van laer kastes gegee word, is gegrond op die feit dat hulle as gevolg van die kastestelsel onregte gely het. Daar is dus geredeneer dat godsdienste wat nie die kastestelsel gebruik het nie, nie hierdie voordele kan verwag nie. Maar omdat hulle bekeerlinge van laer kastes, of onaantasbare bekeerlinge, is, sê Dalit-Christene dat daar ook teen hulle gediskrimineer word, nie net deur Hindoes nie maar ook deur hulle ‘mede-Christene’. Is dit waar?
Die Christendom se sendelinge en die kastestelsel
Baie Hindoes is gedurende koloniale tye deur Portugese, Franse en Britse sendelinge, Katoliek sowel as Protestant, bekeer. Mense van alle kastes het naamchristene geword, en party sendelinge het deur hulle prediking die Brahmane aangetrek en ander die Onaantasbares. Watter uitwerking het die leringe en gedrag van die sendelinge op hulle diep ingewortelde geloof in die kastestelsel gehad?
Aangaande die Britte in Indië sê die skrywer Nirad Chaudhuri dat “die Indiese gemeente nie saam met die Europeërs [in kerke] kon sit nie. Die bewustheid van rassemeerderwaardigheid waarop Britse heerskappy in Indië berus het, is nie deur die Christelike godsdiens oorkom nie.” In 1894 het ’n sendeling ’n soortgelyke gesindheid aan die dag gelê toe hy aan die Raad van Buitelandse Sendingwerk van die Verenigde State gesê het dat die bekering van mense van laer kastes was soos om “vuilgoed in die Kerk in te vee”.
Dit is duidelik dat die vroeë sendelinge se gevoel van rassemeerderwaardigheid en die vermenging van Brahmaanse denke met kerkleringe grootliks daarvoor verantwoordelik is dat ’n kastestelsel openlik deur soveel sogenaamde Christene in Indië beoefen word.
Die kastestelsel in die kerke van vandag
Toe die Katolieke aartsbiskop George Zur in 1991 die Konferensie van Katolieke Biskoppe van Indië toegespreek het, het hy gesê: “Bekeerlinge van vasgestelde kaste word nie net as lede van ’n lae kaste behandel deur Hindoes in hoë kastes nie, maar ook deur Christene in hoë kastes. . . . Afsonderlike plekke word vir hulle in die kerke en begraafplase gehou. Huwelike tussen lede van verskillende kastes word afgekeur . . . Die gebruik van die kastestelsel is baie algemeen onder die geestelikes.”
Biskop M. Azariah, van die Kerk van Suid-Indië, ’n Verenigde Protestantse Kerk, het in sy boek The Un-Christian Side of the Indian Church gesê: “Die Vasgestelde Kaste, die (Dalit-)Christene, word dus sonder hulle eie toedoen, behalwe dat hulle in die verkeerde kaste gebore is, deur mede-Christene in die verskillende kerke benadeel en onderdruk, selfs wanneer hulle Christene uit die 2de, 3de of 4de geslag is. Die Christene in hoë kastes wat in die minderheid in die Kerk is, behou hulle kastevooroordele selfs ná geslagte, en hulle word nie deur Christelike opvattings en gebruike beïnvloed nie.”
’n Regeringsondersoek na die probleem van agtergeblewe klasse in Indië, wat as die Mandal-kommissie bekend staan, het gevind dat verklaarde Christene in Kerala verdeel was “in verskeie etniese groepe op grond van hulle kaste-agtergrond. . . . Selfs nadat hulle hulle bekeer het, is die bekeerlinge in laer kastes steeds as Haridjansb behandel . . . Die Siriese en die Poelaja-lede van dieselfde Kerk beoefen hulle godsdiensrituele apart in afsonderlike geboue.”
’n Nuusberig in Indian Express in Augustus 1996 het van die Dalit-Christene gesê: “In Tamil Nadu woon hulle in ander woonbuurte as die hoër kastes. In Kerala is hulle hoofsaaklik grondlose arbeiders en werk hulle vir Siriese Christene en ander grondbesitters in hoër kastes. Daar is geen sprake van saametery of ondertrouery tussen die Dalit- en die Siriese Christene nie. In baie gevalle aanbid die Dalits in hulle eie kerke, wat ‘Poelaja-kerk’ of ‘Paraja-kerk’ genoem word. Dit is name van onderkastes.
Reaksies op ontevredenheid
Groepe lekeaktiviste, soos FACE (die Forum teen die Uitbuiting van Christene), wil staatsvoordele vir Christen-Dalits verkry. Die hoofdoel is die verkryging van ekonomiese hulp vir Christenbekeerlinge. Ander is egter bekommerd oor die wyse waarop hulle binne die kerk behandel word. In ’n brief aan pous Johannes-Paulus II het ongeveer 120 ondertekenaars gesê dat hulle “die Christelike geloof aangeneem het om van die kastestelsel bevry te word”, maar dat hulle nie toegelaat word om in die dorpskerk in te gaan of die dienste by te woon nie. Hulle is gedwing om hulle huise langs een straat te bou waar Christene in die hoë kastes—en die plaaslike priester—nooit hulle voete gesit het nie! ’n Katolieke vrou wat om dieselfde rede verontrus is, het gesê: “Dit is beslis vir my belangrik dat my seun aan ’n goeie universiteit studeer. Maar dit is selfs belangriker dat hy deur sy eie [Katolieke] broers as ’n gelyke erken word.”
Terwyl party die lot van die Dalit-Christene probeer verbeter, verloor baie ander hulle geduld. Organisasies soos die Wisjwa Hindoe Parisjad (Wêreldhindoe-organisasie) probeer die Christenbekeerlinge tot die Hindoekudde terugbring. Die Indian Express het berig gelewer oor ’n seremonie wat deur 10 000 mense bygewoon is en waartydens meer as 600 “Christen”-gesinne weer Hindoeïsme aangeneem het.
Die ware Christelike weg
Indien die sendelinge van die kerkorganisasies Christus se leringe wat op liefde gebaseer is aan ander geleer het, sou daar geen “Brahmaan-Christene”, geen “Dalit-Christene”, geen “Paraja-Christene” gewees het nie (Matteus 22:37-40). Daar sou geen aparte kerke vir Dalits en geen skeiding by maaltye gewees het nie. Wat is hierdie bevrydende Bybellering wat klasseverskille oorkom?
“Want die HERE julle God is die God van die gode . . . , wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie.”—Deuteronomium 10:17.
“Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet spreek en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.”—1 Korintiërs 1:10.
“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
Die Bybel leer dat God die hele mensdom uit een mens gemaak het. Dit sê ook dat alle afstammelinge van daardie een mens ‘God moet soek en hom moet vind, hoewel hy nie ver van elkeen van ons af is nie’.—Handelinge 17:26, 27.
Toe klasseverskille in die vroeë Christengemeente begin insluip het, het die skrywer Jakobus dit onder inspirasie ronduit veroordeel. Hy het gesê: “Julle [het] klasseverskille onder julle en . . . julle [het] regters geword wat goddelose beslissings vel, nie waar nie?” (Jakobus 2:1-4). Die ware Christelike leer duld nie enige vorm van kastestelsel nie.
Die behoefte aan nuwewêreld-denke
Miljoene Getuies van Jehovah was bereid om hulle vorige opvattings en gedrag wat hulle by baie verskillende godsdienste geleer het te verander. Hetsy gevoelens van meerderwaardigheid of minderwaardigheid gespruit het uit koloniale verowering, rassevooroordeel, apartheid of die kastestelsel, die Bybel se leringe het dit uit hulle harte en verstande verwyder (Romeine 12:1, 2). Hulle het ’n duidelike begrip van wat die Bybel “’n nuwe aarde” noem waarin ‘regverdigheid sal woon’. Wat ’n glorieryke vooruitsig vir die menigtes op die aarde wat ly!—2 Petrus 3:13.
[Voetnote]
a “Vasgestelde kastes” is ’n amptelike term vir die laer kastes onder Hindoes, of die uitgeworpenes, Onaantasbares, wat maatskaplik en ekonomies minder bevoorreg is.
b ’n Term wat deur M. K. Gandhi vir die laer kastes uitgedink is. Dit beteken “Mense van Hari”, een van die name van die god Wisjnoe.
[Lokteks op bladsy 25]
“God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.”
[Venster/Prent op bladsy 23]
Hoe voel dit?
Ja, hoe voel dit om as ’n uitgeworpene behandel te word deur mense wat beweer dat hulle Christene is? Een Christen wie se voorvaders bekeer is van ’n laer kaste van Hindoeïsme wat as Keramar of Poelaja bekend staan, vertel van ’n voorval wat ’n paar jaar gelede in sy tuisstaat Kerala plaasgevind het:
Ek is na ’n troue uitgenooi waar taamlik baie van die gaste kerklidmate was. Toe hulle my by die bruilof sien, het dit nogal ’n opskudding veroorsaak, en diegene wat van die Ortodokse Siriese Kerk was, het gesê dat hulle nie by die onthaal sou bly tensy ek dit verlaat nie, aangesien hulle nie saam met ’n poelaja eet nie. Toe die vader van die bruid weier om aan hulle eise te voldoen, het hulle almal die bruilof verlaat. Nadat hulle weg is, is die maaltyd bedien. Maar diegene wat die tafels bedien het, het geweier om die piesangblaar waaruit ek geëet het, weg te neem en my tafel skoon te maak.
[Prent]
’n Tipiese kerk in Suid-Indië waar net laer kastes vergader