Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 3/8 bl. 19-21
  • Is die Bybel teen geleerdheid gekant?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die Bybel teen geleerdheid gekant?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geleerdheid in die eerste eeu
  • Oorweeg die saak versigtig
  • ’n Persoonlike keuse
  • Maak wyse besluite wanneer dit by addisionele opvoeding kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Opvoeding—Gebruik dit om Jehovah te loof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Opvoeding met ’n doel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Geleerdheid—Wat dit kos, wat dit bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 3/8 bl. 19-21

Die Bybelse beskouing

Is die Bybel teen geleerdheid gekant?

“Dit is net die onkundiges wat geleerdheid verag.”—Publilius Syrus, Moral Sayings, eerste eeu v.G.J.

DIE Bybel spoor ons aan om ‘praktiese wysheid en denkvermoë te bewaar’ (Spreuke 3:21, NW). Jehovah, die God van kennis, wil hê dat sy aanbidders geleerde mense moet wees (1 Samuel 2:3; Spreuke 1:5, 22). Maar party stellings in die Bybel sal moontlik vrae laat ontstaan. Paulus het byvoorbeeld na sy vorige strewes verwys, wat sy geleerdheid ingesluit het, en geskryf: “Ek beskou dit alles as blote vullis” (Filippense 3:3-8, Today’s English Version). In nog ’n geïnspireerde brief het hy verklaar: “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.”—1 Korintiërs 3:19.

Is die Bybel dan teen geleerdheid gekant? In watter mate moet ’n Christen sekulêre opvoeding nastreef? Is die minimum skoolopleiding wat deur die wet vereis word voldoende, of moet bykomende opleiding nagestreef word?

Geleerdheid in die eerste eeu

Die eerste-eeuse Christene het ’n wye verskeidenheid opvoedkundige agtergronde gehad. Sekere vername manne het die Galilese apostels Petrus en Johannes as “ongeleerde en gewone mense” beskou (Handelinge 4:5, 6, 13). Het dit beteken dat hierdie twee manne ongeletterd en ongeskoold was? Nee. Dit het eenvoudig beteken dat hulle nie aan die Hebreeuse skole van hoër onderwys in Jerusalem onderrig is nie. Die geskrifte van hierdie twee moedige verteenwoordigers van die Christelike godsdiens was later ’n bewys van die feit dat hulle geleerde, intelligente manne was wat die Skrif duidelik kon verklaar. Hulle opvoeding het praktiese onderrigting ingesluit om na die materiële behoeftes van hulle gesin om te sien. Hulle het saam ’n vissersonderneming gehad wat blykbaar baie winsgewend was.—Markus 1:16-21; Lukas 5:7, 10.

In teenstelling hiermee het Lukas, die dissipel wat een van die Evangelies sowel as die boek Handelinge geskryf het, ’n meer gevorderde opvoeding gehad. Hy was ’n geneesheer (Kolossense 4:14). Sy mediese agtergrond gee sy geïnspireerde geskrifte ’n besondere styl.—Sien Lukas 4:38; 5:12; Handelinge 28:8.

Voordat die apostel Paulus ’n Christen geword het, is hy in die Joodse wet onderrig deur een van die briljantste geleerdes van daardie tyd, Gamaliël (Handelinge 22:3). Paulus se onderrigting kan vandag met ’n universiteitsopleiding vergelyk word. In die Joodse gemeenskap is dit bowendien as ’n eer beskou as jongmense ’n ambag geleer het, selfs al sou hulle later verder gaan studeer. Paulus is klaarblyklik as ’n tentmaker opgelei toe hy nog ’n jong seun was. Sulke vaardighede het hom in staat gestel om homself in sy voltydse bediening te onderhou.

Paulus het nietemin besef dat sekulêre opvoeding—hoewel nodig—beperkte waarde het in vergelyking met die ongeëwenaarde waarde van die kennis van God. Gevolglik lê die Bybel die grootste klem op die verkryging van kennis van God en van Christus. Dit is vir Christene van vandag goed om hierdie realistiese beskouing van sekulêre opvoeding aan te neem.—Spreuke 2:1-5; Johannes 17:3; Kolossense 2:3.

Oorweeg die saak versigtig

Party Christene het gevind dat bykomende opleiding, hetsy dit akademiese studies of beroepsopleiding is, hulle gehelp het om na hulle gesin se materiële behoeftes om te sien. Dit is gepas om na ’n mens se gesin om te sien, want dit is ’n heilige plig om vir ‘’n mens se huisgesin te sorg’ (1 Timoteus 5:8). As ’n mens die vaardighede aanleer om dit te doen, is dit praktiese wysheid.

Maar diegene wat meen dat hulle meer as ’n basiese opvoeding moet verkry om hierdie doel te bereik, moet die voordele sowel as die nadele oorweeg. Potensiële voordele sluit in dat iemand toegerus word om ’n betrekking te verkry wat hom in staat stel om homself en sy gesin voldoende te onderhou terwyl hy ywerig aan die Christelike bediening deelneem. Daarbenewens kan hy ander moontlik op ’n materiële manier help, omdat ‘hy iets het om uit te deel aan iemand wat gebrek het’.—Efesiërs 4:28.

Wat is party potensiële nadele? Dít kan behels dat ’n mens aan leringe blootgestel word wat geloof in God en in die Bybel ondermyn. Paulus het Christene aangeraai om versigtig te wees vir “die valslik so genoemde ‘kennis’” en “die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense” (1 Timoteus 6:20, 21; Kolossense 2:8). Blootstelling aan sommige vorme van opleiding kan onteenseglik nadelig wees vir ’n Christen se geloof. Diegene wat bykomende opleiding of studies oorweeg, moet bewus wees van die gevaar van sulke nadelige invloede.

Moses, wat “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig” is, het sterk geloof gehandhaaf ten spyte van die feit dat hy ’n opvoeding ontvang het wat ongetwyfeld politeïstiese, godonterende leringe bevat het (Handelinge 7:22). In watter omgewing Christene van vandag hulle ook al bevind, hulle moet eweneens versigtig wees om nie voor skadelike invloede te swig nie.

Nog ’n potensiële gevaar van bykomende opleiding is dat kennis mense opgeblase maak, oftewel verwaandheid veroorsaak (1 Korintiërs 8:1). Baie probeer kennis om selfsugtige redes verkry deur opleiding, en selfs as kennis om die regte rede nagestreef word, kan dit gevoelens van meerderwaardigheid en verwaandheid tot gevolg hê. Sulke gesindhede mishaag God.—Spreuke 8:13.

Beskou die Fariseërs. Lede van hierdie vername godsdienssekte het geroem op hulle geleerdheid en sogenaamde regverdigheid. Hulle het die groot versameling rabbynse tradisies goed geken, en hulle het op die gewone mense neergesien, wat nie so geleerd was nie, en hulle as onkundig, veragtelik, selfs as vervloektes beskou (Johannes 7:49). Daarbenewens het hulle geld liefgehad (Lukas 16:14). Hulle voorbeeld toon dat opleiding, wanneer dit om verkeerde redes nagestreef word, ’n persoon trots kan maak of daartoe kan lei dat hy ’n liefhebber van geld word. Wanneer ’n Christen derhalwe moet bepaal watter en hoeveel opleiding hy moet verkry, sou dit goed wees as hy hom afvra: ‘Wat is my beweegredes?’

’n Persoonlike keuse

Net soos dit in die eerste eeu die geval was, is daar vandag onder Christene ’n groot verskeidenheid opvoedkundige agtergronde. Onder leiding van hulle ouers besluit jongmense wat hulle verpligte skoolopleiding voltooi het dalk om bykomende sekulêre opleiding te verkry. Volwassenes wat eweneens daarin belangstel om die manier waarop hulle vir hulle gesin sorg te verbeter, kan sulke bykomende opleiding as ’n praktiese manier beskou om daardie doelwit te bereik.a Party aspekte van tradisionele akademiese geleerdheid lê eerder nadruk op die ontwikkeling van algemene intellektuele vermoëns as op professionele of beroepsvaardighede. ’n Persoon sal dalk vind dat hy, selfs nadat hy baie tyd daaraan bestee het om so ’n geleerdheid te verkry, nie oor die vaardighede beskik wat in die arbeidsmark nodig is nie. Daarom besluit party om beroepsopleiding te verkry of om aan ’n tegniese kollege te studeer, met die doel om makliker werk te kry.

Sulke besluite is in elk geval van ’n persoonlike aard. Wat hierdie saak betref, moet Christene mekaar nie kritiseer of veroordeel nie. Jakobus het geskryf: “Wie is jy om jou naaste te oordeel?” (Jakobus 4:12). As ’n Christen dit oorweeg om bykomende opleiding te verkry, sou dit goed wees as hy sy eie beweegredes ondersoek om seker te maak dat selfsugtige, materialistiese belange nie die dryfkrag is nie.

Dit is duidelik dat die Bybel ’n gebalanseerde beskouing van geleerdheid aanmoedig. Christenouers erken die ongeëwenaarde waarde van ’n geestelike opvoeding wat op God se geïnspireerde Woord gegrond is en gee hulle kinders gebalanseerde raad aangaande aanvullende opleiding (2 Timoteus 3:16). Hulle is realisties oor die lewe en erken die waarde van sekulêre opvoeding om die vaardighede te verkry wat hulle volwasse kinders nodig het om vir hulleself en hulle toekomstige gesin te sorg. Wanneer daar besluit moet word op aanvullende opvoeding en hoeveel daarvan verkry moet word, kan elke Christen dus goeie persoonlike besluite neem wat op toegewydheid aan Jehovah God gebaseer is, wat “voordelig vir alles [is], aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe”.—1 Timoteus 4:8.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 November 1992, bladsye 10-21, en die brosjure Jehovah se Getuies en opvoeding, wat albei deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word, vir breedvoeriger inligting oor hierdie onderwerp.

[Lokteks op bladsy 20]

“Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë.”—Spreuke 3:21, NW

[Lokteks op bladsy 21]

As ’n Christen dit oorweeg om bykomende opleiding te verkry, sou dit goed wees as hy hom afvra: ‘Wat is my beweegredes?’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel