Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 8/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dekreet oor oortappings in Italië
  • Die pous gee die eer aan Maria
  • So lank soos ’n Boeing 737-straler
  • Wreedheid in die kastestelsel
  • Misdaad sonder straf
  • Stres en etiek
  • Beweerde bedrog in myne
  • Word pedofielpriesters beskerm?
  • Versteurde slaappatrone
  • Beskerming van wild in Asië
  • Vinnigste groei op godsdiensgebied
  • Christene en die kastestelsel
    Ontwaak!—1998
  • Waarom jou liggaam slaap nodig het
    Ontwaak!—1995
  • Bloedoortappings—Hoe veilig?
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Slaap—Luukse of noodsaaklikheid?
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 8/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Dekreet oor oortappings in Italië

Volgens die grondwet van Italië mag niemand ’n bepaalde mediese behandeling teen sy sin ontvang nie. ’n Onlangse dekreet van die Italiaanse Ministerie van Gesondheid bevestig dat hierdie grondwetlike bepaling ook vir bloedoortappings geld. Trouens, hierdie dekreet, gedateer 15 Januarie 1991, sê dat “oortappings van bloed, bloedkomponente of bloedderivate ’n geneeskundige behandeling is wat nie sonder risiko’s is nie; dit vereis derhalwe die oorwoë toestemming van die ontvanger daarvan”. Met ander woorde, pasiënte moet bewus wees van die risiko’s en die reg hê om bloed te weier. ’n Aanhangsel tot die dekreet erken dat oortappings “aansteeklike siektes, soos hepatitis en vigs”, kan oordra en dat “laboratoriumtoetse dit nie altyd kan opspoor as persone onlangs besmet is nie”.

Die pous gee die eer aan Maria

Gedurende ’n onlangse besoek aan Portugal het pous Johannes Paulus II spesiaal besoek afgelê by die heiligdom van die Maagd van Fátima om die tiende herdenking van die aanslag op sy lewe deur ’n sluipmoordenaar in Rome te vier. Die sluipmoordpoging het plaasgevind op die “Dag van Ons Liewe Vrou van Fátima”—’n dag waarop die geleentheid in 1917 herdenk word toe drie kinders in Fátima beweer het dat hulle ’n visioen van die Maagd Maria gehad het—en die pous gee Maria dus die eer daarvoor dat sy lewe op die dag van die skietery gered is. Trouens, op hierdie herdenking is een van die koeëls wat uit sy liggaam verwyder is, gebruik om die diamantbedekte kroon van die Fátima-standbeeld van die maagd te versier. Die pous het die maagd ook bedank vir die “onverwagte veranderinge” wat in onlangse jare tot die einde van die Kommunistiese bewind in Oos-Europa gelei het.

So lank soos ’n Boeing 737-straler

“Wat dit ook al was, sy oorskot is kolossaal. Individuele nekwerwels is 1,5 meter breed terwyl sy ribbes drie meter lank is, wat wetenskaplikes laat skat dat die dier 27 tot 30 meter lank was”, berig The Vancouver Sun van Kanada. Dit is so lank soos ’n Boeing 737-straler! In 1986 is die versteende nek van hierdie monster by ’n opgrawingsterrein in Binne-Mongolië deur ’n span Kanadese en Chinese wetenskaplikes opgegrawe. Vier jaar later is sy kolossale kopbeen opgegrawe. “Wat die vonds van die kopbeen belangrik maak, is die feit dat ons vir die eerste keer sal kan vasstel of hierdie dinosourus aan die welbekende dinosourusse in Noord-Amerika verwant is”, het Philip Currie van die Royal Tyrell Museum of Paleontology in Drumheller, Alberta, Kanada, gesê.

Wreedheid in die kastestelsel

Indië se kastestelsel is die oorsaak van die onlangse openbare moord op drie jongmense, berig India Today. In die klein dorpie Mehrana het ’n 18-jarige seun van die Jatawkaste verlief geraak op ’n 16-jarige meisie van die welgestelder, invloedryker Jatkaste. Die meisie se ouers en baie ander van die Jatkaste was woedend. By ’n raadsvergadering, wat volgens berig deur die welgestelder Jatkaste oorheers is, is die twee jongmense en nog ’n seun van die Jatawkaste, wat ’n tussenganger vir hulle was, ter dood veroordeel. Die twee seuns is ure lank wreed gemartel, en toe is hulle vaders glo gedwing om die galgtoue om hulle seuns se nekke te sit. Al drie tieners is op die dorpsplein opgehang. India Today berig dat dié wat hoofsaaklik vir die moord aanspreeklik is nou in die tronk is, maar sê: “Dit is ’n tragiese herinnering dat die middeleeuse obsessie met die kastestelsel in die plattelandse dorpies steeds so diepgewortel is dat geen ‘nuwerwetsheid’ dit kan afbreek nie.”

Misdaad sonder straf

Die Navorsings- en Statistiekdepartement van Brittanje se Ministerie van Binnelandse Sake het onlangs ontstellende syfers oor misdaad in daardie land vrygestel. Beskou byvoorbeeld 100 misdade. Uit daardie 100 word 59 nooit aangemeld nie. Uit dié wat wel aangemeld word, ondersoek die polisie slegs 26. Hiervan los hulle minder as ’n derde op—slegs sewe word eindelik opgelos. En uit hierdie sewe het slegs vier tot gevolg dat die oortreder skuldig bevind of selfs gewaarsku word! Hierdie statistieke dek egter alle misdade, waaronder vandalisme en diefstal. Die polisie in Brittanje los 70 persent van die misdaad waarby geweld betrokke is en 90 persent van die moorde op.

Stres en etiek

Etiese gedrag kan verband hou met geluk, terwyl onetiese gedrag verband kan hou met stres, beweer ’n onlangse studie. Volgens The Wall Street Journal het ’n konsultantfirma genaamd London House 111 direkteure, bestuurders en ander beroepslui aan ’n reeks toetse onderwerp om hulle algemene emosionele gesondheid te bepaal. Diegene wat die toetse ondergaan het, moes ook saamstem of verskil met sulke diepgaande etiese vraagstukke soos: “Dit is nie nodig om met onetiese sakemense om te gaan om vooruitgang te maak nie” en, “Kantoorwerkers wat wette oortree, moet nie so streng gestraf word . . . soos die misdadigers wat op straat misdaad pleeg nie.” Die toetse het aan die lig gebring dat die direkteure wat ’n groter bewustheid van etiek gehad het ook emosioneel gesonder was. Hulle was gelukkiger, verantwoordeliker en minder geneig om gespanne, beangs, vyandig of bang te voel as hulle kollegas wat minder bewus is van etiek.

Beweerde bedrog in myne

Sowat 500 mynmaatskappye in die Verenigde State het ’n tipe bedrog gepleeg wat die lewe van duisende mynwerkers in gevaar kan stel, het die Departement van Arbeid in die Verenigde State onlangs beweer. Mynmaatskappye word volgens wet verplig om die filters van klein lugmonsternemers wat in hulle myne geïnstalleer is gereeld in te dien. Die departement ontleed hierdie filters en kan myne sluit wat gevaarlik hoë vlakke van steenkoolstof in die lug toon, wat swartlongsiekte en selfs die dood kan veroorsaak. Die departement sê dat 847 myne in die afgelope jaar en ’n half 4 710 filters ingestuur het waarop daar bewyse van bedrog voorkom. Sommige filters is bedek met huisspuitstowwe wat voorkom dat stof daarin opgaar. Ander is gestofsuig sodat dit lyk asof daar minder stof in is. Swartlongsiekte tas honderdduisende mynwerkers aan; elke jaar word tot 4 000 afgetrede mynwerkers platgetrek deur die aftakelende uitwerking van die siekte en sterf hulle.

Word pedofielpriesters beskerm?

“Sommige bisdomme beskerm steeds priesters wat van pedofilie beskuldig word”, het ’n onlangse voorbladopskrif in die Amerikaanse koerant National Catholic Reporter gelui. Die koerant het ’n onderhoud gevoer met Jeffrey Anderson, ’n prokureur wat spesialiseer in gevalle van seksuele misbruik. Hy skat dat daar sedert 1985, toe pedofilie onder priesters meer in die openbare soeklig gekom het, meer as duisend gevalle was waarin priesters kinders gemolesteer het. Anderson het die kerk se reaksie op die voortgesette krisis sterk veroordeel: “Dit is ’n voortdurende sage van mense wat hulle verantwoordelikheid ontduik”, het hy beskuldig en die feit betreur dat die kerk hoofsaaklik probeer om die beskuldigde geestelikes te beskerm. “In die reël is die reaksie van die kerk in die algemeen opsetlik ontoereikend om na slagoffers te luister sowel as om aan die gevare aandag te gee.”

Versteurde slaappatrone

“Ongetroudes slaap die beste, getroude mense redelik goed, en weduwees en wewenaars of geskeide mense wat alleen woon, ly die meeste aan versteurde slaappatrone”, berig die Duitse mediese tydskrif Ärztliche Praxis. ’n Opname waarby 1500 pasiënte tussen 18 en 65 betrokke was, het aan die lig gebring dat 19 persent gereeld versteurde slaappatrone gehad het wat hulle gedurende die dag uitgeput laat voel het, 31 persent het probleme met hulle slaap gehad, hoewel minder ernstig, en slegs die helfte het gesê dat hulle geen probleme met slaap ondervind nie. Versteurde slaappatrone kom baie voor onder afgetrede mense, die werkloses, dié met emosionele probleme en dié wat chronies siek is. Oor die algemeen “slaap mans beter as vroue”, sê die tydskrif, en “die bejaardes slegter as die jongmense”.

Beskerming van wild in Asië

Dit is die uitdaging waarvoor Asiatiese lande soos Thailand staan. Volgens die tydskrif Asiaweek het die Wêreldnatuurfonds Thailand uitgesonder vir sy onwettige handel in bedreigde wild en die land “die wildsupermark van die wêreld” genoem. Die wet in Thailand beskerm blykbaar nie wild wat nie inheems in die land is nie; Thailand het dus ’n gewilde kanaal geword vir die handel in bedreigde diere uit aangrensende lande. Daar is markte waar eksotiese diere en voëls verkoop word, en sommige restaurante het selfs ‘wilderniskos’ op hulle spyskaarte, waaronder die vleis van bedreigde diere soos krokodille, muntjakke en wildevarke.

Vinnigste groei op godsdiensgebied

Volgens die Statistiekburo in Australië vind die vinnigste toename van lidmate nie in die hoofstroomkerke of selfs onder die energieke evangeliegesinde groepe plaas nie. Die sensus van 1986 het eerder aan die lig gebring dat daar ’n toename was in die aantal mense wat beslis gesê het dat hulle geen godsdiens het nie of wat nie die vraag oor godsdiens beantwoord het nie. Die sensus het aangedui dat bykans 25 persent van die mense in Australië in hierdie kategorie val, of bykans dubbel die persentasie van 20 jaar gelede. Maar dr. G. Bailey, ’n universiteitsprofessor in godsdiens, het aan The Weekend Australian, ’n koerant in Sydney, gesê dat sulke mense nietemin ’n “surrogaatgodsdiens” het. Hy het verwys na ’n materialistiese wêreldbeskouing, “met die klem op hebsug en ondernemingsgees en sy duidelike doelwit van redding deur materiële besittings en materiële sekuriteit”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel