Ons het vir bomme gevlug—50 jaar later!
“Bomme gaan binnekort hier ontplof. Soek skuiling!”
MET daardie woorde het ’n polisieman my en my man gewaarsku om die huis te verlaat en in ’n nabygeleë betonbunker te gaan skuil. Die aankondiging was nogal ’n skok. Ons was per slot van rekening nie in die een of ander oorloggeteisterde wêrelddeel nie; ons het by vriende gekuier op een van die pragtige atolle van die Marshall-eilande, in Mikronesië.
Ons het gekom om ’n week saam met ’n vriendin en haar man op die klein eiland Tõrwã deur te bring. Die vrou was die enigste Getuie van Jehovah op die eiland, en ons wou haar help om vir die mense wat daar woon te getuig.
Die mense van die Marshall-eilande is van nature vriendelik en is gretig om oor die Bybel te praat. Aangesien die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe onlangs in die plaaslike taal vrygestel is, het ons ’n goeie geleentheid gehad om ’n aantal eksemplare te versprei. Almal wat die boek wou hê, het ons verseker dat hulle dit sou lees en dit nie as ’n ken karawan, of “gelukbringer”, sou gebruik om demone af te weer nie. ’n Gewilde gebruik onder die mense daar is om ’n opgerolde bladsy van die Bybel binne-in ’n bottel te sit en dit aan ’n dakbalk of ’n nabygeleë boom te hang omdat dit vermoedelik bose geeste weghou.
Ons het ’n hele paar dae lekker gekuier, maar toe Saterdag aanbreek, het ons gou besef dat dit anders sou wees. Ons het die dag begin deur vroegoggend in die helder, warm water van die strandmeer te gaan swem. Terwyl ons van die strand af teruggeloop het, het ons ’n onheilspellende, grys skip sien aankom. Ons het weldra uitgevind waarom dit daar is. ’n Polisieman het verduidelik dat ’n span van sewe Amerikaanse soldate gekom het om ou bomme wat op die eiland is te laat ontplof. Om die veiligheid van die publiek te verseker, moes huise ontruim word en moes die eilandbewoners die dag in bunkers deurbring wat die Japannese gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebou het.
Daardie bunkers, wat besoekers aan Tõrwã feitlik onmiddellik opmerk, getuig van ’n aaklige verlede. Uit die verte lyk die eiland net soos ’n tropiese paradys, maar van naby word dit duidelik dat Tõrwã se skoonheid geskend is deur ’n oorlog wat ongeveer 50 jaar gelede geëindig het. Die eiland, wat vroeër ’n vername Japannese lugmagbasis was, is vol herinneringe aan die Tweede Wêreldoorlog. Oral is daar verroeste oorblyfsels van die oorlog—vegvliegtuie, opgestelde kanonne en torpedo’s—wat deur tropiese plante toegegroei is.
Dit is egter die oorblywende bomme wat die meeste kommer wek. Gedurende die oorlog het die Amerikaanse krygsmag meer as 3600 ton bomme, napalmbomme en vuurpyle op Tõrwã laat val, en die Japannese mag het hulle eie arsenaal van bomme en wapens op die grond gehad. Hoewel dit onwaarskynlik is dat ’n 50 jaar oue bom sal ontplof, hou hulle altyd ’n potensiële gevaar in, wat verklaar waarom bomruimspanne die eiland al ten minste vyf keer besoek het sedert 1945, die jaar toe die oorlog geëindig het.
Ons het gewonder of die waarskuwing werklik eg was en het dus na die gebied geloop waar die bomruimspan aan land gekom het en met hulle gaan gesels. Hulle het gesê dat die waarskuwing nie alleen eg was nie, maar dat die bomontploffings binne ’n uur sou begin! As ons nie in ’n bunker wou gaan skuiling soek nie, is daar vir ons gesê, sou ons die eiland onmiddellik moes verlaat.
Ons vriendin het besluit om op Tõrwã te bly en het saam met ’n hele paar gesinne beskerming gevind in ’n groot masjiengeweernes. Sy het later vir ons vertel dat die enigste vensters in die ou betonbunker die geskutpoorte was en dat dit ongemaklik warm en oorvol binnekant was. Die dag wat sy daar deurgebring het, het haar aan die oorlogsjare laat terugdink, en sy het gesê dat die ontploffing van bomme nou nogal skrikwekkend was, hoewel dit haar as kind gefassineer het.
Haar man het ingewillig om ons in ’n klein boot met ’n buiteboordmotor na Wollet-eiland, agt kilometer daarvandaan, te neem. Ons was slegs ’n paar minute weg toe ons ’n harde slag hoor. Ons het omgekyk in die rigting van Tõrwã en het ’n rookkolom naby die eiland se woongebied sien opstyg. Dit was nie lank nie of daar was nog ’n ontploffing en toe ’n derde, baie groter, ontploffing.
Ons het die dag op Wollet in die predikingswerk deurgebring en het deur die dag kort-kort ’n bomontploffing in die verte gehoor. Die ou bomme is etlike maande vroeër opgespoor en gemerk. Geskut is oral gevind—al langs die kus, by die landingstrook in die binneland en selfs in mense se agterplase! Die bomruimspan het die aantal ontploffings verminder deur ’n klompie kleiner bomme bymekaar te sit en dit dan saam te laat ontplof.
Die son was al amper onder toe ons na Tõrwã terugkeer. Terwyl ons die eiland genader het, het ons opgemerk dat die gebruiklike rook van die kosvure nie daar was nie. Ons het geweet dat iets verkeerd is. Skielik het ’n klein boot op ons afgepyl en ons gewaarsku om nie nader te gaan nie. Daar was een groot bom onder die water naby die rif wat hulle nog moes laat ontplof. Terwyl ons in die skemer verder van die kus af gedryf het, het ons gevolglik iets gesien wat die meeste mense wat vandag leef nog nooit gesien het nie—’n onderwaterontploffing van ’n bom van die Tweede Wêreldoorlog, wat ’n kolom water en rook honderde meters die lug in geskiet het!
Gelukkig is niemand op Tõrwã daardie dag beseer nie. Het die bomruimspan uiteindelik al die oorblywende bomme op die eiland verwyder? Waarskynlik nie. Die spanleier het gesê hy verwag dat die eilandbewoners in die toekoms op nog ou geskut sal afkom. Dit het ons natuurlik iets gegee waaroor ons met die mense kon praat terwyl ons ons predikingswerk op Tõrwã voltooi het. Dit was werklik ’n voorreg om hierdie eilandbewoners te vertel van die tyd wanneer Jehovah se Koninkryk “die oorloë [sal] laat ophou tot by die einde van die aarde”.—Psalm 46:10.
Soos vertel deur Nancy Vander Velde
[Prent op bladsy 27]
’n Bom wat nog nie ontplof het nie