Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/22 bl. 8-11
  • Binnekort ’n wêreld sonder oorlog

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Binnekort ’n wêreld sonder oorlog
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Beroep op liefhebbers van vrede
  • “Die einde van die dae”
  • ’n Wêreld sonder oorlog
  • Die Laaste dae—Wat dan?
    Ontwaak!—2008
  • Soek ware vrede en streef dit na!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Vrede op aarde—Hoe sal dit tot stand kom?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wanneer alle mense mekaar sal liefhê
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/22 bl. 8-11

Binnekort ’n wêreld sonder oorlog

KYK weer na die Bybelprofesie in Jesaja wat sê: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Let op uit die konteks dat diegene wat van hulle swaarde pikke smee “baie volke” is wat in die paaie van God wandel (Jesaja 2:2-4). Dit beteken dat hierdie mense Jehovah God aanbid en sy wette gehoorsaam. Wie is hulle?

Hulle moet ’n multinasionale volk wees wat nie net oorlogswapens verwerp het nie, maar wat die gesindhede en neigings wat tot onenigheid en oorlogvoering lei heeltemal uit hulle verstande en harte verwyder het (Romeine 12:2). Hulle maak nie hulle naaste dood nie, maar het hom eerder lief (Matteus 22:36-39). Het jy al van so ’n volk gehoor?

Dalk het jy gehoor dat Jehovah se Getuies ’n internasionale broederskap is en nie wapens opneem om ander dood te maak nie. Dink daaraan: Sou hierdie planeet nie reeds ’n plek van vrede en veiligheid gewees het as almal op aarde daardie beskouing gehad het nie?

Natuurlik het nie almal daardie beskouing nie. Dit is soos koning Salomo ongeveer 3000 jaar gelede geskryf het: “Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag.”—Prediker 4:1.

’n Beroep op liefhebbers van vrede

Sal daar ooit ’n wêreld sonder oorlog wees? Ja. Sal dit deur die mens se pogings teweeggebring word? Nee. Sal dit deur ’n massabekering van mense tot die ware godsdiens teweeggebring word? Nee. Die Bybelboek Psalms antwoord: “Kom, aanskou die dade van die HERE . . . wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde.”—Psalm 46:9, 10, ons kursiveer.

Hoe gaan Jehovah God dit doen? Die boek Spreuke antwoord: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose [diegene wat God se wette verontagsaam] sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”—Spreuke 2:21, 22.

’n Belangrike rede waarom God nie al vroeër opgetree het nie, is: Hy gee mense ’n kans om sy weë te leer sodat hulle in sy paaie kan wandel. Die apostel Petrus het geskryf: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Daarom help God se volk ander op ’n onselfsugtige wyse om van Jehovah te leer. Soos Jesaja dit gestel het, roep hulle uit: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, . . . dat Hy ons sy weë kan leer.”—Jesaja 2:3.

“Die einde van die dae”

Die teks in Jesaja het ook voorspel dat die onderrigting van mense in die weë van vrede “aan die einde van die dae” sou plaasvind (Jesaja 2:2). Ons lewe nóú in daardie tyd. Ironies genoeg, die oorloë van hierdie eeu toon dat ons nou in daardie tyd lewe.

Toe Jesus se dissipels hom gevra het wat die einde van hierdie stelsel van dinge sou kenmerk, het hy “groot aardbewings . . . en op die een plek na die ander peste en voedseltekorte” voorspel (Lukas 21:11; Matteus 24:3). Hy het ook gesê: “‘Wanneer julle van oorloë en oproere hoor, moet julle nie verskrik word nie. Want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar die einde kom nie onmiddellik nie.’ Toe het hy voorts vir hulle gesê: ‘Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk.’”—Lukas 21:9, 10.

Hoewel daar al duisende jare lank oorloë is, het hierdie eeu alleen twee wêreldoorloë en, volgens party tellings, letterlik honderde kleiner oorloë gesien. Die feit dat tienmiljoene mense in hierdie eeu in oorloë gesterf het, is verskriklik. Volgens die tydskrif World Watch het dit gedurende die 2000 jaar voor die 20ste eeu gemiddeld 50 jaar geduur voordat eenmiljoen mense in oorloë gesterf het. Gedurende hierdie eeu het dit gemiddeld een jaar geduur voordat ’n miljoen mense in oorloë gesterf het.

’n Wêreld sonder oorlog

Die verskriklike oorloë van ons eeu, tesame met baie ander ontwikkelinge wat in Bybelprofesieë voorspel is, toon dat ons op die drumpel staan van ’n nuwe wêreld wat God gaan maak. Die wanorde van die ou wêreld sal uit die weg geruim en met ’n “nuwe aarde” vervang word, waarin vrede en regverdigheid sal heers (2 Petrus 3:13). God se Woord sê: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:9, 11.

Vandag hunker miljoene der miljoene regoor die aarde na ’n wêreld sonder oorlog. ’n Profeet van God het getoon dat God beslis sy belofte gaan vervul om so ’n wêreld te skep toe hy lank gelede geskryf het: “Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.”—Habakuk 2:3.

Wees dus verstandig deur op God te vertrou, en geniet die vervulling van sy belofte: “God self sal by [sy volk] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

[Venster/Prente op bladsy 9, 10]

Wat die Bybel vir daardie nuwe wêreld belowe:

Geen misdaad, geweld of goddeloosheid nie

‘God laat die oorloë ophou tot by die einde van die aarde.’—Psalm 46:10.

“Die kwaaddoeners sal uitgeroei word . . . En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie.”—Psalm 37:9, 10.

Die hele mensdom in vrede

“’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: . . . Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”—Jesaja 9:5, 6.

Die hele aarde ’n paradys

Jesus het gesê: “Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:43.

“Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.

’n Liefdevolle wêreldwye broederskap

‘God is nie partydig nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.’ —Handelinge 10:34, 35.

’n Opstanding van afgestorwe dierbares

“Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.” —Johannes 5:28, 29.

Nie meer siekte, veroudering of dood nie

“Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” —Openbaring 21:4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel