Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 4/22 bl. 4-7
  • Wie kan blywende vrede bring?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie kan blywende vrede bring?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Inkorting van militêre besteding
  • Die internasionale wapenhandel
  • Kernbedreiging bestaan steeds
  • Ontwapening en vrede
  • Etniese wedywering neem toe
  • Probleme wat opdoem
  • Kernoorlog—Wie is die bedreigings?
    Ontwaak!—2004
  • Kernoorlog—Is dit nog ’n bedreiging?
    Ontwaak!—2004
  • Die kernbedreiging—nog lank nie verby nie
    Ontwaak!—1999
  • Wat sê die Bybel oor kernoorlog?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 4/22 bl. 4-7

Wie kan blywende vrede bring?

“Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

DIE teks hierbo kom uit Jesaja hoofstuk 2, vers 4. Die Human Development Report 1994, wat deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (VNOP) uitgegee is, het hierdie woorde aangehaal en toe bygevoeg: “Dit het gelyk of die tyd vir hierdie profesie met die einde van die koue oorlog [in 1990] aangebreek het. Maar tot dusver was dit ’n ontwykende hoop.”

Inkorting van militêre besteding

Een faktor wat die vooruitsigte vir vrede laat vervaag, is dat die verandering in die internasionale politieke klimaat nie met groot afnames in militêre besteding gepaardgegaan het nie. Daar was weliswaar ’n paar besnoeiings. Volgens VN-syfers het wêreldwye militêre besteding van ’n ongeëwenaarde hoogtepunt van R3,6 biljoen in 1987 tot R2,96 biljoen in 1992 afgeneem. R2,96 biljoen is nogtans ’n enorme syfer. Dit is naastenby gelyk aan die gesamentlike inkomste van die helfte van die wêreld se bevolking!

Nog ’n faktor wat ontwapening teëwerk, is die beskouing dat militêre mag veiligheid meebring. Selfs al is die Koue Oorlog verby, redeneer baie in nywerheidslande dus dat nasionale veiligheidsbesteding op hoë vlakke moet bly. James Woolsey het, toe hy Direkteur van die Amerikaanse Sentrale Inligtingsagentskap was, in Februarie 1993 vir die Kongres gesê: “Ons het ’n groot draak [die USSR] doodgemaak, maar nou lewe ons in ’n oerwoud vol van ’n verbysterende verskeidenheid giftige slange.”

In ontwikkelende lande word hoë militêre besteding ook geregverdig as ’n manier om ’n aanval af te weer van lande wat as moontlike drake en giftige slange beskou word. Maar in werklikheid, het die VNOP gesê, “het ontwikkelende lande min internasionale oorloë gevoer, en baie het hulle gewapende magte gebruik om hulle mense te onderdruk”. Trouens, die VNOP-verslag het verduidelik: “In ontwikkelende lande is die kanse om van maatskaplike verwaarlosing (van ondervoeding en aan voorkombare siektes) te sterf 33 keer groter as die kanse om in ’n oorlog weens buitelandse aggressie te sterf. Tog is daar gemiddeld ongeveer 20 soldate vir elke geneesheer. Dit is in elk geval waarskynliker dat die soldate persoonlike veiligheid laat afneem as dat hulle dit laat toeneem.”

Die internasionale wapenhandel

Gedurende die Koue Oorlog het die twee supermoondhede wapens aan bondgenote verkoop om bondgenootskappe te verstewig, militêre basisse te verkry en mag te behou. Die leërs van baie nasies het sterk geword. Tans besit 33 lande byvoorbeeld meer as 1000 tenks elk.

Noudat die Koue Oorlog verby is, het die politieke en strategiese regverdiging vir die wapenverkope afgeneem. Maar die ekonomiese aansporings bly groot. Daar kan geld gemaak word! Terwyl die binnelandse aanvraag na wapens afneem, oortuig wapenvervaardigers dus hulle regerings dat hulle werksgeleenthede kan behou en die ekonomie gesond kan hou deur wapens in die buiteland te verkoop.

Die tydskrif World Watch sê: “Vreemd genoeg, noudat die supermoondhede hulle groot kernmissiele terugtrek, is hulle dringend op soek na maniere om meer van hulle konvensionele bomme en gewere te verkoop aan feitlik enigiemand wat sal koop.” Die syfers? Volgens Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut was die waarde van konvensionele wapens wat gedurende die jare vanaf 1988 tot 1992 op die internasionale mark verkoop is R548 miljard. Die grootste uitvoerder was die Verenigde State, gevolg deur lande van die voormalige Sowjetunie.

Kernbedreiging bestaan steeds

Wat van die kernbedreiging? In 1987 het die Verenigde State en die Sowjetunie (of sy opvolgerstate) die Middelafstandkernmagte-verdrag onderteken en in 1991 en 1993 die twee Verdrae vir die Vermindering van Strategiese Wapens (START).

Die START-verdrae het grondmissiele met meer as een plofkop verbied en het vereis dat byna driekwart van die kernplofkoppe op alle geleidingstelsels teen die jaar 2003 verwyder moet wees. Maar hoewel die bedreiging van ’n Derde Wêreldoorlog met kernwapens vervaag het, bly daar reusearsenale kernwapens oor—genoeg om alle lewe op die aarde ’n hele paar keer te vernietig.

Die geleenthede vir kerndiefstal neem toe wanneer hierdie wapens uitmekaargehaal word. Rusland haal byvoorbeeld ongeveer 2000 plofkoppe per jaar uitmekaar en stoor dit; hieruit herwin hulle plutoniumsfere die grootte van ’n vuis, wat pitte genoem word. ’n Plofkoppit, wat geweldige onkoste en tegnologie verg om te maak, is die hoofbestanddeel in ’n kernbom. Aangesien pitte gewoonlik deur ’n laag staal omhul is wat radioaktiwiteit keer, is dit moontlik dat ’n dief een in sy sak kan steek en kan wegdra. ’n Terroris wat ’n klaargemaakte pit in die hande gekry het, kan dit dan met ontploffingstoerusting omring en sodoende ’n ontsettend kragtige bom herskep.

Nog ’n bekommernis is die gevaar dat kernwapens na al hoe meer lande kan versprei. Vyf nasies is erkende kernmoondhede—China, Frankryk, Rusland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State—en daar word gemeen dat verskeie ander lande ook die vermoë het om kernwapens vinnig te ontplooi.

Namate al hoe meer nasies kernwapens bekom, neem die moontlikheid toe dat iemand dit sal gebruik. Dit is nie sonder rede dat mense die gebruik van hierdie ontsagwekkende wapens vrees nie. Soos die boek The Transformation of War dit stel, “is die krag daarvan so geweldig dat dit konvensionele wapens na ’n flou grap laat lyk”.

Ontwapening en vrede

Maar sê nou die nasies het wel van hulle gevorderde wapens van vernietiging ontslae geraak? Sou dit ’n vreedsame wêreld waarborg? Geensins. Die militêre geskiedskrywer John Keegan sê: “Kernwapens het sedert 9 Augustus 1945 nog niemand doodgemaak nie. Die 50000 000 wat sedertdien in oorloë gesterf het, is merendeels doodgemaak met goedkoop wapens wat in massa geproduseer is en met ammunisie van klein kaliber, wat nie veel meer kos as die transistorradio’s en droëselbatterye waardeur die wêreld in dieselfde tydperk oorstroom is nie.”

’n Onlangse voorbeeld van die gebruik van eenvoudige wapens is die slagting in Rwanda, ’n land waarvan The World Book Encyclopedia (1994) sê: “Die meeste van die mense is Rooms-Katolieke. . . . Die Rooms-Katolieke en ander Christelike kerke bestuur die meeste van die laer- en hoërskole.” Tog is tot ’n halfmiljoen mense in Rwanda doodgemaak deur mense wat met kapmesse gewapen was. Klaarblyklik is meer nodig om wêreldvrede te bring as die vermindering van konvensionele en kernwapens. Ook is iets anders nodig as die leringe wat die wêreld se godsdienste voorsien.

Etniese wedywering neem toe

Sadako Ogata, die VN se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge, het onlangs gesê: “Onmiddellik ná die Koue Oorlog het ons gedink dat al die probleme opgelos sou word. Ons het nie besef dat die Koue Oorlog nog ’n kant gehad het nie—dat die supermoondhede orde verskaf het of orde afgedwing het op hulle onderskeie invloedsgebiede. . . . Nou, ná die Koue Oorlog, sien ons dus die uitbarsting van baie meer tradisionele, sluimerende soorte etniese konflik wat miskien soos dié voor die Eerste Wêreldoorlog is.”

Arthur Schlesinger, ’n geskiedkundige en skrywer wat die Pulitzerprys gewen het, stel ’n soortgelyke punt: “Een stel haat vervang ’n ander. Die opheffing van die ystergreep van ideologiese verdrukking in Oos-Europa en die voormalige Sowjetunie laat opgekropte etniese, nasionalistiese, godsdienstige en taalkundige vyandighede na vore kom wat diep in die geskiedenis en in die geheue ingeprent is. . . . As die 20ste eeu die eeu van die oorlogvoering van ideologieë was, begin die 21ste eeu as die eeu van die oorlogvoering van etnisiteite.”

Tussen 1989 en 1992 was daar, volgens ’n telling van die Verenigde Nasies, 82 gewapende konflikte, waarvan die meeste in ontwikkelende lande plaasgevind het. Gedurende 1993 het 42 lande groot konflikte gehad, en nog 37 lande het politieke geweld ondervind. Intussen het die Verenigde Nasies—waarvan die begroting sy uiterste bereik het—sonder veel welslae geworstel om in net 17 operasies vrede te bring. Dit is duidelik dat die mensdom elders na ’n vreedsame wêreld moet soek.

Probleme wat opdoem

In toenemende mate maak baie eerder voorspooksels as om optimisties oor die toekoms te wees. Die voorblad van The Atlantic Monthly vir Februarie 1994 som een voorspelling vir die toekomstige dekades op: “Nasies verbrokkel weens die golwende stroom vlugtelinge uit omgewings- en maatskaplike rampe. . . . Oorloë word gevoer oor skaars hulpbronne, veral water, en oorlog self duur saam met misdaad voort terwyl gewapende bendes van staatlose plunderaars met die privaat veiligheidsmagte van die elite bots.”

Beteken dit dat blywende vrede onbereikbaar is? Beslis nie! Die volgende artikel toon die redes waarom ons vol vertroue kan wees oor die toekoms.

[Venster op bladsy 5]

Godsdiens—’n Krag ter bevordering van vrede?

Wanneer nasies oorlog voer, laat vaar die wêreld se godsdienste leringe van vrede en broederskap. Die Britse brigadier Frank P. Crozier het aangaande die situasie gedurende die Eerste Wêreldoorlog gesê: “Die Christelike Kerke is ons beste skeppers van bloeddorstigheid, en ons het vryelik van hulle gebruik gemaak.”

Godsdiens se rol in oorloë was deur die eeue heen dieselfde. Die Katolieke geskiedskrywer E. I. Watkin het erken: “Hoe pynlik die erkenning ook al is, ons kan nie in die belang van ’n valse lering of oneerlike trou die geskiedkundige feit ontken of ignoreer dat Biskoppe deurgaans alle oorloë ondersteun het wat deur die regering van hulle land gevoer is nie.” En ’n hoofartikel in die Sun van Vancouver, Kanada, het gesê: “’n Swakheid van moontlik alle georganiseerde godsdienste is dat die kerk die vlag aanhang . . . Watter oorlog is ooit gevoer waar daar nie beweer is dat God aan elkeen se kant was nie?”

Dit is duidelik dat die wêreld se godsdienste eerder oorloë en slagting bevorder het as om ’n krag ter bevordering van vrede te wees—soos die slagting in Rwanda so kragtig toegelig het.

[Venster op bladsy 6]

Die sinloosheid van oorlog

In die boek I Found No Peace, wat in 1936 uitgegee is, het die buitelandse korrespondent Webb Miller geskryf: “Vreemd genoeg, die ontsettende afgryslikheid van [die Eerste Wêreldoorlog] het my eers presies agt jaar nadat dit verby was met al die oorweldigende onwelvoeglikheid en sinloosheid daarvan getref.” By daardie geleentheid het hy die slagveld van Verdun weer besoek, waar 1050000 manne volgens hom gesterf het.

“Gedurende die oorlog is ek saam met miljoene ander mislei”, het Miller geskryf. “Die Wêreldoorlog het slegs daarin geslaag om tot nuwe oorloë aanleiding te gee. Agt en ’n half miljoen manne het tevergeefs gesterf, tienmiljoene het onbeskryflike afgryslikhede verduur en honderdmiljoene het verdriet, verlies en ongelukkigheid deurgemaak. En dit alles het onder verbysterende misleiding plaasgevind.”

Drie jaar nadat hierdie boek uitgegee is, het die Tweede Wêreldoorlog begin. The Washington Post het gesê: “Ons 20ste-eeuse oorloë was ‘totale oorloë’ teen soldate sowel as burgerlikes. . . . In vergelyking daarmee was die barbaarse oorloë van vorige eeue straatgevegte.” Volgens ’n skatting deur een gesaghebbende het 197 miljoen sedert 1914 in oorloë en burgerlike opstande gesterf.

Tog het al die oorloë en opstande van mense nie vrede of geluk gebring nie. Soos The Washington Post gesê het, “het geen politieke of ekonomiese stelsel tot dusver in hierdie eeu die rustelose miljoene tot bedaring gebring of bevredig nie”.

[Prent op bladsy 7]

Hierdie moeder is een van die honderdduisende mense wat in Rwanda vermoor is—baie deur lede van hulle eie godsdiens

[Erkenning]

Albert Facelly/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel