Gelei deur geloof in God In ’n Kommunistiese land
SOOS VERTEL DEUR ONDREJ KADLEC
GEDURENDE die somer van 1966 het ek ’n besigtigingstoer van my tuisdorp—Praag, Tsjeggo-Slowakye—gelei. Met ywer vir my nuutgevonde geloof het ek van God gepraat terwyl ek die stad se indrukwekkende kerke en tempels vir die groep gewys het.
“Is jy een van Jehovah se Getuies?” het ’n Amerikaanse professor in ekonomie gevra.
“Nee”, het ek geantwoord. “Ek het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie. Ek is ’n Rooms-Katoliek.”
Ek vind geloof in God
Ek is grootgemaak deur ouers wat hoogaangeskrewe gestaan het op die gebiede van opvoeding, politiek en geneeskunde. Kort ná my geboorte in 1944 en die einde van die Tweede Wêreldoorlog die jaar daarna, het my pa ’n Kommunis geword. Trouens, hy was medestigter van die Kommunistiese hervormingsbeweging, en in 1966 het hy kanselier van die Universiteit van Ekonomie in Praag geword. ’n Paar jaar later is hy aangestel as Minister van Onderwys van Tsjeggo-Slowakye, wat teen daardie tyd ’n Kommunistiese sowel as ’n ateïstiese land was.
My ma was ’n baie eerlike, begaafde vrou. Sy was ’n oogchirurg, na bewering die beste in die land. Tog het sy die behoeftiges gratis behandel. Sy het altyd gesê: “Watter gawes ’n mens ook al gekry het, moet tot nut van die gemeenskap en die volk gebruik word.” Sy het nie eens kraamverlof geneem toe ek gebore is nie sodat sy by haar kliniek beskikbaar kon wees.
Daar is van my verwag om uit te blink op skool. My pa het altyd gevra: “Is daar iemand wat beter presteer as jy?” Ek het die kompetisie begin geniet, aangesien ek op skool dikwels toekennings ontvang het vir uitmuntendheid. Ek het Russies, Engels en Duits geleer en baie gereis in die Kommunistiese wêreld en daarbuite. Ek het dit geniet om godsdiensidees as belaglike bygelowigheid te weerlê. En hoewel ek ateïsme ten volle aanvaar het, het ek later die politieke toepassing daarvan gehaat.
’n Reis na Engeland in 1965, toe ek maar 21 was, het ’n baie groot uitwerking op my gehad. Ek het mense ontmoet wat hulle geloof in ’n Opperwese met oortuiging en logika verdedig het. Nadat ek na Praag teruggekeer het, het ’n Rooms-Katolieke kennis voorgestel: “Moenie van die Christendom lees nie. Lees die Bybel.” Dit is wat ek gedoen het. Dit het my drie maande geneem om dit te voltooi.
Wat my beïndruk het, was die manier waarop die Bybelskrywers hulle boodskap aangebied het. Hulle was eerlik en selfkrities. Ek het begin glo dat die wonderlike toekoms waarvan hulle gepraat het iets was wat net ’n persoonlike God vir die mens in die vooruitsig kon stel en kon voorsien.
Nadat ek die Bybel maande lank op my eie gelees en daaroor gepeins het, het ek gereed gevoel om my pa en my vriende daarvan te vertel. Ek het geweet dat hulle my nuutgevonde geloof sou aanval. Daarna het ek ywerig probeer om almal te bekeer. Wie ook al naby my was—soos daardie Amerikaanse professor wat aan die begin genoem is—moes met my bekeringsywer opgeskeep sit. Ek het selfs ’n kruisbeeld bokant my bed gehang om almal van my geloof bewus te maak.
My ma het egter gesê dat ek beslis nie ’n Christen kon wees nie, aangesien ek so baie soos my pa, ’n ywerige Kommunis, was. Maar ek het aangehou. Ek het die Bybel ’n tweede en ’n derde keer deurgelees. Teen daardie tyd het ek besef dat ek leiding nodig het om verdere vordering te maak.
My soektog word beloon
Ek het met die Rooms-Katolieke Kerk in aanraking gekom. Die hoofsaak vir ’n jong priester was om my die leerstellings van die kerk te leer, wat ek ten volle aanvaar het. Toe, in 1966, is ek tot skande van my pa gedoop. Nadat die priester my met water besprinkel het, het hy voorgestel dat ek die Bybel lees, maar hy het bygevoeg: “Die Pous het reeds die evolusieteorie aanvaar, moet dus nie bekommerd wees nie; ons sal die koring van die onkruid skei.” Ek was geskok dat die boek wat my van geloof voorsien het, bevraagteken word.
Intussen, in die herfs van 1966, het ek met ’n vriend uit ’n Katolieke gesin gepraat en my opvattings met hom gedeel. Hy was ook met die Bybel bekend, en hy het met my oor Armageddon gepraat (Openbaring 16:16). Hy het gesê dat hy in aanraking was met Jehovah se Getuies, van wie ek ’n paar maande tevore vir die eerste keer gehoor het toe ek besig was met daardie besigtigingstoer waarvan ek vroeër gepraat het. Maar ek het sy groep as onbenullig beskou in vergelyking met die magtige, ryk, groot Rooms-Katolieke Kerk.
Gedurende verdere besprekings het ons drie brandende geskille ondersoek. Eerstens: Is die Rooms-Katolieke Kerk die erfgenaam van die eerste-eeuse Christelike godsdiens? Tweedens: Wat moet as die hoogste gesag beskou word—my kerk of die Bybel? En derdens: Watter een is reg, die Bybel se skeppingsverslag of die evolusieteorie?
Aangesien die Bybel die bron van ons albei se geloof was, was dit nie vir my vriend moeilik om my te oortuig dat die leringe van die Katolieke Kerk baie anders is as dié van die vroeë Christene nie. Ek het byvoorbeeld geleer dat selfs Katolieke bronne erken dat die vername kerklering van die Drie-eenheid nie op die leringe van Jesus Christus en sy apostels gebaseer is nie.
Dit het ons gebring by die verwante vraag oor wat ons hoogste gesag moet wees. Ek het verwys na die aanhaling van St. Augustinus: “Roma locuta est; causa finita est”, dit wil sê “Rome het gepraat; die saak is afgehandel.” Maar my vriend het volgehou dat God se Woord, die Bybel, ons allerhoogste gesag moet wees. Ek moes saamstem met die woorde van die apostel Paulus: “Laat God waaragtig bevind word, al word elke mens ’n leuenaar bevind.”—Romeine 3:4.
Uiteindelik het my vriend my ’n verslete, getikte manuskrip met die titel Evolution Versus the New World aangebied. Omdat daar in die laat veertigerjare ’n verbod op Jehovah se Getuies in Tsjeggo-Slowakye geplaas is, het hulle afskrifte van hulle publikasies gemaak, en hulle was baie versigtig vir wie hulle dit gegee het. Nadat ek hierdie boekie gelees het, het ek geweet dat dit die waarheid bevat. My vriend het ’n Bybelstudie met my begin hou. Hy het my ’n paar bladsye van die Bybelstudiehulp “Laat God waaragtig wees” op ’n slag geleen, en ons het hierdie bladsye saam bespreek.
Kort nadat ons met hierdie besprekings begin het—gedurende die Kersseisoen van 1966—het vriende van Wes-Duitsland my in Praag kom besoek. In een van ons gesprekke het hulle Christene as skynheilige oorlogstokers bespot. “As soldate van NAVO-lande kan ons teen jou as ’n voorgewende Christen in ’n Kommunistiese Warskou-Verdragsland veg”, het hulle gesê. Hulle gevolgtrekking: “Dit is beter om sinies te wees as skynheilig.” Ek het gevoel dat hulle miskien reg is. Gedurende my volgende Bybelstudie het ek my vriend dus gevra hoe ware Christene die kwessie van oorlog en voorbereiding daarvoor beskou.
Besluite wat ek moes neem
My vriend se verstaanbare verduideliking het my verstom. Maar dit sou my lewe en voorgenome loopbaan drasties verander as ek wou voldoen aan die Bybellering om ‘van swaarde pikke te smee’ (Jesaja 2:4). Ek sou oor vyf maande aan die mediese universiteit gradueer, en daarna sou ek ’n tydperk van militêre diensplig moes verrig. Wat moes ek doen? Ek was verward. Ek het dus tot God gebid.
Ná ek ’n paar dae lank diep daaroor nagedink het, kon ek geen verskoning vind om nie aan die vereiste vir ware Christene te voldoen om vredeliewend te wees nie. Nadat ek my studies voltooi het, het ek besluit om ’n pos by ’n hospitaal te aanvaar totdat ek as ’n gewetensbeswaarde gevonnis word. Maar toe leer ek wat die Bybel oor die onthouding van bloed sê. Omdat ek besef het dat my werk miskien sou vereis dat ek bloedoortappings moet toedien, het ek besluit om uit my werk by die hospitaal te bedank (Handelinge 15:19, 20, 28, 29). My besluit het my wydverspreide openbare onguns op die hals gehaal.
Nadat my pa seker gemaak het dat ek nie ’n moedswillige oproermaker geword het wat sy politieke loopbaan wou vernietig nie, het hy ingegryp en my militêre diensplig een jaar laat uitstel. Die somer van 1967 was vir my moeilik. Beskou my omstandighede: Ek was ’n nuwe Bybelstudent wie se studiehouer, die enigste Getuie met wie ek nog kontak gehad het, weg was vir die somer. En hy het my met net ’n paar hoofstukke van die boek “Laat God waaragtig wees” gelaat vir my persoonlike studie. Dít en my Bybel was my enigste bronne van geestelike leiding.
Later het ek ander Getuies leer ken, en op 8 Maart 1968 het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Die volgende jaar is ek ’n tweejaarkursus vir nagraadse studie aan die Universiteit van Oxford in Engeland aangebied. Party het voorgestel dat ek die aanbod aanvaar en na Engeland gaan waar ek geestelike vooruitgang kon maak in ’n land waar daar nie ’n verbod op die Getuies was nie. Ek kon terselfdertyd vir ’n goeie professionele loopbaan voorberei. Maar ’n Christen- ouer man het gesê dat my dienste nie in Engeland so nodig was as in Tsjeggo-Slowakye nie. Ek het dus die aanbod om verder te gaan leer van die hand gewys, en ek het in Tsjeggo-Slowakye gebly om met ons ondergrondse predikingsbedrywighede te help.
In 1969 is ek uitgenooi om die Koninkryksbedieningskool-kursus by te woon wat gespesialiseerde opleiding vir Christenopsieners voorsien het. Daardie selfde jaar het ek ’n beurs ontvang as die beste jong farmakoloog in Tsjeggo-Slowakye. Gevolglik het ek ’n kongres van die Internasionale Unie van Farmakologie in Switserland bygewoon.
’n Wetenskaplike verander sy beskouings
Gedurende ’n lesing wat ek in 1970 bygewoon het, het ’n wetenskaplike met die naam Frantis̆ek Vyskočil die ingewikkelde onderwerp van die oordrag van senu-impulse verduidelik. Hy het gesê dat, wanneer daar ook al ’n behoefte in ’n organisme ontstaan, ’n uitstekende oplossing voorsien word. “Die bekoorlike Moeder Natuur weet hoe om dit te doen”, het hy afgesluit.
Ná die lesing het ek hom genader. “Dink jy nie”, het ek gevra, “dat die eer vir die uitstekende ontwerp van alle lewende dinge God toekom nie?” My vraag het hom verras, aangesien hy ’n ateïs was. Hy het gereageer deur ander vrae te vra. Hy het gevra: “Waar kom boosheid vandaan?” en: “Wie se skuld is dit dat daar soveel weeskinders is?”
Omdat ek billike, Bybelse antwoorde gegee het, is sy belangstelling gewek. Maar hy wou weet waarom die Bybel nie spesifieke wetenskaplike inligting voorsien nie, soos ’n beskrywing van die bou van ’n sel, sodat mense die Skepper maklik as die skrywer kon identifiseer. “Wat is moeiliker”, het ek gevra, “om te beskryf of om te skep?” Ek het vir hom die boek Did Man Get Here by Evolution or by Creation? geleen.
Nadat hy dit net vlugtig gelees het, het Frantis̆ek gesê dat dit eenvoudig en onakkuraat is. Hy was ook krities oor wat die Bybel gesê het oor veelwywery, Dawid se egbreuk en Dawid se moord op ’n onskuldige man (Genesis 29:23-29; 2 Samuel 11:1-25). Ek het sy besware weerlê en daarop gewys dat die Bybel eerlik is wat betref die tekortkominge van selfs God se knegte, sowel as hulle direkte oortredings.
Uiteindelik, gedurende een van ons besprekings, het ek vir Frantis̆ek gesê dat geen argument of redenasie ’n persoon sal oortuig dat God bestaan as hy nie die regte motief en ’n liefde vir die waarheid het nie. Net toe ek wou loop, het hy my gestop en ’n Bybelstudie gevra. Hy het gesê dat hy weer die boek Did Man Get Here by Evolution or by Creation? sou lees—hierdie keer sonder vooroordeel. Daarna het sy gesindheid heeltemal verander, soos gesien kan word uit die volgende aanhaling wat hy by een van sy briewe ingesluit het: “Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en [Jehovah] alleen sal in dié dag verhewe wees.”—Jesaja 2:17, vgl. NW.
In die somer van 1973 is Frantis̆ek en sy vrou as Getuies van Jehovah gedoop. Hy dien tans as ’n ouer man in een van die gemeentes in Praag.
Predikingswerk tydens die verbod
Gedurende die verbod is ons vermaan om baie versigtig te wees in ons veldbediening. Eenkeer het ’n jonger Getuie by my aangehou om saam met hom velddiens te doen. Hy het getwyfel of diegene wat die leiding in die organisasie van Jehovah se Getuies neem self in die bediening uitgaan. Ons het talle aangename gesprekke in ons informele bediening gehad. Maar uiteindelik het ons ’n man ontmoet wat, hoewel ek dit nie toe besef het nie, my gesig herken het van ’n foto in ’n album van die staat se geheime polisie. Hoewel ek nie in hegtenis geneem is nie, is ek van toe af baie fyn dopgehou, en dit het my doeltreffendheid in ons ondergrondse predikingsbedrywighede belemmer.
Gedurende die somer van 1983 het ek, soos dit in vorige jare my gewoonte was, ’n groep jong Getuies bymekaargekry om ’n paar dae in ’n afgeleë deel van die land te getuig. Ek het wyse raad in die wind geslaan en met my motor gegaan omdat dit makliker was as om openbare vervoer te gebruik. Toe ons ’n rukkie stilgehou het om ’n paar goedjies by ’n winkel te koop, het ek my motor voor die winkel geparkeer. Terwyl ek vir die items betaal het, het ek na ’n paar jong winkelassistente gewys en vir ’n ouer werknemer gesê: “In die toekoms kan ons almal jonk wees.” Die dame het geglimlag. “Maar dit is nie in die mens se vermoë nie”, het ek voortgegaan. “Ons sou hulp van bo moes kry.”
Aangesien daar geen verdere reaksie was nie, het ek geloop. Sonder dat ek dit geweet het, het die werknemer, wat vermoed het dat ek godsdiensidees versprei, my deur die venster dopgehou terwyl ek die pakkie in my motor gesit het. Toe het sy die polisie laat weet. ’n Paar uur later, nadat ons informele getuieniswerk in ander dele van die dorp gedoen het, het ek en my velddiensmaat na die motor teruggekeer. Skielik het twee polisiemanne verskyn en ons in hegtenis geneem.
By die polisiestasie is ons ure lank ondervra voordat hulle vir ons gesê het dat ons kan gaan. Ek het heel eerste gedink aan wat om met die adresse van belangstellendes te doen wat ons die dag gekry het. Daarom het ek na die toilet gegaan om dit weg te spoel. Maar voordat ek dit kon doen, het die sterk hand van ’n polisieman my gekeer. Hy het die papiere uit die toilet gehaal en dit afgevee. Dit het my selfs meer bekommerd laat voel, aangesien die mense wat vir my hulle adresse gegee het nou in gevaar verkeer het.
Daarna is ons almal na ons hotel geneem, waar die polisie reeds die kamer deursoek het. Maar hulle het geen ander adresse van belangstellendes gevind nie, al was dit nie goed weggesteek nie. Later is ek, by die plek waar ek as ’n neurofarmakoloog gewerk het, in die openbaar berispe vir my betrokkenheid by onwettige bedrywighede. Ek is ook tereggewys deur die opsiener van die verkondigingswerk in Tsjeggo-Slowakye, wat my vroeër gewaarsku het om nie my motor te gebruik wanneer ons moes reis om aan die bediening deel te neem nie.
Ek ontvang dissipline
In 1976 is ek genooi om op die komitee te dien wat toesig hou oor die verkondigingswerk van Jehovah se Getuies in Tsjeggo-Slowakye. Maar aangesien ek nou, as gevolg van my swak oordeel in die soort sake wat vroeër genoem is, baie fyn deur die geheime polisie dopgehou is, is ek daarvan onthef om op die landskomitee te dien asook van verskeie ander voorregte. Een van hierdie voorregte wat vir my baie beteken het, was om die skool vir reisende opsieners en pioniers, soos voltydse bedienaars genoem word, aan te bied.
Ek het die dissipline aanvaar wat ek ontvang het, maar hierdie tyd gedurende die middel- tot laat tagtigerjare was vir my ’n moeilike tyd van selfondersoek. Sou ek leer om oordeelkundiger te werk en verdere onverstandige optrede te vermy? Psalm 30, vers 6, sê: “Saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.” Daardie môre het in November 1989 vir my aangebreek toe die Kommunistiese regime in Tsjeggo-Slowakye geval het.
Wonderlike seëninge
Wat ’n verandering was dit tog om vryelik aan ons bediening deel te neem en om openlike kommunikasie te geniet met die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York! Kort daarna is ek as ’n reisende opsiener aangestel, en ek het in Januarie 1990 met hierdie werk begin.
Toe, in 1991, het ek die voorreg gehad om die Bedieningsopleidingskool in Manchester, Engeland, by te woon. Wat ’n seëning was dit tog om twee maande lank omgang met en onderrigting deur ryp Christenmanne te geniet! As studente het ons elke dag ’n werkstoewysing gehad, wat verligting gebring het van ons intense akademiese onderrigting. My werk was om vensters te was.
Onmiddellik ná my terugkeer uit Engeland het ek begin help met die reëlings vir die onvergeetlike byeenkoms van Jehovah se Getuies wat op 9 tot 11 Augustus by die enorme Strahov-stadion in Praag gehou is. By daardie geleentheid het 74 587 mense uit baie lande vryelik bymekaargekom om ons God, Jehovah, te aanbid!
Die jaar daarna het ek met my sekulêre werk as ’n neurofarmakoloog opgehou. Ek werk al amper vier jaar by die kantoor in Praag, waar ek nou weer op die komitee dien wat toesig hou oor die werk van Jehovah se Getuies in die Tsjeggiese Republiek. ’n Tienverdiepinggebou, wat aan Jehovah se Getuies geskenk is, is onlangs opgeknap en as ’n takkantoor in gebruik geneem. Op 28 Mei 1994 is hierdie voortreflike gebou aan Jehovah se diens toegewy.
Van my grootste seëninge was die voorreg om ander, ook my familielede, van Bybelwaarhede te vertel. My pa en ma het tot nog toe nie Getuies geword nie, maar hulle is nou ten gunste van my bedrywighede. Gedurende die laaste paar jare het hulle van ons vergaderinge bygewoon. My opregte wens is dat hulle, saam met miljoene ander opregtes van hart, hulle nederig aan die heerskappy van God se Koninkryk sal onderwerp en die ewige seëninge sal geniet wat God uithou vir dié wat kies om hom te dien.
(Publikasies wat in hierdie artikel genoem word, word uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.)
[Prent op bladsy 12]
Toe ek ’n universiteitstudent was
[Prente op bladsy 13]
My pa, wat die Minister van Onderwys van Tsjeggo-Slowakye geword het, en my ma, wat ’n vooraanstaande oogchirurg was
[Prent op bladsy 15]
Frantis̆ek Vyskočil, ’n wetenskaplike en ’n ateïs, wat ’n Getuie geword het
[Prent op bladsy 16, 17]
Sedert die val van Kommunisme het Jehovah se Getuies talle groot byeenkomste in Oos-Europa gehou. Meer as 74 000 het hierdie een in Praag in 1991 bygewoon
[Prent op bladsy 18]
Besig met my werkstoewysing toe ek die Bedieningsopleidingskool in Engeland bygewoon het
[Prent op bladsy 18]
Ons takkantoor in Praag, wat op 28 Mei 1994 toegewy is