Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/8 bl. 3-5
  • Wat vroue oor borskanker moet weet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat vroue oor borskanker moet weet
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Familiegeskiedenis
  • Eksterne faktore
  • Persoonlike geskiedenis en hormone
  • Waarom dit vatbaar is
  • Metastase
  • Die sleutels tot oorlewing
    Ontwaak!—1994
  • Borskanker—Die verwagtinge en die vrese
    Ontwaak!—2011
  • Die soort ondersteuning wat tel
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/8 bl. 3-5

Wat vroue oor borskanker moet weet

DIE aantal gevalle van borskanker styg op elke vasteland. Volgens sommige skattings sal daar teen die jaar 2000 ongeveer eenmiljoen nuwe gevalle van borskanker wees wat jaarliks regoor die wêreld gediagnoseer sal word.

Is enige vrou immuun teen hierdie siekte? Kan enigiets gedoen word om dit te voorkom? En watter bemoediging en ondersteuning het diegene nodig wat ’n stryd teen hierdie vyand voer?

Die meeste velkankers word deur die son se ultraviolet strale veroorsaak. Die meeste longkankers word deur rook veroorsaak. Maar geen enkele oorsaak kon nog vir borskanker vasgestel word nie.

Maar volgens onlangse navorsing is genetika, die omgewing en hormone moontlik faktore wat ’n rol in borskanker speel. Vroue wat aan hierdie faktore blootgestel word, kan in groter gevaar verkeer.

Familiegeskiedenis

’n Vrou wat ’n familielid met borskanker het, soos ’n moeder, ’n suster of selfs ’n tannie of ouma aan moederskant, staan ’n groter kans om dit te kry. As ’n hele paar van hulle hierdie siekte gehad het, is haar risiko groter.

Dr. Patricia Kelly, ’n genetikus in die Verenigde State, het aan Ontwaak! gesê hoewel oorerflikheidsfaktore betrokke is, is hulle dalk net vir 5 tot 10 persent van alle borskankers verantwoordelik. “Ons meen”, verduidelik sy, “dat ’n kombinasie van geringe oorerflikheids- en eksterne faktore vir ’n hele klomp ander borskankers verantwoordelik is.” Familielede wat dieselfde gene het, is ook geneig om dieselfde lewenswyse te hê.

Eksterne faktore

“Dit is duidelik dat daar oor die algemeen eksterne faktore by betrokke is” en dat dit tot die siekte kan aanleiding gee, het Devra Davis gesê, ’n vakkundige wat in die tydskrif Science kommentaar gelewer het. Aangesien ’n vrou se borste een van die radiosensitiefste dele van die liggaam is, staan vroue wat aan ioniserende straling blootgestel word ’n groter kans om borskanker te kry. So ook dié wat aan giftige chemikalieë blootgestel word.

’n Ander eksterne faktor is dieet. Sommige beweer dat borskanker ’n siekte is wat moontlik weens ’n vitamientekort ontstaan en vestig die aandag op ’n gebrek aan vitamien D. Hierdie vitamien help die liggaam om kalsium op te neem, wat op sy beurt help om onbeheerde groei van selle te voorkom.

Ander studies koppel borskanker met die vet in ’n mens se dieet, nie as ’n oorsaak nie, maar as iets wat dit bevorder. Die tydskrif FDA Consumer het gesê dat die sterftesyfer aan borskanker die hoogste is in lande soos die Verenigde State waar die inname van vet en diereproteïen hoog is. Dit het gesê: “Japannese vroue het ’n geskiedenis van ’n lae borskankerrisiko, maar daardie risiko het drasties toegeneem namate ’n ‘verwestersing’ van eetgewoontes plaasgevind het; dit wil sê van ’n vetarm na ’n vetryke dieet.”

’n Onlangse studie het beweer dat die eintlike risiko die groot aantal kilojoules in ’n vetryke dieet is. Die tydskrif Science News het gesê: “Elke oortollige kalorie verhoog die gevaar van borskanker, en wanneer daardie oortollige kalorieë van vet afkomstig is, is dit 67 persent gevaarliker as kalorieë wat van ander bronne afkomstig is.”a Oortollige kilojoules kan tot oortollige kilogramme lei, en daar word vermoed dat vroue wat baie oorgewig is drie keer soveel gevaar loop om borskanker te kry, veral vroue wat verby hulle menopouse is. Liggaamsvet produseer estrogeen, ’n vroulike hormoon wat die borsweefsel kan aantas en tot kanker kan lei.

Persoonlike geskiedenis en hormone

Daar is ’n ryk hormoonmilieu in ’n vrou se bors wat haar hele lewe lank veranderinge in die bors teweegbring. Dr. Paul Crea, ’n chirurgiese gewaskundige, skryf in die Australian Dr Weekly: “In sommige vroue sal borsweefsel wat aan langdurige hormoonstimulasie blootgestel word egter . . . ’n reeks selveranderinge aan die gang sit wat uiteindelik kwaadaardig [kankeragtig] sal word.” Om dié rede word daar gemeen dat vroue wat op ’n jong ouderdom begin menstrueer het, teen die ouderdom van 12, of ’n laat menopouse gehad het, in die middel-vyftigerjare, ’n hoër risiko loop.

Die moontlikheid dat die bykomende estrogeen wat van EVT (estrogeenvervangingsterapie) verkry word met borskanker verband hou, is al lank ’n omstrede onderwerp. Waar sommige studies toon dat EVT geen groter risiko skep nie, toon ander studies dat daar ’n aansienlike risiko vir langtermyngebruikers is. Met die oog op hierdie studies het die British Medical Bulletin vir 1992 gesê dat ná langdurige gebruik bestaan die moontlikheid dat “niekontraseptiewe estrogeen die gevaar van borskanker met 30-50% verhoog”.

Volgens verslae oor die verband wat daar tussen mondelikse voorbehoedmiddels en borskanker bestaan, hou dit blykbaar nie ’n wesenlike gevaar in nie. Daar is egter ’n groep vroue wat in groter gevaar verkeer. Jonger vroue, vroue wat nog nooit kinders gehad het nie en vroue wat geboortebeperkingspille oor ’n lang tydperk gebruik het, het dalk ’n 20 persent groter kans om borskanker te kry.

Maar 3 uit elke 4 vroue met borskanker kan nie sê presies wat in hulle geval bygedra het tot die feit dat hulle die siekte het nie. Daarom word die vraag gestel: Kan enige vrou dink dat sy immuun teen borskanker is? Die FDA Consumer berig: “Vanuit die klinikus se oogpunt beskou, moet alle vroue behandel word asof hulle ’n aansienlike risiko loop om borskanker te kry.”

Vroue, veral ouer vroue, is dus vatbaar vir hierdie siekte. Dr. Kelly sê hoewel daar verskeie oorsake vir borskanker is, ‘is sommige daarvan, volgens my vermoede, net omdat ’n mens ouer word en daar ’n verkeerde verdeling van selle plaasvind’.

Waarom dit vatbaar is

’n Ondersoek na die samestelling van die vroulike bors verduidelik waarom dit so vatbaar vir kanker is. Binne-in is daar buisies, piepklein kanaaltjies, wat melk van die melkproduserende sakkies af na die tepel toe lei. Die buisies is uitgevoer met selle wat voortdurend verdeel en verander volgens ’n vrou se maandelikse siklus en berei haar voor op swangerskap, melkafskeiding en die borsvoeding van haar baba. Dit is in hierdie buisies waar die meeste borskankers ontwikkel.

In die boek Alternatives: New Developments in the War on Breast Cancer verduidelik die navorser Rose Kushner: “Enige roetine wat voortdurend deur die een of ander onderbreking versteur word—al is dit heeltemal normaal . . . —word aan ’n groter gevaar van afwykings blootgestel.” Sy sê verder: “Die oorwerkte bors-sel word voortdurend deur die een of ander hormoon beveel: ‘Hou op daarmee. Begin hiermee.’ Dit is geen wonder dat so baie van die dogterselle buite beheer raak nie.”

Borskanker begin wanneer ’n abnormale sel verdeel, beheer oor sy groeimeganisme verloor en begin vermenigvuldig. Sulke selle hou nie op om te vermenigvuldig nie, en mettertyd oorweldig hulle die omliggende gesonde weefsel en verander ’n gesonde orgaan in ’n sieklike orgaan.

Metastase

Wanneer die kanker in die bors is, kan die kwaadaardigheid verwyder word. Wanneer borskanker na ander dele van die liggaam versprei het, word dit metastatiese borskanker genoem. Dit is die waarskynlikste doodsoorsaak by borskankerpasiënte. Namate die kankerselle in die bors vermeerder en die gewas groter word, kan kankerselle die oorspronklike omgewing van die gewas in die geheim verlaat en bloedvatwande en limfkliere binnedring.

Op hierdie stadium kan gewas-selle na ander dele van die liggaam gaan. As hulle die liggaam se immuunverdediging ontduik—en dit sluit natuurlike moordselle in wat in beide die bloed en die limfvloeistof sirkuleer—kan hierdie kwaadaardige selle hulle in lewensbelangrike organe soos die lewer, longe en brein vestig. Daar kan hulle vermenigvuldig en weer versprei nadat hulle hierdie organe kankeragtig gemaak het. As metastase eers begin het, is ’n vrou se lewe in gevaar.

’n Sleutel tot oorlewing is dus dat borskanker vroeg in sy ontwikkeling opgespoor moet word, voordat dit ’n kans het om te versprei. Wat kan elke vrou doen om die kanse te verbeter dat borskanker vroeg opgespoor word? Is daar enigiets wat gedoen kan word om borskanker in die eerste plek te voorkom?

[Voetnoot]

a 1 Kalorie = 4,184 kilojoules

[Lokteks op bladsy 4]

Drie uit elke 4 vroue met borskanker kan nie sê presies wat in hulle geval bygedra het tot die feit dat hulle die siekte het nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel