Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/8 bl. 6-10
  • Die sleutels tot oorlewing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die sleutels tot oorlewing
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorkoming en dieet
  • Vroeë opsporing
  • Behandeling
  • Spanning en borskanker
  • Wat vroue oor borskanker moet weet
    Ontwaak!—1994
  • Borskanker—Die verwagtinge en die vrese
    Ontwaak!—2011
  • Die soort ondersteuning wat tel
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/8 bl. 6-10

Die sleutels tot oorlewing

SAL jy maatreëls tref om jou en jou gesin te beskerm as jy tydens ’n nuusberig hoor dat daar ’n moordenaar in julle buurt is? Jy sal waarskynlik seker maak dat die deure gesluit is sodat iemand nie maklik kan inkom nie. Jy sal ook op die uitkyk wees vir vreemdelinge wat verdag voorkom en hulle dadelik rapporteer.

Moet vroue dan nie ook dieselfde met betrekking tot ’n dodelike siekte, soos borskanker, doen nie? Watter maatreëls kan hulle tref om hulleself te beskerm en hulle kanse op oorlewing te verbeter?

Voorkoming en dieet

Daar word geskat dat 1 uit 3 kankergevalle in die Verenigde State deur dieetkundige faktore veroorsaak word. ’n Goeie dieet wat sal help om jou liggaam se immuunstelsel in stand te hou, is moontlik jou belangrikste beskerming. Hoewel dit nie bekend is of daar voedselsoorte is wat kanker kan genees nie, kan dit as ’n voorkomingsmaatreël beskou word as sekere voedselsoorte geëet word en daar minder van ander geëet word. “As die regte dieet gevolg word, kan dit jou kanse om borskanker te kry met tot vyftig persent verminder”, het dr. Leonard Cohen van die Amerikaanse Gesondheidsfonds in Walhalla, New York, gesê.

Voedsel wat ryk is aan vesel, soos volgraanbrood en graansoorte, kan die hoeveelheid prolaktien en estrogeen help verminder, moontlik deur met hierdie hormone te verbind en hulle uit die liggaam te spoel. Volgens die tydskrif Nutrition and Cancer “kan hierdie uitwerking die fase onderdruk wat kankervorming bevorder”.

’n Verminderde inname van versadigde vette kan die gevaar verminder. Die tydskrif Prevention het gesê as ’n mens van volroommelk na afgeroomde melk oorslaan, minder botter en maerder vleis eet en die vel van hoender verwyder, kan dit help om die inname van versadigde vette na veiliger vlakke af te bring.

Groente wat ryk is aan vitamien A, soos wortels, pampoensoorte en patats sowel as donker blaargroente, soos spinasie, blaarkool en mosterdblare, kan van hulp wees. Daar word gemeen dat vitamien A die vorming van mutasies onderdruk wat kanker veroorsaak. En groente soos broccoli, Brusselse spruitjies, blomkool, kool en groenuie bevat chemikalieë wat beskermende ensieme voortbring.

In die boek Breast Cancer—What Every Woman Should Know sê dr. Paul Rodriguez dat die immuunstelsel, wat abnormale selle herken en vernietig, deur ’n mens se dieet versterk kan word. Hy stel voor dat voedselsoorte geëet word wat ryk is aan yster, soos maer vleis, groen blaargroente en skulpvis, asook vrugte en groente wat ryk aan vitamien C is. Vrugte en groente wat baie vitamien C bevat, verminder die gevaar van borskanker, sê die Journal of the National Cancer Institute. Sojaboontjies en ongegiste sojaprodukte bevat genisteïen, wat daarvoor bekend is dat dit die groei van gewasse in laboratoriumeksperimente onderdruk, hoewel die doeltreffendheid daarvan in mense nog vasgestel moet word.

Vroeë opsporing

“Die vroeë ontdekking van borskanker bly die belangrikste stap in die proses om die verloop van borskanker te wysig”, sê die publikasie Radiologic Clinics of North America. Drie belangrike maatreëls in hierdie opsig is ’n gereelde selfondersoek van die borste, ’n jaarlikse ondersoek deur ’n dokter en ’n mammografie.

’n Selfondersoek van die borste moet gereeld elke maand gedoen word aangesien ’n vrou op die uitkyk moet wees vir enigiets verdags aan hoe haar borste lyk of voel, soos ’n verharding of ’n klont. Ongeag hoe klein die klont is wat sy vind, sy moet haar dokter dadelik raadpleeg. Hoe vroeër ’n klont gediagnoseer word, hoe meer beheer het sy oor haar toekoms. ’n Verslag uit Swede het gesê as borskanker wat nie versprei het nie en wat ietwat groter of kleiner as 15 millimeter was chirurgies verwyder is, is jou kanse om 12 jaar langer te lewe 94 persent.

Dr. Patricia Kelly sê: “As jy gedurende 12 1/2 jaar geen tekens van die borskanker gesien het nie, is dit baie onwaarskynlik dat dit sal terugkeer. . . . En vroue kan geleer word om borskankers wat kleiner as ’n sentimeter is, op te spoor deur slegs hulle vingers te gebruik.”

Daar word aanbeveel dat ’n fisiese ondersoek deur ’n klinikus of ’n geneesheer gereeld elke jaar gedoen word, veral nadat ’n vrou 40 geword het. As ’n klont ontdek word, sal dit goed wees om ’n tweede mening van ’n borsspesialis of chirurg te kry.

Die Nasionale Kankerinstituut in die Verenigde State sê dat ’n gereelde mammogram ’n goeie wapen teen borskanker is. Hierdie soort x-straal kan ’n klont ontdek tot byna twee jaar voor dit gevoel kan word. Die prosedure word by vroue bo 40 aanbeveel. Dr. Daniel Kopans deel ons egter mee: “Dit is alles behalwe onfeilbaar.” Dit kan nie alle borskankers opspoor nie.

Dr. Wende Logan-Young van ’n borskliniek in die staat New York het aan Ontwaak! gesê dat as ’n vrou of haar geneesheer ’n onreëlmatigheid vind, maar ’n mammogram toon geen teken daarvan nie, is die neiging dalk om die fisiese vonds te ignoreer en die x-straal te glo. Sy sê dit is “die grootste fout wat ons deesdae sien”. Sy raai vroue aan om ’n sekere mate van wantroue te hê in ’n mammografie se vermoë om kanker te bespeur en om daarom ook grootliks op ’n ondersoek van die bors te vertrou.

Hoewel ’n mammografie gewasse kan opspoor, kan dit hulle nie werklik as goedaardig (niekankeragtig) of kwaadaardig (kankeragtig) diagnoseer nie. Dit kan slegs deur middel van ’n biopsie gedoen word. Beskou die geval van Irene wat vir ’n mammogram gegaan het. Na aanleiding van die x-strale het die dokter haar klont as ’n goedaardige borskwaal gediagnoseer en gesê: “Ek is doodseker jy het nie kanker nie.” Die verpleegster wat die mammogram gedoen het, was bekommerd, maar Irene het gesê: “Ek het gedink as die dokter seker was, was ek miskien net paranoïes.” Die klont het vinnig groter geword, en Irene het dus ’n ander dokter geraadpleeg. ’n Biopsie is gedoen en het getoon dat sy ’n ontsteekte karsinoom het, ’n kanker wat vinnig groei. Om te bepaal of ’n gewas goedaardig (waarvan 8 uit 10 wel is) of kwaadaardig is, moet ’n biopsie gedoen word. As die klont klinies verdag lyk of voel, of as dit groei, moet ’n biopsie gedoen word.

Behandeling

Chirurgie, bestraling en chemoterapie is tans die gebruiklike behandelingsmetodes vir borskanker. Inligting oor die aard van die gewas, sy grootte, sy neiging om te versprei, of dit al na die limfkliere versprei het, sowel as jou menopousale stand, kan jou en jou dokter help om vas te stel watter behandelingsmetode gevolg moet word.

Chirurgie. Dekades lank is radikale mastektomie, waar die bors saam met die onderliggende spiere en limfkliere verwyder word, algemeen uitgevoer. Maar in die laaste jare is ’n behandeling gebruik waar die bors behou is en waar slegs die gewas en limfkliere verwyder is en bestraling ook gegee is, met oorlewingsyfers wat dieselfde as dié van ’n mastektomie is. Dit gee party vroue meer gemoedsrus wanneer hulle besluit om ’n klein gewas te laat verwyder, aangesien dit minder verminking tot gevolg het. Maar die British Journal of Surgery sê dat jonger vroue, vroue met kanker op verskillende plekke in dieselfde bors of met gewasse groter as drie sentimeter ’n groter kans het om weer kanker te kry indien behandeling gebruik word waar die bors behou is.

Die Cleveland Clinic Journal of Medicine vestig die aandag op ’n belangrike faktor wat daartoe bydra dat ’n mens borskanker oorleef sonder dat dit terugkeer: “Bloedoortappings het ’n nadelige uitwerking op die oorlewing- en terugkeringsyfer . . . ná ’n radikale mastektomie waar die groot spiere van die bors nie verwyder is nie.” Die verslag het getoon dat die oorlewingsyfer oor ’n tydperk van vyf jaar 53 persent was vir een groep wat bloedoortappings gekry het teenoor 93 persent vir die groep wat nie bloedoortappings gekry het nie.

’n Ander hulpmiddel vir oorlewing word in The Lancet genoem, waar dr. R. A. Badwe gesê het: “Die tydsberekening van chirurgie met betrekking tot die fase van die maandelikse siklus het ’n groot uitwerking op die langtermynherstel van premenopousale pasiënte met borskanker.” Die verslag het gesê dat vroue wat gedurende ’n fase van estrogeenstimulasie gewasse laat verwyder het slegter gevaar het as diegene wat gedurende ’n ander fase van die maandelikse siklus geopereer is—54 persent het tien jaar lank geleef teenoor 84 persent vir die laasgenoemde groep. Die verslag het gesê dat die beste tyd vir chirurgie op premenopousale vroue met borskanker minstens 12 dae ná die laaste menstruasie is.

Bestraling. Bestraling vernietig kankerselle. In die geval van behandeling waar die bors nie verwyder word nie, kan piepklein kankergewasse die chirurg se mes ontduik in sy poging om die bors te behou. Bestraling kan oorblywende selle vernietig. Maar met bestraling ontstaan daar ’n geringe risiko dat sekondêre kankers in die ander bors kan ontstaan. Dr. Benedick Fraass beveel aan dat die ander bors so min as moontlik aan bestraling blootgestel moet word. Hy sê: “Met ’n paar eenvoudige taktieke is dit moontlik om tydens die aanvanklike bestraling van die eerste bors die dosis waaraan die ander bors blootgestel word aansienlik te verminder.” Hy stel voor dat ’n loodskild wat 2,5 sentimeter dik is oor die ander bors geplaas word.

Chemoterapie. Ondanks pogings om borskanker deur chirurgie te verwyder, sal 25 tot 30 persent van pas gediagnoseerde vroue met borskanker verborge metastases hê wat te klein is om aanvanklik simptome te toon. Chemoterapie is ’n behandeling waar chemiese middels gebruik word om daardie selle te probeer vernietig wat ander dele van die liggaam binnedring.

Chemoterapie het ’n beperkte uitwerking omdat kankeragtige gewasse uit verskillende soorte selle bestaan wat elkeen op sy eie manier sensitief vir geneesmiddels is. Daardie selle wat die behandeling oorleef, kan ’n nuwe geslag gewasse verwek wat teen geneesmiddels bestand is. Maar in The Lancet vir Januarie 1992 voer dit bewyse aan dat chemoterapie ’n vrou se kans om ’n ekstra dekade te bly leef met 5 tot 10 persent vergroot, na gelang van haar ouderdom.

Die newe-effekte van chemoterapie kan naarheid, vomering, haarverlies, bloeding, hartskade, die onderdrukking van immuniteit, onvrugbaarheid en leukemie insluit. John Cairns, wat in die tydskrif Scientific American geskryf het, het gesê: “Dit kan na redelik geringe newe-effekte lyk vir ’n pasiënt met ’n gevorderde kanker wat vinnig groei, maar hulle sal ernstige oorwegings vir ’n vrou wees met ’n klein kankergewas van een sentimeter wat oënskynlik tot die bors beperk is. Haar kans om binne vyf jaar aan kanker te sterf, is net ongeveer 10 persent, al kry sy geen bykomende behandeling ná chirurgie nie.”

Hormoonbehandeling. Anti-estrogeenbehandeling skakel die groeistimulerende uitwerking van estrogeen uit. Dit word gedoen deur estrogeenvlakke in premenopousale vroue te verminder deur óf die eierstokke chirurgies te verwyder óf deur geneesmiddels toe te dien. The Lancet het berig dat daar ’n oorlewingsyfer van tien jaar is vir elke 8 tot 12 vroue uit 100 wat op ander maniere behandel is.

Opvolgsorg is ’n lewenslange proses vir enige vrou met borskanker. Noukeurige waarneming moet volgehou word, want as een behandeling faal en die kanker weer voorkom, kan ander vorme van behandeling die nodige wapen voorsien.

Nog ’n vorm van behandeling wat die kanker op ’n ander manier benader, het te doen met ’n verskynsel wat kageksie genoem word. Die tydskrif Cancer Research verduidelik dat twee derdes van alle kankersterfgevalle deur kageksie veroorsaak word, ’n term wat die wegtering van spiere en ander weefsel beskryf. Dr. Joseph Gold van die Syracuse-kankernavorsingsinstituut in die Verenigde State het aan Ontwaak! gesê: “Ons meen dat ’n gewasagtige groeisel nie vanself deur die liggaam kan versprei tensy die biochemiese bane vir kageksie oop is nie.” Een kliniese studie, waartydens die onskadelike geneesmiddel hidrasiensulfaat gebruik is, het getoon dat party van hierdie bane geblokkeer kan word. Stabilisasie is in 50 persent van die gevalle verkry waar die kanker van borskankerpasiënte in ’n gevorderde stadium was.

Alternatiewe behandelingsmetodes wat as aanvullende geneeskunde bekend staan, is deur party vroue gebruik as ’n manier om borskanker te behandel sonder om van chirurgie of toksiese behandeling gebruik te maak. Terapieë verskil, sommige maak van dieet en kruie gebruik, soos met die Hoxsey-terapie. Maar daar is maar min gepubliseerde studies wat ’n mens kan help om die doeltreffendheid van hierdie terapieë te bepaal.

Hoewel hierdie artikel bedoel is om sleutels tot oorlewing te gee, is dit nie die Ontwaak! se beleid om enige behandeling te ondersteun nie. Ons moedig almal aan om die verskillende aspekte in die behandeling van hierdie siekte versigtig te ondersoek.—Spreuke 14:15.

Spanning en borskanker

In die tydskrif Acta neurologica verduidelik dr. H. Baltrusch dat uitermatige of langdurige spanning die immuunstelsel van die liggaam se weerstand teen gewasse kan verminder. Vroue wat afgemat is, aan depressie ly of nie emosionele ondersteuning kry nie, stel hulle immuunstelsel moontlik met tot 50 persent in gevaar.

Dr. Basil Stoll beklemtoon dus in Mind and Cancer Prognosis: “Daar moet hard daaraan gewerk word om die onvermydelike fisiese en sielkundige trauma van kankerpasiënte gedurende en ná die behandeling van hulle siekte te verminder.” Maar watter soort ondersteuning is nodig?

[Lokteks op bladsy 7]

Hoewel dit nie bekend is of daar voedselsoorte is wat kanker kan genees nie, kan dit as ’n voorkomingsmaatreël beskou word as sekere voedselsoorte geëet word en daar minder van ander geëet word. ‘As die regte dieet gevolg word, kan dit jou kanse om kanker te kry met tot vyftig persent verminder’, het dr. Leonard Cohen gesê

[Lokteks op bladsy 8]

“Die vroeë ontdekking van borskanker bly die belangrikste stap in die proses om die verloop van borskanker te wysig”, sê die publikasie “Radiologic Clinics of North America”. Drie belangrike maatreëls in hierdie opsig is: ’n gereelde selfondersoek van die borste, ’n jaarlikse ondersoek deur ’n dokter en ’n mammografie

[Lokteks op bladsy 10]

Vroue wat afgemat is, aan depressie ly of nie emosionele ondersteuning kry nie, stel hulle immuunstelsel moontlik in gevaar

[Venster op bladsy 9]

Selfondersoek—’n maandelikse roetine

’N SELFONDERSOEK van die borste moet vier tot sewe dae ná menstruasie gedoen word. Vroue wat reeds deur hulle menopouse gegaan het, moet dit ook elke maand op dieselfde dag doen.

Tekens waarna jy elke maand op dieselfde dag moet oplet

• ’n Knop van enige grootte (klein of groot) of ’n verdikking in die bors.

• Rimpeling, inkeping of verkleuring van die vel van die bors.

• Terugtrekking of invouing van die tepel.

• Uitslag of afskilfering van die tepel of ’n afskeiding.

• Vergrote kliere onder die arm.

• Veranderinge in moesies of inkepings van die bors.

• Duidelike ongelykmatigheid van die borste wat nie voorheen so was nie.

Selfondersoek

Terwyl jy staan, lig die linkerarm op. Gebruik die regterhand en begin by die buitenste deel van die bors terwyl jy die plat gedeelte van jou vingers in klein sirkelbewegings stadig in ’n kring om die bors en na die tepel toe beweeg. Skenk ook aandag aan die deel tussen die onderarm en die bors.

Lê plat, plaas ’n kussing onder die linkerskouer en sit jou linkerarm bo of onder jou kop. Maak dieselfde sirkelbewegings wat hierbo beskryf is. Herhaal dieselfde prosedure vir die regterkant.

Knyp die tepel saggies om vir enige afskeiding te toets. Herhaal met die regterbors.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel