Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 4/8 bl. 11-13
  • Die soort ondersteuning wat tel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soort ondersteuning wat tel
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die behoefte aan ondersteuning
  • Streef na ’n positiewe uitkyk
  • Borskanker—Die verwagtinge en die vrese
    Ontwaak!—2011
  • Die sleutels tot oorlewing
    Ontwaak!—1994
  • Wat vroue oor borskanker moet weet
    Ontwaak!—1994
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 4/8 bl. 11-13

Die soort ondersteuning wat tel

“EK MOES teen die vrees vir die dood en teen tye van depressie veg”, vertel Virginia, een van Jehovah se Getuies in Argentinië. Sy het ’n radikale mastektomie ondergaan en albei eierstokke is in haar stryd teen borskanker verwyder.a

Die vrees vir die dood weens borskanker is inderdaad universeel. Hierdie vrees, tesame met ’n vrees vir ’n liggaamlike gebrek en ’n verlies wat nou verband hou met ’n vrou se vroulikheid en haar vermoë om te borsvoed, kan ’n verwoestende uitwerking op ’n vrou se emosionele lewe hê. Oorweldigende gevoelens van verlatenheid kan haar gou in volslae wanhoop dompel. Hoe kan sy sulke emosionele trauma gespaar word?

Die behoefte aan ondersteuning

“Sy het ondersteuning nodig!” sê Joan van die Verenigde State. Haar eie ma en ouma was slagoffers van borskanker en sy moet nou dieselfde stryd as hulle voer. Dit is ’n tyd wanneer lojale familielede en vriende vertroostende ondersteuning en hulp kan voorsien. Terry, Joan se man, het haar sterk en positiewe kampvegter geword. Terry verduidelik: “My posisie, soos ek dit gesien het, was om ’n stabiliserende invloed te wees. Ek moes Joan help om besluite te neem in verband met haar behandeling wat haar selfvertroue en krag sou gee om teen die siekte te veg en nie moed op te gee nie. Haar vrees vir kankerchirurgie was iets wat ons saam moes verwerk en ek het probeer seker maak dat haar vrae en vrese tydens ons gesprekke met die dokters bespreek word.” Terry het bygevoeg: “Dit is iets wat ons vir ons familielede en vir mede-Christene kan doen wat nie die ondersteuning van hulle familie het nie. Ons kan hulle oë, ore en stem wees wanneer hulle met mediese personeel te doen het.”

Spesiale aandag moet aan diegene gegee word wat ongetroud is of wat weduwees is. Diana, van Australië, vertel: “My man is vyf jaar gelede ná ’n kankeroperasie oorlede, maar my kinders het die leemte help vul. Hulle was liefdevol, maar nie emosioneel nie. Dít het my krag gegee. Alles is vinnig en op ’n kalm manier behartig.”

Borskanker het ’n emosionele uitwerking op die hele gesin. Hulle het dus almal die liefdevolle besorgdheid en ondersteuning van ander nodig (veral van hulle geestelike broers en susters, indien hulle Jehovah se Getuies is).

Rebecca, van die Verenigde State, wie se ma ’n stryd teen borskanker gevoer het, verduidelik: “Die gemeente is ’n uitbreiding van jou gesin en hulle optrede het ’n groot invloed op jou emosies. Hoewel baie nie persoonlik saamgestem het met die onortodokse behandeling wat my ma gekies het nie, het hulle ons emosioneel onderskraag deur hulle telefoonoproepe en besoeke. Party het selfs gekom en ’n handjie bygesit met die voorbereiding van haar spesiale dieet. Die ouere manne het ’n telefoonverbinding gereël sodat ons nooit die vergaderinge sou mis nie. Die gemeente het selfs ’n groetekaartjie en geld as ’n geskenk gestuur.”

Joan erken: “Tot vandag toe kry ek skoon hoendervleis as ek dink aan die liefde wat my geestelike broers en susters aan die dag gelê het! Sewe weke lank, vyf dae per week, het my liefdevolle susters beurte gemaak om my na en van die hospitaal vir behandeling te neem. En die reis hospitaal toe en terug was 150 kilometer! Hoe dankbaar is ek tog nie teenoor Jehovah vir die ryk seëning van hierdie Christelike broederskap nie!”

Nog ’n manier waarop ons almal bemoedigend en ondersteunend kan wees, is deur ons opbouende kommentare. Ons moet versigtig wees dat ons nie onnadenkend kommer veroorsaak deur knaend oor negatiewe dinge te gesels nie. June, van Suid-Afrika, verduidelik: “’n Mens kan nie verwag dat iemand wat nie kanker gehad het nie altyd die regte ding sal sê nie. In my geval het ek gedink dat dit beter was as ander nie kankergevalle noem nie, tensy hulle ’n positiewe uiteinde gehad het.” Noriko van Japan stem saam: “As mense my vertel van iemand wat herstel het en nie ’n terugslag gehad het nie, gee dit my ook hoop dat ek dalk soos hulle sal wees.”

Hou in gedagte dat party vroue dit verkies om nie die heeltyd oor hulle gesondheid te praat nie. Ander moet weer ter wille van hulle eie welsyn oor hulle ondervinding met borskanker praat, veral met diegene wat na aan hulle is. Hoe sal ’n mens weet wat die beste ding is om te doen? Helen, van die Verenigde State, stel voor: “Vra haar of sy daaroor wil praat, en laat haar die praatwerk doen.” Ja, “wees bereid om te luister”, sê Ingelise van Denemarke. “Wees net daar vir haar sodat sy nie alleen met haar eie swaarmoedige gedagtes is nie.”

Streef na ’n positiewe uitkyk

Borskankerbehandeling kan ’n pasiënt weke, maande of jare lank uitgeput en afgemat laat voel. Een van die grootste beproewings vir ’n vrou met borskanker is dalk die feit dat sy nie soveel soos voorheen kan doen nie. Om die beperkings van haar liggaam te aanvaar, sal beteken dat sy ’n gematigde pas volhou en gedurende die dag rus.

As depressie intree, moet daar onmiddellik opgetree word om ’n positiewe gesindheid te behou. Noriko vertel van haar ondervinding: “Die uitwerking van die hormoonbehandeling het my depressief gemaak. In hierdie toestand kon ek nie doen wat ek wou nie en het ek begin voel asof ek van geen nut vir Jehovah en die Christengemeente is nie. Namate my denke al hoe negatiewer geword het, het ek begin terugdink aan die lyding wat diegene in my familie wat aan kanker gesterf het op die ou einde moes verduur. Vrees het my dan oorweldig wanneer ek gewonder het: ‘Sal ek soos hulle die leiding kan verduur?’”

Noriko sê voorts: “Dit was toe dat ek ’n poging aangewend het om my denke reg te stel deur die publikasies van Jehovah se Getuies te gebruik om myself te laat nadink oor hoe Jehovah ons bestaan beskou. Ek het geleer dat godvrugtige toegewydheid getoon word, nie deur die hoeveelheid werk wat verrig word nie, maar deur die motief waarmee dit gedoen word. Aangesien ek wou hê dat Jehovah behae moet skep in die toestand van my hart en denke, het ek besluit dat ek hom vreugdevol sou dien en heelhartig sou wees, al kon ek net ’n bietjie in die Christelike bediening doen.”

Die langdurige onsekerheid wat baie vroue ervaar wat borskanker beveg, kan daartoe bydra dat ’n positiewe uitkyk ondermyn word. Diana verduidelik dat wat haar die meeste gehelp het, was om haar hart en denke met al die lieflike dinge te vul wat Jehovah God haar gegee het: “My familie, vriende, pragtige musiek, om na die magtige see en pragtige sonsondergange te kyk.” Sy moedig veral aan: “Vertel ander van God se Koninkryk. En kweek ’n ware hunkering aan na die toestande wat onder hierdie Koninkryk op aarde sal heers, waar daar geen siekte meer sal wees nie!”—Mattheüs 6:9, 10.

Virginia het ook die krag gekry om haar depressie te beveg deur oor haar doel in die lewe na te dink: “Ek wil regtig lewe omdat ek so ’n kosbare werk het om te doen.” Wat die tye betref wanneer kritieke oomblikke opduik en vrees in haar opwel, sê sy: “Ek stel my volle vertroue in Jehovah en ek weet dat hy my nooit sal verlaat nie. En ek dink aan die Bybelvers in Psalm 116:9 wat my die versekering gee dat ‘ek voor die aangesig van Jehovah in die lande van die lewendes sal wandel’.”

Al hierdie vroue stel hulle hoop op die God van die Bybel, Jehovah. Die Bybelboek 2 Korinthiërs, in hoofstuk 1, verse 3 en 4, noem Jehovah “die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking”. Verleen Jehovah ’n helpende hand aan diegene wat vertroosting nodig het?

Mieko van Japan antwoord: “Ek is oortuig daarvan dat ek Jehovah se sterk ondersteuning en hulp ontvang deur in sy diens te bly.” Yosjiko vertel ons ook: “Hoewel mense nie my lyding verstaan nie, weet Jehovah alles, en ek is seker dat hy my na gelang van my behoeftes gehelp het.”

Joan sê: “Gebed het die krag om jou uit jou wanhoop te lig sodat jy weer jou ou self is. As ek dink aan die groot genesing wat Jesus op die aarde verrig het en die volkome genesing wat hy in die nuwe wêreld gaan doen, word ek só deur daardie woorde bemoedig!”—Mattheüs 4:23, 24; 11:5; 15:30, 31.

Kan jy jou ’n wêreld voorstel sonder borskanker, trouens, sonder enige siekte hoegenaamd? Dít is die belofte wat die God van alle vertroosting, Jehovah, maak. Jesaja 33:24 praat van ’n tyd wanneer geen mens op die aarde ooit weer sal sê hy of sy is siek nie. Daardie hoop sal binnekort verwesenlik word wanneer God se Koninkryk in die hande van sy Seun, Christus Jesus, sy volle heerskappy na die aarde toe bring en alle oorsake van siekte, droefheid en die dood sal vernietig! Lees gerus oor hierdie wonderlike hoop in Openbaring 21:3 tot 5. Skep moed om die toekoms tegemoet te gaan met die ondersteuning wat ware vertroosting bied.

[Voetnoot]

a Die eierstokke is ’n vername bron van estrogeen in premenopousale vroue.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel