Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 1/8 bl. 3-4
  • Hoe het ons wêreld al verander?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe het ons wêreld al verander?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die veranderde verbruikersgemeenskap
  • Veranderinge in die wetenskap
  • Politieke veranderinge
  • ‘En toe val die muur’
    Ontwaak!—1991
  • Berlyn—’n Spieël van ons wêreld?
    Ontwaak!—1990
  • Ons veranderende wêreld—Waarop stuur dit af?
    Ontwaak!—1993
  • Wat gebeur by die Verenigde Nasies?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 1/8 bl. 3-4

Hoe het ons wêreld al verander?

HET jou wêreld veranderinge ondergaan? Die eertydse Griekse filosoof Heraklitus het gesê: “Verandering is al wat voortduur.” Verandering is onlosmaaklik ’n deel van ons almal se lewe.

Watter veranderinge het jy al gesien as jy op die afgelope 10, 20, 30 of meer jare terugkyk? Jy het moontlik verandering in die vorm van modernisering en die verwerping van tradisionele waardes gesien. Jy beskou ongetwyfeld sommige veranderinge as positief en ander as negatief.

Watter veranderinge het jy al van jou jeug af gesien indien jy ouer as 70 is? Jy onthou ’n tyd toe TV nie bestaan het nie, toe vliegtuie teen 150 kilometer per uur voortgesukkel het, toe die meeste internasionale reise per oseaanskip onderneem is, toe dwelmmisbruik oënskynlik tot opiumhole beperk was, toe daar nog baie min motors was. Ja, jou wêreld het beslis verander.

Die veranderde verbruikersgemeenskap

Maar die wêreld het selfs vir jonger mense verander. Slegs 45 jaar gelede het Westerse produkte en vernuf wêreldmarkte oorheers. Nou het Oosterse nasies aan die Stille Oseaan leiers op die gebied van motorvervaardiging, rekenaars, kameras, TV’s en baie soorte elektroniese toestelle geword.

Dit word toegelig deur wat ’n ervare Chinese reisiger aan Ontwaak! vertel het: “Slegs 30 of 40 jaar gelede was dit die gemiddelde Chinees se droom om ’n fiets en ’n naaimasjien te besit. Dit was op daardie tydstip die statussimbole. Nou is die droom om ’n kleurtelevisie, ’n videokassetopnemer, ’n yskas en ’n motorfiets te besit.” Die verbruikersgemeenskap, hetsy in China of elders, het hulle voorkeure en behoeftes verander.

Hierdie soort verandering van beskouing het in baie nasies plaasgevind namate hulle ekonomiese toestand verbeter het. Pedro, ’n Katalaan wat iets oor die 40 is, het gesê: “In Spanje was dit 30 jaar gelede mense se ideaal om ten minste ’n klein 600 cc Seat-motortjie [deur Fiat vervaardig] te besit. Nou hunker Spanjaarde na ’n Duitse BMW!” Jagdish Patel, wat in die Verenigde State woon, het oor ’n onlangse reis na Indië, sy geboorteland, gesê: “Ek was verbaas oor die aantal motors wat daar nou op Indiese paaie is. ’n Mens sien steeds Hindoestan-motors op die hoofpaaie, maar nou is daar ook moderne motors, bromponies en motorfietse wat met die vergunning van buitelandse maatskappye in Indië gemaak word.”

Veranderinge in die wetenskap

Net 25 jaar gelede het baie die maan nog as ’n boeiende raaisel beskou. Sedertdien het die mens sy voetspore en wetenskaplike instrumente op daardie vreemde maanlandskap gelaat en rotsmonsters vir ontleding daarvandaan teruggebring. Vlugte van die Amerikaanse pendeltuig vind nou gereeld plaas en Amerikaanse wetenskaplikes praat daarvan om ’n permanente ruimtestasie op te rig en om Mars toe te gaan.

Wie het 15 jaar gelede al van vigs gehoor? Nou is dit ’n wêreldwye plaag, en miljoene lewe in vrees daarvoor.

Politieke veranderinge

Slegs vier jaar gelede het ’n skynbaar onoorbrugbare muur die stad Berlyn verdeel; ’n Kommunistiese Sowjetunie het bestaan en ’n Koue Oorlog was aan die gang. Nou is Berlyn as die hoofstad van ’n verenigde Duitsland gekies, en 11 uit die 15 republieke van die eertydse Sowjetunie het ’n Gemenebes van Onafhanklike State gevorm.

Net ’n paar jaar gelede was die Verenigde Nasies hoofsaaklik ’n arena vir die stryd tussen kapitalistiese en Kommunistiese magte, met die sogenaamd onverbonde nasies wat ’n definitiewe verbintenis vermy het en as toeskouers opgetree het. Nou praat die nasies van die Ooste en die Weste oor vrede en veiligheid, en die Verenigde Nasies het meer mag. Hulle kan leërmagte na krisisgebiede oor die hele wêreld stuur. Drie jaar gelede het daar lande bestaan wat as Joego-Slawië en Tsjeggo-Slowakye bekend was. Nou het hulle albei tot kleiner onafhanklike state versplinter.

Het die wêreld met al hierdie veranderinge noemenswaardige vooruitgang gemaak na ware vrede, geregtigheid en ’n regverdige verspreiding van voedsel en hulpbronne? Het die wêreld meer beskaafd geword? Kan jy sonder vrees vir misdadigers op straat wees? Is ons al geleer om ander nie meer op grond van hulle ras, godsdiens, politieke siening, lewenswyse of taal te haat nie? Lei huidige veranderinge tot ware vooruitgang vir die mensegesin oor die algemeen en vir ons tuiste, die aarde? Waarop stuur ons af? Die volgende artikels sal hierdie en ander vrae ondersoek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel