Berlyn—’n Spieël van ons wêreld?
Deur Ontwaak!-medewerker in Duitsland
OP 9 November 1989 het verheugde skares teen die Berlynse Muur opgeklim en ontelbare Oos-Berlyners het verby die kontrolepunte gestroom—iets wat vir die meeste Duitsers en TV-kykers van regoor die wêreld ongelooflik was.
Sedert 1945 weerspieël Berlyn in sekere opsigte die mededinging tussen die twee supermoondhede, wat as “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” afgebeeld word (Daniël 11:36-45). Hoe het hierdie mededinging in Berlyn ontstaan, en waarom is die grense nou oopgestel? Sal ons verdeelde wêreld ook verander?
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Sowjetunie, die Verenigde State en Brittanje saamgespan om teen Nazi-Duitsland te veg. Die Geallieerdes het aangeneem dat hierdie samewerking ná die oorlog sou voortduur. Hulle het gevolglik ooreengekom om verslane Duitsland in besettingsones te verdeel en om sy hoofstad, Berlyn, wat spesiale status sou geniet, te deel. In 1945 is Duitsland en Berlyn dus verdeel om deur Russiese, Amerikaanse, Britse en Franse militêre bestuur beheer te word.
Dit het gou geblyk dat die moondhede dinge anders gesien en gedoen het. Die Sowjetunie wou ’n Kommunistiese bestuur vir die hele Berlyn hê, maar die Westerse moondhede was ten gunste van ’n pluralistiese stelsel in hulle sektore. In die verkiesing van Oktober 1946 het vier uit elke vyf Berlyners teen die Kommuniste gestem.
In 1948, toe die Westerse moondhede besluit het om die ekonomie weer op te bou en om een demokratiese staat in hulle besettingsones in Wes-Duitsland te hê, het die Russe die Geallieerde Beheerraad verlaat. Die gesamentlike vier-moondhede-bestuur is aldus beëindig. Hoop om Duitsland gesamentlik uit Berlyn te bestuur was van korte duur.
Die Koue Oorlog begin
Berlyn, wat in die Russiese sone lê, het sy vier-moondhede-status behou. Die Westerse enklave was vir die Russe, wat die stad se oosterse sektor beheer het, ’n gevaarlike “vreemde element”. In Junie 1948 het hulle ’n algehele landblokkade van die Westerse sektore ingestel om Wes-Berlyn se toevoerlyne af te sny en die Weste te dwing om van sy regte in Berlyn af te sien. Hoe sou die Weste reageer?
Op 26 Junie 1948 is die grootste lugbrug in die geskiedenis begin. In ongeveer een jaar het die Verenigde State en Brittanje 279 114 vlugte georganiseer, wat sowat 2,3 miljoen ton voedsel, steenkool en ander voorrade na die stad vervoer het. “Die blokkade van Berlyn was die voorspel van die Koue Oorlog”, sê Norman Gelb in sy boek The Berlin Wall. “Terselfdertyd het die reaksie op die blokkade Amerikaanse leierskap van die Weste op dramatiese wyse bevestig.”
Hy sê voorts: “Die Geallieerdes se vermoë om Russiese pogings te weerstaan om hulle uit hulle afgesonderde enklave in die middel van Kommunistiese gebied te dryf, het Moskou se vaste oortuiging bevestig dat die Weste vasbeslote is om die Russiese stelsel te vernietig. Die Kremlin het glad nie meer getwyfel dat die Sowjetunie ’n militêre supermoondheid moes word om te oorleef nie. Die stryd om Berlyn het die weg gebaan vir die mededinging tussen die supermoondhede Rusland en Amerika wat die oorheersende kenmerk in internasionale aangeleenthede gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu sou word.”
Toe die blokkade opgehef is, het die Westerse moondhede besluit om in Berlyn aan te bly om sy status te beskerm. Toe twee Duitse state—die Bondsrepubliek Duitsland (Wes) en die Duitse Demokratiese Republiek (Oos)—in 1949 uitgeroep is, het dit gelyk of die gaping tussen die Ooste en die Weste onoorbrugbaar is. Berlyn het nou twee burgerlike besture en twee geldstelsels gehad. Gedurende 1952 en 1953 het die Oos-Duitse staat telefoonverbindings, straatverbindings en busroetes tussen Oos- en Wes-Berlyn afgesny.
Terwyl burgers in die Weste ’n Wirtschaftswunder, ’n ekonomiese oplewing wat verbruikers ’n groot verskeidenheid goedere bied, beleef het, was talle in die Ooste ontevrede. Dit het in Junie 1953 duidelik geword, toe Oos-Berlyners tot ’n staking oorgegaan het en betogings na alle dele van Oos-Duitsland uitgebrei het. Dit het toegeneem en uitgeloop op ’n gewelddadige opstand teen die Kommunistiese stelsel. Die Oos-Duitse regering het Russiese troepe om hulp gevra. Tenks het die opstand onderdruk.
Westerse moondhede het weinig meer gedoen as om toe te kyk en waarborge te gee vir net hulle onderskeie sektore van Berlyn. Hoop dat die skeiding van Duitsland tydelik sou wees, het verkrummel. Die grens tussen vorige Russiese en Westerse sones het ’n skeidslyn tussen die Ooste en Weste geword.
’n Muur van ‘vrede’ en van ‘skande’
“Die koning van die Suide” het Wes-Berlyn in ’n aanloklike “westerse winkelvenster” verander, en mense uit die Ooste, wat vriende en familielede in Wes-Berlyn maklik kon besoek, het gesien hoe anders die lewe daar is. In 1960 het ongeveer 200 000 Duitsers van die Ooste na die Weste gevlug, en die meeste van hulle het deur Wes-Berlyn gekom. Hoe sou “die koning van die Noorde” die uittog stuit? Op die oggend van 13 Augustus 1961 het Oos-Duitse gewapende wagte en werkers die muur opgerig “wat gou òf die ‘Skandmuur’ òf die ‘Vredesmuur’ genoem is—na gelang van waar jy ideologies gestaan het”, soos Norman Gelb dit stel. ’n Oos-Duitse Kommunis het verduidelik: “Ons het geen keuse gehad nie. Ons het soveel van ons beste mense verloor.”
Die Berlynse Muur het nie net die uittog van vlugtelinge gestuit nie, maar dit het ook familielede en vriende van mekaar geskei. Agt-en-twintig maande na die oprigting daarvan kon Wes-Berlyners toegang verkry om familielede in Oos-Berlyn een dag lank te besoek. Gedurende die sewentigerjare het verdere verslapping plaasgevind nadat ’n vier-moondhede-ooreenkoms aangegaan is, wat telefoonoproepe en besoeke tussen die Ooste en die Weste moontlik gemaak het. Ongeveer 80 mense het nietemin hulle lewe verloor in ’n poging om die Berlynse Muur oor te steek.
Voordat daar begin is om die Muur af te breek, het kanselier Kohl gesê: “Hoofsekretaris Gorbatsjof se beleid van herstrukturering bring daarmee saam, vir die eerste keer sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, ’n geregverdigde hoop om die konflik tussen die Ooste en die Weste uit die weg te ruim.” Hoe is dit in Berlyn geopenbaar?
Hervormings in die ryk van “die koning van die Noorde” het duisende Oos-Duitsers in die middel van 1989 in staat gestel om na Wes-Duitse ambassades in verskeie Oos-Europese lande te vlug. Ambassades het oorvol geword, en die situasie was ondraaglik. In September 1989 kon ’n mens die indrukwekkende toneel sien van ’n uitgeputte stroom vlugtelinge wat uit die Ooste vrygelaat is en met hulle aankoms in die Weste met kranse omhang word. Geesdrif en emosie het geen perke geken nie.
Hierdie uittog het tot besprekings in Oos-Duitsland aanleiding gegee. Wat was die oorsaak van die uittog? Drastiese hervormings is geweier, en in Oktober en November 1989 het meer as ’n miljoen Oos-Duitsers in Leipzig, Oos-Berlyn, en ander stede vreedsaam betoog en geskreeu: “Ons is die volk.” Die Oos-Duitse regering het toegegee en het, na 28 jaar, die Berlynse Muur en die deure na politieke en ekonomiese veranderinge oopgestel. Soos die Duitse koerant Die Zeit gesê het: “In 1989 is wêreldgeskiedenis tot in sy grondveste geskud, en dit is meer deur mense as deur moondhede veroorsaak.”
Sedert die grense oopgestel is, “leef [Berlyners] nie meer op ’n eiland nie”, sê die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung. Daar is in 1990 begin om die Muur af te breek.
Ware vrede en veiligheid naby
Wes- en Oos-Berlyn het blykbaar baie jare lank nie net ons verdeelde wêreld weerspieël nie, maar ook sy probleme. Hoewel talle Oos-Duitsers byvoorbeeld sekere maatskaplike voordele geniet het, het die Ooste gebuk gegaan onder ekonomiese tekorte en wydverspreide besoedeling. Wes-Berlyn het met sy eie probleme te kampe gehad, soos studente-oproer, terrorisme en politieke skandale. Nòg die Weste nòg die Ooste het dus ’n ideologie wat die mensdom se wêreldwye probleme kan oplos.—Spreuke 14:12.
Wat die nasies ook al kan vermag, mense se pogings om ons verdeelde wêreld te verenig, kan nie selfsug verwyder of van die aarde ’n paradys maak nie. Net ’n bomenslike mag kan ware eenheid teweegbring en selfs siekte en die dood verwyder. God se Koninkryk sal hierdie reusetaak uitvoer.—Mattheüs 6:10; Openbaring 21:1-5.