Ons veranderende wêreld—Waarop stuur dit af?
SOMMIGE veranderinge het ’n ernstige en langdurige uitwerking op die lewe van miljoene, selfs op die hele wêreldbevolking en toekomstige geslagte. Gewelddadige misdaad, dwelmmisbruik, die verspreiding van vigs, water- en lugbesoedeling en ontbossing is net ’n paar veranderinge wat reeds ’n uitwerking op ons almal het. Die beëindiging van die Koue Oorlog en die uitbreiding van die Westerse soort demokrasie met sy vrye ekonomie verander ook lewens en het ’n invloed op die toekoms. Kom ons ondersoek sommige van hierdie faktore.
Hoe misdaad reeds ons lewe verander het
Wat is die situasie op die strate in jou buurt? Voel jy veilig as jy saans alleen buite stap? Slegs 30 of 40 jaar gelede het baie mense nie eers hulle deure gesluit nie. Maar tye het verander. Nou het sommige deure twee of drie slotte, en daar is tralies voor die vensters.
Mense is vandag bang om hulle beste klere en juweliersware op straat te dra. Sommige stadsbewoners is al vir ’n leerbaadjie of ’n nertsjas doodgemaak. Ander het in die kruisvuur tussen bendes dwelmsmouse gesterf. Daar word feitlik elke dag onskuldige omstanders, waaronder baie kinders, gewond of doodgemaak. Motors kan nie veilig op straat gelaat word sonder die een of ander slim toestel waarmee mense parasitiese diewe in die wiele probeer ry nie. In hierdie verwronge wêreldsituasie het mense verander. Eerlikheid en opregtheid is feitlik vergete waardes. Vertroue het verdwyn.
Misdaad en geweld kom wêreldwyd voor. Die volgende nuusopskrifte uit verskeie bronne lig die punt toe: “Polisie jaag rowers, bendes en ontug—Moskou vind uit dat hy dit alles het”; “’n Nuwe era breek vir Korea aan, gevolg deur misdaad”; “Misdaad op straat tref die daaglikse lewe in Praag”; “Japan veg teen georganiseerde misdaad en die misdadigers veg terug”; “Die seekat se greep—Italië se vernaamste vegter teen die Mafia deur ’n bomontploffing vermoor”. Misdaad is ’n algemene probleem.
Hedendaagse misdaad is ook gewelddadiger. Daar word geen waarde aan die lewe geheg nie. In Rio de Janeiro, Brasilië, is die krotbuurte aan die rand van die stad “amptelik deur die Verenigde Nasies as die gewelddadigste plek ter wêreld erken. Meer as 2500 mense word elke jaar daar vermoor” (World Press Review). In Colombia stuur invloedryke dwelmbase hulle adolessente sicarios, of betaalde moordenaars, op motorfietse uit om deur middel van hulle spesiale soort vinnige doodstraf met mededingers en mense wat hulle geld skuld af te reken. En wee jou as jy ’n ooggetuie van ’n misdaad is—hetsy in Colombia of elders. Jy is dalk die volgende slagoffer.
Nog ’n groot verandering is dat al hoe meer misdadigers dodelike outomatiese wapens dra, en al hoe meer lede van die publiek vuurwapens vir selfverdediging begin dra. Hierdie toename in wapens beteken outomaties ’n toename in sterftes en ongevalle, hetsy deur misdaad of per ongeluk. Dit word nou algemeen as ’n onomstootlike waarheid aanvaar dat ’n vuurwapen in die sak of in die huis enigeen in ’n potensiële moordenaar kan verander.
Misdaad en dwelms
Wie het vyftig jaar gelede kon droom dat dwelms ’n wêreldprobleem sou word? Nou is dit een van die vernaamste oorsake van misdaad en geweld. In sy boek Terrorism, Drugs and Crime in Europe after 1992 voorspel Richard Clutterbuck dat “die groei van die dwelmhandel op die lange duur moontlik die heel grootste bedreiging vir die mensebeskawing sal wees. . . . Die wins gee die dwelmmagnate nie net ontsaglike ekonomiese en politieke mag nie [Colombia is ’n duidelike voorbeeld hiervan], maar dit finansier ook ’n skrikwekkende hoeveelheid misdaad oor die hele wêreld.” Hy sê ook: “Een van die vernaamste oorsake van terrorisme en kriminele geweld ter wêreld is die kokaïenhandel van die kokalande in Colombia af tot by die verslaafdes in Europa en die VSA.”
Die heersende toename in misdaad en die wêreld se groeiende gevangenisbevolking toon dat daar miljoene mense met kriminele neigings is en dat hulle nie eintlik wil verander nie. Te veel van hulle het agtergekom dat misdaad winsgewend is. As gevolg daarvan het ons wêreld verander—en beslis nie ten goede nie. Dit het gevaarliker geword.
Vigs—Het dit verandering teweeggebring?
’n Siekte wat aanvanklik gelyk het of dit hoofsaaklik die homoseksuele bevolking aantas, het ’n plaag geword wat mense van elke ras en lewenstyl aantas. Vigs kies nie meer sy slagoffers nie. In sommige Afrikalande saai dit verwoesting onder die heteroseksuele bevolking. As gevolg daarvan lyk dit skielik vir party asof seksuele promiskuïteit ouderwets is, nie om enige sedelike redes nie, maar uit vrees vir besmetting. “Veilige seks” is nou die slagspreuk en die gebruik van kondome word as die vernaamste beskerming teen vigs aanbeveel. Onthouding is die vorm van beskerming wat die minste mense verkies. Maar watter uitwerking gaan vigs in die nabye toekoms op die mensdom hê?
Die tydskrif Time het onlangs gesê: “Teen die jaar 2000 kan vigs die grootste epidemie van die eeu word en die griepplaag van 1918 oortref. Daardie ramp het 20 miljoen mense, of 1% van die wêreldbevolking, doodgemaak—meer as twee keer soveel as die soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het.” Volgens een deskundige “is hierdie epidemie een van geskiedkundige omvang”.
Ondanks die miljoene dollars en ander geld wat aan vigs-navorsing bestee word, is daar geen oplossing in sig nie. ’n Onlangse konferensie oor vigs in Amsterdam, Nederland, het 11 000 wetenskaplikes en ander deskundiges bymekaargebring om die probleem te ondersoek. “Die stemming was somber en het ’n dekade van frustrasie, mislukking en toenemende tragedie weerspieël. . . . Die mensdom is moontlik nog niks nader aan die oorwinning oor vigs as toe die soektog begin het nie. Daar is geen entstof, geen geneesmiddel en nie eers ’n onfeilbare behandeling nie” (Time). Die vooruitsig lyk sleg vir diegene wat reeds positief vir die HI-virus getoets is en nou waarskynlik vigs gaan kry. In die geval van vigs was verandering ook nie ten goede nie.
Verandering in wêreldpolitiek
Die veranderde politieke klimaat van die afgelope vier jaar het talle leiers verras en dié in die Verenigde State moontlik die heel meeste. Skielik het die Verenigde State nie ’n geskikte mededinger op politieke gebied nie. Dit is al vergelyk met ’n hoogs gemotiveerde, onoorwonne basketbalspan wat skielik besef dat niemand meer teen hulle wil speel nie. Hierdie dilemma is in 1990 in ’n artikel deur die redakteur van die tydskrif Foreign Policy, Charles William Maynes, opgesom: “Vandag is die doel van die Amerikaanse buitelandse beleid nie om die land van ’n rampspoedige oorlog te red nie, maar om die onverwagte vrede wat daar skielik tussen die Verenigde State en die [eertydse] Sowjetunie ontstaan het te institusionaliseer.”
Die buitengewone toename van kundigheid op die gebied van kernkrag laat nuwe gevare ontstaan, terwyl oorloë met gewone wapens nog lank nie opgehou het nie—tot groot vreugde van die wêreld se wapenhandelaars. In ’n wêreld wat na vrede smag, is talle politieke leiers besig om hulle leërs en hulle wapentuig te versterk. En ’n feitlik bankrotte Verenigde Nasies word besig gehou in ’n poging om hegpleisters op die wêreld se chroniese swere te plak.
Die onveranderde vloek van nasionalisme
Toe Kommunisme begin verbrokkel het, het Amerikaanse president George Bush die idee van “’n nuwe wêreldorde” gewild gemaak. Maar soos baie politieke leiers uitgevind het, is dit maklik om slim slagspreuke uit te dink; dit is baie moeiliker om positiewe veranderinge teweeg te bring. In sy boek After the Fall—The Pursuit of Democracy in Central Europe sê Jeffrey Goldfarb: “Onbeperkte hoop op ‘’n nuwe wêreldorde’ is gou vervang deur die besef dat ons steeds met die heel oudste probleme te kampe het, en soms in ’n erger mate. Wanhoop weens politieke spanning, nasionalistiese konflik, godsdienstige fundamentalisme en ekonomiese ineenstorting het dikwels . . . die vryheidseuforie oorskadu.” Die burgeroorlog in eertydse Joego-Slawië is beslis ’n duidelike voorbeeld van die verdelende invloed van politiek, godsdiens en nasionalisme.
Jeffrey Goldfarb sê voorts: “Xenofobie [vreemdelingehaat] en persoonlike onveiligheid het al lewensfeite in Sentraal-Europa geword. Demokrasie lewer nie outomaties die beloofde ekonomiese, politieke en kulturele resultate nie, en ’n vrye ekonomie stel nie net rykdom in die vooruitsig nie, dit skep ook ondenkbare probleme vir diegene wat nie weet hoe om binne die raamwerk daarvan te werk nie.”
Maar dit is duidelik dat hierdie probleme nie tot Sentraal-Europa en die republieke van die eertydse Sowjetunie beperk is nie; xenofobie en ekonomiese onsekerheid kom wêreldwyd voor. Die mensdom dra die gevolge daarvan in die vorm van lyding en die dood. En daar bestaan geen hoop dat hierdie diepgewortelde gesindhede wat haat en geweld verwek in die nabye toekoms sal verander nie. Waarom nie? Omdat die onderrig wat die meeste mense ontvang—hetsy van hulle ouers of van nasionalisties georiënteerde skoolstelsels—haat, onverdraagsaamheid en idees van meerderwaardigheid inskerp wat op nasionaliteit, etniese herkoms, stamverband of taal gegrond is.
Nasionalisme, wat die weekblad Asiaweek “die laaste haatlike isme” genoem het, is een van die onveranderlike faktore wat steeds tot haat en bloedvergieting aanleiding gee. Daardie tydskrif het gesê: “As trots om ’n Serwiër te wees haat vir ’n Kroaat beteken, as vryheid vir ’n Armeniër wraak op ’n Turk beteken, as onafhanklikheid vir ’n Zulu onderwerping van ’n Xhosa beteken en as demokrasie vir ’n Romeen verbanning van ’n Hongaar beteken, dan het ons reeds nasionalisme se haatlikste kant gesien.”
Dit laat ons dink aan wat Albert Einstein eenkeer gesê het: “Nasionalisme is ’n kwaal wat uit kinderagtigheid spruit. Dit is die masels van die mensdom.” Feitlik almal kry dit op die een of ander tydstip, en dit versprei al hoe verder. In 1946 het die Britse geskiedskrywer Arnold Toynbee geskryf: “Patriotisme . . . het die Christelike geloof as die godsdiens van die Westerse Wêreld grootliks verdring.”
Bestaan daar enige hoop dat die mens se gedrag onder die huidige omstandighede sal verander? Party sê dit kan net deur ’n ingrypende verandering in onderrig teweeggebring word. Die ekonoom John K. Galbraith het die volgende geskryf: “Die mens is die bepalende faktor in die proses van vooruitgang. Dus . . . is geen verbetering moontlik nie tensy mense verbeter, en vooruitgang is gewis wanneer mense bevry en onderrig word. . . . Die oorwinning van ongeletterdheid kom eerste.” Watter hoop is daar dat die wêreld se onderwysstelsels mense ooit liefde en verdraagsaamheid pleks van haat en wantroue sal leer? Wanneer sal diepgewortelde vyandigheid weens stamverband of etniese herkoms vervang word deur vertroue en begrip, deur die besef dat ons almal tot die een mensegeslag behoort?
Dit is duidelik dat positiewe verandering nodig is. Sandra Postel skryf in State of the World 1992: “Daar sal selfs grondiger en deurlopender veranderinge gedurende die res van hierdie dekade moet plaasvind as ons aan ’n realistiese hoop op ’n beter wêreld wil vashou.” En waarop stuur ons af? Richard Clutterbuck sê: “Maar die wêreld is steeds onbestendig en gevaarlik. Nasionalistiese en godsdienstige fanatisme sal voortduur. . . . Die 1990’s kan die gevaarlikste of die vooruitstrewendste dekade van die eeu word.”—Terrorism, Drugs and Crime in Europe After 1992.
Ons veranderende omgewing
Gedurende die afgelope paar dekades het die mensdom begin besef dat menslike bedrywighede ’n gevaarlike uitwerking op die omgewing het. Grootskaalse ontbossing is besig om tallose dier- en plantspesies uit te wis. En aangesien die woude deel uitmaak van die planeet se longstelsel verswak die vernietiging van woude ook die aarde se vermoë om koolsuurgas in lewensonderhoudende suurstof om te sit. Nog ’n gevolg is dat dit die bogrond verswak en uiteindelik tot die vorming van woestyne lei.
Party het waarskuwings oor hierdie kwessie laat hoor en een van hulle is die Amerikaanse politikus Al Gore. In sy boek Earth in the Balance—Ecology and the Human Spirit skryf hy: “Teen die huidige tempo van ontbossing sal feitlik al die tropiese reënwoude gedurende die volgende eeu verdwyn. As ons hierdie vernietiging toelaat, gaan die wêreld die grootste skatkamer van genetiese inligting oor die planeet verloor, asook moontlike geneesmiddels vir baie van die siektes waaraan ons ly. Trouens, honderde belangrike geneesmiddels wat nou algemeen gebruik word, is van plante en diere in die tropiese woude afkomstig.”
Al Gore meen die uitwerking wat die mens se bedrywighede op die omgewing het, dreig om die mens se oorlewing in gevaar te stel. Hy sê: “Terwyl ons voortgaan om na elke denkbare hoekie van die omgewing uit te brei, word die broosheid van ons eie beskawing al hoe duideliker. . . . Ons loop gevaar om gedurende die leeftyd van net een geslag die samestelling van die hele aarde se atmosfeer baie opvallender te verander as wat enige vulkaan in die geskiedenis gedoen het, en die gevolge sal moontlik eeue lank voortduur.”
Dit is nie net ons atmosfeer wat bedreig word nie, maar volgens Al Gore en ander is ons lewensbelangrike watervoorraad ook in gevaar, veral in die ontwikkelende wêreld “waar die gevolge van waterbesoedeling die ernstigste en tragiesste uitwerking het in die vorm van hoë sterftesyfers as gevolg van cholera, buiktifus, disenterie en diarree”. Dan meld Al Gore dat “meer as 1,7 [miljard] mense nie genoeg veilige drinkwater het nie. Meer as 3 [miljard] mense het nie behoorlike sanitasie [toilet- en rioolgeriewe] nie en loop dus gevaar dat hulle water besmet kan word. Honderd-en-veertien dorpe en stede in Indië stort byvoorbeeld hulle menslike afval en ander onbehandelde rioolvullis direk in die Ganges.” En daardie rivier is die lewensaar vir miljoene mense!
Gautam S. Kaji, ’n onderhoofbestuurder van die Wêreldbank, het ’n gehoor in Bangkok gewaarsku dat die “watervoorraad in Oos-Asië heel moontlik die keerpuntkwessie van die volgende eeu sal wees. . . . Ondanks die feit dat die meeste mense bekend is met die voordele wat veilige drinkwater vir die mens se gesondheid en produktiwiteit inhou, kry Oos-Asiese regerings nou te doen met openbare stelsels wat nie drinkbare water kan voorsien nie . . . Dit is die alomgeïgnoreerde faset van omgewingsbewarende ontwikkeling.” Oor die hele wêreld word een van die basiese elemente vir lewe—skoon water—besoedel en vermors.
Al hierdie dinge is aspekte van ons veranderende wêreld, ’n wêreld wat op baie plekke in ’n gevaarlike slykpoel omskep word en wat die mensdom se toekomstige voortbestaan bedreig. Die hoofsaak is: Het regerings en die sakewêreld die wilskrag en die motivering om stappe te doen wat die algehele uitputting van die aarde se hulpbronne sal voorkom?
Verander godsdiens die wêreld?
Op godsdiensgebied vind ons moontlik die mensdom se grootste mislukking. As ’n boom aan sy vrugte geken word, dan moet godsdiens verantwoording doen vir die vrug van haat, onverdraagsaamheid en oorlog in sy eie geledere. Godsdiens is blykbaar by die meeste mense soos uiterlike skoonheid—dit is oppervlakkig. Dit is ’n dun lagie wat gou onder die druk van rassisme, nasionalisme en ekonomiese onsekerheid verdwyn.
Wat het met die lidmate van die Katolieke en die Ortodokse kerke van eertydse Joego-Slawië gebeur aangesien die Christelike geloof die godsdiens is waarin ‘jy jou naaste en jou vyand moet liefhê’? Sal hulle priesters hulle van al hulle moord en haat kwytskeld? Het eeue van “Christelike” onderrig in Noord-Ierland net tot haat en moord gelei? En wat van die nie-Christelike godsdienste? Het hulle beter vrugte opgelewer? Kan Hindoeïsme, Sikhisme, Boeddhisme, die Islam en Sjintoïsme bewys lewer van ’n vreedsame geskiedenis van wedersydse verdraagsaamheid?
Pleks dat godsdiens ’n positiewe invloed uitgeoefen het in die opvoeding van die mensdom het dit sy eie fanatiese bydrae gelewer om rasende patriotisme aan te wakker en die leërs in twee wêreldoorloë en in baie ander konflikte te seën. Godsdiens het nie ’n progressiewe invloed op verandering gehad nie.
Wat kan ons dus in die nabye toekoms van godsdiens verwag? Trouens, wat kan ons verwag dat die toekoms vir ons hedendaagse wêreldstelsel inhou—watter veranderinge sal plaasvind? Ons derde artikel sal hierdie vrae uit ’n unieke oogpunt beskou.
[Prent op bladsy 7]
’n Toename in gewelddadige misdaad is nog ’n teken van verandering
[Prente op bladsy 8]
Nasionalisme en godsdienshaat veroorsaak nog steeds bloedvergieting
[Erkennings]
Jana Schneider/Sipa
Malcom Linton/Sipa
[Prente op bladsy 9]
Die mens se beskadiging van sy omgewing is besig om die fyn balans van die biosfeer te versteur
[Erkennings]
Laif/Sipa
Sipa
[Prent op bladsy 10]
Hitler word deur die pouslike gesant Basallo di Torregrossa gegroet, 1933. Deur die geskiedenis heen was godsdiens by politiek en nasionalisme betrokke
[Erkenning]
Bundesarchiv Koblenz