Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 6/22 bl. 3-5
  • ’n Nuwe skisma

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe skisma
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorsprong van die skeuring
  • Gekant teen godsdiensvryheid
  • Baie kwaad oor “Protestantse” Mis
  • Die behoefte aan ’n opvolger
  • Waarom die “diep kommer?”
    Ontwaak!—1990
  • Waarom die verdeeldheid?
    Ontwaak!—1990
  • Die kerk—veranderinge en verwarring
    Ontwaak!—1993
  • ’n Dilemma vir die Katolieke Kerk
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 6/22 bl. 3-5

’n Nuwe skisma

Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk

IN DIE annale van die Rooms-Katolieke Kerk sal 30 Junie 1988 ’n belangrike datum wees. Op daardie dag het die Franse aartsbiskop Marcel Lefebvre die Vatikaan getrotseer. Hy het vier biskoppe by sy tradisionalistiese Katolieke seminarie in Switserland ingeseën. Hierdie optrede het veroorsaak dat Lefebvre en die vier nuwe biskoppe geëkskommuniseer is. Dit het aanleiding gegee tot die eerste skisma in die Katolieke Kerk sedert 1870. In daardie jaar het die sogenaamde Ou Katolieke van die moederkerk weggebreek oor die geskil van pouslike onfeilbaarheid.

Die oorsprong van die skeuring

Die kloof tussen die Vatikaan en aartsbiskop Lefebvre se regsinnige konserwatiewe Katolieke beweging is ’n tyd lank al besig om groter te word. Die oorsprong van die skisma kan teruggevoer word na die Tweede Vatikaanse Konsilie wat van 1962 tot 1965 gehou is. Pous Johannes XXIII, wat die konsilie byeengeroep het, het twee oogmerke vir die byeenkoms gestel. Een is die aggiornamento (modernisering) genoem, en die ander een was die versoening van die sogenaamde Christenkerke.

Hoewel aartsbiskop Lefebvre, as ’n Katolieke prelaat, aan die Tweede Vatikaanse Konsilie deelgeneem het, het hy nie met een van hierdie oogmerke saamgestem nie. As ’n onversetlike tradisionalis, is dit sy mening dat die Katolieke Kerk nie gemoderniseer hoef te word nie. Lefebvre gaan ten volle akkoord met die tradisionele Katolieke beskouing dat “daar buite die Kerk geen redding is nie”, en hy is oortuig dat “Christene” net herenig kan word as alle nie-Katolieke die Rooms-Katolieke geloof aanhang.

Gekant teen godsdiensvryheid

’n Jaar nadat aartsbiskop Lefebvre geëkskommuniseer is, het hy namens konserwatiewe Katolieke wat sy beweging ondersteun, gesê: “Ons is absoluut gekant teen die idee van godsdiensvryheid en die gevolge daarvan, veral ekumenisme, wat ek persoonlik onaanvaarbaar vind.”

Hy het nie nuwighede ingevoer nie. Hy het getrou by Katolieke tradisie gebly. Op 15 Augustus 1832 het pous Gregorius XVI die ensikliek Mirari vos gepubliseer, waarin hy gewetensvryheid veroordeel het as ’n “verkeerde opvatting, of eerder waansin”. Twee-en-dertig jaar later het pous Pius IX sy Sillabus van Dwalinge gepubliseer, waarin hy die idee veroordeel het dat “elke mens die vryheid het om die geloof aan te neem en te bely wat hy, in die lig van die rede, glo die waarheid is”.

Deur ekumenisme te verwerp, het aartsbiskop Lefebvre bloot sy gehegtheid getoon aan wat Katolieke dogma die “enigheid van die Kerk” noem, dit wil sê, dat daar maar net “Een, Heilige, Katolieke en Apostoliese” kerk is.

Baie kwaad oor “Protestantse” Mis

Die hervorminge in die tradisionele Katolieke liturgie wat deur die Tweede Vatikaanse Konsilie ingevoer is, is ’n besonder gevoelige onderwerp vir aartsbiskop Lefebvre en sy volgelinge. Die rebelse prelaat meen dat sulke hervorminge die Mis “Protestants gemaak het”. Dit is nie net omdat moderne tale in plaas van Latyn gebruik word nie; Lefebvre meen dat te veel dinge verander is met die doel om die Protestante te lok en dat die liturgie wat deur pous Paulus VI goedgekeur is selfs in Latyn “kettery” is.

In 1970 het aartsbiskop Lefebvre ’n seminarie in Ecône, Switserland, geopen om die voortsetting van die tradisionele Latynse Mis te verseker. Dit is bestuur deur die Priesterlike Broederskap van Sint Pius X, wat Lefebvre daardie selfde jaar gestig het. Toe sy beweging sukses behaal het, het hy ander konserwatiewe Katolieke seminaries in Europa en die Amerikas tot stand gebring. Daar ontvang honderde jong manne ultrakonserwatiewe opleiding vir die priesteramp.

Die rebelse prelaat het ver oor die 200 tradisievaste priesters georden, hoewel hy in 1976 deur pous Paulus VI verbied is om dit te doen. Hierdie priesters dra die Latynse Mis op in priorye en Katolieke kerke wat hulle onwettig beset.a Die Vatikaan erken dat Lefebvre omtrent honderdduisend militante tradisievaste volgelinge wêreldwyd het, maar ander kerkamptenare erken dat die getal nader aan ’n halfmiljoen is. Lefebvre self beweer dat miljoene Katolieke sy beskouinge deel.

Die behoefte aan ’n opvolger

In die Katolieke Kerk kan ’n biskop priesters orden. Maar slegs die pous kan die ordening van ’n biskop goedkeur. By gebrek aan ’n biskop om nuwe priesters te orden, het die bejaarde Lefebvre besef dat sy Priesterlike Broederskap gevaar loop om na sy dood uit te sterf. Die Vatikaan het, oënskynlik in die hoop dat dit sal gebeur, in langgerekte onderhandelinge met hom getree, en uiteindelik ’n ultimatum uitgereik. Òf hy aanvaar die ordening van ’n biskop wat deur die Vatikaan goedgekeur is, òf hy orden self ’n biskop in welke geval hy geëkskommuniseer word.

Op 30 Junie 1988 het die rebelse prelaat vier tradisievaste biskoppe ingeseën by ’n seremonie wat deur duisende van sy volgelinge bygewoon is. Die Paryse dagblad International Herald Tribune het berig: “Aartsbiskop Lefebvre se inseëning van die vier biskoppe het ’n skaduwee gewerp oor ’n Vatikaanse kardinaalsvergadering waarin die pous 24 biskoppe tot die Raad van Kardinale verhef het. Die Vatikaan het ’n spesiale konsert gekanselleer om sy ‘diep pyn’ oor aartsbiskop Lefebvre se optrede te toon. ‘Dis ’n roudag’, het [Franse] kardinaal Decourtray gesê.”

Hierdie skisma binne die Katolieke Kerk het nie net pyn in die Vatikaan veroorsaak nie, maar dit het miljoene opregte Katolieke dwarsdeur die wêreld verwar en verbyster.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die rebelse aartsbiskop” wat in Ontwaak! van 22 Desember 1987 verskyn het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel