Waarom die verdeeldheid?
DIE grondoorsaak van godsdiensverdeeldheid, of skismas, word in een godsdiensensiklopedie as drievoudig geskets: leerstellig, organisatories en polities. Kom ons kyk of hierdie ontleding by die situasie in die Katolieke Kerk pas.
Teologie of Bybelwaarheid?
In sy eie ontleding van die oorsaak van die huidige verdeeldheid in die Katolieke Kerk het priester René Laurentin geskryf: “Die bepalende oorsaak lyk vir my duidelik. Dit is verskillende ideologieë.” Hy praat van progressiewe ideologie. Dit is die teenoorgestelde van tradisie, dit wil sê, die konserwatisme wat deur aartsbiskop Lefebvre verpersoonlik word. Dominikaanse kloosterhoof, Jean-Pierre Lintanf, sê: “Die geloof is een, teologieë is uiteenlopend.”
Verskillende ideologieë, wat verantwoordelik is vir verdeeldheid in die kerk, kan vermy word as die kerk hom hou by die Bybel as die bron van sy leringe. Om die waarheid te sê, die Tweede Vatikaanse Konsilie het bepaal: “Die heilige Woord is ’n kosbare instrument in die magtige hand van God om daardie eenheid te verkry wat die Redder aan alle mense voorhou.” Maar daardie selfde Vatikaanse Konsilie het die waarde van die Bybel ondermyn deur te sê: “Die Kerk kry sy sekerheid oor alle geopenbaarde waarhede nie net uit die heilige Skrif nie. Gevolglik moet sowel die Skrif as Tradisie met ewe veel toewyding en eerbied aanvaar en geëer word.” En weer: “Heilige teologie steun op die geskrewe Woord van God tesame met heilige Tradisie.”
Jesus se woorde aan die Fariseërs kan net sowel op die leergesag van die Katolieke Kerk van toepassing wees: “Julle [het] die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering” (Mattheüs 15:6). ’n Opregte Katolieke vrou het aan ’n Katolieke tydskrif in Frankryk geskryf: “Is dit verbasend dat die getroues in die minderheid is of elders soek, as die geestelikes nie meer gemotiveerd is om die Goeie Woord te verkondig nie? (Wat Jehovah se Getuies en die tradisionaliste betref, hulle geloof maak hulle anders.)”
’n Verdeelde hiërargie
Beskou nou die organisatoriese oorsaak van verdeeldheid in die kerk. Die skisma wat deur aartsbiskop Lefebvre veroorsaak is, hou direk verband met die Katolieke dogmas van “Apostoliese opvolging” en die primaatskap van die pous. Lefebvre beweer dat die “mag wat Christus aan Sy apostels verleen het om te leer, te regeer en te heilig . . . in die Kerk se kollege van biskoppe voortbestaan”. Daarenteen word beweer dat die biskop van Rome, die pous, die “eerste van alle biskoppe is, nie net in rang en waardigheid nie, maar in pastorale gesag”.—New Catholic Encyclopedia.
Maar is hierdie dogmas op die Bybel gebaseer? Dieselfde Katolieke ensiklopedie erken dat “ons nie in die Nuwe Testament enige woorde van Christus vind wat aandui hoe die apostoliese mandaat oorgedra moes word nie”. Dit erken ook dat die “pouslike primaatskap” in die “Westelike [Latynse] Kerk” eers in die vyfde eeu G.J. “duidelik verstaan of uitdruklik verklaar” is.
Op die oomblik word daar van bo tot onder protes aangeteken teen die hiërargiese stelsel van die Katolieke Kerk. Dit is ’n faktor in die verdeeldheid, omdat biskoppe, teoloë, priesters en leke openlik hulle meningsverskil met die pous oor onderwerpe soos geloof, beginsels en kerkbestuur uitspreek. Die “Keulse Verklaring” het gesê: “As die pous doen wat nie deel van sy amp is nie, kan hy nie gehoorsaamheid in die naam van Katolisisme verwag nie.”
Polities verdeeld
Brittanje se Economist het geskryf: “Volgens Lefebvriste het hulle kerk die slagoffer geword van ’n sameswering wat dit in die hande van Marxiste, moderniste en Protestante oorgegee het. Monseigneur Lefebvre meen dat die Franse Revolusie jammerlike modernisme en liberalisme aan die wêreld bekendgestel het, en dat die Tweede Vatikaanse Konsilie die Franse Revolusie . . . aan die kerk bekendgestel het.” Talle regsinnige Katolieke deel hierdie beskouing. Daarenteen is linksgesinde Katolieke ten gunste van sosiale hervorminge, en party gaan so ver as om die beginsel van gewapende revolusie te aanvaar. So is politiek nog ’n verdelende faktor onder Katolieke.
Priester Laurentin het sy artikel “Waarom hierdie verdeeldheid onder Christene?” afgesluit deur te sê dat die Katolieke Kerk se geloofwaardigheid daarvan sal afhang of dit Jesus se woorde nakom: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
Talle opregte Katolieke dwarsdeur die wêreld het daardie toetssteen gebruik en tot die slotsom gekom dat die Katolieke Kerk se bewering dat dit die ware kerk is nie geloofwaardig is nie. Baie wat besef het, soos Jesus ook gesê het, dat ‘elke huis wat teen homself verdeeld is, nie sal bly staan nie’, het “stilletjies” uit die kerk ‘weggeloop’.—Mattheüs 12:25.
Heelparty Katolieke soek nou ’n “huis” wat uit ware Christene bestaan, wat deur ware broederliefde verenig is en wat nie deur onbybelse dogmas, verdeelde hiërargie of strydende politieke menings verdeeld is nie. Duisende het gevind waarna hulle gesoek het toe hulle met Jehovah se Getuies begin omgaan het.
[Prent op bladsy 9]
Jesus het die Fariseërs veroordeel omdat hulle hul tradisies bo God se Woord gestel het