Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/22 bl. 4-6
  • Kinders—Bates of laste?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kinders—Bates of laste?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Besorgde regerings
  • Besorgde gesinne
  • Gesinsbeplanning red lewens
  • Gesinsbeplanning word ’n wêreldwye vraagstuk
    Ontwaak!—1993
  • Demografie, die Bybel en die toekoms
    Ontwaak!—2004
  • Wie moet oor die grootte van ’n gesin besluit?
    Ontwaak!—1996
  • Die wêreldbevolkingsaanwas—’n lewensbelangrike vraagstuk
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/22 bl. 4-6

Kinders—Bates of laste?

DIE kwessie van gesinsbeplanning hang ten nouste saam met wat dikwels die bevolkingsontploffing genoem word. Gedurende die grootste deel van die mensdom se geskiedenis het die bevolking betreklik stadig aangewas; daar het ongeveer net soveel mense gesterf as wat daar gebore is. Eindelik, omstreeks die jaar 1830, het die wêreldbevolking op eenmiljard gestaan.

Toe het mense op mediese en wetenskaplike gebied vooruitgang begin maak wat tot minder sterftes weens siektes, veral kindersiektes, gelei het. Teen ongeveer 1930 het die wêreldbevolking op tweemiljard gestaan. Teen 1960 het daar nog ’n miljard bygekom. Teen 1975 nog ’n miljard. Teen 1987 het die wêreldbevolking op vyfmiljard gestaan.

As ons dit uit ’n ander oogpunt beskou, vermeerder die aantal mense op die planeet nou met ongeveer 170 per minuut. Dit kom uit op sowat 250 000 mense per dag, gelykstaande met die inwonertal van ’n groterige stad. Dit beteken ook dat die bevolking elke jaar met meer as 90 miljoen mense toeneem, wat gelyk is aan drie Kanadas of nog ’n Mexiko. Meer as 90 persent van hierdie vermeerdering vind in ontwikkelende lande plaas waar 75 persent van die wêreldbevolking reeds woon.

Besorgde regerings

Maar waarom wil regerings graag die bevolkingsaanwas deur gesinsbeplanning beperk? Dr. Babs Sagoe, die amptenaar van Nigerië se Nasionale Program vir die VN-bevolkingsfonds, beantwoord hierdie vraag met ’n eenvoudige illustrasie wat volgens hom ’n komplekse en omstrede situasie maklik kan oorvereenvoudig. Hy verduidelik:

‘Kom ons veronderstel ’n boer besit [vier hektaar] grond. As hy tien kinders het en die grond gelykop onder hulle verdeel, sal elke kind [ongeveer ’n halwe hektaar] kry. As elkeen van daardie kinders tien kinders het en die land op dieselfde manier verdeel, sal elkeen van hulle kinders net [0,04 hektaar] kry. Dit is duidelik dat hierdie kinders slegter af sal wees as hulle oupa wat [vier hektaar] grond gehad het.’

Hierdie illustrasie beklemtoon die verband tussen ’n toenemende aantal mense en ’n aarde met ’n bepaalde grootte en beperkte hulpbronne. Namate die bevolking aanwas, sukkel talle ontwikkelende lande om die huidige bevolkingsgetalle te hanteer. Beskou gerus party van die probleme.

Hulpbronne. Namate die aantal mense toeneem, word die behoefte aan woude, bogrond, landbougrond en vars water al hoe groter. Met watter gevolg? Die tydskrif Populi sê: “Ontwikkelende lande . . . word dikwels genoodsaak om die nasionale hulpbronne waarvan hulle toekomstige ontwikkeling afhang uit te put.”

Infrastruktuur. Namate die bevolking toeneem, vind regerings dit al hoe moeiliker om genoeg huise, skole, sanitasiegeriewe, paaie en gesondheidsdienste te voorsien. Die ontwikkelende nasies is met die dubbele las van swaar skuld en verminderende hulpbronne opgesaal en hulle trek noustrop om in die behoeftes van huidige bevolkings te voorsien, wat nog te sê van veel groter bevolkings.

Werkverskaffing. Die VN-bevolkingsfonds se publikasie Population and the Environment: The Challenges Ahead sê dat 40 persent van die werkkragte in talle ontwikkelende lande reeds werkloos is. Oor die hele ontwikkelende wêreld heen is meer as ’n halfmiljard mense óf werkloos, óf sonder ’n voltydse werk, ’n syfer wat bykans gelykstaande is met al die werkkragte in die industriële wêreld.

Om te verhoed dat hierdie syfers styg, moet ontwikkelende lande elke jaar meer as 30 miljoen nuwe werksgeleenthede skep. Die mense wat hierdie werksgeleenthede gaan nodig kry, leef al—hulle is die kinders van vandag. Deskundiges reken dat grootskaalse werkloosheid tot burgertwis, verergerende armoede en die verdere vernietiging van natuurlike hulpbronne kan lei.

Dit is geen wonder nie dat al hoe meer ontwikkelende nasies gesinsbeplanning probeer bevorder. ’n Hoofartikel in die Britse mediese tydskrif Lancet het in sy kommentaar oor wat nog voorlê, gesê: “Die druk van die toename in die aantal [mense], wat hoofsaaklik tot die armer lande van die wêreld beperk is, vergroot hulle taak geweldig. . . . Miljoene sal hulle lewe lank ongeletterd en werkloos wees, met swak behuising en sonder die voordeel van basiese gesondheids-, welsyns- en reinigingsdienste, en die onverhinderde bevolkingsaanwas is ’n vername oorsaak hiervan.”

Besorgde gesinne

Dit is een ding om doelwitte te stel en gesinsbeplanningsprogramme landswyd in te stel; dit is iets heeltemal anders om die publiek te oortuig. In baie gemeenskappe is die tradisionele beskouings ten gunste van groot gesinne nog gevestig. ’n Nigeriese moeder het byvoorbeeld die volgende gesê oor haar regering se aanmoediging om geboortesyfers te laat daal: “Ek is die jongste van my pa se 26 kinders. Al my broers en susters, die mans sowel as die vroue, het tussen agt en 12 kinders. Waarom sal ek dan min kinders hê?”

Maar so ’n beskouing is nie meer so algemeen soos voorheen nie, selfs nie eers in Nigerië waar die gemiddelde vrou aan ses kinders geboorte gee nie. Miljoene mense trek as gevolg van stygende pryse noustrop om hulle gesin van voedsel en klere te voorsien. Baie het uit ondervinding geleer hoe waar dié Joroeba-gesegde is: “Ọmọ bẹẹrẹ, òṣì bẹẹrẹ” (baie kinders, baie armoede).

Baie egpare is bewus van die voordele wat gesinsbeplanning inhou, maar hulle pas dit nie toe nie. Met watter gevolg? Volgens The State of the World’s Children 1992, wat deur die Verenigde Nasies se Kinderfonds uitgegee word, sal ongeveer 1 uit 3 swangerskappe gedurende die jaar in die ontwikkelende wêreld nie net onbeplan nie, maar ook ongewens wees.

Gesinsbeplanning red lewens

Afgesien van ekonomiese probleme is die gesondheid van die moeder en haar kinders ’n belangrike rede om gesinsbeplanning te oorweeg. “Swangerskap is ’n waagstuk en om geboorte te gee, is ’n stryd om lewe en dood”, lui ’n spreuk van Wes-Afrika. In die ontwikkelende wêreld sterf daar jaarliks ’n halfmiljoen vroue gedurende hulle swangerskap of bevalling, ’n miljoen kinders word moederloos gelaat en ’n bykomende vyf- tot sewemiljoen vroue raak liggaamlik gestremd of doen ernstige liggaamsgebreke op omdat ’n bevalling hulle gesondheid benadeel.

Nie alle vroue in ontwikkelende lande loop dieselfde gevaar nie. Soos die bygaande venster toon, loop die vroue wat te vroeg, te dikwels of te laat aan te veel kinders geboorte gee die grootste gevaar. VN-bronne skat dat gesinsbeplanning tussen ’n kwart en ’n derde van hierdie sterfgevalle en miljoene liggaamskwale kan voorkom.

Maar sal dit nie net die bevolkingsaanwas laat toeneem as miljoene se lewens gered word nie? Verbasend genoeg sê baie deskundiges nee. “’n Mens dink moontlik”, sê die Human Development Report van 1991, “dat bevolkingsprobleme sal vererger as meer kinders aan die lewe bly. Presies die teenoorgestelde is waar. Vrugbaarheid is geneig om af te neem wanneer ouers meer vertroue het dat hulle kinders sal bly lewe.”

Miljoene vroue, veral in arm gemeenskappe, gee nietemin steeds dikwels geboorte. Waarom? Omdat hulle gemeenskap dit van hulle verwag, omdat dit waarskynliker is dat party kinders sal bly lewe as hulle baie kinders het en omdat hulle miskien nie van gesinsbeplanningsdienste weet of omdat dit nie beskikbaar is nie.

Maar baie vroue met groot gesinne wil dit nie anders hê nie. Hulle beskou elke kind as ’n seën van God.

[Venster op bladsy 6]

Hoërisikoswangerskap in die ontwikkelende wêreld

Te vroeg: Die gevaar om tydens swangerskap en ’n bevalling te sterf, is tot drie keer hoër onder vroue tussen 15 en 19 jaar as onder vroue tussen 20 en 24 jaar. Die babas van tienderjarige vroue staan ’n groter kans om te sterf, te vroeg gebore te word of by geboorte te min te weeg.

Te kort na mekaar: Die tyd wat tussen geboortes verloop, het ’n groot uitwerking op kinderoorlewing. ’n Kind wat minder as twee jaar ná die moeder se vorige kind gebore word, staan ’n 66 persent groter kans om as baba te sterf. As hierdie kinders bly lewe, sal hulle groei en hulle verstandelike ontwikkeling waarskynlik belemmer wees. Ongeveer 1 uit 5 babasterftes kan voorkom word deur geboortes behoorlik te spasieer. Dit is die veiligste wanneer drie of meer jaar tussen geboortes verloop.

Te veel: Om aan meer as vier kinders geboorte te gee, vergroot die gevare verbonde aan swangerskap en ’n bevalling, veral as daar nie meer as twee jaar tussen elk van die vorige kinders is nie. Ná vier swangerskappe is daar ’n groter kans dat moeders aan bloedarmoede sal ly en meer bloeding sal ondervind, en hulle kinders loop groter gevaar om met gebreke gebore te word.

Te laat: Vroue wat ouer as 35 is, staan ’n vyf keer groter kans om gedurende swangerskap of ’n bevalling te sterf as vroue tussen 20 en 24 jaar. Daar bestaan ook ’n groter moontlikheid dat kinders wat deur ouer vroue in die lewe gebring word, sal sterf.

Bronnemateriaal: Wêreldgesondheidsorganisasie, VN-kinderfonds en die VN-bevolkingsfonds.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel