Gesinsbeplanning word ’n wêreldwye vraagstuk
“Gesinsbeplanning kan vir meer mense meer voordele teen laer koste inhou as enige ander enkele ‘tegnologie’ wat nou tot die mensdom se beskikking is. . . . Dit sou steeds die geval wees selfs al was daar nie iets soos ’n bevolkingsprobleem nie.”—The State of the World’s Children 1992.
IN DIE verlede is dit as wenslik beskou om baie kinders te hê. Bykans vierduisend jaar gelede, kort voor Rebekka uit Mesopotamië sou vertrek het om met Isak te trou, het haar moeder en haar broer haar met hierdie woorde ’n seën toegewens: “Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word” (Genesis 24:60). Tye het verander. Vandag sê al hoe meer vroue hulle wil minder kinders hê.
“Ek was die derde van sewe kinders”, het Bu, ’n 22-jarige Indonesiese ma van een dogter, gesê. “My pa was ’n palmsapverkoper in Klaten, Sentraal-Java, en my ouers het noustrop getrek om so ’n groot kroos te probeer grootmaak. . . . Dis makliker om ’n gesin groot te maak as jy min kinders het.”
Ouers oor die hele wêreld voel soos Bu. Al hoe meer egpare wil beplan wanneer hulle met ’n gesin gaan begin, hoeveel kinders hulle gaan hê, hoe ver uitmekaar hulle hulle gaan hê en wanneer hulle gaan ophou kinders hê. Dit word weerspieël in VN-statistiek wat toon dat daar in ontwikkelende lande ’n opvallende toename was in egpare wat voorbehoedmiddels vrywillig gebruik, van 10 persent in die sestigerjare tot 51 persent vandag.
Regerings wil ook baie graag gesinsbeplanning bevorder. Meer as die helfte van die ontwikkelende nasies volg ’n program om die bevolkingsaanwas te beperk. Die VN-bevolkingsfonds skat dat daar nou R13 140 000 000 per jaar aan bevolkingsbeheerprogramme bestee word. Regerings hoop hierdie syfer sal teen die jaar 2000 verdubbel om in toekomstige behoeftes te voorsien.
Waarom wil nasies en individue geboortesyfers so graag beperk? En wat is die Christelike beskouing van hierdie belangrike saak? Die volgende twee artikels sal hierdie vrae bespreek.