Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/22 bl. 7-9
  • Gesinsbeplanning—die Christelike beskouing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gesinsbeplanning—die Christelike beskouing
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Godgegewe verantwoordelikheid
  • Geboortebeperking
  • Wie moet oor die grootte van ’n gesin besluit?
    Ontwaak!—1996
  • Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Kinders is “’n erfdeel van Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Verantwoordelike ouerskap in hierdie tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/22 bl. 7-9

Gesinsbeplanning—die Christelike beskouing

BY DIE eerste Wêreldbevolkingskonferensie in 1974 het die 140 nasies wat vergader het, besluit dat alle egpare “die basiese reg het om vryelik en op ’n verantwoordelike wyse te besluit oor die aantal en die spasiëring van hulle kinders en om die inligting, opvoeding en middele te hê om dit te doen”.

Baie beskou dit as ’n goeie besluit. God het weliswaar vir Adam en Eva, en later vir Noag se gesin, gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde”, maar Christene het nie so ’n opdrag ontvang nie (Genesis 1:28; 9:1). Die Skrif spoor Christenegpare nie aan om kinders te hê nie en sê ook nie dat hulle nie kinders moet hê nie. Egpare kan self besluit of hulle kinders gaan hê of nie en, as hulle wel beplan om kinders te hê, hoeveel hulle gaan hê en wanneer hulle hulle gaan hê.

’n Godgegewe verantwoordelikheid

Maar het jy opgemerk dat die Wêreldbevolkingskonferensie se verklaring gesê het dat egpare “op ’n verantwoordelike wyse oor die aantal en die spasiëring van hulle kinders” moet besluit? Hierdie beginsel van verantwoordelikheid stem met die Bybel ooreen. Christenouers besef dat, hoewel kinders ’n gawe van God is, ’n groot verantwoordelikheid met die gawe gepaardgaan.

In die eerste plek is daar die verantwoordelikheid om materieel vir jou kinders te sorg. Die Bybel sê: “Iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.”—1 Timotheüs 5:8.

Daar is meer by betrokke om vir ’n mens se gesin te sorg as om hulle net van kos te voorsien en finansieel vir hulle te sorg, hoewel dit op sigself dikwels ’n groot taak is. Verantwoordelike Christenegpare neem die moeder se fisiese gesondheid sowel as haar emosionele, verstandelike en geestelike welstand in ag wanneer hulle die grootte van hulle gesin beplan. Dit verg baie tyd om ’n kind te versorg, en wanneer die een baba na die ander volg, offer moeders dikwels nie net hulle rus, ontspanning, persoonlike ontwikkeling en betrokkenheid by Christelike bedrywighede op nie, maar ook hulle fisiese en geestelike gesondheid.

Verantwoordelike Christenouers neem ook die behoeftes van hulle kinders in ag. The State of the World’s Population 1991 sê: “Kinders in groot gesinne waar die kinders kort na mekaar gebore is, moet met broers en susters om voedsel, klere en ouerliefde meeding. Hulle is ook meer vatbaar vir infeksies. As hierdie kinders hulle kwesbare kinderjare oorleef, sal hulle groei en verstandelike ontwikkeling in alle waarskynlikheid belemmer wees. Hierdie kinders se vooruitsigte as volwassenes lyk glad nie belowend nie.” Dit is natuurlik nie in alle groot gesinne die geval nie, maar dit is iets wat Christenegpare in ag moet neem wanneer hulle besluit hoeveel kinders hulle gaan hê.

Christenouers het ’n verpligting om op geestelike gebied vir hulle kinders te sorg aangesien die Bybel beveel: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—Efesiërs 6:4.

Emeka, ’n Christen wat in Nigerië in die regte onderrig gee, is ’n jaar getroud en is glad nie haastig om met ’n groot gesin te begin nie. “Ek en my vrou het bespreek hoeveel kinders ons gaan hê. Ons het dit oorweeg om vyf te hê, maar het op drie besluit. Later het ons besluit dat twee beter sal wees. Dit is moeilik om kinders volgens Bybelbeginsels groot te maak. Dit is ’n groot verantwoordelikheid.”

Sommige Christenegpare het besluit om geen kinders te hê nie sodat hulle al hulle tyd kan gebruik om God te dien. ’n Sendeling in Afrika wat saam met haar man besluit het om nie kinders te hê nie, het gesê: “Dit voel nie vir my of ek iets ontneem is deur nie kinders te hê nie. Hoewel ek en my man nie die vreugde van ouerskap gesmaak het nie, is ons lewe met ander vreugdes gevul. Omdat ons ander help om Bybelwaarheid te leer, het ons in baie dele van die wêreld geestelike kinders. Ons is lief vir hulle en hulle is lief vir ons. Daar is ’n spesiale band tussen ons. Die apostel Paulus het hom tereg met ’n sogende moeder vergelyk omdat hy tere liefde gehad het vir diegene wat hy geestelik gehelp het.”—1 Thessalonicense 2:7, 8, vgl. NW.

Geboortebeperking

Veroordeel die Bybel geboortebeperking? Nee. Dit is die egpaar se keuse. As ’n egpaar besluit om geboortebeperking toe te pas, is hulle keuse van voorbehoedmiddels ’n persoonlike saak. Maar die geboortebeperkingsmetode waarop ’n Christenegpaar besluit, moet toon dat hulle die heiligheid van lewe respekteer. Aangesien die Bybel toon dat ’n mens se lewe met bevrugting begin, sal Christene voorbehoedmetodes vermy wat die ontwikkelende kind aborteer, of sy lewe beëindig.—Psalm 139:16, NW; vergelyk Exodus 21:22, 23, NW; Jeremia 1:5.

Egpare kan dus met reg verskillende keuses maak wanneer dit by gesinsbeplanning kom. Party wil moontlik die aantal kinders beperk wat hulle gaan hê. Ander, wat die een of ander voorbehoedmetode gebruik, besluit moontlik om glad nie kinders te hê nie. Daar is baie geboortebeperkingsmetodes beskikbaar en elkeen het sy voor- en nadele. Wanneer ’n egpaar besluit wat die beste metode vir hulle is, moet hulle onthou dat party metodes baie doeltreffender as ander is. Hulle moet ook navraag doen oor moontlike newe-effekte. Dokters en gesinsbeplanningsklinieke is toegerus om raad te gee oor geboortebeperkingsmetodes en om egpare die metode te help kies wat die beste in hulle behoeftes sal voorsien.

’n Egpaar se besluit om baie, min of geen kinders te hê nie, is ’n persoonlike besluit. Dit is ook ’n belangrike besluit met verreikende gevolge. Dit sal verstandig wees as egpare die saak sorgvuldig en biddend oorweeg.

[Venster op bladsy 8, 9]

Algemene geboortebeperkingsmetodes

Sterilisasie

Van mans: ’n Eenvoudige chirurgiese prosedure waardeur ’n snytjie in die skrotum gemaak word en die spermadraende buise gesny word.

Van vroue: ’n Chirurgiese prosedure waartydens die Fallopius-buise gebind of gesny word om te verhinder dat die eier die baarmoeder binnegaan.

Voordele: Sterilisasie is die doeltreffendste van al die geboortebeperkingsmetodes.

Nadele: Dit kan permanent wees. In mans sowel as vroue is vrugbaarheid al deur operasies herstel, maar dit kan nie gewaarborg word nie.a

Geboortebeperkingspille

Hulle sluit die progestienminipil in. Hulle werk deur ’n vrou se normale hormoonvlakke te verander sodat die eier nie ryp kan word en vrygestel kan word nie.b

Voordele: Hoogs doeltreffend om swangerskap te voorkom.

Nadele: Het fisiese newe-effekte, maar hulle kom minder dikwels by gesonde nie-rokers onder 40 voor.

Diafragma en spermadoder

Die diafragma is ’n koepelvormige rubberdop wat oor ’n buigsame rand pas. Nadat die spermadodende jellie of room (spermadoder) in die dop gesmeer is, word die dop in die vagina gesit sodat dit oor die serviks pas.

Voordele: ’n Veilige, redelik betroubare geboortebeperkingsmetode wanneer dit reg gebruik word.

Nadele: Moet gebruik word elke keer wanneer ’n egpaar geslagsomgang het. Dit verg kundigheid om die toestel behoorlik in te sit, en dit moet voor geslagsomgang ingesit word en moet ses tot agt uur daarna inbly.

Servikale mus

’n Dopagtige plastiek- of rubbertoestel wat kleiner as die diafragma is. Dit word, soos die diafragma, oor die serviks gesit, maar dit pas knusser en vereis minder spermadodende room of jellie.

Voordele: Die mus kan met die diafragma vergelyk word wat doeltreffendheid betref, en dit kan 48 uur lank in posisie bly. Spermadoder hoef nie by herhaalde geslagsomgang aangewend te word nie.

Nadele: Dit is moeiliker om in te sit as die diafragma, en die posisie daarvan oor die serviks moet voor en ná elke geslagsdaad nagegaan word. Infeksies van die baarmoeder of serviks is moontlike gevare. Die mus moet net gebruik word deur vroue wie se Pap-smere normaal is.

Spons

’n Poliuretaanspons wat spermadoder bevat en wat in die vagina geplaas word om oor die serviks te pas om sodoende ’n fisiese en chemiese versperring vir sperma te vorm. Dit word ná gebruik weggegooi.

Voordele: Die spons kan tot 24 uur lank in posisie gelaat word en is doeltreffend as geslagsomgang gedurende daardie tyd herhaal word.

Nadele: Party allergiese reaksies en ’n paar gevalle van toksieseskok-sindroom is aangemeld.

Die intra-uterientoestel

Hierdie metaal- of plastiektoestel, wat ook die IUT, lus of veer genoem word, word in die baarmoeder geplaas. Hoewel daar onsekerheid bestaan oor hoe dit presies werk, glo dokters dat dit vrugbaarheid op verskeie maniere voorkom. Een van hierdie maniere is waarskynlik om te voorkom dat die bevrugte eier hom aan die baarmoederwand vasheg.

Voordele: ’n Betroubare geboortebeperkingsmetode.

Nadele: Veroorsaak soms bloeding of pyn en kan soms op ’n vrugafdrywende manier werk.c

Kondome

’n Skede wat oor die penis pas om te verhinder dat saad die vagina binnegaan.

Voordele: ’n Veilige, doeltreffende geboortebeperkingsmetode. Dit verminder die kanse dat seksueel oordraagbare siektes, met inbegrip van vigs, oorgedra word.

Nadele: Sommige hou nie daarvan nie omdat die gebruik daarvan vereis dat die geslagsdaad onderbreek word.

Onttrekking

Onttrekking van die penis aan die vagina net voor saaduitstorting.

Voordele: Verg geen geldbesteding, voorbereiding of bykomende toestel nie.

Nadele: Dit is nie seksueel bevredigend nie, verg groot selfbeheersing en is baie onbetroubaar.

Ritmemetode

Egpare onthou hulle van geslagsomgang gedurende die dae in die vrou se menstruasiesiklus waarop sy die vrugbaarste is.

Voordele: Veilig, geen skadelike newe-effekte nie en geen voorsorg is by geslagsgemeenskap nodig nie.

Nadele: Nie ’n baie suksesvolle metode om swangerskap te voorkom nie tensy die egpaar baie gemotiveerd is en nougeset by die instruksies vir hierdie metode bly.

Hormooninplanting

Dit is die nuutste geboortebeperkingsmetode, ’n reeks klein silikonsilindertjies wat onder die vel in ’n vrou se arm ingeplant word. Dit stel tot vyf jaar lank voortdurend ’n baie klein hoeveelheid van ’n hormoon in die bloedstroom vry. Gedurende hierdie tyd sal sy nie swanger raak nie.

Voordele: Baie doeltreffend. Vrugbaarheid kan herstel word deur die inplanting te verwyder.

Nadele: Minimaal. Soortgelyk aan die progestien-geboortebeperkingspil (minipil). Wanneer progestieninplantings gebruik word, word swangerskap moontlik op ’n vrugafdrywende manier voorkom.d

[Voetnote]

a Die Wagtoring van 1 Mei 1985, bladsy 31, bespreek of sterilisasie met Christelike beginsels strook.

b ’n Bespreking van hoe geboortebeperkingspille swangerskap voorkom, word in Die Wagtoring van 15 Junie 1989, bladsy 29, gevind.

c Die vraag of die IUT met Christelike beginsels strook, word in Die Wagtoring van 15 Augustus 1979, bladsye 23-4, bespreek.

d ’n Bespreking van hoe geboortebeperkingspille swangerskap voorkom, word in Die Wagtoring van 15 Junie 1989, bladsy 29, gevind.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel