Die wêreldbevolkingsaanwas—’n lewensbelangrike vraagstuk
“DIE vyfmiljardste baba.” Dit is wat die Chinese regering Wang He, ’n babadogtertjie wat om middernag, 11 Julie 1987, in ’n hospitaal in Beijing gebore is, genoem het. Niemand weet of daardie baba die totale wêreldbevolking destyds werklik op 5 000 000 000 gebring het nie. Sy is nietemin op presies daardie oomblik gebore wat die Verenigde Nasies gesê het die wêreld se bevolking daardie getal sou bereik. Die Chinese regering het bloot hierdie gebeurtenis gebruik om die ernstige vraagstuk van die bevolkingsaanwas wat China en die wêreld in die gesig staar, te dramatiseer.
Statistiek toon dat die aantal mense op aarde teen ’n tempo toeneem wat sommige kenners verontrus. Die aarde se bevolking sal teen die huidige groeikoers in slegs sowat 40 jaar verdubbel. Kenners deel ons mee dat die hoeveelheid voedsel wat nodig is om die wêreld se bevolking te voed wat teen daardie tempo toeneem die produksie gou sal oorskry, en die gevolg sal wêreldwye hongersnood wees. Aangesien die wêreld se voorraad natuurlike hulpbronne boonop beperk is, sal hulle soveel gouer deur ’n groeiende bevolking uitgeput word, en dit kan net ’n wêreldwye ramp tot gevolg hê. Die kenners sê as die tekort aan voedsel en hulpbronne nie op ons ondergang uitloop nie, sal die skade wat ons aan die omgewing aanrig dit beslis doen. Ons versmoor onsself letterlik deur wat ons aan die lug, water en grond doen, en ’n groter bevolking sal dit net vinniger laat gebeur. Dit lyk beslis of ons op ’n ramp afstuur.
Maar wat kan daaromtrent gedoen word? Daar is baie opvattings oor die saak. Sommige meen dat die welstand van alle mense bedreig sal word as ingrypende stappe nie gedoen word om die bevolkingsaanwas te verminder nie. Ander meen dat nuwe maniere gevind sal word om die probleme ten opsigte van voedsel, hulpbronne, besoedeling en alles wat daarmee gepaardgaan, baas te raak, net soos dit in die verlede die geval was. Nog ander dink dat die bevolkingsyfer uiteindelik sal stabiliseer, en dat daar dus geen rede is om vreeslik bekommerd daaroor te wees nie. Trouens, daar is besliste menings oor byna elke aspek van die onderwerp. Dit is duidelik dat die wêreldbevolkingsaanwas ’n omstrede en lewensbelangrike vraagstuk is.
Dit is egter noemenswaardig dat dit gewoonlik juis dié mense is wat in lande woon wat nog taamlik ruim en welvarend is wat hulle die kragtigste oor die komende ramp uitspreek. Hulle spreek hulle vrese uit omdat hulle besef dat hulle lewenstandaard of toekomstige welstand bedreig word. Maar wat van diegene wat in die armer, onderontwikkelde en oorbevolkte lande woon? Hoe voel hulle oor die bevolkingsvraagstuk? Watter soort lewe lei mense in die oorvol dele van die wêreld?
Ontwaak! neem jou na sommige van die digs bevolkte plekke ter wêreld om jou ’n eerstehandse kykie te gee in die lewe van diegene wat met die druk van die bevolkingsontploffing te kampe het en om jou te help om sommige van die vraagstukke te verstaan wat daarby betrokke is.