VRAE VAN LESERS
Na watter twee verbonde het die apostel Paulus verwys in Galasiërs 4:24?
Nadat die apostel Paulus na Abraham se verhouding met Sara en met Hagar verwys het, het hy gesê: “Hierdie dinge kan as ’n simboliese drama verstaan word, want hierdie vrouens beteken twee verbonde” (Gal. 4:22-24). Ons het voorheen verstaan dat die twee verbonde die Wetsverbond en die nuwe verbond is. Maar ná verdere ondersoek, voel ons dat ’n aanpassing nodig is. Dit lyk asof Paulus nie na die nuwe verbond verwys het nie, maar na die Abrahamitiese verbond. Kyk na ’n paar redes.a
Paulus het die diensmeisie Hagar met die berg Sinai verbind (Gal. 4:25). Hagar het die Wetsverbond beteken wat in 1513 VHJ by die berg Sinai gegee is (Eks. 19:5, 6). Geen onvolmaakte mens kon daardie Wet volmaak gehoorsaam nie, so dit het die Jode daaraan herinner dat hulle slawe van sonde is. Hierdie verbond kon die nasie Israel help om die Messias te identifiseer, die enigste mens wat die Wet volmaak sou kon gehoorsaam. Toe die Messias sy volmaakte lewe opgeoffer het, het hy dit vir onvolmaakte mense moontlik gemaak om van sonde en die dood bevry te word (Gal. 3:19, 24, 25). Nadat Jesus God se doel vervul het, was die Wet nie meer nodig nie. – Rom. 10:4.
Paulus het Hagar vergelyk met Sara, “die vrou wat vry was,” wat “deur ’n belofte” geboorte gegee het (Gal. 4:23). Daardie belofte was die Abrahamitiese verbond (Gal. 3:29; 4:28, 30). Dit word in Genesis 22:18 opgesom: “Deur middel van jou [Abraham se] nageslag sal al die nasies van die aarde ’n seën vir hulleself verkry omdat jy na my stem geluister het.”
Daardie verbond wat met Abraham gemaak is, het bygedra tot die belofte wat Jehovah in Eden gemaak het (Gen. 3:15). Dit het geopenbaar dat die voorspelde “nageslag” ’n nakomeling van Abraham sou wees. Paulus het verduidelik dat hierdie “nageslag” hoofsaaklik na Jesus Christus verwys. Maar dié wat “aan Christus behoort,” die 144 000 erfgename wat saam met Jesus in sy Koninkryk sal regeer, word by hierdie figuurlike nageslag ingesluit (Gal. 3:16, 29; Op. 14:1-3). Die vervulling van God se belofte aan Abraham sal baie seëninge bring vir dié wat Jesus aanvaar en gehoorsaam.
Hoekom het Paulus hierdie “simboliese drama” gebruik? Hy het gewys dat die Jode van sy dag, soos Hagar, slawe sou bly as hulle daarop aangedring het om die Wet te gehoorsaam. Maar as hulle die belangrikste “nageslag” van Abraham, Jesus Christus, aanvaar het, sou hulle, soos Sara, vry wees. Hulle sou ware vryheid van sonde en die dood verkry (Joh. 8:32-34). As hulle Jesus nie aanvaar het nie, sou hulle die hoofdoel van die Wetsverbond mis, naamlik om hulle na die Christus te lei.
Baie van die Galasiërs aan wie Paulus geskryf het, was nie-Jode en was nooit onder die Wet nie. Party Judaïseerders het daarop aangedring dat nie-Joodse Christene die Wet moet gehoorsaam, insluitende die vereiste dat hulle besny moet word. Paulus het geredeneer dat dit ’n dwase ding sou wees om te doen. Dit was nie nodig vir hulle om slawe van die Wet te wees nie, want hulle was alreeds vry omdat hulle Christus aanvaar het. – Gal. 5:1, 10-14.
a Dit is ’n regstelling van wat in Die Wagtoring van 15 Maart 2006, bl. 10-12, gepubliseer is.