LEWENSVERHAAL
Ek dien Jehovah al omtrent 70 jaar lank in Kuba
EK IS in 1947 gebore op die pragtige Karibiese eiland Kuba. Dit is geleë waar die Karibiese See en die Atlantiese Oseaan ontmoet. Nadat ek gebore is, het my ouers my twee jonger susters gehad. Ons vyf het in die dorpie Esmeralda gebly.
Ek onthou dat die lewe in ons dorpie vreedsaam was. Ons het naby party van ons familielede gebly, insluitende tannies, ooms en grootouers. Ons het genoeg gehad om te eet en het ’n gelukkige lewe gehad.
Toe ek omtrent vyf jaar oud was, het my ouers die Bybel saam met Walton Jones begin studeer. Hy was ’n ywerige evangelieprediker wat omtrent tien uur lank geloop het net om by ons dorpie uit te kom. Elke keer dat hy gekom het, het baie in my familie ure lank by my oupa en ouma se huis bymekaargekom om met hom oor die Bybel te praat. My ouers, saam met my oom Pedro en tannie Ela, het geniet wat hulle geleer het en is kort daarna as Jehovah se Getuies gedoop. Ela is amper 100 jaar oud en dien nog steeds as ’n pionier in Kuba.
Op daardie stadium kon Jehovah se Getuies vryelik in Kuba aanbid. Ons was goed bekend daarvoor om van huis tot huis te preek en om tasse en handsakke vol waardevolle Bybellektuur te dra. En ons het baie gestap! Ek het goeie herinneringe van hoe ons Jehovah gedurende daardie “goeie tye” van my vroeë lewe gedien het. Maar “moeilike tye” het voorgelê. – 2 Tim. 4:2.
MOEILIKE TYE BEGIN
Toe ek omtrent vyf jaar oud was, het my pa en my oom na ’n ander deel van die eiland gereis om ’n byeenkoms by te woon. Ongelukkig het hulle albei gedurende daardie reis buiktifus gekry as gevolg van besoedelde water. Ek kan onthou dat my oom, nadat hulle teruggekeer het, sy hare verloor het maar oorleef het. Maar my pa het gesterf. Hy was net 32 jaar oud.
Nadat my pa gesterf het, het my ma besluit dat ons gesin by haar broer wat in die dorpie Lombillo gebly het, moet intrek. Dit het beteken dat ons ons familielede, insluitende ons grootouers, vir wie ons baie lief was, moes verlaat. Maar ons het aangehou om Jehovah as ’n gesin te aanbid.
Op 2 6 Augustus 1957 is ek in ’n reservoir naby Lombillo gedoop. Ek was tien jaar oud. Min het ek geweet dat die lewe in minder as twee jaar drasties vir Jehovah se Getuies in Kuba sou verander. In 1959 is die regering omvergewerp en ’n kommunistiese regime het oorgeneem.
Ons was nou onder ’n regering wat baie klem gelê het op militêre diens. Dit het Jehovah se volk geaffekteer, wat in alle lande neutraal bly in politieke en militêre kwessies. As gevolg daarvan het ons geleidelik die aansienlike godsdiensvryheid verloor wat ons vir ’n lang tyd geniet het. Die regering het uiteindelik ons Christelike aktiwiteite verbied, en honderde getroue broers is tronk toe gestuur. Party is dikwels geslaan en nie genoeg kos gegee nie. Soms het die kos wat hulle gekry het, bloed bevat, wat die Bybel ons verbied om te eet.
Ten spyte van die uitdagings het ons aangehou om bymekaar te kom om Jehovah te aanbid (Heb. 10:25). Ons het selfs byeenkomste op plase of op ander plekke regoor die land gehou. Ek onthou dat ’n broer ons eenkeer toegelaat het om sy groot skaapskuur vir die byeenkoms te gebruik. Ons kon nie die skuur voor die tyd skoonmaak of eers die skape verwyder nie. Maar ons het die byeenkoms gehou en het letterlike en figuurlike skape bymekaar laat kom! – Miga 2:12.
Ons het die harde werk van die broers wat ons gehelp het om in daardie dae geestelik gevoed te word, waardeer. Byvoorbeeld, byeenkomsprogramme is vooraf op kassette opgeneem en toe regoor die land gesirkuleer. Soms is net twee broers aangewys om al die toesprake op ’n program voor te berei, te gee en op te neem. Omdat die broers die opnames op geheime plekke gedoen het, het ons soms hane en ander interessante geluide in die agtergrond gehoor. As die byeenkomsplek nie elektrisiteit gehad het nie, het ’n broer op ’n stilstaande fiets met ’n dinamo getrap om die nodige elektrisiteit op te wek. Op daardie manier het die kassetspeler elektrisiteit gehad en kon ons die program hoor. Ons het dalk nie ideale omstandighede of die hoeveelheid gedrukte publikasies gehad wat ons broers en susters in ander lande gehad het nie, maar ons het nooit ’n tekort aan geestelike voedsel gehad nie. En ons het dit beslis geniet om Jehovah saam te dien. – Neh. 8:10.
ONS WORD PIONIERS EN OUERS
Toe ek 18 was, het ek as ’n gewone pionier in die dorp Florida begin dien. Omtrent ’n jaar later is ek aangestel as ’n spesiale pionier in die stad Camagüey, die provinsiale hoofstad. Dit is waar ek Emilia, ’n pragtige Getuiesuster van Santiago de Cuba, ontmoet het. Ons het begin uitgaan, en binne ’n jaar het ons getrou.
(Links) Koninkryksbedieningskool vir ouermanne – Camagüey, Kuba, 1966
(Regs) Op ons troudag, 1967
Ek het voltyds begin werk in een van die regering se baie suikermeule. Ek en Emilia kon nie meer as pioniers dien nie; maar ons wou nog steeds soveel tyd as wat ons kon, aan geestelike aktiwiteite toewy. Ek het gereël om die skof van 3:00 vm. tot 11:00 vm. by die meul te werk. Ek het nie daarvan gehou om so vroeg wakker te word nie, maar die rooster het my in staat gestel om aktief in die bediening te bly en om al die vergaderinge saam met Emilia by te woon.
In 1969 is ons eerste seun, Gustavo, gebore. Om en by daardie tyd het die broers wat die leiding geneem het, my gevra om as ’n kringopsiener te dien. In daardie tyd was dit algemeen vir kringopsieners in Kuba om kinders te hê. Dit was die begin van een van die gelukkigste maar besigste hoofstukke in ons lewe. Ek en Emilia het bevoorreg gevoel om hierdie geleentheid te hê om ons broers en susters op hierdie manier te dien. Gedurende daardie tyd in die kringwerk is ons seun Obed gebore, toe Abner, en ná ’n paar jaar ons dogter, Mahely.
Wanneer ek terugkyk op die jare wat ons in die kringwerk spandeer het, maak dit my bly om te sien hoe Jehovah sy volk in Kuba geseën het. En hy het beslis ons pogings as ouers geseën om ons kinders te leer om hom ook lief te hê. Kom ek verduidelik hoe die lewe in daardie dae vir my en Emilia was toe ons kringwerk gedoen het.
DIE KRINGWERK ONDER ’N VERBOD
In die 60’s en die 70’s het ons regtig die uitwerking van die verbod op ons werk begin voel. Koninkryksale is toegemaak. Ons sendelinge is uit die land gesit. Baie jong broers is gearresteer en tronk toe gestuur. En die takkantoor in Havana is toegemaak.
Kringwerk, 1990’s
As gevolg van die verbod kon ons gemeentes net oor naweke besoek. So elke gemeente is een naweek besoek en dan weer die volgende naweek. Ons het lig gereis en dikwels ’n fiets gebruik omdat dit die minste aandag sou trek terwyl ons gereis het. Ons besoeke is natuurlik nie in die openbaar aangekondig nie. Ons moes dit laat lyk asof ons familielede besoek. Dit was nogal maklik om te doen. Om die waarheid te sê, ons het so baie soos familie gevoel dat ons versigtig moes wees om nie te vergeet dat ons besoek ’n geestelike doel het nie (Mark. 10:29, 30). Maar ons moes baie versigtig wees. Ons is dikwels deur die polisie agtervolg en ondervra. Ons gashere kon gearresteer word as ons ontdek is. – Rom. 16:4.
Gedurende hierdie tyd het ons baie broers en susters ontmoet wat merkwaardige vrygewigheid aan ons betoon het, al het hulle materieel min gehad. Dit het gelyk asof daar in party plekke meer muskiete was as mense, maar die broers daar het liefdevol vir ons hulle enigste muskietnet gegee sodat ons in die aand gemakliker kon slaap. Ander het ons by hulle laat bly, al het hulle baie min kos gehad om te deel. Om die waarheid te sê, ons het soms ons eie kos gebring om met die gashere te deel.
Ons kon nie al ons kinders saam met ons bring wanneer ons gemeentes besoek het nie. So ons het net met een kind gereis terwyl my ma en my suster vir die ander by die huis gesorg het. Dit het eintlik as ’n beskerming gedien om met ’n baba te reis. Soms het die polisie ons deursoek, maar ons het lektuur in die sak met vuil doeke weggesteek – ’n plek waar die polisie nie gesoek het nie.
Ek bewonder Emilia so baie vir alles wat sy gedoen het om vir die kinders te sorg terwyl sy my gedurende ons jare in die voltydse diens ondersteun het. Wat my betref, ek kon my sekulêre werk by die meul met my verantwoordelikhede as ’n kringopsiener balanseer. Hoe? Soms het ek een of twee keer ’n week ’n dubbelskof gewerk sodat ek die naweek kon af hê. Maar later het my werksaanwysing verander. Ek het ’n spanleier geword en moes sewe dae ’n week werk. Ek kon nie hierdie rooster weier nie. Maar ek het ontdek dat my span, solank ek hulle genoeg werk gegee het om oor die naweek besig te bly, die werk vir my sou doen terwyl ek gemeentes besoek het. Sover ek weet, het my base nooit agtergekom dat ek nie oor naweke by die werk opgedaag het nie!
ONS BLY VREUGDEVOL GEDURENDE TYE VAN VERANDERING
Eerste openbare byeenkoms ná die verbod, 1994
Op ’n dag in 1994 het die broers wat die leiding in Kuba geneem het, vir al 80 reisende opsieners gesê om na ’n spesiale vergadering in Havana te kom. Ons was so bly om mekaar uiteindelik ná al daardie jare te ontmoet! By daardie vergadering het ons eers ’n paar organisatoriese veranderinge bespreek. Toe was daar ’n skokkende aankondiging. Die broers het vir ons gesê dat hulle beplan om ons name vir die owerheid te gee! Hoekom sou hulle dit doen?
Hulle het verduidelik dat hulle vergaderinge met die regeringsamptenare gehad het met die doel om die verhouding tussen die regering en Jehovah se Getuies te verbeter. Die owerheid het ’n lys met al die name van die kringopsieners gevra. Ons almal het ingestem om ons name te gee. Van toe af het die besprekings met die owerheid goeie resultate opgelewer.
Ons kon uiteindelik openlik bymekaarkom en preek, al was ons nog nie wettig geregistreer as ’n godsdiens nie. Ons het later uitgevind dat die owerheid alreeds geweet het wat die name van party van die reisende opsieners is maar wou hê dat ons moes bevestig wat hulle het.
In September 1994 is ons toestemming gegee om weer ’n takkantoor oop te maak. Dit het so uitgewerk dat ons die einste gebou kon gebruik wat 20 jaar vroeër toegemaak is.
Toe in 1996 het ek en Emilia ’n oproep van Bethel gekry waarin hulle ons genooi het om daar te dien. Nadat ons oor die aanvanklike skok gekom het, het ek die broers daaraan herinner dat ek nog twee kinders by die huis het, wat my prioriteit was. Die broers het my situasie liefdevol oorweeg en later bevestig dat hulle nog steeds wou hê dat ons by Bethel moet dien. Ons het die uitnodiging aanvaar en planne begin maak om as ’n gesin na Havana te trek.
(Links) Emilia in die Naaldwerkafdeling by die takkantoor in Kuba, vroeë 2000’s
(Regs) Toewyding van ’n Byeenkomssaal, 2012
Om eerlik te wees, aan die begin het ek nie Betheldiens geniet nie. Ek het so baie jare in die reisende werk spandeer dat my verstand en hart in die veld was. Ek het gesukkel om agter ’n lessenaar te sit. Maar my mede-Betheliete en veral my vrou, Emilia, het my gehelp om my beskouing aan te pas. Met verloop van tyd het ek my vreugde teruggekry, en nou is ek gelukkig in my Betheldiens.
(Links) Bybelskool vir Christenegpare-graduering, 2013
(Regs) Takkomitee in Kuba, 2013
By ’n kringbyeenkoms saam met ons dogter en haar man
Ek en Emilia is nie meer jonk nie. Maar ons loop oor van vreugde wanneer ons dink aan al die broers en susters wat ons oor die jare heen leer ken het en met wie ons gedien het. Ons is veral bly om te sien hoe ons kinders, sowel as ons kleinkinders, Jehovah dien. Ons voel nes die bejaarde apostel Johannes, wat gesê het: “Niks gee my groter vreugde as wanneer ek hoor dat my kinders voortgaan om die weg van die waarheid te volg nie.” – 3 Joh. 4.
Nou nadat ek en Emilia amper 30 jaar lank by Bethel dien, doen ons ons bes om ons aanwysings na te kom ten spyte van daaglikse probleme wat ons ondervind as gevolg van kanker en die ouderdom. Gedurende ons jare in Jehovah se diens het ons ’n paar uitdagings gehad, maar ons is bly dat ons “die gelukkige God” al amper 70 jaar lank hier op die eiland Kuba kon dien! – 1 Tim. 1:11; Ps. 97:1.