Vrae van lesers
▪ Hoe was Jerusalem “met haar kinders saam in slawerny”, soos die apostel Paulus in Galasiërs 4:25 geskryf het?
Jerusalem en haar volk was in Paulus se dag allereers in slawerny aan die Mosaïese Wet.
In Galasiërs hoofstuk 4 het die apostel getoon dat Christene in die nuwe verbond deur Christus gekoop en dus vry is. Dit is in teenstelling met die situasie van die Jode onder die Wetsverbond. Paulus het dit toegelig met Abraham se vrou (Sara) en sy byvrou (Hagar) en gesê: “Die vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar—dit is Hagar; want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië [waar Jehovah vir Israel die Wet deur Moses gegee het] en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.”—Galasiërs 4:24-26.
Toe Paulus gesê het dat ‘die vroue vir twee verbonde staan’, het hy eenvoudig in verkorte styl gepraat. Jehovah is nie sinnebeeldig getroud met ’n onpersoonlike verbond nie, maar met ’n georganiseerde volk in die verbond. Hy het Israel onder die Wetsverbond vroeër soos sy vrou beskou. (Vergelyk Jesaja 54:1, 6.) Die vry vrou (Sara) het egter die Jerusalem daarbo, Jehovah se universele organisasie, wat soos ’n vrou vir hom is, afgebeeld.
Maar hoe kan daar gesê word dat die Jode in slawerny aan die Wet is, aangesien dit volmaak was en deur God self voorsien is?
Dit is weliswaar so dat die wet self ‘heilig en die gebod heilig en regverdig en goed was’ (Romeine 7:12). Maar die onvolmaakte Israeliete onder die Wet kon dit nie volmaak hou nie, al het hulle ook hoe hard probeer (Romeine 7:14-16). Die apostel Petrus het na daardie feit verwys toe hy die volgende vraag voor die Christelike bestuursliggaam gestel het: “Waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ’n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (Handelinge 15:10). In Galasiërs 4:4, 5 het Paulus eweneens gesê dat Christus gekom het “om die wat onder die wet was, los te koop”. Enigiemand wat daarop sou aandring dat Christene verplig is om ‘dae en maande en tye en jare waar te neem’, soos voorgeskryf deur die Wet, sal weer van vooraf slawerny veroorsaak.—Galasiërs 4: 9, 10.
Soos getoon op bladsy 13 van Die Wagtoring van 15 Maart 1985, was die eerste-eeuse Jode natuurlik in ’n aantal opsigte slawe. Hulle was op politieke gebied in diensbaarheid aan die Romeine. Hulle was in slawerny aan die sonde (Johannes 8:34). En hulle was gebonde aan verkeerde godsdiensbeskouings. Maar die vernaamste slawerny waarvan Paulus in Galasiërs 4:25 gepraat het, was die Jode se slawerny aan die Mosaïese Wetsverbond, wat by Sinai gegee en deur Abraham se byvrou, die slavin Hagar, afgebeeld is.