’n Opwindende en vars benadering tot die openbare getuieniswerk
1. Wat is gemeentes met gebiede waar daar baie voetgangers is, aangespoor om te doen?
1 Gemeentes met gebiede waar daar baie voetgangers is, is aangespoor om openbare getuieniswerk met behulp van tafels en lektuurstaanders te reël. As ’n lektuurstaander gebruik word, moet ten minste een verkondiger langs die staander staan of sit. Maar as ’n tafel gebruik word, moet daar twee verkondigers wees. Diegene by die lektuuruitstalling moet vriendelik en toeganklik probeer wees. As iemand in die lektuuruitstalling belangstelling toon, kan een van die verkondigers ’n gesprek begin, miskien deur te sê: “Het jy al gewonder wat die Bybel oor daardie onderwerp sê?” Nog een of twee verkondigers kan in sig van die uitstalling staan en informele getuieniswerk doen.
2. Vertel ’n ondervinding wat toon hoe doeltreffend openbare getuieniswerk met ’n lektuuruitstalling is.
2 Hierdie benadering het baie nuwe Bybelstudies tot gevolg gehad. ’n Kollegestudent het besluit om ’n navorsingstuk oor Jehovah se Getuies te skryf, maar sy kon nie ’n Koninkryksaal vind nie. Die volgende week het sy ’n lektuuruitstalling op die kampus gesien. ’n Bybelstudie is met hierdie student begin, en nou is sy ’n gedoopte verkondiger en neem sy self aan hierdie vorm van getuieniswerk deel.
3. Hoe voel party oor hierdie vorm van openbare getuieniswerk?
3 ’n Suster wat hierdie vorm van openbare getuieniswerk geniet, het gesê: “Party stop by die uitstalling om die nuutste tydskrifte te kry. Ander het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie. Ek kan sien dat baie mense deur hierdie benadering bereik kan word.” Nog ’n suster het gesê: “Dis ’n opwindende, vars manier om getuieniswerk te doen, want die mense kom na jou toe, en indien niks anders nie, is hulle ten minste nuuskierig.”
4. Waarom is dit voordelig om ’n lektuuruitstalling elke week op dieselfde tye en plek op te stel?
4 Dit is voordelig om die lektuuruitstalling elke week op dieselfde plek, op dieselfde dae en op dieselfde tye op te stel. Dan raak mense daaraan gewoond om die uitstalling te sien en voel hulle uiteindelik op hulle gemak om nader te kom en vrae te vra of lektuur te neem. Het julle gemeente openbare getuieniswerk gereël? Indien wel, kan jy gerus deelneem aan hierdie genotvolle en doeltreffende manier om “die koninkryk van God alom bekend” te maak.—Luk. 9:60.