Nuwe inisiatiewe vir openbare getuieniswerk
1. Watter voorbeeld het eerste-eeuse Christene gestel?
1 Eerste-eeuse Christene het nie net van huis tot huis gepreek nie. Hulle het ook in die openbaar gepreek (Hand. 20:20). Hulle het byvoorbeeld na die tempel gegaan, waar hulle geweet het baie mense gevind kon word (Hand. 5:42). Toe die apostel Paulus in Atene was, het hy elke dag gepreek vir dié wat op die markplein was (Hand. 17:17). Vandag is die huis-tot-huis-bediening nog steeds ons vernaamste manier om die goeie nuus te verkondig. Maar ons gaan ook na parkeerterreine, besighede, parke, besige deurgange en ander plekke om vir mense te preek waar hulle ook al gevind kan word. Hoewel elke verkondiger aangespoor word om waar moontlik aan openbare getuieniswerk deel te neem, sal baie die geleentheid kry om aan twee opwindende nuwe inisiatiewe vir openbare getuieniswerk deel te neem.
2. Watter proefprogram het in November 2011 begin?
2 Spesiale program vir openbare getuieniswerk in stede: Soos op bladsye 16 en 17 van die Jaarboek vir 2013 berig word, is daar in November 2011 ’n proefprogram begin vir openbare getuieniswerk in die stad New York. Tafels en waentjies met aantreklike uitstallings en lektuur in verskeie tale is in dele van die stad opgestel waar daar baie voetgangerverkeer is. Elke dag het duisende mense verbygestap, insluitende baie wat in hoësekuriteitswoonstelle woon of wat dikwels weg van die huis af is. Die reaksie was oorweldigend. In net een onlangse maand is 3 797 tydskrifte en 7 986 boeke versprei. Baie verbygangers het ’n Bybelstudie aangevra. Aangesien die program daarop gemik was om Bybelstudies te begin, is die adresse van belangstellendes onmiddellik na die gepaste gemeente aangestuur sodat die belangstelling verder gekweek kon word.
3. Hoe word hierdie inisiatief wêreldwyd geïmplementeer?
3 Aangesien die proefprogram ’n sukses was, word soortgelyke programme nou in ander digbevolkte gebiede van groot stede regoor die wêreld geïmplementeer. Die plaaslike takkantoor sal besluit watter stede ingesluit sal word. Dit is gewoonlik stede met groot vervoersentrums of baie kantoorgeboue of woonstelgeboue waar daar baie voetgangerverkeer is. Daarna sal die takkantoor in verbinding tree met die gemeentes wat aan die inisiatief sal deelneem en hulle van bykomende instruksies voorsien. Gewone en spesiale pioniers word meestal gebruik, maar op party plekke het hulppioniers ook ’n aandeel aan die werk.
4. Hoe word spesiale openbare getuieniswerk in stede gedoen?
4 Hoe die getuieniswerk gedoen word: Diegene wat aan spesiale openbare getuieniswerk in stede deelneem, wag gewoonlik vir iemand om na die tafel of lektuurstaander te kom. Dan nooi hulle hom om enige lektuur te neem waarin hy belangstel. Die pioniers beantwoord graag enige vrae met behulp van die Skrif. As hy lektuur neem, maak die pioniers nie melding van die bydraereëling nie. As hy egter vra hoe ons werk gefinansier word, kan hulle aan hom verduidelik dat hy bydraes kan stuur na die adres wat in die lektuur verskyn. Indien moontlik, sal hulle dalk vra: “Wil jy graag hê dat iemand jou by jou huis besoek?” of “Weet jy dat ons ’n gratis Bybelstudie saam met hierdie publikasie aanbied?”
5. Watter bevrediging het hierdie nuwe inisiatief vir ’n egpaar meegebring?
5 Diegene wat aan hierdie inisiatief deelgeneem het, het gevind dat dit baie bevredigend is. Een egpaar het geskryf: “Om by die tafel te staan en te sien hoe duisende mense elke dag verbyloop, het by ons tuisgebring wat ’n ontsaglike werk gedoen word om mense regoor die wêreld te bereik. Om hierdie massas mense te sien en te dink oor hoe Jehovah werklik vir elkeen van hulle omgee, het ons meer vasbeslote gemaak om die predikingswerk die middelpunt van ons lewe te maak. Ons verbeel ons hoe Jehovah die harte lees van dié wat by die tafel verbyloop, op soek na verdienstelikes. Ons het besonder na aan ons hemelse medewerkers, die engele, gevoel.”
6. (a) Watter bykomende inisiatief vir openbare getuieniswerk word in baie gemeentes georganiseer, en hoe verskil dit van spesiale openbare getuieniswerk in stede? (b) Hoe kan gemeentes saamwerk wanneer hulle aan openbare getuieniswerk deelneem?
6 Openbare getuieniswerk wat plaaslik georganiseer word: Benewens spesiale openbare getuieniswerk in stede word ’n ander nuwe inisiatief deur baie liggame van ouer manne in hulle plaaslike gebied georganiseer. Onder hierdie reëling gebruik verkondigers ’n tafel of ’n lektuurstaander op ’n besige plek binne die gemeente se gebiedsgrense. Dit verskil van spesiale openbare getuieniswerk in stede, waar verkondigers uit etlike gemeentes gebruik word om te preek in dieselfde besige stadsgebiede wat deur die takkantoor uitgekies is.—Sien die venster “Goeie samewerking is nodig”.
7. Hoe sal die ouer manne reëlings tref vir plaaslike openbare getuieniswerk, indien dit prakties is?
7 Die ouer manne sal kyk of daar plekke in die gemeente se gebied is waar daar baie voetgangerverkeer is en besluit of dit prakties sal wees om reëlings vir openbare getuieniswerk te tref. Moontlike plekke vir ’n tafel of lektuurstaander sluit in vervoersentrums, openbare pleine, parke, besige strate, groot winkelsentrums, kampusse, lughawens en plekke waar jaarlikse geleenthede plaasvind. Dit is voordelig om die tafel op dieselfde plek te plaas en om op dieselfde dae en tye daar te wees. Daar is al gevind dat ’n tafel by ’n winkelsentrum doeltreffender is as ’n tafel wat buite een groot winkel opgestel is, aangesien mense daar gewoonlik gefokus is op die rede waarom hulle daardie spesifieke winkel besoek. Op party plekke, soos ’n besige sypaadjie, sal ’n kleiner lektuurstaander moontlik meer geskik wees. Ouer manne kan spesiale elektroniese lêers van ons webwerf aflaai waarmee plakkate van Die Wagtoring en Ontwaak! sowel as die Leer Bybel-boek gemaak kan word. Hierdie lêers is voorberei sodat dit spesifiek in hierdie vorm van openbare getuieniswerk gebruik kan word. Diegene wat aan hierdie inisiatief sal deelneem, sal op ’n soortgelyke manier te werk gaan as dié wat aan spesiale openbare getuieniswerk in stede deelneem en moet die riglyne van die diensopsiener noukeurig volg. As hulle ’n adres van ’n belangstellende kry wat nie in hulle gebied woon nie, moet hulle sonder versuim ’n Volg asseblief op-vorm (S-43) invul en dit aan die sekretaris gee.
8. Watter geleenthede is daar dalk om in die openbaar te preek, selfs wanneer daar geen georganiseerde reëlings vir openbare getuieniswerk in die gemeente is nie?
8 Openbare getuieniswerk in jou persoonlike bediening: Party gemeentes het dalk nie ’n geskikte plek in hulle gebied met genoeg voetgangerverkeer wat dit die moeite werd sal maak om ’n tafel of ’n lektuurstaander op te stel nie. Maar selfs verkondigers in sulke gemeentes word aangespoor om te sien hoe hulle openbare getuieniswerk in hulle persoonlike bediening kan insluit. Is daar in julle gebied ’n besige winkel of ’n plek met baie winkels? Is daar ’n park of ’n plek waar mense bymekaarkom? Is daar openbare geleenthede wat van tyd tot tyd in die gebied gehou word? Indien wel, kan julle moontlik nog steeds openbare getuieniswerk doen.
9. Waarom moet ons daarop bedag wees om vir mense te preek waar hulle ook al gevind kan word?
9 Dit is Jehovah se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:4). Ons probeer dus om soveel mense moontlik met die Koninkryksboodskap te bereik voordat die einde kom (Matt. 24:14). Op baie plekke is dit ’n uitdaging om mense tuis te vind. Tog kan ons hulle moontlik op ’n openbare plek bereik wanneer hulle nie by die huis is nie. Openbare getuieniswerk is dalk die enigste manier waarop party mense die geleentheid sal kry om die goeie nuus te hoor. Mag ons dus ons bediening ten volle uitvoer deur vir mense te preek waar hulle ook al gevind kan word.—2 Tim. 4:5.
[Venster op bladsy 5]
Goeie samewerking is nodig
Daar was al gevalle waar verkondigers van naburige gemeentes openbare getuieniswerk in dieselfde straat, in dieselfde parkeerterrein en voor dieselfde besighede of vervoersentrums gedoen het. Verkondigers van verskillende gemeentes het al tydskrifte in dieselfde voorportaal, wagkamer of wassery gelos en by dieselfde sakeondernemings gepreek. Dit het sakemense en inwoners al oorweldig laat voel, selfs wanneer die verkondigers nie terselfdertyd in die gebied preek nie. Dit is oor die algemeen dus beter om in die gemeente se toegewese gebied te bly wanneer openbare getuieniswerk gedoen word.
As verkondigers openbare getuieniswerk in ’n naburige gemeente se gebied wil doen, moet hulle met hulle diensopsiener praat. Hy kan dan met die diensopsiener van die ander gemeente in aanraking kom om toestemming te kry voordat die verkondigers voortgaan. Waar anderstalige gemeentes toegewys word om in dieselfde gebied te preek, moet die diensopsieners met mekaar kommunikeer sodat mense in die gebied nie onnodig geïrriteer word nie. Deur middel van goeie samewerking kan alles “welvoeglik en volgens reëling geskied”.—1 Kor. 14:40.
[Prent op bladsy 6]
[Prent op bladsy 6]