‘Wees gereed vir elke goeie werk’
1 Toe Jesus met ’n nuwe predikingsveldtog begin het, het hy tyd geneem om sy dissipels voor te berei (Matt. 10:5-14). Hoewel ons almal besig is, sal dit ons help om goeie resultate te verkry as ons selfs net ’n paar minute neem om voor te berei voordat ons aan die deur-tot-deur-bediening deelneem.—2 Kor. 9:6.
2 Hoe om voor te berei: Goeie voorbereiding vereis dat ons eers vertroud raak met die lektuur wat ons beplan om aan te bied. Ons moet ook dink aan die mense in ons gebied. Wat kwel hulle? Watter godsdiensopvattings sal ons waarskynlik teëkom? Ons kan die voorgestelde aanbiedings in Ons Koninkryksbediening en Redenering uit die Skrif vir idees raadpleeg.
3 Dit sal ons ook help as ons aandagtig luister na die demonstrasies wat gedurende die Diensvergadering gehou word. Hoe meer ons ons aanbieding gebruik, hoe minder tyd sal ons nodig hê om voor te berei. Maar as ons elke keer voordat ons in die bediening uitgaan, dink aan wat ons gaan sê en ons aanbieding verder verfyn, sal ons meer sukses behaal. Ons moet ook ’n oomblik neem om te kyk of ons alles in ons velddienssak het wat ons gaan nodig kry.
4 Wat sal ons help om ons aanbieding te onthou? Om dit hardop te oefen, is een manier om te onthou wat ons wil sê. Party hou daarvan om oefensessies tydens hulle gesinstudie te hê. Ander vind dit nuttig om ’n kort opsomming van hulle aanbieding op ’n kaartjie te skryf en vlugtig daarna te kyk voordat hulle na die deur toe gaan.
5 Waarom nuttig: As ons goed voorbereid is, maak dit ons bekwamer in die bediening en vergroot dit ons vreugde. Dit help ons om te ontspan en minder senuweeagtig by die deur te wees. Ons is nie so besorg oor wat ons gaan sê nie en kan dus meer aandag skenk aan die huisbewoner. En as ons vertroud is met die lektuur, sal dit ons help om meer entoesiasties te wees wanneer ons dit aanbied.
6 Die Skrif spoor ons aan om “gereed te wees vir elke goeie werk” (Tit. 3:1). Die verkondiging van die goeie nuus is beslis die beste werk wat ons kan doen. Deur goed voorbereid te wees, toon ons respek vir die huisbewoner wat instem om te luister, en vir Jehovah, die God wat ons verteenwoordig.—Jes. 43:10.