Hoe om ’n tydskrifaanbieding voor te berei
1. Waarom is dit beter om jou eie tydskrifaanbieding voor te berei eerder as om eenvoudig ’n voorgestelde aanbieding in Ons Koninkryksbediening te memoriseer?
1 ‘Waarom moet ons tydskrifaanbiedings voorberei’, wonder jy dalk, ‘aangesien daar aanbiedings in elke nommer van Ons Koninkryksbediening is?’ Hoewel baie hierdie voorgestelde aanbiedings nuttig vind, is persoonlike voorbereiding nogtans nodig. ’n Aanbieding wat in een gebied werk, is dalk onprakties in ’n ander gebied. Ons moet dus nie verplig voel om die presiese bewoording van die voorgestelde aanbiedings te gebruik wanneer ons die tydskrifte aanbied nie. Al besluit ons om ’n voorgestelde aanbieding te gebruik, is dit goed om die gedagtes in ons eie woorde te stel.
2. Wat is daarby betrokke om te bepaal watter artikel jy gaan aanbied?
2 Kies ’n artikel: Nadat jy die tydskrif gelees het, moet jy ’n artikel kies wat gepas is vir julle gebied en wat jy baie geniet het. As die huisbewoner jou oortuiging en entoesiasme sien wanneer jy die artikel aanbied, sal hy dit dalk ook wil lees. Hoewel jy waarskynlik ’n artikel sal aanbied wat by baie mense in julle plaaslike gebied byval sal vind, moet jy die ander artikels in die tydskrif ook goed ken. Dit sal jou in staat stel om jou aanbieding aan te pas as jy iemand ontmoet wat dalk meer belangstel in ’n ander onderwerp.
3. Watter soort inleiding gebruik jy om die beste resultate te kry?
3 Vra ’n vraag: Hierna moet jy jou inleidende woorde noukeurig voorberei. Jou inleiding is belangrik. Dit is dalk nuttig om die huisbewoner ’n gedagteprikkelende vraag te vra om sy belangstelling te wek in die artikel wat jy gekies het om aan te bied. Beskouingsvrae werk gewoonlik die beste. Moenie vrae vra wat die huisbewoner ongemaklik sal laat voel of ’n verdedigende houding sal laat aanneem nie.
4. Watter voordele hou dit in om ’n teks vir die huisbewoner te lees wanneer die omstandighede dit toelaat?
4 Lees ’n teks: Laastens, kies ’n teks wat gelees kan word as die huisbewoner se omstandighede dit toelaat; moontlik een uit die artikel wat jy gaan aanbied. As ’n teks gelees word, sal dit die huisbewoner help om te sien dat ons boodskap uit God se Woord kom (1 Tess. 2:13). Die teks sal hom ook ’n getuienis gee, al neem hy nie die tydskrifte nie. Sommige het die huisbewoner se belangstelling gewek deur ’n teks te lees voordat hulle ’n spesifieke vraag vra. Jy kan die teks inlei deur te sê: “Ek wil graag hoor wat jy van hierdie Bybelvers dink.” Vestig dan die persoon se aandag op ’n verwante gedagte in die tydskrif, en sê kortliks iets om sy belangstelling verder te prikkel voordat jy dit aanbied.
5. Watter eenvoudige riglyne moet jy in gedagte hou wanneer jy ’n tydskrifaanbieding voorberei?
5 Daar is geen onbuigsame reëls oor wat om te sê wanneer ’n mens die tydskrifte aanbied nie. Dit is gewoonlik die beste om jou aanbieding kort en eenvoudig te hou. Gebruik ’n benadering waarmee jy gemaklik voel en wat goeie resultate oplewer. Benadruk die voortreflike waarde van die tydskrifte en wees entoesiasties. As jy goed voorbereid is, sal jy groter welslae daarin behaal om Die Wagtoring en Ontwaak! by dié te laat wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het.—Hand. 13:48.