Deel 11: Hou progressiewe Bybelstudies
Help studente om herbesoeke te doen
1 Wanneer ’n Bybelstudent aan die predikingswerk begin deelneem, sal hy mense ontmoet wat belangstelling toon in die goeie nuus. Hoe kan ons die nuwe verkondiger help om doeltreffende herbesoeke te doen en die belangstelling wat hy vind, verder te ontwikkel?
2 Voorbereiding vir die herbesoek begin tydens die eerste besoek. Moedig die student aan om opregte belangstelling te toon in diegene met wie hy praat (Fil. 2:4). Lei hom progressief op om huisbewoners te kry om hulle gedagtes uit te spreek, na hulle kommentare te luister en te let op die dinge waaroor hulle besorg is. Wanneer iemand belangstelling toon, moet jy die nuwe verkondiger die pertinente inligting in verband met die besoek laat neerskryf. Gebruik daardie inligting om hom te help om verdere besprekings te beplan.
3 Berei voor om terug te gaan: Hersien die eerste besoek en wys vir die student hoe om ’n aspek van die Koninkryksboodskap te kies wat by die huisbewoner byval sal vind (1 Kor. 9:19-23). Berei saam ’n kort aanbieding voor wat die aandag vestig op een Bybelteks en ’n paragraaf in ’n studiepublikasie. Berei dan ook ’n vraag voor wat aan die einde van die bespreking gevra kan word om die grondslag te lê vir die volgende besoek. Wys vir die nuwe verkondiger hoe om tydens elke besoek iets by die persoon se kennis van God se Woord te voeg.
4 Dit is ook nuttig om die student te help om ’n eenvoudige inleiding uit te werk. Nadat hy die huisbewoner gegroet het, kan hy sê: “Ek het ons vorige gesprek geniet en het teruggekom om jou meer inligting uit die Bybel te gee oor [noem die onderwerp].” Jy moet dalk ook vir die nuwe verkondiger wys hoe om te reageer as iemand anders die deur oopmaak.
5 Doen opvolgwerk pligsgetrou: Spoor die student aan om ’n goeie voorbeeld te stel deur so gou as moontlik na mense toe terug te gaan wat belangstelling getoon het. Dit verg dalk volharding om mense tuis te vind wanneer jy teruggaan. Leer die student hoe om afsprake vir herbesoeke te maak, en help hom om die belangrikheid daarvan te besef om terug te gaan soos hy belowe het (Matt. 5:37). Lei die nuwe verkondiger op om vriendelik, bedagsaam en eerbiedig te wees terwyl hy na skaapgeaarde mense soek en hulle belangstelling verder ontwikkel.—Tit. 3:2.