Deel 10: Hou progressiewe Bybelstudies
Lei studente op in die huis-tot-huis-bediening
1 Wanneer die ouer manne bepaal dat ’n Bybelstudent aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger te wees, kan hy saam met die gemeente aan die openbare predikingswerk begin deelneem. (Sien Georganiseer om Jehovah se wil te doen, bl. 79-81.) Hoe kan ons die student help om die uitdaging om van huis tot huis te getuig, die hoof te bied?
2 Berei saam voor: Daar is geen plaasvervanger vir goeie voorbereiding nie. Wys die student waar hy voorgestelde aanbiedings in Ons Koninkryksbediening en die Redenering-boek kan kry, en help hom om ’n eenvoudige inleiding te kies wat vir julle gebied prakties is. Spoor hom van die begin af aan om die Bybel in sy bediening te gebruik.—2 Tim. 4:2.
3 Oefensessies is baie nuttig vir ’n nuwe verkondiger. Wanneer die student die aanbieding oefen, kan jy hom wys hoe om taktvol te antwoord op reaksies wat algemeen in die gebied is (Kol. 4:6). Gee hom die versekering dat Christenbedienaars nie die antwoord hoef te ken op elke vraag wat ’n huisbewoner dalk sal vra nie. Dit is dikwels die beste as ’n mens aanbied om oor sulke vrae navorsing te doen en terug te gaan om die saak verder te bespreek.—Spr. 15:28.
4 Doen saam velddiens: Wanneer die student vir die eerste keer aan die huis-tot-huis-bediening deelneem, kan hy kyk hoe jy die aanbieding doen wat julle saam voorberei het. Daarna moet jy hom betrek. In party gevalle is dit dalk die beste om die nuwe verkondiger net ’n deel van die aanbieding te laat doen, soos om ’n teks te lees en daarop kommentaar te lewer. Neem die persoonlikheid en vermoëns van die student in ag (Fil. 4:5). Prys hom mildelik terwyl jy hom stelselmatig in die verskillende aspekte van die predikingswerk oplei.
5 Dit is belangrik dat jy ’n nuwe verkondiger help om volgens ’n vaste rooster aan die bediening deel te neem en om dit elke week te doen as dit moontlik is (Fil. 3:16). Tref spesifieke reëlings om saam velddiens te doen, en spoor hom aan om ook saam met ander te werk wat ywerig is. Hulle voorbeeld en omgang sal hom help om bekwamer in die huis-tot-huis-bediening te word en vreugde daaruit te put.