Ondersteun jou Gemeentelike Boekstudieopsiener
1 Ons elkeen vind baie baat by die Gemeentelike Boekstudie. Verlede maand het ons bespreek hoe die Gemeentelike Boekstudieopsiener sy rol vervul. Maar wat kan ons doen om hom te ondersteun en sodoende ons en ander te bevoordeel?
2 Woon elke week die boekstudie by: Omdat boekstudiegroepe klein gehou word, maak jou teenwoordigheid ’n verskil. Maak dit jou doelwit om elke week die boekstudie by te woon. Jy kan ook help deur op tyd te wees, aangesien dit die opsiener in staat stel om die vergadering ordelik te begin.—1 Kor. 14:40.
3 Opbouende kommentare: Nog ’n manier waarop jy jou ondersteuning kan gee, is deur goed voorbereid te wees en opbouende kommentare te lewer. Antwoorde wat die aandag op net een punt vestig, is gewoonlik die beste, en dit moedig ander ook aan om te antwoord. Moenie die hele paragraaf probeer dek nie. As ’n punt in die materiaal jou hart raak, kan jy die bespreking verryk deur daaroor kommentaar te lewer.—1 Pet. 4:10.
4 As jy die voorreg het om die paragrawe in die boekstudie te lees, moet jy dié toewysing ywerig uitvoer. Goeie voorlesing dra by tot die sukses van die studie.—1 Tim. 4:13.
5 Getuieniswerk as ’n groep: Velddiensvergaderinge word by baie boekstudiegroepe gehou, en jou ondersteuning van hierdie reëlings help die opsiener terwyl hy die leiding in die evangelisasiewerk neem. Maak seker dat jy gereeld aan die veldbediening deelneem. Beskou hierdie reëlings as geleenthede om nader aan jou broers te kom en hulle aan te moedig.
6 Velddiensrapporte: Nog ’n manier waarop jy die opsiener kan ondersteun, is deur jou velddiensrapport stiptelik aan die einde van elke maand in te gee. Gee jou rapport vir hom persoonlik. Die sekretaris sal die velddiensrapporte bymekaarmaak wat die boekstudieopsieners ingesamel het.
7 Jou Gemeentelike Boekstudieopsiener sal jou samewerking waardeer. Bowenal kan jy daarvan verseker wees dat Jehovah sal ‘wees met die gees wat jy openbaar’.—Fil. 4:23.