Hoe Gemeentelike Boekstudieopsieners persoonlike belangstelling toon
1 Die Gemeentelike Boekstudie moet dit “moontlik maak dat meer persoonlike aandag aan die geestelike groei van elke individu geskenk kan word. . . . Dit is ’n weerspieëling van Jehovah se goedertierenheid en sy tere sorg vir sy volk” (om-AF bl. 75; Jes. 40:11). Die boekstudieopsiener speel ’n sleutelrol daarin om hierdie persoonlike aandag te gee.
2 By die boekstudie: Aangesien boekstudiegroepe doelbewus klein gehou word, kan die boekstudieopsiener diegene in sy groep goed leer ken (Spr. 27:23). Daar is gewoonlik elke week geleenthede om voor of ná die studie met mekaar om te gaan. In die loop van ’n maand sal hy moontlik met feitlik elke persoon in die groep kan gesels. Dit help diegene in die boekstudie om op hulle gemak te voel as hulle hom wil nader wanneer hulle voor beproewinge te staan kom of aanmoediging nodig het.—Jes. 32:2.
3 Die boekstudieopsiener probeer almal in die groep aanmoedig om aan die studie deel te neem. Een manier waarop hy dit doen, is deur die studie op ’n vriendelike, liefdevolle manier te hou (1 Tess. 2:7, 8). Hy probeer almal, ook die jongeres, by die bespreking betrek. As party huiwerig is om te antwoord, kan hy hulle persoonlik nader om voor die tyd te reël dat hulle ’n teks lees of by ’n sekere paragraaf antwoord. Of hy kan hulle wys hoe om in hulle eie woorde te antwoord.
4 As die boekstudieopsiener se assistent ’n bedieningskneg is, moet die opsiener reël dat hy een keer elke twee maande die studie hou. Dit stel die opsiener in staat om die assistent waar te neem en nuttige wenke te gee. Wat ’n uitstekende reëling is dit tog om broers te help om hulle onderrigkuns te verbeter!—Tit. 1:9.
5 In die veldbediening: Een van die vernaamste verantwoordelikhede van die boekstudieopsiener is om die leiding in die evangelisasiewerk te neem (Num. 27:16, 17). Hy tref praktiese reëlings vir die groep se getuieniswerk en probeer almal in die groep help om vreugde uit hulle bediening te put (Ef. 4:11, 12). Om dit reg te kry, maak hy dit ’n doelwit om saam met elkeen in die groep velddiens te doen. Hy werk ook saam met die diensopsiener om te reël dat dié wat graag die een of ander aspek van hulle bediening wil verbeter, deur ’n meer ervare verkondiger gehelp word.
6 As ’n liefdevolle herder: Die boekstudieopsiener stel belang in diegene wat weens hulle omstandighede net ’n klein deelname aan die predikingswerk kan hê. Hy maak seker dat diegene wat baie beperk is omdat hulle bejaard of aan hulle huis gekluister is en diegene wat weens ’n ernstige siekte of besering tydelik beperk is, bewus is van die voorsiening wat hulle in staat stel om velddiens in eenhede van 15 minute te rapporteer as hulle gedurende een maand nie ’n volle uur kan rapporteer nie. (Die Gemeentelike Dienskomitee bepaal wie vir hierdie voorsiening kwalifiseer.) Hy toon ook belangstelling in diegene wat na die groep toegewys is maar dalk onbedrywig is, en hy probeer hulle help om weer in die gemeente bedrywig te word.—Luk. 15:4-7.
7 Hoe dankbaar is ons tog vir die liefdevolle belangstelling wat boekstudieopsieners toon! Die persoonlike aandag wat hulle gee, help ‘almal om tot die eenheid in die geloof te kom, tot die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort’.—Ef. 4:13.