Maak die waarheid oor Jesus bekend
1 Gesalfde Christene, wat deur hulle metgeselle, die ander skape, bygestaan word, het “die werk . . . om van Jesus te getuig” (Op. 12:17). Dit is ’n belangrike toewysing, aangesien redding slegs deur hom moontlik is.—Joh. 17:3; Hand. 4:12.
2 ‘Die weg, die waarheid en die lewe’: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, het Jesus gesê. “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Joh. 14:6). Slegs deur Jesus, “die weg”, kan ons God in gebed nader en ’n goedgekeurde verhouding met Hom hê (Joh. 15:16). Jesus is “die waarheid”, aangesien die profesieë en skaduwees wat in die Hebreeuse Geskrifte voorkom, in hom ’n werklikheid geword het (Joh. 1:17; Kol. 2:16, 17). Ja, die hoofdoel van ware profesie is om lig te werp op sy betekenisvolle rol in die verwesenliking van God se voorneme (Op. 19:10). Daarbenewens is Jesus “die lewe”. Om die seën van ewige lewe te ontvang, moet almal geloof in sy losprysoffer beoefen.—Joh. 3:16, 36; Heb. 2:9.
3 Hoof en heersende Koning: Mense moet ook die ontsaglike uitvoerende gesag erken wat Jehovah aan sy Seun toevertrou het. Jesus is as Koning van God se Koninkryk op die troon geplaas—‘aan hom behoort die gehoorsaamheid van die volke’ (Gen. 49:10). Jehovah het hom ook Hoof van die gemeente gemaak (Ef. 1:22, 23). Ons moet ons Bybelstudente help om te verstaan hoe Jesus die gemeente rig en “die getroue en verstandige slaaf” gebruik om geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien.—Matt. 24:45-47.
4 Barmhartige Hoëpriester: Aangesien Jesus as ’n mens beproewinge en lyding verduur het, “kan hy dié wat op die proef gestel word, te hulp kom” (Heb. 2:17, 18). Hoe hartverblydend is dit tog vir onvolmaakte mense om te leer dat Jesus met hulle swakhede simpatiseer en goedgunstiglik vir hulle pleit! (Rom. 8:34). Op grond van Jesus se offerande en deur sy dienste as Hoëpriester kan ons Jehovah “met vrymoedigheid van spraak” nader sodat ons “hulp op die regte tyd” kan ontvang.—Heb. 4:15, 16.
5 Mag ons pogings om ander die waarheid oor Jesus te leer, hulle beweeg om hom saam met ons te gehoorsaam en te dien.—Joh. 14:15, 21.