Het jy die pioniergees?
1 Wat is die “pioniergees”? Dit kan soos volg gedefinieer word: Om ’n positiewe gesindheid te hê ten opsigte van die bevel om te preek en dissipels te maak, om jou ten volle daaraan te wy om liefde en besorgdheid vir mense te betoon, om selfopofferend te wees, om vreugde daaruit te put om die Meester ten strengste na te volg en om jou in geestelike dinge, nie materiële dinge nie, te verbly.
2 Jehovah se volk in die geheel openbaar beslis vandag hierdie gees. Selfs wanneer hulle voor hewige vervolging en ander beproewinge te staan kom, gaan hulle vreugdevol voort om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Die vreugde wat uit die ywerige verkondiging van die goeie nuus spruit, word veral gesien en ervaar wanneer ons streekbyeenkomste en ander groot byeenkomste van God se volk bywoon. Die gees wat by sulke geleenthede geopenbaar word, besiel ons met groter ywer.
3 Maar omdat ons diep in die tyd van die einde lewe, kan die kommer en spanning van die daaglikse lewe sy tol van ons eis en miskien ons ywer en geesdrif vir geestelike dinge laat afneem. Elke persoon kan hom afvra: ‘Het ek die pioniergees? Laat ek toe dat hierdie stelsel van dinge my daarvan beroof? Toon ek ywer vir die waarheid en is ek gretig om ander van God se Koninkryk te vertel? Bevorder ek die pioniergees in die gemeente en spoor ek ander aan om God se wil in groter mate te doen? Wat kan ek doen om ’n negatiewe of onverskillige gesindheid te bowe te kom?’
HOE OM DIE PIONIERGEES AAN TE KWEEK
4 Die pioniergees is wesenlik ’n hartstoestand, en ons moet dit aankweek. Aangesien ons die hart voed met die dinge wat ons lees en waarna ons luister, speel persoonlike Bybelstudie ’n belangrike rol om ons te help om die pioniergees aan te kweek. Paulus het Timotheüs gemaan: “Dink diep oor hierdie dinge na . . . sodat jou vooruitgang aan almal openbaar mag wees. . . . Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy sowel jouself red as hulle wat na jou luister” (1 Tim. 4:15, 16, NW). Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons oor geestelike dinge peins sodat dit in ons hart, die setel van beweegrede, weerklank kan vind. As ons dit doen, sal ons ’n begeerte ontwikkel om God se wil te doen.
5 Die dinge waaroor ons praat, kan ons broers of afbreek of opbou (Ef. 4:29). As ons velddiensondervindinge en punte wat ons by die vergaderinge of tydens persoonlike studie geniet het met ander deel, dra ons gedagtes oor wat positief en bemoedigend is. Soek ons daarbenewens na geleenthede om ’n informele getuienis te gee wanneer ons die kans het om met mense in ons daaglikse lewensroetine te praat? As ons dit doen, volg ons die voetstappe van ons Voorbeeld, Jesus, na.—Joh. 4:7-10.
6 Wanneer ons liefde vir ons naaste ontwikkel, help dit ons om die pioniergees aan te kweek (Matt. 22:39). Jesus het hierdie soort liefde geopenbaar toe hy op aarde was. Hy het jammer gevoel vir die mense en wou alles in sy vermoë doen om hulle te help, hoewel dit groot selfopoffering beteken het (Matt. 9:36; Rom. 5:6). As ons die gesindheid van Christus openbaar, sal ons vir ons naaste jammer voel en alles in ons vermoë doen om hulle geestelik te help.
POSITIEWE GEVOLGE
7 As ons die pioniergees in ons lewe openbaar, bring dit talle seëninge en voordele mee. Namate ons ons bedrywigheid in die bediening vermeerder, word ons bekwamer onderrigters, en dit kan ons groot vreugde verskaf. Namate die pioniergees in die gemeente toeneem, dermate sal die hartlikheid en geestelikheid van die broers toeneem. Een ouere man het oor die heilsame uitwerking wat die pionierdiens op hulle gemeente gehad het, gesê: “Wat ’n verskil het dit tog gemaak! Die gemeente se pas het verander. Die neiging is om ons deelname aan Jehovah se diens al hoe meer te vermeerder.”
8 Namate die 1989-diensjaar naderkom, moet jy dit jou vaste voorneme maak om te help om die pioniergees in die gemeente aan te kweek. Soek na maniere om jou bediening uit te brei. Beplan vooruit om hulppionierdiens te doen wanneer dit ook al moontlik is, of streef daarna om gewone pionierdiens te doen. Almal in die gemeente, hetsy pioniers of verkondigers, kan die pioniergees hê.