Sal haat ooit tot ’n einde kom?
AL HET jy nog net na ’n paar nuusuitsendings op televisie gekyk, is haat nie vir jou iets vreemds nie. Haat is die gemeenskaplike faktor van die slagtings wat byna daagliks hulle bloedige spoor agterlaat. Van Belfast tot Bosnië, van Jerusalem tot Johannesburg, sterf onge-lukkige bystanders.
Die aanvallers ken gewoonlik nie hulle slagoffers nie. Die enigste “misdaad” wat hulle begaan het, is dat hulle dalk aan die “ander kant” behoort. Sulke sterftes kan uit weerwraak wees vir die een of ander vroeëre wreedheid, of dit kan ’n tipe “volksreiniging” wees. Elke daad van geweld blaas die vlamme van haat tussen die vyandige groepe aan.
Dit lyk of hierdie skrikwekkende kringlope van haat toeneem. Bloedvetes breek tussen stamme, rasse en etniese of godsdiensgroepe uit. Kan haat ooit uitgewis word? Om dit te beantwoord, moet ons die oorsake van haat verstaan, aangesien ons nie gebore is om te haat nie.
Die saadjies van haat word geplant
Zlata Filipovic, ’n jong Bosniese meisie van Sarajevo, het nog nie geleer om te haat nie. In haar dagboek skryf sy op veelseggende wyse oor etniese geweld: “Ek bly vra Waarom? Waarvoor? Wie dra die skuld? Ek vra, maar daar’s geen antwoord nie. . . . Onder my vriendinne, onder ons vriende en in ons familie is daar Serwiërs en Kroate en Moslems. . . . Ons assosieer met goeie mense, nie met die slegtes nie. En onder die goeies is daar Serwiërs en Kroate en Moslems, net soos daar onder die slegtes is.”
Baie volwassenes dink aan die ander kant nie so nie. Hulle glo dat hulle genoegsame rede het om te haat. Waarom?
Ongeregtigheid. Die vernaamste brandstof vir haat is waarskynlik ongeregtigheid en onderdrukking. Soos die Bybel sê: “Loutere onderdrukking kan ’n wyse waansinnig laat handel” (Prediker 7:7, NW). Wanneer mense verontreg of wreed mishandel word, is dit vir hulle maklik om haat teenoor die onderdrukkers te koester. En selfs al is dit onredelik, of “waansinnig”, word die haat dikwels teen ’n hele groep gerig.
Hoewel ongeregtigheid, of dit nou eg of denkbeeldig is, moontlik die vernaamste oorsaak van haat is, is dit nie die enigste nie. ’n Ander oorsaak is vooroordeel.
Vooroordeel. Vooroordeel spruit dikwels voort uit onkunde omtrent ’n sekere etniese of nasionale groep. Weens hoorsê, tradisionele vyandigheid of ’n slegte ondervinding met een of twee individue kan party mense negatiewe eienskappe aan ’n hele ras of nasionaliteit toeskryf. Wanneer vooroordeel eers posgevat het, kan dit mense blind maak vir die waarheid. “Ons haat party mense want ons ken hulle nie; en ons sal hulle nie leer ken nie want ons haat hulle”, het die Engelse skrywer Charles Caleb Colton gesê.
Daarenteen kan politici en geskiedkundiges vir politieke of nasionalistiese oogmerke opsetlik vooroordeel bevorder. Hitler was ’n puik voorbeeld. Georg, ’n voormalige lid van die Hitlerjeug-beweging, sê: “Nazi-propaganda het ons eers geleer om die Jode te haat, toe die Russe en toe al die ‘vyande van die Reich’. As ’n tiener het ek geglo wat ek geleer is. Later het ek besef dat ek mislei is.” Soos in Nazi-Duitsland en elders is rasse- en etniese vooroordeel geregverdig deur ’n beroep op nasionalisme, nog ’n bron van haat.
Nasionalisme, stamtrots en rassisme. In sy boek The Cultivation of Hatred beskryf die geskiedskrywer Peter Gay wat met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog gebeur het: “In die stryd tussen lojaliteite het nasionalisme al die ander oorheers. Liefde vir die vaderland en haat jeens sy vyande was die kragtigste regverdiging vir aggressie wat die lang negentiende eeu voortgebring het.” Duitse nasionalisme het ’n krygslied gewild gemaak wat bekend was as die “Haatgesang”. Haatsaaiers in Brittanje en Frankryk, verduidelik Gay, het stories versin oor Duitse soldate wat vroue verkrag en babas vermoor. Siegfried Sassoon, ’n Engelse soldaat, het die kern van die Britse oorlogspropaganda só beskryf: “Die mens, so het dit gelyk, is geskep om die Duitsers af te maai.”
Soos nasionalisme kan ’n oordrewe verheerliking van ’n etniese groep of ras daartoe lei dat haat jeens ander groepe of rasse aangewakker word. Stamtrots is steeds die rede waarom geweld in baie Afrikalande ontvlam, terwyl rassisme steeds Wes-Europa en Noord-Amerika teister. ’n Verdere verdelende element wat met nasionalisme gepaard kan gaan, is godsdiens.
Godsdiens. Baie van die mees diepgewortelde konflikte van die wêreld het ’n sterk godsdienselement. In Noord-Ierland, die Midde-Ooste en elders word mense gehaat weens die godsdiens wat hulle bely. Meer as twee eeue gelede het die Engelse skrywer Jonathan Swift gesê: “Ons het net genoeg godsdiens om ons te laat haat, maar nie genoeg sodat ons mekaar kan liefhê nie.”
In 1933 het Hitler die biskop van Osnabrück in kennis gestel: ‘Wat die Jode betref, gaan ek net voort met dieselfde beleid wat die Katolieke Kerk die afgelope 1 500 jaar volg.’ Die meeste Duitse kerkleiers het nooit sy haatlike pogroms veroordeel nie. Paul Johnson skryf in sy boek A History of Christianity dat “die Kerk Katolieke wat in hulle testament bepaal het dat hulle veras wil word, geëkskommunikeer het . . . maar hulle nie verbied het om in konsentrasiekampe of doodskampe te werk nie”.
Party godsdiensleiers het verder gegaan as om haat goed te keur—hulle het dit geheilig. In 1936, met die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog, het pous Pius XI die Republikeine se ‘waarlik sataniese haat van God’ veroordeel—al was daar Katolieke priesters aan die Republikeinse kant. Op soortgelyke wyse het kardinaal Gomá, die primaat van Spanje gedurende die burgeroorlog, verklaar dat ‘versoening onmoontlik is sonder ’n gewapende stryd’.
Daar is geen teken dat godsdienshaat afneem nie. In 1992 het die tydskrif Human Rights Without Frontiers die manier veroordeel waarop amptenare van die Grieks-Ortodokse Kerk haat jeens Jehovah se Getuies aangeblaas het. Die tydskrif het na ’n saak verwys, een van talle voorbeelde, waar ’n Grieks-Ortodokse priester ’n saak gemaak het teen twee 14-jarige Getuies. Die aanklag? Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle ‘probeer het om hom van godsdiens te laat verander’.
Die gevolge van haat
Die saadjies van haat word wêreldwyd geplant en natgemaak deur ongeregtigheid, vooroordeel, nasionalisme en godsdiens. Die onvermydelike vrugte daarvan is woede, aggressie, oorlog en verwoesting. Die Bybel se verklaring in 1 Johannes 3:15 help ons om die erns hiervan in te sien: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n mensemoordenaar.” Ja, waar haat gedy, is vrede—as dit enigsins bestaan—beslis onseker.
Elie Wiesel, ’n Nobelpryswenner en ’n oorlewende van die Slagting, skryf: “Die plig van die oorlewende is om te getuig van wat gebeur het . . . Jy moet mense waarsku dat hierdie dinge kan gebeur, dat boosheid ontketen kan word. Rassehaat, geweld, verafgoding—hierdie dinge floreer steeds.” Die geskiedenis van die 20ste eeu lewer bewys dat haat nie ’n vuur is wat homself sal uitwoed nie.
Sal haat ooit uit die harte van mense uitgeroei word? Is haat altyd verwoestend of het dit ’n positiewe sy? Kom ons kyk.