Waarom soveel haat?
Deur Ontwaak!-medewerker In Duitsland
WAAROM”—nie ’n baie lang woord nie, maar een wat ’n antwoord vereis. Soos byvoorbeeld toe dit gesien is op ’n kaartjie tussen ’n hoop blomme en teddiebere wat in Maart 1996 buite ’n skool in Dunblane, Skotland, neergelê is. Net ’n paar dae tevore het ’n man daar ingebars en 16 kinders en hulle onderwyseres doodgeskiet. Hy het ’n hele paar ander gewond en homself toe geskiet. Dit is duidelik dat hy vol haat was—teenoor homself, teenoor ander en teenoor die gemeenskap in die algemeen. Bedroefde ouers en vriende sowel as miljoene mense regoor die wêreld vra dieselfde vraag: ‘Waarom? Waarom sterf onskuldige kinders op hierdie manier?’
Jy het waarskynlik al agtergekom dat die wêreld vol blinde, onverklaarbare haat is. Trouens, jy was dalk al self, om die een of ander rede, die slagoffer van haat. Jy het seker ook gevra: ‘Waarom?’—dalk meer as net een keer.
Positiewe en negatiewe soorte haat
“Haat” word beskryf as “intense vyandigheid en afkeer”. Dit is natuurlik voordelig om “intense vyandigheid [teenoor] en afkeer” van dinge te hê wat skadelik is of wat persoonlike verhoudings kan benadeel. As almal hierdie soort haat gehad het, sou die wêreld beslis ’n beter plek gewees het om in te bly. Maar ongelukkig is onvolmaakte mense geneig om die verkeerde dinge om die verkeerde redes te haat.
Vernietigende haat is gegrond op vooroordeel, onkunde of verkeerde inligting, en volgens een definisie word dit gewoonlik veroorsaak deur “vrees, woede of ’n gevoel van veronregting”. Omdat hierdie haat nie ’n behoorlike grondslag het nie, lei dit tot kwaad en gee dit herhaaldelik aanleiding tot die vraag: ‘Waarom?’
Ons almal ken mense wie se karaktertrekke of gewoontes ons dalk soms irriteer en met wie ons sukkel om oor die weg te kom. Maar irritasie is een ding; die begeerte om mense liggaamlike leed aan te doen, is iets anders. Daarom vind ons dit dalk moeilik om te verstaan hoe iemand gevoelens van haat kan koester teen hele groepe mense, dikwels mense wat hy nie eens ken nie. Dalk stem hulle nie saam met sy politieke beskouings nie, behoort hulle aan ’n ander godsdiens of is hulle van ’n ander etniese groep, maar is dit ’n rede om hulle te haat?
Tog bestaan daar sulke haat! In Afrika het haat die Hutu- en Tutsi-stamme in Rwanda in 1994 tot ’n wedersydse slagting gelei, wat een verslaggewer laat vra het: “Hoe het soveel haat in so ’n klein landjie opgebou?” In die Midde-Ooste is haat verantwoordelik vir terroristeaanvalle deur fanatiese Arabiere en Israeli’s. In Europa het haat tot die verbrokkeling van die voormalige Joego-Slawië gelei. En volgens een koerantberig is daar in die Verenigde State alleen “nagenoeg 250 haatgroepe” wat rassistiese idees versprei. Waarom soveel haat? Waarom?
Haat is so diepgewortel dat dit voortbestaan selfs nadat die konflikte wat daardeur verwek is, beëindig is. Hoe anders kan ’n mens verduidelik waarom dit so moeilik is om vrede en skietstilstande te handhaaf in lande wat deur oorlog en terrorisme geteister word? Hoe anders kan ’n mens verduidelik wat gebeur het nadat die vredesverdrag wat aan die einde van 1995 in Parys onderteken is, bepaal het dat die stad Sarajevo onder die Federasie van Bosnië en Herzegowina-Kroasië herenig moet word? Die meeste van die Serwiërs wat daar gewoon het, het uit die stad en sy buitewyke begin vlug uit vrees vir wraakaanvalle. Time het berig dat mense die geboue wat hulle agtergelaat het, geplunder en afgebrand het en het ten slotte gesê: “Sarajevo is herenig; die inwoners is nie.”
Vrede tussen mense wat mekaar haat, is op sy beste ’n valse vrede, en is net so min werd soos vervalste geld. Aangesien dit deur niks gerugsteun word wat werklik waarde het nie, kan dit onder die geringste druk in duie stort. Maar daar is soveel haat in die wêreld en so min liefde. Waarom?
[Lokteks op bladsy 4]
Vernietigende haat is gegrond op vooroordeel, onkunde of verkeerde inligting