Wêreldwyd ’n einde aan haat
ONGEVEER tweeduisend jaar gelede was ’n minderheidsgroep die skyf van haat. Tertullianus beskryf die algemene Romeinse gesindheid teenoor die vroeë Christene: “As die hemele nie reën gee nie, as daar ’n aardbewing is, as daar hongersnood of pessiekte is, is die onmiddellike uitroep: ‘Na die leeus met die Christene!’”
Ondanks die feit dat hulle voorwerpe van haat was, het vroeë Christene die versoeking weerstaan om die ongeregtigheid te wreek. In sy beroemde Bergpredikasie het Jesus Christus gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg.”—Matteus 5:43, 44.
Volgens die mondelinge oorlewering van die Jode was dit reg ‘om ’n vyand te haat’. Jesus het egter gesê dat ons ons vyand moet liefhê, nie net ons vriend nie. Dit is moeilik, maar dit is nie onmoontlik nie. Om ’n vyand lief te hê, beteken nie dat jy van al sy weë of sy dade moet hou nie. Die Griekse woord wat in Matteus se verslag aangetref word, is afkomstig van a·gaʹpe, wat ’n liefde beskryf wat ooreenkomstig beginsel optree. Die persoon wat a·gaʹpe, beginselvaste liefde, aan die dag lê, doen selfs goed aan sy vyand wat hom haat en mishandel. Waarom? Want dit is hoe ’n mens Christus navolg, en dit is hoe ’n mens haat oorwin. Een Griekse geleerde het gesê: “[A·gaʹpe] maak dit vir ons moontlik om ons natuurlike geneigdheid tot woede en bitterheid te oorwin.” Maar sal dit in vandag se haatgevulde wêreld werk?
Nie almal wat beweer dat hulle Christene is, is natuurlik vasbeslote om Christus se voorbeeld te volg nie. Die onlangse gruwels in Rwanda is deur etniese groepe uitgevoer waarvan baie van die lede bely dat hulle Christene is. Pilar Díez Espelosín, ’n Rooms-Katolieke non wat al 20 jaar in Rwanda werk, het van een sprekende geval vertel. ’n Man het na haar kerk gekom met ’n lans in die hand, en dit was duidelik dat hy dit gebruik het. Die non het hom gevra: “Hoe kan jy rondgaan en mense doodmaak? Dink jy nie aan Christus nie?” Hy het gesê dat hy wel aan hom dink, en hy het by die kerk ingegaan, gekniel en die rosekrans vurig opgesê. Maar toe hy klaar was, het hy weggegaan om nog mense te gaan doodmaak. “Dit toon dat ons die evangelie nie behoorlik vir mense leer nie”, het die non erken. Sulke mislukkings beteken egter nie dat Jesus se boodskap te kort skiet nie. Haat kan oorwin word deur diegene wat die ware Christelike geloof beoefen.
Haat word in ’n konsentrasiekamp oorwin
Max Liebster is ’n natuurlike Jood wat die Slagting oorleef het. Hoewel sy van “geliefde” beteken, het hy al in uitsonderlike mate haat ondervind. Hy beskryf wat hy in Nazi-Duitsland oor liefde en haat geleer het.
“Ek het in die dertigerjare naby Mannheim, in Duitsland, grootgeword. Hitler het beweer dat al die Jode ryk winsjagters is wat die Duitse volk uitbuit. Maar my pa was in der waarheid net ’n nederige skoenmaker. Die bure het nietemin teen ons begin draai weens die invloed van Nazi-propaganda. Toe ek ’n tiener was, het ’n dorpenaar met geweld varkbloed aan my voorkop gesmeer. Hierdie afstootlike belediging was net ’n voorsmaak van wat later sou gebeur. In 1939 het die Gestapo my in hegtenis geneem en al my besittings gekonfiskeer.
“Vanaf Januarie 1940 tot Mei 1945 het ek ’n stryd om oorlewing gevoer in vyf verskillende konsentrasiekampe: Sachsenhausen, Neuengamme, Auschwitz, Buna en Buchenwald. My pa, wat ook na Sachsenhausen gestuur is, het gedurende die verskriklike winter van 1940 gesterf. Ek het persoonlik sy lyk na die krematorium gedra waar ’n hoop dooie liggame gewag het om verbrand te word. Altesaam agt van my familielede het in die kampe gesterf.
“Onder die gevangenes was die kapos selfs meer gehaat as die SS-wagte. Die kapos was gevangenes wat met die SS-wagte saamgewerk het en dus sekere gunste geniet het. Hulle moes toesig hou oor die voedselverdeling, en hulle het ook slae aan die ander gevangenes uitgedeel. Hulle het dikwels onregverdig en eiemagtig opgetree. Ek het seker meer as genoeg rede gehad om die SS sowel as die kapos te haat, maar gedurende my gevangenskap het ek geleer dat liefde kragtiger is as haat.
“Die standvastigheid van die gevangenes wat Jehovah se Getuies was, het my oortuig dat hulle geloof op die Skrif gegrond was—en ek self het ’n Getuie geword. Ernst Wauer, ’n Getuie wat ek in die Neuengamme-konsentrasiekamp ontmoet het, het my aangespoor om die geestesgesindheid van Christus aan te kweek. Die Bybel sê “toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar homself bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). Ek het dieselfde probeer doen en wraak in God se hande gelaat, wat die Regter oor almal is.
“My jare in die kampe het my geleer dat mense dikwels bose dinge uit onkunde doen. Nie eens al die SS-wagte was sleg nie—daar was een wat my lewe gered het. Ek het eenkeer ’n hewige diarree-aanval gehad, en ek was te swak om van my werk na die kamp toe te loop. Hulle sou my die volgende oggend na Auschwitz se gasoonde gestuur het, maar ’n SS-wag, wat van dieselfde deel van Duitsland as ek gekom het, het ten behoewe van my tussenbeide getree. Hy het vir my werk in die SS-kafeteria gekry waar ek ’n bietjie kon rus totdat ek herstel het. Op ’n dag het hy teenoor my erken: ‘Max, dit voel of ek op ’n trein is wat teen ’n hoë spoed ry en buite beheer is. As ek afspring, is ek dood. As ek op hom bly, sal ek in ’n botsing verbrysel word!’
“Hierdie mense het liefde net so nodig gehad soos ek. Trouens, dit was liefde en medelye, saam met my geloof in God, wat my in staat gestel het om die ellendige toestande en die daaglikse bedreiging van teregstelling te verduur. Ek kan nie sê dat ek ongedeerd daarvan afgekom het nie, maar my emosionele letsels was gering.”
Die hartlikheid en vriendelikheid wat Max steeds ná 50 jaar uitstraal, getuig van die waarheid van sy woorde. Max se geval is nie uitsonderlik nie. Hy het ’n goeie rede gehad om haat te oorkom—hy wou Christus navolg. Ander wie se lewe deur die Skrif gerig is, het op ’n soortgelyke wyse opgetree. Simone, een van Jehovah se Getuies in Frankryk, verduidelik hoe sy geleer het wat onselfsugtige liefde werklik beteken.
“My ma, Emma, wat kort voor die Tweede Wêreldoorlog ’n Getuie geword het, het my geleer dat mense dikwels slegte dinge doen omdat hulle nie van beter weet nie. Sy het verduidelik dat ons nie ware Christene is as ons hulle op ons beurt haat nie, aangesien Jesus gesê het dat ons ons vyande moet liefhê en moet bid vir dié wat ons vervolg.—Matteus 5:44.
“Ek onthou ’n uiters moeilike situasie wat hierdie oortuiging op die proef gestel het. Gedurende die Nazi-besetting van Frankryk het my ma deur die toedoen van ’n buurvrou in ons gebou baie gely. Sy het my ma by die Gestapo gerapporteer, wat daartoe gelei het dat my ma twee jaar in Duitse konsentrasiekampe deurgebring het waar sy byna gesterf het. Ná die oorlog wou die Franse polisie hê dat my ma ’n dokument moes onderteken wat hierdie vrou sou inkrimineer as iemand wat met die Duitsers saamgewerk het. Maar my ma het geweier en gesê dat ‘God die Regter en die Beloner van goed en sleg is’. ’n Paar jaar later het hierdie selfde buurvrou terminale kanker gekry. My ma het haar nie in die vrou se teenspoed verlustig nie, maar eerder baie ure daaraan bestee om die laaste maande van haar lewe so gemaklik as moontlik te maak. Ek sal nooit hierdie oorwinning van liefde oor haat vergeet nie.”
Hierdie twee voorbeelde illustreer die krag van beginselvaste liefde ondanks ongeregtigheid. Maar die Bybel self sê daar is “’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat” (Prediker 3:1, 8). Hoe is dit moontlik?
’n Tyd om te haat
God veroordeel nie alle haat nie. Aangaande Jesus Christus sê die Bybel: “U het regverdigheid liefgehad en u het wetteloosheid gehaat” (Hebreërs 1:9). Daar is egter ’n verskil tussen onreg haat en die persoon haat wat die onreg pleeg.
Jesus was ’n voorbeeld van iemand wat die regte balans tussen liefde en haat gehad het. Hy het huigelary gehaat, maar hy het huigelaars probeer help om hulle denkwyse te verander (Matteus 23:27, 28; Lukas 7:36-50). Hy het geweld veroordeel, maar hy het vir diegene gebid wat hom tereggestel het (Matteus 26:52; Lukas 23:34). En hoewel die wêreld hom sonder grond gehaat het, het hy sy eie lewe opgeoffer sodat hy vir die wêreld lewe kon gee (Johannes 6:33, 51; 15:18, 25). Hy het vir ons ’n volmaakte voorbeeld van beginselvaste liefde en goddelike haat nagelaat.
Ongeregtigheid kan, soos in Jesus se geval, morele verontwaardiging in ons wek (Lukas 19:45, 46). Christene is egter nie gemagtig om self wraak te neem nie. “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”, het Paulus die Christene in Rome vermaan. “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie . . . Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:17-21). Wanneer ons persoonlik weier om haat te koester of ’n onreg te wreek, oorwin die liefde.
’n Wêreld sonder haat
Voordat haat op ’n wêreldwye skaal sal kan verdwyn, sal die ingewortelde gesindhede van miljoene mense moet verander. Hoe kan dit teweeggebring word? Professor Ervin Staub beveel die volgende aan: “Ons minag diegene aan wie ons kwaad doen en waardeer diegene aan wie ons hulp verleen. Namate ons groter waardering opbou vir diegene aan wie ons hulp verleen en die bevrediging smaak wat inherent aan hulpvaardigheid is, begin ons ook om onsself as liefdevoller en hulpvaardiger mense te sien. Een van ons doelwitte moet wees om gemeenskappe te skep waarin soveel mense moontlik iets vir ander doen.”—The Roots of Evil.
Met ander woorde, om haat te verdryf, sal vereis dat ’n gemeenskap geskep word waarin mense leer om lief te hê deur mekaar te help; ’n gemeenskap waar mense al die vyandigheid vergeet wat deur vooroordeel, nasionalisme, rassisme en stamtrots veroorsaak is. Bestaan daar so ’n gemeenskap? Neem die ondervinding van ’n man wat gedurende die Kulturele Revolusie in China persoonlik voor haat te staan gekom het.
“Toe die Kulturele Revolusie begin het, is ons geleer dat daar geen plek vir kompromieë in die ‘klassestryd’ is nie. Haat was algemeen. Ek het by die Rooi Wag aangesluit en oral begin soek na ‘klasvyande’—selfs onder my eie familie. Hoewel ek op daardie stadium net ’n tiener was, het ek ook huise deursoek vir bewyse van ‘reaksionêre betrokkenheid’. Ek het ook ’n openbare vergadering gelei waarin ’n ‘reaksionêr’ aangekla is. Natuurlik was party van hierdie aanklagtes eerder op persoonlike vyandigheid as op politieke beskouings gegrond.
“Ek het gesien hoe baie mense—oud en jonk, mans en vrouens—lyfstraf kry wat al hoe wreder geword het. Hulle het een van my onderwysers—’n goeie man—soos ’n misdadiger rondgeparadeer. Twee maande later is ’n ander gerespekteerde onderwyser in my skool dood in die Suzhou-rivier gevind, en my Engelse onderwyser is gedwing om homself op te hang. Ek was geskok en verward. Hulle was goedhartige mense. Dit was verkeerd om so teen hulle op te tree! Ek het dus al my bande met die Rooi Wag verbreek.
“Ek glo nie hierdie tydperk van haat wat China ’n kort rukkie verswelg het, was ’n alleenstaande geval nie. Hierdie eeu het soveel uitbarstings van haat gesien. Ek is egter daarvan oortuig dat liefde haat kan oorwin. Dit is iets wat ek self gesien het. Toe ek met Jehovah se Getuies begin assosieer het, was ek beïndruk deur die opregte liefde wat hulle aan mense van verskillende rasse en agtergronde betoon het. Ek sien uit na die tyd wanneer, soos die Bybel belowe, alle mense sal leer om mekaar lief te hê.”
Ja, die internasionale gemeenskap van Jehovah se Getuies is ’n lewende bewys daarvan dat haat tot niet gemaak kan word. Wat ook al hulle agtergrond, die Getuies streef daarna om vooroordeel met wedersydse respek te vervang en enige spoor van stamtrots, rassisme of nasionalisme te verwyder. Een rede vir hulle welslae is hulle vasberadenheid om Jesus Christus na te volg in die betoning van liefde wat deur beginsel gerig word. Nog ’n rede is dat hulle op God se Koninkryk hoop om ’n einde te maak aan enige ongeregtigheid waaronder hulle dalk gebuk gaan.
God se Koninkryk is die onbetwiste oplossing om ’n wêreld sonder haat teweeg te bring, ’n wêreld waarin daar nie eens kwaad sal wees om te haat nie. Hierdie hemelse regering word in die Bybel as “nuwe hemele” beskryf, en dit sal ’n wêreld vry van ongeregtigheid verseker. Dit sal oor “’n nuwe aarde”, of nuwe mensegemeenskap, heers wat geleer het om mekaar lief te hê (2 Petrus 3:13; Jesaja 54:13). Hierdie opvoeding het alreeds begin, soos die ondervindinge van Max, Simone en baie ander toon. Dit is ’n voorskou van ’n wêreldwye program om haat en die oorsake daarvan uit die weg te ruim.
Deur sy profeet Jesaja beskryf Jehovah die resultaat: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). God self sal ’n einde aan die haat maak. Dit sal waarlik ’n tyd wees om lief te hê.
[Prente op bladsy 7]
Nazi’s het ’n gevangene- nommer op Max Liebster se linkerarm getatoeëer
[Prent op bladsy 8]
Haat sal binnekort tot die verlede behoort