“Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkoms—Sal jy daar wees?
VREUGDE! Klink daardie woord vreemd, selfs snaaks, in hierdie tyd vol moeilikhede? Die koerante gee ons gewis nie baie redes om vreugdevol te wees nie. Etniese oorlogvoering, wydverspreide hongersnood, werkloosheid, gevaarlike besoedeling, politieke onbestendigheid, misdaad—hierdie is nie dinge wat ons hart met vreugde vervul nie, of hoe?
Vandag probeer die meeste mense soveel plesier moontlik uit die lewe kry. Maar vreugde? Vreugde is al beskryf as ’n “toestand van geluk; uitgelatenheid”. Daar is min mense wat al ware vreugde ervaar het, en wanneer hulle dit wel ervaar, is dit dikwels kortstondig.
Nogtans het die Bybel met die oog op ons dag voorspel: ‘So sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal bly wees. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is’ (Jesaja 65:13, 14). Hoe is dit moontlik?
Sodat jy die antwoord op daardie vraag kan vind, nooi ons jou om een van die streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies in 1995 by te woon. Die tema van die byeenkomste is “Vreugdevolle Lowers” en bywoning is gratis. Die program vir die driedaagse byeenkoms sal uit Bybelse toesprake, demonstrasies, besprekings en dies meer bestaan. Die hele program sal die tema van vreugde beklemtoon.
Die byeenkomste begin in Junie in die Verenigde State en sal tot vroeg in 1996 in stede oor die hele wêreld voortgaan. Daar sal waarskynlik een naby aan jou wees. Vra gerus die Getuies van Jehovah wat in jou omgewing woon. Ons nooi jou hartlik om daar te wees.