Wat godvrugtige onderworpenheid van ons vereis
“Onderwerp julle dan aan God.”—JAKOBUS 4:7.
1. Wat kan gesê word van die soort God wat ons aanbid?
WAT ’n wonderlike God is Jehovah tog! Weergaloos, onvergelyklik, uniek op so baie maniere! Hy is die Allerhoogste, die Universele Soewerein, by wie alle ware gesag berus. Hy is van ewigheid tot ewigheid en so glorieryk dat geen mens hom kan sien en bly lewe nie (Exodus 33:20; Romeine 16:26). Sy krag en wysheid is grensloos, en hy is absoluut volmaak wat geregtigheid betref en is die verpersoonliking van liefde. Hy is ons Skepper, ons Regter, ons Wetgewer en ons Koning. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van hom.—Psalm 100:3; Jesaja 33:22, NW; Jakobus 1:17.
2. Wat behels godvrugtige onderworpenheid?
2 Met die oog op al hierdie feite ly dit geen twyfel nie dat ons verplig is om ons aan hom te onderwerp. Maar wat behels dit? ’n Aantal dinge. Aangesien ons Jehovah God nie self kan sien nie, behels onderworpenheid aan hom dat ons na die stem van ’n opgeleide gewete luister, met God se aardse organisasie saamwerk, sekulêre owerhede erken en die beginsel van hoofskap in die gesin respekteer.
Behou ’n goeie gewete
3. Watter soort bevele moet ons gehoorsaam as ons ’n goeie gewete wil behou?
3 Om ’n goeie gewete te behou, moet ons gehoorsaam wees aan die onafdwingbare—dit wil sê wette of beginsels wat mense ons nie kan dwing om te gehoorsaam nie. Die tiende gebod van die Tien Gebooie wat sê dat ’n mens nie mag begeer nie, kon byvoorbeeld nie deur menslike owerhede aan ander opgedwing word nie. Terloops, dit getuig van die Goddelike oorsprong van die Tien Gebooie, want geen menslike wetgewende liggaam sou ’n wet maak wat, as dit oortree word, nie aan mense deur straf opgedwing kan word nie. Deur hierdie wet het Jehovah God die verantwoordelikheid op elke Israeliet gelê om sy eie polisieman te wees—as hy ’n goeie gewete wou hê (Exodus 20:17). Onder die werke van die vlees wat ’n mens sal verhinder om God se Koninkryk te beërwe, is ook “jaloersheid” en “afguns”—gesindhede wat nie deur menseregters gestraf kan word nie (Galasiërs 5:19-21). Maar as ons ’n goeie gewete wil behou, moet ons dit vermy.
4. Volgens watter Bybelbeginsels moet ons lewe as ons ’n goeie gewete wil behou?
4 Ja, ons moet volgens Bybelbeginsels lewe. Sulke beginsels kan opgesom word in die twee gebooie wat Jesus Christus gegee het in antwoord op die vraag oor wat die grootste gebod van die Mosaïese wet is. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. . . . Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:36-40). Jesus se woorde wat in Mattheüs 7:12 opgeteken is, lig toe wat die tweede van hierdie gebooie behels: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.”
5. Hoe kan ons ’n goeie verhouding met Jehovah God behou?
5 Ons moet doen wat ons weet reg is en nie doen wat ons weet verkeerd is nie, hetsy ander dit sien of nie. Dit is die geval al sou ons ongestraf bly wanneer ons nalaat om regte dinge te doen of selfs wanneer ons verkeerde dinge doen. Dit beteken dat ons ’n goeie verhouding met ons hemelse Vader moet behou en die waarskuwing in gedagte moet hou wat die apostel Paulus in Hebreërs 4:13 gegee het: “Daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” As ons aanhou doen wat reg is, sal dit ons help om te stry teen die slinkse planne van die Duiwel, om die druk van die wêreld te weerstaan en om te stry teen die oorgeërfde neiging om selfsugtig te wees.—Vergelyk Efesiërs 6:11.
Onderworpenheid aan God se organisasie
6. Wie het Jehovah in voor-Christelike tye gebruik om met die mensdom te kommunikeer?
6 Jehovah God het dit nie geheel en al aan ons oorgelaat om self te besluit hoe ons Bybelbeginsels in ons lewe gaan toepas nie. Van die begin van die mensegeskiedenis af het God mense gebruik om met die mensdom te kommunikeer. Adam was dus God se woordvoerder vir Eva. Die bevel in verband met die verbode vrug is aan Adam gegee voor Eva geskep is, gevolglik het Adam Eva blykbaar vertel wat God se wil vir haar is (Genesis 2:16-23). Noag was God se profeet vir sy gesin en vir die wêreld voor die vloed (Genesis 6:13; 2 Petrus 2:5). Abraham was God se woordvoerder vir sy gesin (Genesis 18:19). Moses was God se profeet vir die nasie Israel en die een deur wie Hy met hulle gekommunikeer het (Exodus 3:15, 16; 19:3, 7). Na hom, tot en met Johannes die Doper, het God baie profete, priesters en konings gebruik om sy wil aan sy volk oor te dra.
7, 8. (a) Wie is met die koms van die Messias as God se woordvoerders gebruik? (b) Wat behels godvrugtige onderworpenheid vandag van Jehovah se Getuies?
7 Met die koms van die Messias, Jesus Christus, het God hom en sy intieme groep apostels en dissipels gebruik om as Sy woordvoerders te dien. Later sou die gesalfde getroue volgelinge van Jesus Christus as ’n “getroue en verstandige dienskneg” dien wat aan Jehovah se volk sou meedeel hoe hulle Bybelbeginsels in hulle lewe moet toepas. Godvrugtige onderworpenheid het beteken dat hulle die instrument erken wat Jehovah God gebruik het.—Mattheüs 24:45-47; Efesiërs 4:11-14.
8 Die feite toon dat “die getroue en verstandige dienskneg” vandag verbonde is aan Jehovah se Getuies en deur die Bestuursliggaam van hierdie Getuies verteenwoordig word. Daardie liggaam stel op hulle beurt opsieners in verskeie hoedanighede aan—soos ouere manne en reisende opsieners—om die werk op ’n plaaslike vlak te rig. Godvrugtige onderworpenheid vereis dat elke toegewyde Getuie hom in ooreenstemming met Hebreërs 13:17 aan hierdie opsieners onderwerp: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”
Aanvaar dissipline
9. Wat behels godvrugtige onderworpenheid dikwels?
9 Godvrugtige onderworpenheid beteken dikwels dat ’n mens dissipline moet aanvaar van diegene wat as opsieners dien. As ons onsself nie dissiplineer nie, moet ons dalk raad en dissipline ontvang van diegene wat die ondervinding en gesag het om dit te doen, soos ons gemeentelike ouere manne. Dit is verstandig om sulke dissipline te aanvaar.—Spreuke 12:15; 19:20.
10. Watter verpligting rus op diegene wat dissipline uitoefen?
10 Ouere manne wat dissipline uitoefen, moet natuurlik self voorbeelde van godvrugtige onderworpenheid wees. Hoe? Volgens Galasiërs 6:1 moet hulle nie net op ’n goeie manier raad gee nie, maar hulle moet voorbeeldig wees: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Dit wil sê, die ouere man se raad moet met sy voorbeeld strook. Dit is in ooreenstemming met die vermaning in 2 Timotheüs 2:24, 25 en in Titus 1:9. Ja, diegene wat ander bestraf of teregwys, moet versigtig wees dat hulle nooit ongevoelig is nie. In die handhawing van die beginsels in God se Woord moet hulle altyd sag, vriendelik en tog ferm wees. Hulle moet onpartydige luisteraars wees en ’n verkwikking wees vir diegene wat vermoeid en belas is.—Vergelyk Mattheüs 11:28-30.
Onderworpenheid aan die hoër owerhede
11. Wat word van Christene vereis wat hulle verhouding met die hoër owerhede betref?
11 Godvrugtige onderworpenheid vereis ook dat ons die hoër owerhede gehoorsaam. Ons word in Romeine 13:1 beveel: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte [“hoër owerhede”, NW] wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.” Hierdie woorde vereis onder andere dat ons verkeerswette gehoorsaam en ons belasting en heffings pligsgetrou betaal, soos die apostel Paulus in Romeine 13:7 sê.—NW.
12. In watter opsig is ons onderworpenheid aan die keiser relatief?
12 Maar sulke onderworpenheid aan die keiser moet natuurlik relatief wees. Ons moet altyd die beginsel in gedagte hou wat Jesus Christus in Mattheüs 22:21 genoem het: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” ’n Voetnoot by Romeine 13:1 in die Oxford NIV [New International Version] Scofield Study Bible sê: “Dit beteken nie dat hy reëls moet gehoorsaam wat immoreel of anti-Christelik is nie. In sulke gevalle is hy verplig om God te gehoorsaam eerder as mense. (Hand. 5:29; vgl. Dan. 3:16-18; 6:10 e.v.)”
Godvrugtige onderworpenheid in die gesinskring
13. Wat vereis godvrugtige onderworpenheid van die lede in die gesinskring?
13 In die gesinskring is die man en vader die hoof. Dit vereis dat vroue ag slaan op die raad wat in Efesiërs 5:22, 23 gegee word: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente.”a Wat die kinders betref, hulle maak nie hulle eie reëls nie, maar is godvrugtige onderworpenheid aan hulle vader en moeder verskuldig, soos Paulus in Efesiërs 6:1-3 verduidelik: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ’n belofte—sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.”
14. Wat vereis godvrugtige onderworpenheid van gesinshoofde?
14 Dit is natuurlik vir die vroue en kinders makliker om sulke godvrugtige onderworpenheid te toon as mans en vaders self godvrugtige onderworpenheid openbaar. Hulle doen dit deur hulle hoofskap in ooreenstemming met Bybelbeginsels te beoefen, soos dié wat in Efesiërs 5:28, 29 en 6:4 gevind word: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”
Hulpmiddele om godvrugtige onderworpenheid te openbaar
15. Watter vrug van die gees sal ons help om godvrugtige onderworpenheid te openbaar?
15 Wat sal ons help om godvrugtige onderworpenheid op hierdie verskillende gebiede te openbaar? Eerstens is daar onselfsugtige liefde—liefde vir Jehovah God en vir diegene wat hy oor ons aangestel het. Daar word vir ons in 1 Johannes 5:3 gesê: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” Jesus het dieselfde gedagte in Johannes 14:15 uitgebring: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” Liefde—die vernaamste vrug van die gees—sal ons waarlik help om alles te waardeer wat Jehovah vir ons gedoen het en sal ons sodoende help om godvrugtige onderworpenheid te beoefen.—Galasiërs 5:22.
16. Hoe help godvrugtige vrees ons om godvrugtige onderworpenheid te toon?
16 Tweedens is daar godvrugtige vrees. Vrees om Jehovah God te mishaag sal ons help, omdat ons sal “haat wat sleg is” (Spreuke 8:13). Die vrees om Jehovah te mishaag, sal ons ongetwyfeld help om nie ons geloof weens mensevrees prys te gee nie. Dit sal ons ook help om God se opdragte te gehoorsaam, ongeag watter probleme ons te bowe moet kom. Daarbenewens sal dit ons verhinder om toe te gee aan versoekinge of neigings om verkeerd te doen. Die Skrif toon dat dit die vrees van Jehovah was wat Abraham in staat gestel het om sy geliefde seun Isak te probeer opoffer en dat dit die vrees om Jehovah te mishaag was wat Josef in staat gestel het om die onsedelike toenaderings van Potifar se vrou te weerstaan.—Genesis 22:12; 39:9.
17. Watter rol speel geloof in ons beoefening van godvrugtige onderworpenheid?
17 ’n Derde hulpmiddel is geloof in Jehovah God. Geloof sal ons in staat stel om gehoor te gee aan die raad in Spreuke 3:5, 6: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Geloof sal ons veral help wanneer dit lyk asof ons onregverdig ly of meen dat daar teen ons gediskrimineer word vanweë ons ras of nasionaliteit of vanweë die een of ander persoonlikheidsverskil. Party meen dalk ook dat hulle ten onregte oorgeslaan is as hulle nie aanbeveel word om as ’n ouere man of ’n bedieningskneg te dien nie. As ons geloof het, sal ons op Jehovah vertrou om sake op sy bestemde tyd reg te stel. Intussen moet ons dalk lydsaamheid aankweek.—Klaagliedere 3:26.
18. Wat is ’n vierde hulpmiddel wat ons sal help om godvrugtige onderworpenheid te openbaar?
18 ’n Vierde hulpmiddel is nederigheid. ’n Nederige mens vind dit nie moeilik om godvrugtige onderworpenheid te openbaar nie, want ‘in nederigheid ag hy ander hoër as homself’. ’n Nederige mens is gewillig om hom as “’n mindere” te gedra (Filippense 2:2-4; Lukas 9:48, NW). Maar dit grief die trotse persoon om onderworpe te wees en dit irriteer hom. Daar is al gesê dat so ’n persoon eerder deur lof ten gronde sal gaan as om deur kritiek gered te word.
19. Watter goeie voorbeeld van nederigheid het ’n voormalige president van die Wagtoringgenootskap gestel?
19 Joseph Rutherford, die tweede president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, het eenkeer ’n goeie voorbeeld van nederigheid en godvrugtige onderworpenheid gestel. Toe Hitler die werk van Jehovah se Getuies in Duitsland verbied het, het die broers aldaar aan hom geskryf en gevra wat hulle moes doen met die oog op die verbod op hulle vergaderinge en hulle predikingsbedrywigheid. Hy het dit aan die Bethelgesin gemeld en reguit erken dat hy nie geweet het wat om vir die Duitse broers te sê nie, veral met die oog op die kwaai straf wat hulle moes verduur. Hy het gesê as enigiemand geweet het wat om vir hulle te sê, sou hy dit graag wou hoor. Wat ’n nederige gees tog!b
Voordele as ons godvrugtige onderworpenheid openbaar
20. Watter seëninge het dit tot gevolg as ons godvrugtige onderworpenheid openbaar?
20 Ons kan ons tereg afvra: Wat is die voordele daaraan verbonde as ons godvrugtige onderworpenheid openbaar? Inderdaad baie. Ons het nie die kommer en frustrasies waarmee diegene te kampe het wat onafhanklik optree nie. Ons geniet ’n goeie verhouding met Jehovah God. Ons het die beste assosiasie met ons Christenbroers. Omdat ons volgens die wet handel, het ons boonop nie onnodig probleme met die hoër owerhede nie. Ons geniet ook ’n gelukkige gesinslewe as mans en vroue, as ouers en kinders. As ons ons godvrugtige onderworpenheid behou, tree ons boonop in ooreenstemming met die raad in Spreuke 27:11 op: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.”
[Voetnote]
a ’n Pionierbedienaar het die respek en liefdevolle ondersteuning van sy vrou voor ’n ongetroude pionier geprys. Die ongetroude pionier het gemeen dat sy vriend ook iets oor sy vrou se ander eienskappe moes sê. Maar jare later toe die ongetroude pionier self getroud is, het hy besef hoe noodsaaklik ’n vrou se liefdevolle ondersteuning vir huweliksgeluk is.
b Ná baie gebede en heelwat studie van God se Woord het Joseph Rutherford duidelik gesien watter antwoord hy die broers in Duitsland moes gee. Hy kon nie vir hulle sê wat om te doen of nie te doen nie. Hulle het God se Woord gehad wat duidelik vir hulle gesê het wat hulle ten opsigte van vergaderingbywoning en die getuieniswerk moes doen. Die Duitse broers het dus ondergronds begin werk maar aangehou om Jehovah se bevel te gehoorsaam om te vergader en sy naam en Koninkryk te verkondig.
Hersieningsvrae
◻ Watter manne het God gebruik om met die mensdom te kommunikeer, en wat was sy knegte aan hom verskuldig?
◻ In watter verskillende verhoudinge is godvrugtige onderworpenheid van toepassing?
◻ Watter eienskappe sal ons help om godvrugtige onderworpenheid te toon?
◻ Watter seëninge het godvrugtige onderworpenheid tot gevolg?
[Prent op bladsy 16]
God het die tempelreëling in Jerusalem gebruik om sy wil aan sy volk bekend te maak
[Prente op bladsy 18]
Gebiede waarop ons godvrugtige onderworpenheid kan openbaar