Noodlenigingsvoorrade weerspieël Christelike liefde
‘JULLE moet die broederskap liefhê’, het die apostel Petrus sy mede-Christene aangespoor (1 Petrus 2:17). Sulke liefde moes oor rasse-, sosiale en nasionale grense strek en mense in ’n ware broederskap verenig. Toe die vroeë Christene ’n behoefte aan materiële dinge gehad het, is baie deur liefde beweeg om vir die apostels bydraes te gee sodat hulle dit aan die behoeftiges kon uitdeel. Die verslag sê dat “hulle alles in gemeenskap gehad” het.—Handelinge 2:41-45; 4:32.
Sulke liefde is geopenbaar toe die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies aan die einde van 1991 verskeie takkantore van die Wagtoringgenootskap in Wes-Europa genooi het om hulle behoeftige broers in Oos-Europa, waaronder dele van die eertydse Sowjetunie, van voedsel en klere te voorsien. Ons gee hier ’n reeks verslae van party van die takkantore wat daarby betrokke was.
Swede
Op 5 Desember 1991 is ’n brief waarin die behoefte uiteengesit is aan al 348 gemeentes in Swede gepos. Daar was ’n onmiddellike reaksie. Binne ’n paar dae was die eerste leunwa, gelaai met 15 ton meel, kookvet, blikkiesvleis, melkpoeier en so meer, op pad na St. Petersburg, Rusland. Plaaslike Getuies van Jehovah het die vragmotor afgelaai en die 750 pakkies vinnig onder die behoeftiges uitgedeel. Later het nog twee leunwaens voedsel na Rusland geneem. Meer as 51,5 ton is altesaam van Swede af versend.
Die bereidwilligheid om klere en skoene te skenk, het die stoutste verwagtinge oortref. Tientalle pakke met klere het spoedig in die Koninkryksale opgehoop. Baie Christene het klere uit hulle eie kaste geskenk. Ander het nuwe kledingstukke gekoop. Een broer het vyf manspakke gekoop. Toe die verbaasde winkelier hoor waarvoor dit was, het hy nog vyf manspakke geskenk. ’n Ander broer het ’n doos kouse, handskoene en serpe gekoop. Toe hy verduidelik het waarvoor dit was, het die eienaar hom 30 nuwe manspakke teen die prys van twee aangebied. ’n Winkelier van ’n sportklerewinkel het 100 paar nuwe skoene en stewels geskenk.
Al hierdie artikels is toe na die takkantoor geneem waar dit gesorteer, verpak en gelaai is. Klere—’n vrag wat in 40 leunwaens sou kon pas—het groot gebiede by die takkantoor beslaan! Broers en susters het weke lank gewerk om dit te sorteer in stapels vir mans, vroue en kinders en dit in kartonne te verpak. Vyftien verskillende leunwaens is gebruik om die klere veilig na Rusland, die Oekraïne en Estland te vervoer.
’n Broer wat een van die Genootskap se vragmotors agt keer na die eertydse Sowjetunie bestuur het, het gesê: “Die ontvangs wat ons van ons broers by die bestemmings gekry het, was ’n groot beloning. Hulle het ons omhels en gesoen, en ten spyte van hulle min besittings het hulle vir ons ’n goeie les in Christelike vrygewigheid gegee.”
Finland
Ten spyte van Finland se ernstige resessie, wydverspreide werkloosheid en ekonomiese probleme is die bereidwilligheid waarmee die ongeveer 18 000 Finse broers hulle broers in die eertydse Sowjetunie wil help iets wonderliks. Hulle het meer as 58 ton voedsel in 4 850 kartonne na St. Petersburg, Estland, Letland, Litaue en Kaliningrad gestuur. Hulle het ook die orige spasie in vragmotors met 12 kubieke meter klere gevul. Ongeveer 25 gebruikte motors en paneelwaens is ook geskenk om met die Koninkrykswerk te help.
Party van die dose voedsel het ’n gemeente van 14 verkondigers in Slanti in die St. Petersburg-gebied bereik. Hulle het groot waardering in ’n brief uitgespreek. “Ons het tien bejaarde susters in ons gemeente. Baie van ons is ernstig siek en kan nie ure lank in toue staan om voedsel te kry nie. Maar ons hemelse Vader gee ons geen rede om in hierdie moeilike tye mismoedig te wees nie, maar hy vul ons harte met vrolikheid. Ons hou 43 tuisbybelstudies.” Toe ’n suster in St. Petersburg haar noodlenigingspakkie ontvang het, het dit haar so ontroer dat sy twee ure lank gehuil het voordat sy dit oopgemaak het.
Denemarke
In hierdie landjie wat by die ingang van die Oossee geleë is, het ongeveer 16 000 Getuies van Jehovah bymekaargekom en 19 vragmotors na die Oekraïne gestuur met 64 ton voedsel in 4 200 dose; 4 600 dose klere van goeie gehalte en 2 269 paar nuwe skoene. ’n Broer in Duitsland het die takkantoor toegelaat om vyf vragmotors te gebruik, wat hy daarna aan die broers in die Oekraïne geskenk het. Toe hy teruggekeer het huis toe het een van die bestuurders gesê: “Ons het gevind dat ons meer teruggebring het as wat ons geneem het. Die liefde en die opofferende gees van ons broers in die Oekraïne het ons geloof grootliks versterk.”
Die bestuurders moes op hulle hoede wees vir rowers op die paaie in die eertydse Sowjetunie. ’n Paar dae voordat een van die Deense vragmotors daar verby gery het, was daar ’n roofaanval op daardie roete. ’n Konvooi van vyf vragmotors met voedsel van ’n ander noodlenigingsorganisasie is voorgekeer deur rowers wat helikopters en handmasjiengewere gebruik het. Hulle het al vyf vragmotors geneem en die bestuurders langs die pad gelos. Ten spyte van sulke gevaar het alle voorrade van die Deense takkantoor veilig by die broers aangekom. Hulle het op hulle beurt vir ’n bestuurder die volgende nota, wat met groot moeite in Engels geskryf is, gegee om terug te neem: “Liewe Deense broers en susters: Ons het julle hulp ontvang. Jehovah sal julle beloon.”
Nederland
Die Nederlandse takkantoor het 52 ton voedsel in 2 600 pakkies gestuur. Dit is in die Oekraïne in twee verskillende konvooie afgelewer. Die ses vragmotors is elke keer daar agtergelaat aangesien dit deur broers in Duitsland vir die Koninkrykswerk in die Ooste geskenk is. Die broers in die Oekraïne het die meeste van die voedsel na Moskou, Siberië en ander plekke gestuur waar daar ’n groot behoefte bestaan het. Die Nederlandse broers het boonop 736 kubieke meter klere en skoene geskenk. Dit is na Lviv in die Oekraïne geneem deur ’n konvooi van 11 vragmotors wat van ’n private motor vergesel is.
Ná ’n lang rit deur Duitsland en Pole het die konvooi sonder probleme deur die doeane van die Oekraïne gegaan en die buitewyke van Lviv om 3:00 vm. bereik. Die bestuurders sê: “Binne ’n rukkie was daar ’n span van 140 broers om die vragmotors af te laai. Voordat hierdie nederige broers met die werk begin het, het hulle getoon dat hulle op Jehovah vertrou deur saam te bid. Toe die werk afgehandel is, het hulle weer bymekaar gekom om Jehovah te dank. Nadat ons die gasvryheid van die plaaslike broers geniet het, wat milddadig gegee het van die bietjie wat hulle gehad het, is ons na die grootpad vergesel waar hulle langs die pad gebid het voordat hulle ons verlaat het.
“Gedurende die lang rit huis toe was daar baie om oor na te dink—die gasvryheid van die broers in Duitsland en Pole en dié van ons broers in Lviv; hulle sterk geloof en biddende gesindheid; hulle gasvryheid deur blyplekke en voedsel te voorsien terwyl hulle self sukkel; hulle vertoning van eenheid en innigheid en hulle waardering. Ons het ook aan ons broers en susters tuis gedink wat sulke vrygewige gewers was.”
Switserland
Die Switserse takkantoor begin sy verslag deur Jakobus 2:15, 16 aan te haal: “As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit?” Die verslag sê voorts: “Ons het aan hierdie teks gedink toe die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ons gevra het om ons behoeftige broers materieel te help.
“Almal het onmiddellik aan die werk gespring! Binne net twee dae is 12 ton voedsel in 600 pakkies in drie vragmotors wat van Duitsland afkomstig was na die Oekraïne gestuur, wat daarna geskenk is om met die werk daar te help. Die nuus dat alles veilig aangekom het, het groot vreugde onder ons broers daar tot gevolg gehad. Die gemeentes het intussen klere bymekaargemaak en ons takkantoor was spoedig oorstroom met kartonne, tasse en sakke! Onder dié wat kinderklere bevat het, was ’n paar speelgoed van Switserse kinders vir onbekende vriende in die verre Noorde. Baie stafies sjokolade is ook tussen lae klere gesit.”
Hoe sou dit alles afgelewer word? Die verslag sê: “Die takkantoor in Frankryk het ons gehelp deur ons van twee leunwaens en vier bestuurders te voorsien. Daarbenewens was een vragmotor van ons takkantoor en nog vier wat aan plaaslike broers behoort nodig om die 72 ton na die Oekraïne te vervoer.” Die konvooi, wat 150 meter lank was, het veilig by die depot in Lviv aangekom, waar ongeveer honderd plaaslike broers gewag het om die vragmotors af te laai. Die bestuurders het gesê dat die taalprobleem geen hindernis was nie omdat hulle gesigte diepe waardering weerspieël het.
Oostenryk
Die Oostenrykse broers het 48,5 ton voedsel, 5 114 kartonne klere en 6 700 paar skoene na Lviv en Uzhgorod in die Oekraïne gestuur. Hulle het ook 7 ton voedsel, 1 418 dose klere en 465 paar skoene na Belgrado, Mostar, Osijek, Sarajevo en Zagreb in die eertydse Joego-Slawië gestuur. Die takkantoorverslag sê: “Ons het 12 gelaaide leunwaens gehad wat [34 000 kilometer] ver gereis het. Die meeste van hierdie vervoer is deur ’n broer en sy seun gedoen wat ’n vervoeronderneming het.”
Die verslag sê voorts oor geskenkte klere: “Ons het ’n Byeenkomssaal as die sentrale depot gebruik. Die een vrag na die ander het bly instroom, totdat daar nie meer plek was nie. Soos in Moses se dag moes die mense gekeer word om nog te bring (Exodus 36:6). Selfs party mense wat nie Getuies van Jehovah is nie, het geld geskenk, en hulle het gesê dit is ‘omdat ons weet dat diegene wat ’n behoefte daaraan het dit wel sal ontvang’. Ons het ook leë kartonne wat ons baie nodig gehad het gratis van wêreldse maatskappye gekry.” Die broers en susters wat alles gesorteer en verpak het, was van 9 tot 80 jaar oud. Hulle het selfs probeer om elke pak van ’n bypassende das en hemp te voorsien.
Die verslag sê: “Die owerheid in Oostenryk en op die grense was baie behulpsaam deur die verskeie ritte om die noodlenigingsvoorrade af te lewer moontlik te maak en deur die nodige dokumente te voorsien sodat al die aflewerings vergemaklik kon word.”
Italië
Van Rome af is tot 188 ton voedsel in twee groot vragmotorkonvooie oor Oostenryk, Tsjeggo-Slowakye en Pole na die eertydse Sowjetunie gestuur. In elke konvooispan was daar ses bestuurders, ’n werktuigkundige, ’n motorelektrisiën, ’n tolk, ’n versendingsagent, ’n kok, ’n dokter, ’n konvooileier in ’n jeep en ’n broer met ’n kampeerbussie.
Die voedsel is van sewe verskaffers verkry. Die takkantoor sê: “Toe ons verskaffers hoor waarvoor dit is, wou party ook ’n deel daaraan hê. Etlike honderd [kilogram] pasta en rys, sowel as die dose waarin dit verpak word, is deur wêreldse verskaffers geskenk. Ander het sneeubande vir die vragmotors of geld geskenk.
“Die broers in Italië het hierdie geleentheid om te help, waardeer. Kinders wou ook bydra. ’n Vyfjarige seuntjie het ’n klein bydrae gestuur waarmee hy gehoop het ‘’n blik tuna wat so groot is dat dit aan die lug raak vir die broers in Rusland’ gekoop sou kon word. ’n Dogtertjie het vanweë die goeie punte wat sy op skool behaal het geld van haar grootouers ontvang om vir haar ouers ’n geskenk te koop. ‘Maar’, het sy geskryf, ‘toe ek besef het dat baie van my broers nie al die goeie dinge het om te eet wat ek het nie, het ek gedink die beste geskenk wat ek vir my ouers kon koop, was om daardie broers te help.’ Sy het ’n aansienlike bedrag geld in die bydraebus geplaas. ‘Ek hoop dat ek voortaan steeds goeie punte sal behaal sodat ek meer geld sal kan stuur’, het sy gesê.” Die takkantoor se verslag sluit af deur te sê dat die briewe van innige waardering van die broers in die Oekraïne, die baie woorde van waardering van die Italiaanse broers en die goeie ondervindinge ten opsigte van die voorbereiding en aflewering van die voorrade roerend, bemoedigend en verenigend was.
Voedsel vir duisende byeenkomsgangers
Die eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in die eertydse Sowjetunie is op 26-28 Junie 1992 by die Kirov-stadion in St. Petersburg in Rusland gehou. Hierdie geskiedkundige byeenkoms, met die tema “Ligdraers”, is deur meer as 46 200 byeenkomsgangers uit 28 lande bygewoon. Dit het nog ’n geleentheid gebied om Christelike liefde teenoor “die broederskap” te openbaar.—1 Petrus 2:17.
Tonne voedsel uit Denemarke, Finland, Swede en ander lande in Wes-Europa is gratis aan duisende byeenkomsgangers van die eertydse USSR uitgedeel sodat hulle dit gedurende die byeenkoms kon eet. Terwyl hulle die byeenkoms na die slotsessie verlaat het, het hulle ook ’n voedselpakkie ontvang om op pad terug huis toe te eet.
Die verslae wat hier gemeld is, toon dat daar nie net na een kant toe—ooswaarts—gegee is nie. Daar is wedersyds gegee. Ja, daar is weliswaar ooswaarts voedsel en klere gegee, maar weswaarts was daar ontelbare aandoenlike betuigings van liefde en geloofversterkende ondervindinge wat die volharding en getrouheid van duisende van Jehovah se aanbidders gedurende dekades van druk en ontberinge weerspieël het. Albei kante het dus ondervind hoe waar Jesus se woorde is: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
[Diagram/Prent op bladsy 21]
1. Uit Finland: St. Petersburg, Rusland; Tallinn en Tartu, Estland; Riga, Letland; Vilnius en Kaunas, Litaue; Kaliningrad, Rusland; Petrozawodsk, Karelië
2. Uit Nederland: Lviv, die Oekraïne
3. Uit Swede: St. Petersburg, Rusland; Lviv, die Oekraïne; Newinnomissk, Rusland
4. Uit Denemarke: St. Petersburg, Rusland; Lviv, die Oekraïne
5. Uit Oostenryk: Lviv, die Oekraïne; Belgrado, Mostar, Osijek, Sarajevo, Zagreb (in eertydse Joego-Slawië)
6. Uit Switserland: Lviv, die Oekraïne
7. Uit Italië: Lviv, die Oekraïne
[Prente op bladsy 23]
Kartonne klere in die Sweedse takkantoor
Noodlenigingsvoorrade word gelaai
Voedselartikels in een pakkie
Spek en ham uit Denemarke
Konvooi van 11 vragmotors en 1 motor
Pakkies en tasse by die Oostenrykse takkantoor
’n Vragmotor word by Lviv, die Oekraïne, afgelaai