Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 11/1 bl. 8-13
  • Volharding wat die oorwinning behaal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volharding wat die oorwinning behaal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Volhard tot die einde toe
  • ’n Noodsaaklike eienskap
  • Wag met onwrikbare volharding
  • Liefde vir God help ons om te volhard
  • Volharding—noodsaaklik vir Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Laat die volharding sy werk voltooi”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • ‘Gelukkig is diegene wat volhard het’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 11/1 bl. 8-13

Volharding wat die oorwinning behaal

“Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang.”—HEBREËRS 10:36, NW.

1. Waarom is volharding noodsaaklik vir elkeen wat Jehovah God vandag dien?

HIERDIE hele wêreld lê in die mag van ’n opstandige god. Die onsigbare heerser daarvan, Satan die Duiwel, se pogings is alles daarop gemik om Jehovah teë te staan en om die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit deur die Messiaanse Koninkryk te verhinder. Dit is dus onvermydelik dat iemand wat hom aan God toewy en in die soewereiniteitsgeskil Sy kant kies voortdurend deur hierdie wêreld teëgestaan sal word (Johannes 15:18-20; 1 Johannes 5:19). Daarom moet elkeen van ons hom inspan om te volhard totdat hierdie wêreld met Armageddon volkome vernietig word. As ons onder God se seëvierende knegte wil wees wat die wêreld deur hulle geloof en onkreukbaarheid oorwin, moet ons tot die einde toe volhard (1 Johannes 5:4). Hoe kan ons dit doen?

2, 3. Hoe is Jehovah God en Jesus Christus die grootste voorbeelde van volharding?

2 Ons kan eerstens na twee uitsonderlike voorbeelde van volharding kyk vir aanmoediging. Wie is hulle? Een is Jesus Christus, “die Eersgeborene van die hele skepping”, wat vandat hy op ’n onbekende tyd in die verlede geskep is, nog altyd getrou in God se diens volhard het. Deur sy volharding om God getrou te dien, het Jesus ’n voorbeeld geword vir alle intelligente skepsele wat daarna in die hemel en op die aarde geskep is (Kolossense 1:15, 16). Maar die grootste voorbeeld van volharding is Jehovah God, wat al baie lank opstand teen sy universele soewereiniteit verduur en wat dit sal aanhou verduur totdat hy optree om die soewereiniteitsgeskil finaal te besleg.

3 Jehovah het ’n voorbeeld gestel in die wyse waarop hy volhard het in sake waarby sy waardigheid en sy diepste persoonlike gevoelens betrokke is. Hy het hom bedwing ondanks groot provokasie en het hom daarvan weerhou om op te tree teen diegene wat hom gesmaad het—waaronder Satan die Duiwel. Ons is dankbaar vir God se volharding en vir sy barmhartigheid. Daarsonder sou ons nie eers vir ’n kort rukkie bestaan het nie. Deur sy volharding het Jehovah God inderdaad getoon dat hy sonder weerga is.

4, 5. (a) Hoe toon Paulus se illustrasie van ’n pottebakker God se volharding en barmhartigheid? (b) Hoe sal God se barmhartigheid nie tevergeefs wees nie?

4 Die apostel Paulus vestig die aandag op die volharding sowel as die barmhartigheid van God wanneer hy sê: “Het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?”—Romeine 9:21-24.

5 Soos hierdie woorde toon, gaan Jehovah gedurende hierdie huidige tydperk van sy volharding voort met sy heerlike voorneme en toon hy barmhartigheid aan sekere menslike voorwerpe. Hy berei hierdie voorwerpe voor op ewige heerlikheid en verydel so die goddelose planne van sy groot teenstander, Satan die Duiwel, en van al Satan se trawante. Die hele mensdom het nie voorwerpe van toorn geword wat vernietiging verdien nie. Dit strek die geduldige volharding van die almagtige God tot eer. Sy barmhartigheid sal nie tevergeefs wees nie. Dit sal lei tot (1) ’n heerlike Koninkryksgesin in die hemele onder Jehovah se geliefde Seun, Jesus Christus, en (2) ’n herstelde en vervolmaakte ras van menseskepsele op ’n paradysaarde, wat almal die ewige lewe sal beërwe.

Volhard tot die einde toe

6. (a) Waarom kan Christene nie ’n toets van volharding vermy nie? (b) Wat beteken die Griekse woord vir “volharding” gewoonlik?

6 Met so ’n wonderlike hoop voor ons moet Jesus se versterkende woorde gedurig in ons ore weerklink, naamlik: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:13). Dit is belangrik om ’n goeie begin te maak in die wedloop van Christendissipelskap. Maar wat uiteindelik belangrik is, is hoe ons volhard, hoe goed ons die wedloop voltooi. Die apostel Paulus het dit beklemtoon toe hy gesê het: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang” (Hebreërs 10:36, NW). Die Griekse woord wat hier vertaal word met “volharding” is hu·po·mo·neʹ. Dit beteken gewoonlik moedige, standvastige of geduldige volharding wat nie moed verloor nie ondanks struikelblokke, vervolging, beproewinge en versoekings. As ons hoop om uiteindelik redding te verkry, moet ons ons onderwerp aan ’n toets van volharding as deel van die nodige voorbereiding vir daardie redding.

7. Waarmee moet ons ons nie mislei nie, en wie se voorbeeld sal ons help om te volhard?

7 Ons moet onsself nie mislei deur die selfbehaaglike gedagte dat ons die toets gou agter die rug kan kry nie. Jehovah het geen moeite ontsien sodat die geskille oor universele soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid beslissend besleg kan word nie. Hy het onaangename dinge verduur selfs al kon hy hulle oombliklik uit die weg geruim het. Jesus Christus was ook ’n voorbeeld van volharding. (1 Petrus 2:21; vergelyk Romeine 15:3-5, NW.) Met hierdie ligtende voorbeelde voor ons is ons ook gewillig om tot die einde toe te volhard, nie waar nie?—Hebreërs 12:2, 3.

’n Noodsaaklike eienskap

8. Watter eienskap wat ons almal nodig het, het die apostel Paulus aan die dag gelê?

8 Geen kneg van God, selfs van die vroegste tye, is vrygestel van die noodsaaklikheid om sy onkreukbaarheid deur sy volharding te bewys nie. Vername individue in Bybelgeskiedenis wat tot die dood toe getrou gebly en aan die vereistes vir ewige lewe in die hemele voldoen het, moes hulle standvastigheid bewys. Die voormalige Fariseër, Saulus van Tarsus, het byvoorbeeld aan die Korinthiërs gesê: “Ek het niks by dié uitnemende apostels agtergestaan nie, al is ek niks nie. Die kentekens tog van ’n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade” (2 Korinthiërs 12:11, 12). Ondanks die laste van die werk het Paulus sy bediening so hooggeskat dat hy baie dinge verduur het en hard probeer het om geen klad daarop te bring nie.—2 Korinthiërs 6:3, 4, 9, vgl. NW.

9. (a) Hoe het die gesalfde oorblyfsel volharding getoon, en wat was die resultaat? (b) Wat spoor ons aan om getrou in goddelike diens te volhard?

9 In hedendaagse tye het gesalfde Christene wat God voor die Eerste Wêreldoorlog gedien het, geweet dat die Heidense Tye in 1914 sou eindig, en baie van hulle het verwag om hulle hemelse beloning in daardie gedenkwaardige jaar te ontvang. Maar dit het nie gebeur nie. Soos die feite nou toon, sou hulle nog dekades lank lewe. Gedurende hierdie onverwagte verlenging van hulle aardse lewe het Jehovah God hulle gelouter (Sagaria 13:9, NAV; Maleagi 3:2, 3). Voortgesette volharding het van hulle beter Christene gemaak. As knegte van Jehovah was hulle verheug om as sy naamvolk aangewys te word (Jesaja 43:10-12, NW; Handelinge 15:14). Vandag, nadat hulle deur twee wêreldoorloë en talle kleiner konflikte behoue gebly het, is hulle verheug dat ’n groeiende groot menigte ander skape, wat nou meer as viermiljoen tel, hulle help om die goeie nuus te versprei. Die geestelike paradys wat hulle geniet, het oor die hele aarde, selfs tot die mees afgeleë eilande van die see, uitgebrei. Hierdie voorkeurbehandeling, wat ons al hoe meer waardeer hoe langer ons lewe, het ons aangespoor om getrou in goddelike diens te volhard totdat Jehovah se wil en voorneme ten volle vervul is.

10. Wat is gereeld nodig as ons nie swak wil word nie?

10 Aangesien ons beloning van ons standvastigheid afhang, het ons voortdurend vermaning nodig oor hierdie belangrike saak (1 Korinthiërs 15:58; Kolossense 1:23). Om te verhinder dat Jehovah se volk swak word, moet ons gereeld aangemoedig word om vas te hou aan die waarheid en aan die kosbare voorreg om die waarheid te versprei, net soos die nuutgestigte gemeentes in die eerste eeu deur herbesoeke van Paulus en Barnabas aangemoedig is (Handelinge 14:21, 22). Laat ons ons vas voorneem dat, soos die apostel Johannes dit gestel het, die waarheid in ons sal bly ‘en vir ewig by ons sal wees’.—2 Johannes 2.

Wag met onwrikbare volharding

11. Wat is blykbaar God se reël met sy knegte, en hoe is dit in die geval van Josef geïllustreer?

11 Tyd is nodig sodat ons ten volle getoets kan word (Jakobus 1:2-4, NW). Wag! Wag! Wag! was blykbaar God se reël vir sy eertydse knegte toe hulle vasbeslotenheid om in die geloof te volhard getoets is. Maar vir daardie getroue knegte was die gewag uiteindelik altyd lonend. Josef moes byvoorbeeld 13 jaar as slaaf en as gevangene wag, maar die ondervinding het sy persoonlikheid gelouter.—Psalm 105:17-19, vgl. NW.

12, 13. (a) Hoe was Abraham ’n voorbeeld van getroue volharding? (b) In watter opsig word Abraham se geloof en volharding as ’n voorbeeld aan ons voorgehou?

12 Abraham was reeds 75 jaar oud toe God hom uit Ur van die Chaldeërs geroep het om na die Beloofde Land te gaan. Hy was ongeveer 125 jaar oud toe hy die geswore bevestiging van God se belofte ontvang het—wat plaasgevind het onmiddellik nadat Abraham die krag van sy geloof gedemonstreer het deur sover te gaan om amper sy geliefde seun, Isak, te offer en net te stop toe Jehovah se engel sy hand teruggehou en die offer verhinder het (Genesis 22:1-18). Vyftig jaar was ’n lang tyd vir Abraham om as ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wag, maar hy het dit nog 50 jaar verduur totdat hy in die ouderdom van 175 jaar gesterf het. Gedurende al daardie tyd was Abraham ’n getroue getuie en profeet van Jehovah God.—Psalm 105:9-15.

13 Abraham se geloof en volharding word voorgehou as ’n voorbeeld vir alle knegte van God wat die beloofde seëninge deur Jesus Christus, die Saad van Abraham, wil ontvang (Hebreërs 11:8-10, 17-19). Ons lees aangaande hom in Hebreërs 6:11-15: “Ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is. Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer en gesê: Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder. En so het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het.”

14. Waarom moet ons nie dink dat die toets van volharding eindeloos is en die beloning ontwykend is nie?

14 Die gesalfde oorblyfsel het reeds 77 jaar sien verbygaan sedert die einde van die Heidense Tye in 1914, toe party van hulle verwag het dat die verheerliking van die ware Christengemeente tot die hemel sou plaasvind. Hoe lank die oorblyfsel nog moet wag, weet ons nie. Moet ons dan begin moed opgee en dink dat die gewag eindeloos is en dat die beloning ’n ontwykende hersenskim is? Nee! Dit sal nooit God se soewereiniteit regverdig of sy naam vereer nie. Hy sal nie voor die wêreld geregverdig word wanneer hy ons die oorwinning en die gevolglike prys van die ewige lewe gee nie. Ongeag hoe lank dit is, die oorblyfsel, asook hulle getroue skaapgeaarde metgeselle, is vasbeslote om op Jehovah te wag om op sy eie tyd op te tree. Deur sulke voorbeeldige volharding te betoon, volg hulle die lewenswandel van Abraham na.—Romeine 8:23-25.

15. (a) Wat is ons leuse, en deur watter ondervindinge het God ons seëvierend onderskraag? (b) Watter vermaning van Paulus is nog gepas vir ons dag?

15 Die leuse is dus steeds onwrikbare volharding in die uitvoering van God se wil (Romeine 2:6, 7). In die verlede het hy ons onderskraag deur kwaai beproewinge, waaronder opsluiting en konsentrasiekampe, en hy het ons seëvierend daardeur gebring tot verheerliking van sy naam en voorneme.a Jehovah sal dit aanhou doen gedurende die tyd wat nog oorbly tot die voltooiing van ons toets. Paulus se vermaning is nog gepas vir ons dag: “Want julle het standvastige geduld en volharding nodig, sodat julle die wil van God kan doen en ten volle kan uitvoer, en gevolglik die dinge wat belowe is, kan ontvang en wegdra en ten volle kan geniet.”—Hebreërs 10:36, The Amplified Bible; Romeine 8:37.

16. Waarom moet ons ons toewyding aan Jehovah nie net in ’n beperkte lig of met voorbehoude beskou nie?

16 Solank as wat Jehovah vir ons in hierdie goddelose wêreld werk het om te doen, moet ons Jesus se voorbeeld navolg en daardie werk doen totdat dit voltooi is (Johannes 17:4). Ons toewyding aan Jehovah was nie ’n ooreenkoms dat ons hom net ’n kort rukkie sou dien en dat Armageddon dan sou kom nie. Ons toewyding was vir ewig. God se werk vir ons sal nie ophou met die slag van Armageddon nie. Maar ons sal die wonderlike dinge wat ná die groot oorlog van Armageddon sal kom net sien as ons die werk voltooi wat voor Armageddon gedoen moet word. Dan, benewens die gelukkige voorreg om aan te hou om sy werk te doen, sal ons beloon word met die langverwagte seëninge wat hy belowe het.—Romeine 8:32.

Liefde vir God help ons om te volhard

17, 18. (a) Wat sal ons in moeilike tye help om met God se goedkeuring te volhard? (b) Wat sal ons help om die oorwinning te behaal, en wat sê ons nie oor die tyd wat nog oor is nie?

17 Wanneer ons moeilike tye deurmaak, vra ons dalk: ‘Hoe kan ons nog langer volhard?’ Die antwoord? Deur God met ons hele hart, verstand, siel en krag lief te hê. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13:4, 7, 8). Tensy ons uit liefde vir God volhard, is ons volharding van geen waarde nie. Maar as ons laste verdra vanweë ons toegewydheid aan Jehovah, dan laat ons volharding ons liefde vir hom groter word. Liefde vir God, sy Vader, het Jesus in staat gestel om te volhard (Johannes 14:30, 31; Hebreërs 12:2). Is daar enigiets wat ons nie kan verduur nie as ons ware beweegrede liefde vir God, ons Vader, is?

18 Dit is ons onwrikbare liefde vir Jehovah God wat ons in staat stel om in hierdie uiters kritieke tyd van toetsing die wêreld te oorwin. En Jehovah sal deur Jesus Christus aanhou om ons die hulp te gee wat ons nodig het, ongeag hoe lank hierdie ou stelsel van dinge nog toegelaat word om te bestaan (1 Petrus 5:10). Natuurlik voorspel ons geensins hoeveel tyd daar nog oor is nie, en ons bepaal nie ’n spesifieke datum nie. Ons laat dit oor aan die Groot Tydhouer, Jehovah God.—Psalm 31:16.

19, 20. (a) Hoe moet ons elke verbygaande dag waarin ons volhard, beskou? (b) Watter dwaasheid wil ons vermy, en waarom?

19 Maar die geslag wat volgens voorspelling “die voleinding van die stelsel van dinge” sou sien en belewe, is nou op ’n gevorderde leeftyd (Mattheüs 24:3, 32-35, vgl. NW). Laat ons dus nooit vergeet nie dat elke verbygaande dag waarin ons volhard nog ’n dag minder is vir Satan en sy demone om die heelal met hulle blote bestaan te besoedel en nog ’n dag nader is aan die tyd wanneer Jehovah nie meer die bestaan van “voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is”, sal verdra nie (Romeine 9:22). Jehovah sal binnekort, wanneer sy lankmoedigheid tot ’n einde kom, sy toorn op goddelose manne en vroue uitgiet. Dan sal hy sy goddelike afkeer van hulle optrede openbaar, al het hy hulle toegelaat om al hierdie tyd daarmee voort te gaan.

20 Dit sal uiters dwaas van ons wees om op te hou met ons liefdevolle pogings om die heerlike prys te verkry wat deur Jesus Christus vir ons voorgehou word. Ons is eerder vasbeslote om as Getuies van Jehovah getrou voort te gaan in hierdie uiters belangrike tyd wanneer Jehovah hom as Universele Soewerein sal regverdig.

[Voetnoot]

a Christine Elizabeth King het byvoorbeeld geskryf: “Net teen die Getuies het die [Nazi]-regering nie sukses behaal nie, want hoewel hulle duisende doodgemaak het, het die werk voortgegaan, en in Mei 1945 was die beweging van die Jehovasgetuies nog lewendig, terwyl Nasionale Sosialisme nie meer bestaan het nie. Die Getuies se getalle het toegeneem, en hulle het geen kompromisse aangegaan nie. Die beweging het martelare bygekry en het nog ’n stryd in Jehovah God se oorlog gewen.”—The Nazi State and the New Religions: Five Case Studies in Non-Conformity, bladsy 193.

Wat is jou antwoord?

◻ Waarom kan ons dit nie vermy dat ons volharding getoets word nie?

◻ Waarmee wil ons ons nie mislei nie?

◻ Wat is nodig as ons nie swak wil word nie?

◻ Wat is ons leuse?

◻ Wat sal ons help om in moeilike tye te volhard?

[Prent op bladsy 11]

God se volk was nog altyd, soos hierdie Getuies in Port of Spain, Trinidad, bereid om op Jehovah te wag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel