Strewe na die doel!
Glanspunte uit Filippense
DIE apostel Paulus wou hê dat Christene in Filippi moes aanhou om die prys van die ewige lewe as doel na te strewe. Daarom het hy ongeveer 60 of 61 G.J., gedurende sy eerste gevangenskap in Rome, aan hulle geskryf. Sy brief is na ’n gemeente gestuur wat hy sowat tien jaar vroeër tot stand gebring het in Filippi, ’n stad wat deur Philippus van Macedonië (die vader van Alexander die Grote) gestig is. Teen die eerste eeu G.J. het dit “die eerste stad . . . van daardie deel van Macedonië” geword, wat nou deel is van noordelike Griekeland en suidelike Joego-Slawië.—Handelinge 16:11, 12.
Gelowiges in Filippi was arm maar vrygewig. Hulle het meer as een maal iets gestuur om in Paulus se behoeftes te voorsien (Filippense 4:14-17). Maar sy brief was veel meer as ’n blote dankie-briefie. Dit het hulle ook aangemoedig, van sy liefde verseker en raad gegee.
Christelike eienskappe sigbaar
Paulus se brief het begin met ’n uitdrukking van sy liefde vir die gelowiges in Filippi (1:1-30). Hy het Jehovah gedank vir hulle bydrae tot die bevordering van die goeie nuus en het gebid dat hulle liefde sou toeneem. Paulus was bly dat die feit dat hy in die tronk was hulle aangespoor het om ‘meer moed te hê om God se woord onbevrees te spreek’ (NW). Dit was sy begeerte om by Christus te wees, maar hy het gevoel dat hy hulle nog van diens kon wees. Paulus wou ook hê dat hulle moes voortgaan om “saam [te] stry vir die geloof in die evangelie”.
Daarna het hy hulle raad gegee oor hulle beskouing en gedrag (2:1-30). Die Filippense is aangespoor om persoonlike belangstelling in ander te toon en om nederigheid soos dié van Christus aan die dag te lê. Hulle het ‘soos ligte in die wêreld geskyn’ en is aangespoor om ‘die woord van die lewe stewig vas te hou’ (NW). Paulus het gehoop om Timotheüs na hulle te stuur en was vol vertroue dat hy self gou sou kom. Paulus stuur Epafroditus na hulle om hulle gerus te stel oor hierdie lojale dienaar wat vroeër baie siek was.
Hou aan om die doel na te strewe
Die apostel het daarna vir die Filippense gesê waar hulle hul vertroue moet plaas terwyl hulle die doel nastreef (3:1-21). Dit moet in Jesus Christus geplaas word, nie in die vlees of in die besnydenis soos party gedoen het nie. Paulus beskou sy vleeslike aanbevelings as vullis weens “die uitnemendheid van die kennis van Christus”. Die apostel het gejaag “na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” en het die Filippense aangespoor om dieselfde gesindheid te hê.
As die Filippense die raad toegepas het wat Paulus ten slotte gee, sou dit hulle gehelp het om die doel en die prys nooit uit die oog te verloor nie (4:1-23). Hy het hulle gemaan om hulle sorge in gebed op God te werp en hulle verstande met gesonde gedagtes te vul. Paulus het hulle weer eens vir hulle vrygewigheid geprys en afgesluit met groete en die bede dat die onverdiende goedheid van die Here Jesus Christus met die gees sou wees wat hulle aan die dag lê.
Paulus se brief aan die Filippense spoor hulle aan tot vrygewigheid, liefde en nederigheid. Dit moedig vertroue in Christus en opregte gebed tot God aan. En Paulus se woorde help Getuies van Jehovah beslis om aan te hou om die doel van die prys van die ewige lewe na te strewe.
[Venster/Prent op bladsy 25]
Na die doel: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is”, het Paulus geskryf, “en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14). Die apostel het hom ingespan soos iemand in ’n wedloop. Hy het nie tyd en moeite gemors deur terug te kyk nie, maar het sy doel nagestreef—soos ’n naelloper wat hom inspan om die eindstreep te bereik. Vir Paulus en ander gesalfde Christene was die prys hemelse lewe deur die opstanding nadat hulle ’n aardse lewe van getrouheid aan God voltooi het. Hetsy ons ’n hemelse of aardse hoop het, laat ons altyd ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah behou en die doel as sy Getuies nastreef.—2 Timotheüs 4:7.